19 Augustus 2015. Woensdag.
 |
Tselevinia Baai tot Hydra |
Hier waar ons nou is, is so
verskillend van die Cyclades. Gus is nie die Meltemi nie, nee, hy is ’n
Suid-Ooste wind. Die plekke is naby mekaar. Archie bak eers vir ons pannekoek
en toe is ons reg vir die pad na Hydra, 37°21.058 N, 23°27.949 O, net 6 myl.
Ek gooi die basil plantjie wat
Leon en Dirk vir ons gekoop het, seremonieel in die water. Ons het elke
blaartjie daarvan geëet, maar Gus van die Cyclades het sy tol geëis en Basil
het stadig maar seker gesterf. Tragies. Sy laaste rusplek is in die helder water
van Tselevinia, tussen die visse waar die grond rondom sy wortels deur die
water afgestroop word en hy deel van die Saronic See word.
 |
Tselevinia Baai |
 |
Koebaai Basil |
Anker op en ons vertrek. Gus se
blaas is beswaarlik ’n sug, maar die seile word gespan in die hoop op ’n
wonderwerk. Later laat sak ons die seile, want die hoop beskaam. Voor ons breek
die pragtige dorpie van Hydra oop.
 |
Verlede jaar strandballe, hierdie jaar noedels! |
 |
Op pad na Hydra |
 |
Hydra |
Die hawe is stampvol en ons wag
vir ’n plek om oop te gaan. Dis ’n benoude spasie, maar Archie tru dapper en
meesterlik in die spasie in terwyl ek anker gooi en die afstoters paraat op
hulle pos is om vir Maja in te help. Hulle moet hul afstoot ken, want Maja wurm
haar net-net in. En ons pas en maak vas.
Ek en Zané was wasgoed en die
skitterskoon wasgoed wapper al rondom Maja. Toe begin die chaos. Maar baie
geordende chaos. ’n Russiese boot kom maak voor aan Maja se snoet vas en een
vir een kom nog seiljagte en maak ’n tweede ry. Dis nie al nie. Toe kom daar ’n
derde ry wat hulle vasmaak aan die tweede ry en heelwat later selfs ’n vierde
ry plek-plek. So iets het ek en Archie nog nooit gesien nie en Zané en Chris
nog minder. Wel, toe is almal vas en die agt Russe is heen en weer en op en af
op Maja. Ons is nou hulle toegang tot die kaai. Geen privaatheid meer vir ons
nie. Maar as jy in Griekeland is, maak jy soos die Grieke.
 |
Jagte in rye vasgemeer |
Hydra het 'n kordate kabouter en die die kaai is syne. Hy roep die kapteins en wys ander bote weg met groot handgebare. Hy beveel en organiseer daai hawe. Hy is in beheer.
 |
Kabouter |
Ons gaan dorp toe en dit is ’n
pragtige dorp. Geen lawaai van motors of bromponies nie. Net mense en hulle
mens lawaai wat die strate en eetplekkies vul. Die donkie taxi's wag geduldig op hul passasiers. Ons loop die dorpie plat en
geniet dit terdeë.
 |
Hydra taxi's |
 |
Mooi kerk |
 |
Ek, Zané en Hydra |
 |
Lief vir haar! |
Ek is vreeslik bly dat Niel vir
ons gesê het dat Hydra so mooi is en dat die wyse Archie besluit het dat ons
hier moet aandoen. Môre gaan dit groot sports wees om hier uit te kom ...
No comments:
Post a Comment