Wednesday, August 5, 2015

Irakleia Eiland. St Georgios. Vat jou goed en trek.



2 en 3 Augustus 2015. Sondag en Maandag. 

So sit ek toe nog langbeen op Maja se dek en hier kom die hawe polisieman. Hy sê hy soek die kaptein. Ek roep toe ewe liefies die kaptein. En daar sê hy vir Archie hy wil hê ons moet skuif. Nogal “alongside “ ’n vissersboot. Daar kom blykbaar ’n groot boot wat gaan vasmeer. Ons het nie kinders op die boot nie, so ons kan maklik skuif, sê die polisieman. Ek hoor toe by my buurvrou dat hy het eerste die motorboot gevra, maar hulle wou nie. My moer strip. Ek bedoel, ons het een aand op anker in die hawe geslaap om vir ’n plek te wag. Ons het reeds vir drie aande se verblyf betaal. En nou moet ons skuif. Maja is nie eers in die pad nie. Die blerrie motorboot is.

Ek gaan vra die polisieman en hy het lang stories. Hy sê dis ons keuse. Goeie ou Archie sê ons sal maar skuif. Toe trek ons die anker op en trek alongside van die vissersboot in. Weg is my fliekkyk van die tieners en al die aksie. Ses-uur kom die groot boot in. Dis maar net ’n gullet en hy meer vas waar hy niemand pla nie. ’n Ander seilboot kom trek toe ewe langs die kaai in waar ons gestaan het. En ek sien daai polisieman. Vra hom toe hoekom ons eintlik moes skuif. Ek vertel hom sy fortuin en hy kry so skaam, want hy was totaal verkeerd in sy skuifbesluit. Hy sê toe later : “Excuse”.

Ons bly toe maar langs die visserman en dis lekker stil in die deel van die hawe. Geen rimpel of deining nie. 

Ali, ons buurman die visserman


Toe wil almal skielik langs ons kom alongside. Eers die motorboot wat daar wag vir ’n vasmeerplek. Ek sit nog so en hier kom ’n seiljag regop ons af en voor ons weet wat ons tref, het ons baie naby bure. Hulle kom toe gelukkig net hulle bemanning oplaai wat met die veerboot kom en ’n uur later is hulle fort.

Die volgende dag sê die visserman daar kom ’n seiljag langs ons vasmeer. Net na twee is hulle daar. ’n 56 voet boot met nege mense op. Hulle moet oor ons boot loop om voet aan wal te sit. En weg is ons privaatheid. Hulle kom en gaan die hele dag. En ek sê vir Archie dis alles die onnosel hawe polisieman se skuld. Ek skuif nie sommer weer as iemand ons vra nie.

Waar is Maja ....?
... daar is Maja!

Saturday, August 1, 2015

Irakleia Eiland. Stapdag.



1 Augustus 2015. Saterdag.

Ons kort oefening. Dis ’n goeie tyd om bietjie van die boot af te kom. Ons klim die 10:30 bus en gaan ondersoek die eiland. Ons klim by Panagia af, want ons wil vir ’n grot gaan kyk. Noorweërs vra vir ons of ons ’n flits het, want anders kan jy niks sien nie. Ons het nie ’n flits nie. Hulle sê die grot is eintlik vol rommel en bye. Dis nie die moeite werd om soontoe te gaan nie. Toe stap ons maar die grotroete tot op ’n punt en stap toe terug na ons dorpie. 

Panagia met Schionousa Eiland in die agtergrond


Dis baie rowwe terrein hierdie. Met baie klippe. Barre, droë wêreld waar net die sterkes kan oorleef. Karoo in die oortreffende trap. Bokke met klingelklokke wat tussen die klipmure wei. Wat hulle eet, weet nugter. Daar is net sulke steekbossies en sipresagtige struike. Ons sien ook ’n klomp skape.

Bar en droog


Die bloedig warm, maar die roete is pragtig. Ons sien die eiland, Ios, waar Chris en Zane met Maja gaan kennis maak. Daar by Naxos se wêreld is die wêreld toe onder die mis. Omtrent ses kilometer later, papnat gesweet, maar tevrede met die fisiese oefening wat ons gekry het, kom ons met dapper en stapper tuis.

Daaronder lê St Georgios
Eensame kerkie


Terug by St Georgios, eet ons kaaspastei en Archie drink ’n bier en ek drink freddo expresso. Ons rus heerlik in die mooi restaurant en stap daarna terug na Maja.

Ons baai (groen boot links)


Ons bly lekker op die eiland wat ek nie geken het nie. Hier bly net 150 permanente inwoners op die eiland. Die Italianers in hulle nuwe groen boot met die rooi versierings, speel operamusiek. Kliphard, dat die barre berge antwoord gee. Die kaptein dra een rooi en een groen croc. Die ander man dra ’n groen broek met ’n rooi hemp. 

Hemel, maar dit is lekker hier!

Irakleia Eiland. St Georgios.

30 en 31 Julie 2015. Donderdag en Vrydag.

Agrilos tot St Georgios

Ek het nog nooit van die Griekse eiland gehoor nie. Irakleia, dit eindig nie eers met ’n –os nie. Wel, ons is soontoe op pad en wel na St Georgios, 36°56.814 N, 25°28.190 O, 7 myl.

Ons kry nie plek in die hawe nie, want dit kan net drie jagte huisves en toe gooi ons maar anker. Die res van die hawe word beset deur vissersbote. Dis gelukkig baie stil, want die boek sê as die wind waai, is die beste plek in die hawe. Ons beleef ’n rustige nag op anker.

St Georgios


Die volgende dag wag ons dat een van die bote ry en toe hy waag om weg te vaar, is ons anker op en ons trek by daai hawe in. Hier gaan ons vir ’n paar dae bly. 

Plek op die kaai


Dis amper soos fliek kyk, hier langbeen op Maja se dek. Veerbote kom en gaan. Talle tieners spring sonder moeg word in die see. Jong pappas en mammas loop met hul kroonwildjies in stootkarretjies rond. Bootmense stort op hulle dekke en die waterskip kom laai die eiland se water vir ure aaneen af. 

Reuse veerboot
Tieners baljaar
Familie uitstappie
Waterskip ...
... en haar bemanning


Ons maak ons tuis hier op die vreemde bekende eiland. Ons is deel van alles wat hier rondom ons gebeur. Ons bly al te lekker.

 



Thursday, July 30, 2015

Schionousa Eiland. Agrilos.

29 Julie 2015. Woensdag.

Akrotiri tot Agrilos

Ek is tussen die boom en die bas. Ons het nou klaar ons gevreesde kruising dwarsoor die Meltemi speelterrein gedoen terwyl die weer baie goed was en nou moet ons die tyd omkry tot ons kuiermense kom. Daar is te veel ure in die dag en dit voel vir my of die tyd te stadig verbygaan. Ons kan nie wag om ons geliefde dierbare vriendin, Zané en haar broer by ons te hê nie.

Ons gaan vandag na nog ’n ankerplek by Amorgos, met die oulike naam, Kalotaritissa. Dis net ’n hanetree. Ons is sommer gou-gou daar, maar die baai is vol vissersbote en ons besluit ons gaan vêrder na Agrilos, 36°51.388 N, 25°31.575 O, 15.0 myl, op Schionousa Eiland. Ons het verlede jaar saam met Gerrie en Ansu ook daar geanker. 

Maja verander van koers en daar trek ons. Ons gooi amper op dieselfde plek anker as verlede jaar en vas is ons. Dis vrekwarm en ons gebruik die blou Aegean See om ons af te koel. Nog ’n dag, nog ’n anker. 

Agrilos Baai


“Zané, die tyd raak min! Pak jou bikini in jou rugsak en kom tog net!”