Thursday, July 16, 2015

Nisyros Eiland. Paloi.



14 Julie 2015. Dinsdag.

Livadhia tot Paloi, Nisyros Eiland

Klaar geskuil en die wapad is ons woning. Ons vertrek na Paloi, 36°37.186 N, 27°10.260 O, 18 myl. Dit is op die vulkaniese eiland, Nisyros. 

St. Nikolaos kerk by Tilos


Ons vaar verby die punt van Tilos en en toe is dit Nisyros toe. Ons span ook die seile en hoop daar is plek vir ons in die baai. Ons vaar om die vlak en  daar is oorgenoeg plek in die beskutte baai en ons gooi anker, tru in, die buurman help met die toue en ons is vas en veilig. Ook net betyds, want almal het uit hulle skuilplekke uitgeklim en kom hierheen. Sommer gou word al die beskikbare plekke in die hawe vol.


Totsiens Tilos


Tot ons groot vreugde kom daar ook ’n seiljag met ’n SA-vlag ingeseil. Dit is niemand anders as Henry en Sally nie! Archie gaan help hulle met die toue. Ons soengroet. Hulle het ook ’n kuiergas, John, aan boord. Ons skut blad.

Paloi Hawe


Archie besluit ons gaan ’n bromponie huur om die eiland te besigtig. Ek probeer hom oorreed om eerder ’n quad bike te vat, maar dis kwansuis te duur. Toe moet ek maar tevrede wees om met die monstertjie met die klein wieletjies, wat lyk of hy omval, tevrede wees. Ons kry die ding dadelik. Sy naam is Berty. Die uitlener beveel aan dat ons die sonsondergang by Mandraki gaan bewonder en môre na die vulkaan gaan kyk, voordat die baie toeriste daar uitkom. Dan kan ons die gedroggie môre-aand teruggee. Archie sê dis reg en hy betaal sy €10 . Die man verduidelik waar sit wat en hoe ry mens die ding en Archie voel toe hy is reg vir die rit.

Archie sê ek moet klim, maar ek wil nie, te bang vir die ding. Ek sit my helmet op, klim op en klou aan hom vas. Ek is seker die man is kapabel en hou van die geklou! En daar trek ons Mandraki toe! Hemel, maar dit is nie lekker nie. Die ding klink soos ’n grassnyer. Ons ry aan die regterkant van die pad. Die pad is smal en dit voel of dit net wil omval. Die 6 km voel soos 60 km. Genadiglik kom ons heelhuids daar aan. 

Waterfront met Kerk van Maria van die Rots in die agtergrond
Mandraki
Swartklippie strand


Mandraki is mooi in die laatmiddagson. Ons stap daar rond tot die son amper sak, want ons wil nie in die donker terugry nie. Kyk, tussen Gus se gewaai, die groot see en die bromponie word ek as seilende sigeuner op my knieë gehou.

Die son sak

Monday, July 13, 2015

Tilos Eiland. Die twee chorios



12 Julie 2015. Sondag.

My familie by die huis het vandag ’n varkie en ’n ystervark op die spit. Ek kan net dink hoe lekker gaan hulle kuier! 

Ek en Archie gaan vandag die twee chorios besoek. ’n Chorio is klein dorpie bo-op ’n berg. Dis 9:00 en klaar warm. Gestewel en gespoor vat ons die pad. Ons stap op en op en op. En was ek vekeerd oor die eiland. Die landskappe maak voor ons oop. Daar is bome en blomme. Skoenlappers fladder rond. Dis vir my mooi. 

Op pad na Mikro Chorio


Dis ’n heerlike stap tot by Mikro Chorio. Dit is ’n gehug, ’n klein dorpie. Dit is heeltemal verlate. Van die geboue is niks meer as bouvalle nie. Dis heerlik om in die klein stegies en straatjies rond te dwaal. In die 15de eeu was Mikro Chorio die middelpunt van die eiland, maar na die Tweede Wêreldoorlog het almal die dorp verlaat. Ek weet nie eintlik hoekom nie. Sal oplees. Nou is dit net ’n herinnering van die glorieryke verlede. Die gehuggie lyk verlore en is verlate.

Mikro Chorio
Maalklip
Klein kerkie van buite ...
... en van binne
Groot kerk
Venster en pot


Ons besluit om na die Megalo Chorio, die groot dorp toe te stap. Dis vêr, so 5 km. Ons voel sterk genoeg en daar trek ons. Dis warm, dis baie warm. Ons stap die eerste ruk op ’n stapperspad en later op die teerpad. Eindelik kom ons daar aan.  


Stapperspad
Megalo Chorio in die vêrte


Ons stop by ’n restaurant en bestel bier en koeldrank. Dis heerlik koud en les ons dors.Ons het krag nodig om die plek te verken. Ons bekyk die spyskaart en besluit op baba bok met suurlemoensous. Dit was heerlik.


Baba bok


Toe pak ons die Megalo Chorio aan. Dit is geleë op die heuwel van Agios Stephanos. Op die top van die heuwel is die antieke kasteel van die ridders van die orde van Saint John. Tot die begin van die 18 de eeu het die hele bevolking van Tilos binne die mure van Megalo Chorio gebly.

Dis pragtig. Amper soos ’n klein Mykanos, amper mooier. Ons loop tussen die wit. Verby die een kerk met klippies in die binneplein en die blou deure en vensters. Ag, maar dis mooi. Ons stap weer op op op, boontoe na die volgende kerk. Daar onder lê die Aegean See met sy perdjies. Weer die wit kerk met die klippies. Ons kan nog lank in die plek ronddwaal, maar ons moet haas na die bus wat ons ook net-net haal.

Smal stegie
Kerk op die heuwel
Spoelklippies plaveisel
Trappe


Ek trek my woorde terug. Tilos is ’n juweel. Wat ’n heerlike plek om te skuil teen Gus. Ons gaan môre nog hier bly om seker te maak dat Gus homself uitwoed.





Sunday, July 12, 2015

Tilos Eiland. Livadhia.



11 Julie 2015. Saterdag.

Panormitis tot Livadhia, Tilos Eiland

Ons vertrek vroeg, voor sonsopkoms, want dit is ’n lang pad van 23.9 myl na Livadhia, 36°25.023 N, 27°23.135 O. Ons wil daar wees voor Gus. Die son kom mistig oor ’n slapende Panormitis Baai op. Die kloktoring sing vir ons ses slae as afskeidslied en weg is ons. 

Die son kom op


Twee-derdes van die pad is dit rustige deinings wat Maja net liggies wieg. Ek is dankbaar vir die plat see met die amper niks wind van voor. Toe daar volgens die GPS 8 myl is om te gaan, begin Gus te waai. Eers net liggies en later sterker. Voor ons lê die dorpie, maar dit lyk of dit verder gaan en nie nader kom nie.

Archie span die genoa en ons seil ’n ruk. Ek kan weer sê “ ’n ruk”, want Gus ruk aan daai arme genoa. Hy waai al sterker en ons moet die lawaaierige seil met moeite intrek. Die dorp kom nader en Gus waai al sterker. Ons is dankbaar toe dit stiller in die baai is. Dis ’n klein hawe en gelukkig is daar plek. ’n Vasmeerman wys die plek aan ons en ons vaar daarheen. Gus waai met vlae. Na ’n gesukkel is ons vas. Ek bekyk die plek en wonder wat de moer doen ons hier vir drie dae.

Livadhia Baai


Gus is hier in sy element. Sy naam kom mos eintlik van die woord gusts of gusting. Wel, hier hardloop Gus met spoed van die berg af. Hy is ’n rukwind en ’n plukwind en ’n raaswind. Met mening val hy vir Maja aan en hardloop dan verder, dan is dit skielik weer doodstil. Dan kom hy weer. Gelukkig is ons stewig en veilig vas, anders sou ek maar benoud gewees het. Ek is bly ek is nie nou op die see nie.

Die katte van Livadhia weet dis etenstyd, want hulle verskyn en sit voor die jag waar hulle kos ruik. Hulle sit ons so in die oë en kyk en sê saggies miaau. Ons gooi vir hulle oorskiet en soos aasvoëls pyl hulle op die kos af.

Etenstyd


Ek kyk om my rond. Niks romanties en idillies omtrent hierdie eiland nie!

Hierdie Griekse eilande is snaakse goed. Dis bar, dor stukke klip wat bo die see uitsteek en dan noem hulle dit eilande. Geen lowergroen bome en plante met ’n kleurryke voëllewe en skoenlappers nie. Dis net warm en bar met sonbesies wat aanhoudend en luid sing. As mens dit sing kan noem. Dis hoe ek vir Tilos op die oomblik beleef. ’n Godverlate plek waar ek moet skuil vir Gus.