Wednesday, June 22, 2016

Mandraki. Oinoussa Eiland.



21 Junie 2016. Dinsdag.

Ermioni tot Mandraki

Ermioni was goed vir ons. Die nag het Gus suid gewaai en ons van die kaai weggehou. Hy het wel ons mat, wat Archie gewas het en op die kaai gelos het om droog te word, in die see gewaai. Maar geen probleem, die visserman wat daar staan en visvang, vang gou ons mat met sy vishoek.

Ons maak toue los en dieselfde visserman stoot ons van die kaai af en ons vertrek na Mandraki, 38°30.856 N, 26°12.994 O, 14.4 myl. Gus waai van voor en ons vaar eers en later en motorseil ons vir 1h20min.

Mandraki is op die eiland Oinoussa. Die boek sê dat die rykste skeepseienaars van Griekeland van die klein eilandjie afkomstig is. Blykbaar is die rykste skeepseienaar nie Niarchos of oorlede Onassis nie, maar ’n privaat man met die naam Costa Lemos, wat taamlik onbekend is. Daar is ook  n bekende standbeeld van 'n meermin wat in die water op n rots pryk.

Kerkie, waar's die meermin …
… hier's die meermin

Ons vaar by die hawe in en die vrou van langsaan help ons met die toue en ons is vas. Hier moet ons bly totdat die wind ophou waai vir ons volgende kruising na Lesvos. Hulle voorspel sterk winde van voor af en ons sal moet wag totdat toestande gunstiger is.

Mandraki hawe
Gullie met sy grondboontjiebotter toebroodjie

Ons gaan stap in die dorpie rond en my knieë is seer. Hier gaan nie veel aan nie, maar dit is pragtig. Daar is mooi, nuwe huise en dan is daar baie ou en sommige vervalle huise. 

Mandraki kerk
Archie en Nick

Hier is ook nie eintlik supermarkte om voorrade te koop nie. Skeurbuik is ons voorland. Ek raak nou moeg vir pasta. Ek is lus vir huiskos. ’n Sappige lamsboud of skouer, ’n groot stuk geroosterde “prime rib” of plathoender. In ’n oond gaargemaak en opgedien met ’n verskeidenheid groente en avokadopeer in die slaai. Met ’n mooi gedekte tafel en ’n gas op elke stoel. Iets soos Barbette se eetmaal.
 
Daar is ook nie water en elektrisiteit op die kaai soos die boek sê nie, want die krane is kurkdroog en die kragbokse hol. Ons sal Maja se motor elke dag moet laat loop anders word Archie se bier warm. Gelukkig se Archie Maja se enjin battery kan nie pap word nie, want ek weet nie hoe stoot jy ’n boot aan die brand nie.

Hier moet ons nou opwag op beter dae. “Deon, bring vir gesette Gussina saam, dat sy vir Gus kan vry totdat hy lê, dat hy vir ons kan uitlos en hom met sy eie sake bemoei!”

Dis eintlik mooi hier, dis net dat ons tyd besig is om uit te loop en ons moet gaan!

Monday, June 20, 2016

Ermioni. Chios Eiland



20 Junie 2016. Maandag.

Salagonas Baai tot Ermioni
 
Ons vaar om die suidepunt van Chios. Daar is ruwe rotse in die wêreld.

Ruwe suidepunt
 
Vandag was verondersstel om ’n kort dag te wees, net 10 myl, na ’n klein baai om te anker. Dis ’n pragtige baai, maar klein. Die twee seiljagte wat reeds daar is, staan die baai vol.

Ons vaar vêrder na Kataraktis hawe. Dis ’n klein hawe en die boek sê hier is die lekkerste “Red Mullet” wat hy al geëet het. Dit lyk of daar plek is, maar daar is orals boeie en motorbande teen die kaai. Die plekke behoort heel waarskynlik aan die vissermanne.

Ander mense doen “Pub crawling”, maar dit lyk vir my ons doen “Harbour crawling”. Ons vaar vêrder na nog ’n hawe waar daar volgens die boek heelwat plek vir jagte is. Die plek se naam is ook Ermioni, 38°18.042 N, 26°08.929 O, 21.5 myl.

Ermioni

Maar daai boek lieg soos ’n tandetrekker. Daar is net plaaslike bote in die hawe, meestal vissersbote. Ons wil stert tussen die bene uitvaar, toe ’n vriendelike Griek vir ons fluit. Hy is daar met ’n motorsports boot en hy gaan vertrek. Ons kan dan langs die kaai vasmeer.

Toe is dit gereed maak, want ons het gedink dit is ankergooi en tru. Ek laat die fenders sak, kry die toue uit en toe, voordat ek tyd kry vir paniek, trek Archie al langs die kaai in, ek moet helm oorvat en hy klim af met die tou. En sowaar as wraggies, net so, toe is ons vas. 

Vas aan die punt van die kaai
Hawe
 
Hierdie is ’n snaakse plek. Beslis nie ’n toeriste aantreklikheid nie. Hier bly net gewone mense sonder swier van toeriste. En dit is ’n bedrywige hawe. Vissermanne kom en gaan. Archie gaan vind uit of hier vis beskskbaar is, maar hier is nie eers tavernas nie.

Hy kry darem ’n paar tamaties, uie en aartappels te koop. En ook piesangs en perskes.

Dis soms lekker om in die weklikheid tuis te gaan. Sonder pretensie. Sommer net.                   

Salagonas. Chios Eiland



19 Junie 2016. Sondag.

Gelukkige Vadersdag.
 
Lithi tot Salagonas Baai
 Hierdie vader op hierdie boot kry vandag nie ’n spesiale Vadersdagete nie. Nee, hy het niks verkeerd gedoen nie. Ons het bloot nie voorrade nie.

Ons is nog steeds aan die westekant van Chios en gaan vandag verder suid en wel na Salagonas Baai, 38°13.250 N, 25°54.804 O, 13.7 myl. Die kant van Chios is taamlik onbewoon en die dorpies baie min.

Oggendskoot - Weste kant van Chios Eiland

Gus waai amper glad nie en ons vaar al langs die kuslyn. Om die hoek lê ’n hele klomp baaie waar ons kan anker. Ons kies Salagonas en is die enigste seiljag daar. Daar is wel ’n klomp sonsoekers op die strand wat lê en bak en hul warm lywe dan in die koel water dompel.

Salagonas Baai
Angelia en Trachilia Baaie
Verlate strand
Maja

Die water is koud, maar ons dompel ook ons warm lywe in die blou water. Ons het ’n rustige nag op anker en ek maak albei my oë maklik toe en droom Maja oorwinter in Patra en al die bote in die hawe waai om.

Saturday, June 18, 2016

Lithi. Chios Eiland.


18 Junie 2016. Saterdag.

Roete tot op datum
Psara tot Lithi

My suster Elize sê sy hoop ons het soos klippe geslaap. Nie eers amper nie. Ek staan knorrig op na die slapelose nag. Vanoggend, so ewe skynheilig, waai Gus glad nie. Ons maak al die toue en ekstra toue los, ek skuif agter die helm in en Archie trek die anker op. Hy het behoorlik gebyt, die katrol steun en kreun om dit los te kry.

Ons vertrek na Lithi, 38°20.578 N, 23°59.429 O, 24.2 myl. Archie is jukkerig, hy is lus vir seil. In die oop stuk see waai Gus en Archie span die seile. Ek het nie die energie of lus vir ’n geseilery of ’n geskuinlê nie. Ek is verdomp te moeg. Na ’n paar rukwinde trek ons dit in. Die bedagsame kaptein kan sien sy vrou is nie lekker nie. Toe die wind effens draai, span ons weer en ons seil rustig vir 2h30min.

Tot siens Psara

Lithi is aan die wilde woesste westekant van Chios Eiland. Hierdie kus is bekend vir groot see en deinings as die meltimi waai. Dis ’n eenvoudige vissersdorpie met ’n baie beskutte hawe en ’n paar plekke vir jagte. Ons maak langs die kaai vas en ek gaan slaap dadelik.

Vissershawe
Lithi
 
Ons stap nie eers na die dorp in die heuwels toe nie. Inteendeel, ek het nie voet aan wal gesit nie. Vandag is ’n totale rusdag.

Psara. Psara Eiland.


17 Junie 2016. Vrydag.

Glyfada tot Psara

Vandag is die dag van die 48 myl kruising. Ons is besig om stadig maar seker Turkye te bekruip waar ons vir Deon, van Aliwal-Noord se wêreld, en sy vrou Ryna, gaan ontmoet.

Ons is op voor die son sy kop uitsteek. En vertrek ook voor die son sy kop uitsteek (5:45). Dis al wanneer ek die son sien opkom. 

Die son kom op
 
Anderkant die groot see lê Psara, 38°32.390 N, 25°33.840 O, 48.4 myl. Ons kan die eiland nie eers voor ons sien nie, so vêr lê dit in die verskiet. “The road is long …”

Gus is stil en die see is plat. Hier is ietwat van ’n stroom waarteen ons vaar en ons spoed is nie wat dit moet wees nie. Archie looi daai motor en myl vir myl kom ons nader. Later kan ons die vae buitelyne van ’n eiland sien.

Heelwat later steek Gus sy kop uit en ons span seil. Hy waai liggies en ons motorseil vir vier ure. Ons seil en seil en seil en vaar en vaar en vaar.’n Klomp dolfyne kom groet en swem ’n ruk saam met Maja toe verdwyn hulle weer. 

Dolfyne groet

Die eiland van Psara kom nader. Vir 35 minute seil Maja op haar eie en toe is  dit seile af en regmaak vir vasmeer in die hawe. Gus waai dat dit bars en gelukkig kom Nick, die taverna eienaar, om ons te help. Die wind waai ons herwaarts en derwaarts. Archie gee die gooi-opdrag, ek gooi die anker en hy tru in. Nick vang die toue en ons is vas. Ons slaak ’n sug van verligting. Ons sou baie gesukkel het om alleen op ons eie in die wind vas te meer. 

Ons is moeg, maar tevrede. Ons het 48 myl geseil, nege ure op die water. Die kruising is gedoen!

So met moeë lywe gaan stap ons. Psara is eintlik ’n eiland tussen niks en nêrens. Hulle kry nie toeriste nie, behalwe die arme drommels soos ons wat die kruising doen. Hulle het egter baie moeite gedoen met die dorpie. Daar is paadjies uitgelê en selfs ’n kaart is beskikbaar.

Ons stap boontoe en kyk na ’n kerk op die heuwel. Daar is ook ’n standbeeld of gedenknaald van iets, maar dis Grieks vir ons. Aan die eenkant lê die hawe en dorpie en aan die ander kant ’n groot kerk wat soos ’n klooster lyk.

Archie en gedenknaald
Hawe en dorp
Kerk op die rots
 

Ons gaan drink yskoue wyn by Nick se taverna omdat hy ons so mooi gehelp het en eet geniet ons aandete op Maja. My suster Elize, van Potjiestroom se wêreld, het gesê ons moet vroeg gaan inkruip en 21:20, voordat dit donker is, maak ons so. Ons gaan daai bed seermaak!

Nick se taverna met Maja in die agtergrond
 
Maar helaas! Gus begin met sy rukwinde en peper ons daarmee. Ek staan op om sake te bekyk. Gus waai van skuins voor en waai Maja se agterent teen die kaai vas. Ons het reeds twee ekstra “springlines” wat veronderstel is om ons in posisie te hou, maar Gus se vernynige windvlae is te hewig. Maja se toue klappertand teen die aanslae.

Die kaptein trek toe die stuurboord kant se tou styf dat ons agterkant tee die kaai is met twee groot balfenders om haar te beskerm. Toe draai sy nie meer die en daai toe nie. Die anker is snaarstyf en as die wind haar gooi, sit dit baie stremming op die anker en die gevaar is dat die anker kan loskom. Dan is sorge legio! Ek en die kaptein lê toe maar op die dek en hou se tussen insluimerings die sake dop.

Ons is so vrekmoeg en nou kan ons nie slaap nie. Archie gaan slaap 02:00 en ek lê toe maar verder op die dek. Baie later sluimer ek in.

Ns. Die groot Griekse Gidsboek sê iemand moet hier altyd in die nag die sake dophou, so ons geval is nie uniek nie.