Thursday, May 5, 2016

Ons groet en gaan.

1 Mei 2016. Sondag.

Dis sowaar weer sukke tyd! Sodra die Witstinkhoutbome se blare herfsgeel in my Ku Bali bos word en een-een na benede val, weet ek Maja roep in die vêrte en ons moet gaan. Dan vra my ma half moedeloos vir my of ons nou regtig weer moet weggaan. Dan sê ek ja, pak die miljoen goeters in ons rugsakke en wag vir Gerrie en Ansu om ons aan te ry lughawe toe. Ons eienaardige bagasie is swaar!


Hierdie moet in twee rugsakke kom!
2 Baalsakke, 90 minute en 44 kg later

Die rit na die lughawe voorloop sonder voorval. My kinders is almal besig en kan ons nie kom afsien nie. Ons het klaar gegroet. Ansu stap met ’n ligte tred, bly om vir ’n slag saam met Gerrie te kom. Toe ons so om die hoek gaan, gee ek ‘n onwillekeurige bloedstollende gil. Die mense verstar! Wat sien ek daar! Michelle en Johan verskyn uit die niet om my te verras. Die groep mense wat voor ons geloop het, steek groot-oog verskrik in hulle spore vas en verwag die ergste. Al die mense in die restaurant hou vir ’n wyle op om te eet en drink om te kyk wat aangaan. 
Gelukkig was daar nie lughawe polisie naby nie, want hulle sou my summier in hegtenis geneem het. Archie, Gerrie en Ansu skrik net so groot vir my gil. Michelle kry so skaam, sy probeer agter ’n pilaar skuiling soek en Johan glimlag verleë. Wel, hulle het geslaag. Hulle het my verras!
Ansu, Gerrie, Archie en ek
Verrassing!

Ons boek ons bagasie vinnig in en sit af na ons koffiewinkel vir ons tradisionele koebaaisê koffie saam met Gerrie. Toe is dit tyd om te groet en na al die gewuif, gaan ons.
Na twee vliegtuigritte, ’n busrit en taxi kom ons baie moeg Maandagaand by Maja aan. Dis koud en nat. Pak so bietjie uit, maak die bed op en val in ’n diepe slaap. In die nag reën dit en ou Gus kom groet ook. Skaars hier en hy treiter my al klaar! Maar ou Maja staan stewig en veilig vasgemaak in Patras Marina en ek is in droomland.

Friday, September 25, 2015

Totsiens



Die 2015 seilseisoen.


Wel, nou ja. Wat kan ek sê? Wat ’n jaar! Vol van vreugde en genot. Vol van ervarings en opwinding. En vol van alledaagse kwellings en kwinkslae. ’n Goeie jaar, ek weet darem nou al wat ek moet doen.


Ons het hierdie jaar 1 458 myl geseil, 749 myl in Turkye en 709 myl in Griekeland en 25 Griekse eilande is deur ons verken en besoek.

’n Spesiale dank aan ons vriend Deon, van Aliwal-Noord se wêreld. Hy het die blog getrou gelees en ewe skerpsinnig vragies gevra en gereeld pittige kommentaar gelewer. Hy weet nou presies wat die verskil tussen ’n benoude- en 'n senuagtige seiljag is asook hoe 'n benoude baai lyk. Baie dankie vir jou getroue ondersteuning.

Turkye .Van Kusadasi in die noorde tot by Finike in die suide. Niks kan die salige ankers met die mooi natuurskoon in Turkye klop nie. Die plaaslike inwoners wat ’n ekstra myl vir ons loop. Turkye was heerlik

Salige anker


Kuiers saam met Neil en Sandi, ons Suid-Afrikaanse vriende wat ons in Kusadasi ontmoet het. Dit was so lekker om met vriende in die vreemde te kuier. Al is dit min. Net die wete dat hulle ook daar êrens is. Net om te hoor: ”Waar is julle nou?” Ons het ook saam met Martin en Shiree van Gumnuts gekuier.

Kuier saam met Sandi en Neil
Gumnuts se mense


Griekeland. Ek lief Griekeland. Daar is nie nog ’n plek soos Griekeland nie. Van al die politieke probleme wat die land ondervind, was ons nie eers bewus nie. Die lewe op die eilande gaan maar hulle gewone gang.

Pragtige Poros
Ons het ook vir Henry en Sally van Suid-Afrika by Symi ontmoet en twee keer heerlik saam gekuier

Kuier by Symi met Henry en Sally


By Galaxidi het ek my geesgenoot, Pippa, en haar man Andrew ontmoet en heeltemal te gou koebaai gesê.

Pippa


Leon en Dirk het in Turkye vir ons kom kuier. Hulle het lui-lekker van Marmaris tot by Fethiya saam gevaar. Onthou julle die ekskursie na die Dalyan Rivier? En die mooi ankerplekke in Göcek?

Dalyan Rivier
Die manne
Dirk en Leon


Chris en Zane het in Griekeland saam met ons gevaar. Onthou julle hoe ons Santorini met die karretjie platgery het? En daai lang dag se skuinslê seil? Wat nog te sê van die vasmeer by Hydra!

Zané in Santorini
Met die helm gebore
Hydra
Aandblomme


Dit was ’n heerlike jaar! Met hartseer neem ons afskeid van ons kleine Maja en neem weereens ’n skeepsvrag vol herinneringe saam met ons huis toe om te vertroetel. Slegte ervarings en ondervindings vervaag tot amper niks en net die goeie, waarvan daar tonne is, bly bestaan. Of jy dit wil glo of nie – ek is die seilende sigeuner en Archie is my kaptein! Ons huis se naam is Maja.

Ons groet tot 2016. Totsiens

Totsiens

Thursday, September 24, 2015

Patra.



21 tot 25 September 2015. Maandag tot Donderdag

Golf van Patras
Patras Marina


Werk, werk werk! Archie sê mos altyd: ”’n Huisvrou se werk is nooit klaar nie!” Ons is nou weer besig om vir Maja reg te kry vir haar winterslaap. Die helm word afgehaal en gestoor. Dinkie se snoet het ’n snaakse boggel en word winkel toe gevat. Sy is nog onder waarborg, hulle sal kyk wat gaan aan.

Maja word voorberei


Archie lees op oor die huisbatterye se laaier en berei die batterye voor vir oorwintering. ’n Baie lang proses. Dinkie se motor word met vars water uitgespoel, sy vergasser word leeggeloop en sy silinder word met olie gesmeer (?). Die hoofmotor (Volvo) se brandstof- en oliefilters is geruil, nuwe olie is ingetap en die seewater verkoelingsisteem is met varswater gevul.

Maja word binne gewas, bimini en “sprayhood” word eers afgespoel en dan afgehaal en weggepak. Die twee bolfenders kry hulle hemde aan sodat seediere hulle nie daarop kan tuismaak nie. Maja word met ekstra vasmeertoue vasgemaak vir daai stormnagte. Diusend en een dinge word gedoen.

Archie en sy twee nuwe pêls


Rugsakke word met ’n gesukkel gepak. Klere word gebruik om geskenke te beskerm. Hulle moer mos jou bagasie op die lughawens rond, sit dit nie versigtig neer nie.

Werk, werk, werk!


Vrydag, 25 September, gaan ons met die bus na Delphi waar ons een aand gaan slaap. Van daar is dit Athene toe en dan vlieg ons Saterdag 26 September huis toe. My seun, Francois en Roelien trou 3 Oktober, so daar is groot opgewondenheid in SA.

Patra is n doodgewone alledaagse ou plek, maar een ding is seker - die son sak altyd baie dramaties hier. Die lug ontplof in helder kleure wat die hele hemel oorneem en die wolke verander in n palet van kleure.

Son gaan onder
Die son sak weer
Wolkkolom