1 Junie 2016. Vroeg Woensdagoggend.
![]() |
Chalkisbrug deurry |
Minute voel soos ure, sekondes voel soos minute. En ons wag en wag op die skril stem op Kanaal 12. Toe skielik, 00:10, lewe die radio en hulle roep. Ons albei spring penorent. Archie antwoord en hulle sê ons moet gereed maak, as hulle weer roep, moet ons gaan.
Staan gereed om te gaan |
Die bars stem sê skielik: ”The bridge is open. You must go!” En ons gaan. Oral staan nuuskieriges wat genoeë dááruit put om bootmense in die nag te sien vaar. Ons is nou seker wêreldbekend, want jy sien net kameras wat flits! Soos in verdomp “Smile, you are on candid camera”. (Ek het nog altyd gewonder wat beteken candid camera, ek weet nou!)
Eerste boot vertrek |
Ons is derde in die ry. Die eerste jag
is deur die brug en reguit kaai toe en kry ’n plek by die kaai. Die tweede jag
gaan deur en kry die laaste plek. En ons!? Geen heenkome nie, haweloos. Vir die
eerste keer verstaan ek werklik die term “haweloos”. Ons voorland is anker. Ons
vat die donker pad en Archie volg sy GPS lyn slaafs. Ons weet dat daar in die water
vlak plekke van 1m is. Dis nogal senutergend, so in die donker. Ek moet op die
uitkyk wees na vissersbootjies sonder ligte, want baie klein bootjies vang in
die nag sonder ligte vis.
Oral langs die see is daar geboue,
so ons kan darem sien waar hou die see op en waar begin die land. Na 2.4 baie
lang myle, kom ons by die Chalkis Baai, 38°28.584 N, 23°36.948 O aan. Toe gooi
ons anker, dit lyk darem of hy byt en ons haal weer asem. Ek kyk op my horlosie
– 01:50.
Op anker in Chaklis Baai |
Moeg en verlig gaan slaap ons in ’n windstil
baai.