Monday, August 24, 2015

Poros Eiland. O. Bistiou.



22 Augustus 2015. Saterdag.

Poros to O. Bistiou

Ek neem swaar afskeid van Poros. Ons vertrek uit die mooi baai en seil uit na die noordekant van die eiland Poros na die ankerplek O. Bistiou. Dit is ’n baie smal baai en ons vaar na die volgende baai, maar dit net nie genoeg beskutting nie. O. Bistiou, 37°32.770 N, 23°28.923 O, 13.8 myl is ons voorland. Ons gooi anker en neem ’n lang tou na die land en maak aan die rotse vas. Die baai het nie skuiling teen die oostewind nie. 

Seil rustig

O. Bistiou


Die water is heerlik en Archie, Zane en Chris swem land toe en soek vir skatte. Archie kry ’n mooi dryfhout vir my en Zane vind pragtige geel en groen seep-pampoentjies. Die see is heerlik lou, eintlik te warm om mens af te koel.

Daar is versoeke om sangaand te hou. Na aandete begin Gus met sy manewales en die sangaand sterf n baie vroeë dood. Die melodieë word as't ware in die wind weggewaai en die lus word geblus. 


Probeer sing


En natuurlik waai hy uit ’n noord-oostelike rigting en Maja wieg heen en weer in die golwe wat in die baai ingerol kom. Sulke deinings sit baie stremming op jou anker en Chris maak kennis met nagwaak. Die ou tweetjies kan die nag glad nie slaap nie. Daar is wind en baie geluide op Maja as die wind waai. Dit sal hulle leer om my te spot oor nagwaak! 

Ek en Archie sit op die dek en nagwaak. Die deinings het die fender wat ons op die landtou vasgeknoop het se knoop losgeskut en Archie sien hoe hy vinnig wegdryf, gelukkig land se kant toe. Dit begin reën en ons moet binne toe. Gelukkig hou die reën nie te lank aan nie en ek maak vir my lêplek op die dek. Gus waai tot 03:00 en draai toe, waai nou vanuit die suide. Almal kan toe bietjie slaap, maar nou waai Gus in die see se rigting en ek hou die water dop om te sien of die fender nie nou oop see toe gaan waai nie. Die bietjie maan gee genoeg lig om die wit van die fender in die donker te sien.

Archie gaan slaap en ek sluimer ook in. Vroeg die volgende oggend vroeg swem Archie land toe en kry die fender omtrent 3m van die see op droë land.

Almal maar effe moeg.

Sunday, August 23, 2015

Poros.



21 Augustus 2015. Vrydag.

Ons bly vandag by Poros. Dis vir ons lekker hier.

Ons ou viertjies gaan stap die bult op, heuwel toe. Die hoogte gee vir ons die luukse van die mooiste uitsigte. Dis ’n fees vir die oog en ons verlustig ons aan die kykgenot. 

Die stappaadjie is plek-plek tussen die bome en die koelte-skuiling teen die verskroeiende son is heerlik. En baie welkom. Op stap ons. Ai, maar dis heerlik om te stap. Ons word beloon met uitsigte, die een mooier as die ander. Ek het dit al gesê, maar dit is vir my net te mooi vir woorde. Dis opheffing vir die siel, salwing vir die gees. Ons stap ’n ander paadjie terug en ons is tuis. 

Stap in die heuwels
Uitkyk oor die kanaal
Êrens is Maja
Ryp turksvye
Poros
Poros


Chris het mos uit Suid-Afrika stukkie Rhodesian teak hout saamgebring om vir Dinkie se motor 'n nuwe huis te bou wat agter aan Maja gemonteer moet word. Die motor, wat huidig langs die kant gemonteer is, het soms aan die ander jagte vasgehaak as ons in nou spasies moet vasmeer. Nou, vandag is die groot dag. Die mans is besig om die kosbare stukkie hout op sy nuwe plek agter te monteer. Hulle boor en pas en meet en buig en monteer en skroef vir die vale en siedaar! Dinkie se motor het n veilige nuwe tuiste!

Chris en sy plankie
Dinkie se motor kry 'n nuwe tuiste


Ek soek ’n rok. Ons word vanaand uitgeneem vir ete deur Zane en Chris en ons is aangesê om mooi-moois aan te trek. Ek en Zané loop deur die winkels, maar geen rok fluister vir my om dit te koop nie. Ek sal maar die rok wat ek in Turkye gekoop het, aantrek. Ek kan mos nie by die elegante Zané afsteek nie.

Ons stort en 20:30 vat ons die pad na Platanos Taverna waar ons gaan eet. Hier gaan vanaand groot pret en plesier wees, want dit is Griekse musiek en danse. Ons bestel kos. Chris en Zané bestel seekos vir twee, met voorgereg en wyn ingesluit. Ek bestel lam in die oond, met gevulde druiweblare as voorgereg en Archie bestel mozzarella slaai en lamslewer en binnegoed. Die kos is heerlik. Die danse begin en die danseres nooi vir my en Zané om saam te dans. Nou ja, hoe kan jy weier. En ons dans, moer toe knieë en al. Die dans hou aan en aan en aan. 

Laaste avondmaal
Archie en ek


Ek moet sê , ek en Zané het behoorlik gedans. Op een stadium het ons, saam met twee ander dames, ’n tipe belly dans gedoen en toe steek hulle vuur rondom ons aan. Maar ons dans. Selfs ou Arch het een keer ook ingeval en saamgedans. Die dansers het Zorba’s dans gedoen en dit was uitstekend! 

Om en om!


Dit word ’n onvergeetlike aand, met heerlike kos, dans en musiek, saam met vriende wat die hele seilervaring vreeslik geniet het. Dankie vir ’n heerlike aand.

Saturday, August 22, 2015

Poros Eiland. Poros.

20 Augustus 2015. Donderdag. 

Hydra tot Poros

Maja staan in die eerste ry, langs die kaai. Dit beteken dat almal eers moet vertrek voordat ons kan vertrek. Dis nou ’n verkeersknoop van epidermiese proporsie, soos oom Oubaas van Sewende Laan sou sê. Hierdie plek is bekend vir gekruisde ankers. Ons wil graag tien-uur vertrek en gee die boodskap deur. Die lyk of ’n hele paar jagte in elk geval die tyd wil vertrek. 

So, dis tien-uur en daar is roering op die voorste ry jagte. Daar is die etlike ankerprobleme, maar nie te erg nie. So vertrek die een na die ander jag. Die Russe maak hulle jag los van Maja en toe is dit ons beurt. Ons trek ons anker seepglad uit, geen probleme nie. Weg is ons, na Poros, 37°29.896 N, 23°27.333 O, 12 myl.

Verkeersknoop


Die wind waai reg en ons span die seile. Zane doen haar deel en Chris is weereens in sy noppies. Hy geniet die geseil vreeslik baie. Ons seil tot ons by die nou kanaal kom en die seile word ingetrek. 

Op pad na Poros
Slapende skone


Die inkom in die dorp is prentjiemooi. Hoe berge op die agtergrond, die plat, blou see met seiljagte wat lomerig op die water lê. Huisies kruip teen die berghange af see se kant toe. Kerktorings, restaurante en winkeltjies. Ag, maar ons hou van die plek!

Poros Kanaal


Die een kant van die kanaal is baie vlak modder, ons moet regs hou sodat ons nie strand nie. Daar is baie vasmeerplek by die kaai en Archie tru en ek gooi anker. Gus druk ons skeef, maar die afstoters doen hulle ding, die manne op die kaai vang die toue en Maja is vas. Dis ’n heerlike dorpskaai. Elize, my suster, sou baie van die kaai gehou het. Dis haar tipe dorpskaai. Dis ook ons tipe dorpskaai. 

Poros
Huise langs die kaai
Uitsig oor kanaal


Dit is vrekwarm en ons elkeen sit in ons eie persoonlike plas sweet. Zane en Chris gaan verken die dorp en later volg ek en Arch hulle voorbeeld. Archie drink ’n yskoue bier en ek ’n freddo by Taverna Platanos. Hulle het elke Vrydag- en Saterdagaand Griekse danse en musiek. 

Drink 'n yskoue freddo

Taverna Platanos


So, ons wonder ... Dit is môre Vrydag ...

Hydra Eiland. Hydra.



19 Augustus 2015. Woensdag. 

Tselevinia Baai tot Hydra

Hier waar ons nou is, is so verskillend van die Cyclades. Gus is nie die Meltemi nie, nee, hy is ’n Suid-Ooste wind. Die plekke is naby mekaar. Archie bak eers vir ons pannekoek en toe is ons reg vir die pad na Hydra, 37°21.058 N, 23°27.949 O, net 6 myl. 

Ek gooi die basil plantjie wat Leon en Dirk vir ons gekoop het, seremonieel in die water. Ons het elke blaartjie daarvan geëet, maar Gus van die Cyclades het sy tol geëis en Basil het stadig maar seker gesterf. Tragies. Sy laaste rusplek is in die helder water van Tselevinia, tussen die visse waar die grond rondom sy wortels deur die water afgestroop word en hy deel van die Saronic See word.

Tselevinia Baai
Koebaai Basil


Anker op en ons vertrek. Gus se blaas is beswaarlik ’n sug, maar die seile word gespan in die hoop op ’n wonderwerk. Later laat sak ons die seile, want die hoop beskaam. Voor ons breek die pragtige dorpie van Hydra oop. 

Verlede jaar strandballe, hierdie jaar noedels!
Op pad na Hydra
Hydra


Die hawe is stampvol en ons wag vir ’n plek om oop te gaan. Dis ’n benoude spasie, maar Archie tru dapper en meesterlik in die spasie in terwyl ek anker gooi en die afstoters paraat op hulle pos is om vir Maja in te help. Hulle moet hul afstoot ken, want Maja wurm haar net-net in. En ons pas en maak vas.

Ek en Zané was wasgoed en die skitterskoon wasgoed wapper al rondom Maja. Toe begin die chaos. Maar baie geordende chaos. ’n Russiese boot kom maak voor aan Maja se snoet vas en een vir een kom nog seiljagte en maak ’n tweede ry. Dis nie al nie. Toe kom daar ’n derde ry wat hulle vasmaak aan die tweede ry en heelwat later selfs ’n vierde ry plek-plek. So iets het ek en Archie nog nooit gesien nie en Zané en Chris nog minder. Wel, toe is almal vas en die agt Russe is heen en weer en op en af op Maja. Ons is nou hulle toegang tot die kaai. Geen privaatheid meer vir ons nie. Maar as jy in Griekeland is, maak jy soos die Grieke.

Jagte in rye vasgemeer


Hydra het 'n kordate kabouter en die die kaai is syne. Hy roep die kapteins en wys ander bote weg met groot handgebare. Hy beveel en organiseer daai hawe. Hy is in beheer.


Kabouter


Ons gaan dorp toe en dit is ’n pragtige dorp. Geen lawaai van motors of bromponies nie. Net mense en hulle mens lawaai wat die strate en eetplekkies vul. Die donkie taxi's wag geduldig op hul passasiers. Ons loop die dorpie plat en geniet dit terdeë.
Hydra taxi's

Mooi kerk
Ek, Zané en Hydra
Lief vir haar!


Ek is vreeslik bly dat Niel vir ons gesê het dat Hydra so mooi is en dat die wyse Archie besluit het dat ons hier moet aandoen. Môre gaan dit groot sports wees om hier uit te kom ...