Thursday, May 5, 2016

Patras Marina



3 Mei 2016. Dinsdag.
Dis nat en koud hier in Patra.
Dit lyk of ’n orkaan vir Maja getref het. Alles moet nou weer ’n plek kry. Archie vat die pad Hawepolisie toe, maar puur verniet. Dis ’n vakansiedag in Griekeland en alles is toe. Maja se koskaste is leeg en dit gaan nog ’n dag leeg bly. Archie kry darem ’n goropita (spinasie-kaas pastei) om te koop en ons eet Grieks.
Brêkvis

Ons werk en pak uit en stofsuig en maak skoon. Archie werk buite so tussen die reënbuie. Benito maak so nou en dan ’n draai en gee raad en help Archie om Dinkie se motor wat nie vonk kry nie, reg te maak.
Benito wys vir ons die foto’s van Maja se romp, wat maklik verwar kan word met ’n koraalrif. Sy het in die sewe maande wat sy in die water gehiberneer het, ’n hele ekosisteem op heer pens gekry. Benito het haar in Maart uit die water gehaal en met die hulp van sy flukse dogtertjie skoongemaak en weer geverf.
"Sail drive" seekolonie
Maja se romp en "sail drive"
Benito se dogter sit handjie by
Spik-splinter skoon en reg vir die water


So gaan die dag verby. Dan reën dit, dan waai Gus en dan loer die son weer uit tussen die wolke. Gelukkig is hier darem nog ’n blikkie tuna en ’n pak pasta van verlede jaar. So, ons het aandete, droërige pasta met tuna. Honger is die beste kok!
 Dis koud en nat hier in Patra. Die lente is elders.


4 Mei 2016. Woensdag.
Nog ’n nat en koue dag in Griekeland. Ek hang die nuwe gordyntjies en bewonder ons nuwe beddegoed.
Bootjie na kammaland

Archie vat die pad doeane polisie toe en kom met ’n breë glimlag terug. Ons is seevaardig!




Ons groet en gaan.

1 Mei 2016. Sondag.

Dis sowaar weer sukke tyd! Sodra die Witstinkhoutbome se blare herfsgeel in my Ku Bali bos word en een-een na benede val, weet ek Maja roep in die vêrte en ons moet gaan. Dan vra my ma half moedeloos vir my of ons nou regtig weer moet weggaan. Dan sê ek ja, pak die miljoen goeters in ons rugsakke en wag vir Gerrie en Ansu om ons aan te ry lughawe toe. Ons eienaardige bagasie is swaar!


Hierdie moet in twee rugsakke kom!
2 Baalsakke, 90 minute en 44 kg later

Die rit na die lughawe voorloop sonder voorval. My kinders is almal besig en kan ons nie kom afsien nie. Ons het klaar gegroet. Ansu stap met ’n ligte tred, bly om vir ’n slag saam met Gerrie te kom. Toe ons so om die hoek gaan, gee ek ‘n onwillekeurige bloedstollende gil. Die mense verstar! Wat sien ek daar! Michelle en Johan verskyn uit die niet om my te verras. Die groep mense wat voor ons geloop het, steek groot-oog verskrik in hulle spore vas en verwag die ergste. Al die mense in die restaurant hou vir ’n wyle op om te eet en drink om te kyk wat aangaan. 
Gelukkig was daar nie lughawe polisie naby nie, want hulle sou my summier in hegtenis geneem het. Archie, Gerrie en Ansu skrik net so groot vir my gil. Michelle kry so skaam, sy probeer agter ’n pilaar skuiling soek en Johan glimlag verleë. Wel, hulle het geslaag. Hulle het my verras!
Ansu, Gerrie, Archie en ek
Verrassing!

Ons boek ons bagasie vinnig in en sit af na ons koffiewinkel vir ons tradisionele koebaaisê koffie saam met Gerrie. Toe is dit tyd om te groet en na al die gewuif, gaan ons.
Na twee vliegtuigritte, ’n busrit en taxi kom ons baie moeg Maandagaand by Maja aan. Dis koud en nat. Pak so bietjie uit, maak die bed op en val in ’n diepe slaap. In die nag reën dit en ou Gus kom groet ook. Skaars hier en hy treiter my al klaar! Maar ou Maja staan stewig en veilig vasgemaak in Patras Marina en ek is in droomland.