1 Mei 2016. Sondag.
Dis sowaar weer sukke tyd! Sodra die Witstinkhoutbome se blare herfsgeel
in my Ku Bali bos word en een-een na benede val, weet ek Maja roep in die vêrte
en ons moet gaan. Dan vra my ma half moedeloos vir my of ons nou regtig weer
moet weggaan. Dan sê ek ja, pak die miljoen goeters in ons rugsakke en wag vir
Gerrie en Ansu om ons aan te ry lughawe toe. Ons eienaardige bagasie is swaar!
Hierdie moet in twee rugsakke kom! |
2 Baalsakke, 90 minute en 44 kg later |
Die rit na die lughawe voorloop sonder voorval. My kinders is almal besig
en kan ons nie kom afsien nie. Ons het klaar gegroet. Ansu stap met ’n ligte
tred, bly om vir ’n slag saam met Gerrie te kom. Toe ons so om die hoek gaan,
gee ek ‘n onwillekeurige bloedstollende gil. Die mense verstar! Wat sien ek
daar! Michelle en Johan verskyn uit die niet om my te verras. Die groep mense
wat voor ons geloop het, steek groot-oog verskrik in hulle spore vas en verwag
die ergste. Al die mense in die restaurant hou vir ’n wyle op om te eet en
drink om te kyk wat aangaan.
Gelukkig was daar nie lughawe polisie naby nie,
want hulle sou my summier in hegtenis geneem het. Archie, Gerrie en Ansu skrik
net so groot vir my gil. Michelle kry so skaam, sy probeer agter ’n pilaar
skuiling soek en Johan glimlag verleë. Wel, hulle het geslaag. Hulle het my
verras!
Ansu, Gerrie, Archie en ek |
Verrassing! |
Ons boek ons bagasie vinnig in en sit af na ons koffiewinkel vir ons
tradisionele koebaaisê koffie saam met Gerrie. Toe is dit tyd om te groet en na
al die gewuif, gaan ons.
Na twee vliegtuigritte, ’n busrit en taxi kom ons baie moeg Maandagaand
by Maja aan. Dis koud en nat. Pak so bietjie uit, maak die bed op en val in ’n
diepe slaap. In die nag reën dit en ou Gus kom groet ook. Skaars hier en hy
treiter my al klaar! Maar ou Maja staan stewig en veilig vasgemaak in Patras
Marina en ek is in droomland.
No comments:
Post a Comment