Thursday, June 2, 2016

Chalkisbrug – Donker vaart.



1 Junie 2016. Vroeg Woensdagoggend.

 

Chalkisbrug deurry

Minute voel soos ure, sekondes voel soos minute. En ons wag en wag op die skril stem op Kanaal 12. Toe skielik, 00:10, lewe die radio en hulle roep. Ons albei spring penorent. Archie antwoord en hulle sê ons moet gereed maak, as hulle weer roep, moet ons gaan.



Staan gereed om te gaan


Die bars stem sê skielik: ”The bridge is open. You must go!” En ons gaan. Oral staan nuuskieriges wat genoeë dááruit put om bootmense in die nag te sien vaar. Ons is nou seker wêreldbekend, want jy sien net kameras wat flits! Soos in verdomp “Smile, you are on candid camera”. (Ek het nog altyd gewonder wat beteken candid camera, ek weet nou!)

Eerste boot vertrek

Ons is derde in die ry. Die eerste jag is deur die brug en reguit kaai toe en kry ’n plek by die kaai. Die tweede jag gaan deur en kry die laaste plek. En ons!? Geen heenkome nie, haweloos. Vir die eerste keer verstaan ek werklik die term “haweloos”. Ons voorland is anker. Ons vat die donker pad en Archie volg sy GPS lyn slaafs. Ons weet dat daar in die water vlak plekke van 1m is. Dis nogal senutergend, so in die donker. Ek moet op die uitkyk wees na vissersbootjies sonder ligte, want baie klein bootjies vang in die nag sonder ligte vis.

Oral langs die see is daar geboue, so ons kan darem sien waar hou die see op en waar begin die land. Na 2.4 baie lang myle, kom ons by die Chalkis Baai, 38°28.584 N, 23°36.948 O aan. Toe gooi ons anker, dit lyk darem of hy byt en ons haal weer asem. Ek kyk op my horlosie – 01:50.

Op anker in Chaklis Baai

Moeg en verlig gaan slaap ons in ’n windstil baai.

No comments:

Post a Comment