Tuesday, May 12, 2015

Çökertme.



11 Mei 2015.
 
Akyarlar tot Çökertme

Dit is Maandag. ’n Effe bewolkte grou Maandag. Sewe uur is ons op pad na Çökertme, 37°00.225 N, 27°47.253 O, ’n volle 24.4 myl. Die golf van Gökova is ’n ongerepte deel van die kus. Dis nie besaai met klompe huise van beton nie. Verseker is dit nie ’n betonoerwoud soos in die golf van Gülluk nie.

Rotse naby Akyarlar
Mooi berge


Ons geniet die berge en dale van die omgewing. Daar is ook ander seiljagte op die water. Gus lê nog, maar ons seil darem vir so ’n halfuur.

Oggendskoot - Toue
Berge en dale


Met die ingaan van die baai, sien ons dis ’n mooi plek. Aan die Noordekant, is die Switserse Alpe met ’n verskil - daar is olyfbome en die see. Hierdie is ’n stap paradys waar Deon du Plessis, ons vriend van Aliwal-Noord se wêreld, homself sal kan uitleef. 

Stap paradys


Hierdie is een van daai ankers met ’n “long line ashore”, wat eintlik moeilik is vir twee mense om te doen. Die boek sê:”...with bad holding at places”. Ons eerste anker is toe een daai plekke en ek trek ’n seetuin op, die alewige seegras! Ons gooi weer, die anker byt en die man van die boot langs ons in ’n dinghy, bied aan om die tou aan die land vas te maak. Archie vat nog ’n tou land toe en na ’n volle uur se gewerk, is ons eers vas. En julle dink dis vakansie!

Daar trek hy
Hou vasberade vas


Daar is belofte van reën in die lug. En nie elders nie, hier! Ons maak klaar om met Dinkie land toe te gaan, maar net toe ons wil klim, lyk dit of daai belofte waar word. Toe is ons ”all dressed up, but nowhere to go”. Ons bly maar op Maja, terwyl dit saggies reën. Daar was die enkele bliksemstrale wat my bietjie laat skrik het.

Belofte van reën ...
... nie elders nie


Ons eet heerlike boontjiebredie met murgsagte lam op ’n koue dek. Hulle voorspel reën vir môre, so die kaptein besluit om nog ’n dag te bly.


Sunday, May 10, 2015

Akyarlar



10 Mei 2015.

Turgutreis tot Akyarlar

Ons het ons verblyf in Turgutreis Marina baie geniet. Dis baie beter as die vreeslike besige Bodrum. Ons koskaste is vol, die watertenk volgemaak, Maja het ’n bad gekry en die dieseltenk is opgevul. Toe roep ek op kanaal 72 vir die marina manne om ons te kom uithelp.

O ja, ek wou nog vertel het... Toe ons eergister hier by die marina ingekom het, vra die marina manne op die bootjie doodluiters vir ons ’n “rope for mooring”. ??? Geen marina het nog ooit vir ons so absurde ding gevra nie! Dadelik op my perdjie vra ek vir Archie: ”Nou wat de moer wil hulle met ’n tou maak?" Hy maan my toe tot kalmte en beter taalgebruik en sê ek moet sommer die tou gee wat ons gebruik het toe ons diesel ingegooi het. Ek gooi vir hulle die tou en daar trek hulle met tou en al en beduie ons moet wag. Ons wag tot hulle terugkom en beduie ons kan maar kom. Ou Arch vaar sommer die hele pad agteruit na ons staanplek toe. Hy sê dis baie makliker. Die marina verwag dat jy jou eie snoettou moet gebruik om aan hulle onderwater “mooring block” vas te maak. Hulle het dus, terwyl ons moes wag, ons tou aan hulle blok vasgemaak. Archie tru in ons spasie in, hulle gee vir my die tou en ek maak vir Maja vas.

Dis hoekom die marina ons moet kom losmaak. Ons is vas aan hulle blok.

Turgutreis Marina


Ons het ’n baie kort dag vandag na Akyarlar, 36°57.845 N, 27°17.645 O, net 4.7 myl. Ons is nie haastig nie, want ons moet eers vir Leon en Dirk 3 Junie in Marmaris kry. 

Catalada Eiland
Hulle vaar ook


Ons vertrek eers 10:30. Daar is nogal baie seiljagte op die water. Sommer gou is ons daar. Dis ’n mooi baai en ek gooi anker, staande met die druk van ’n knoppie, met die nuwe pendant (die Afrikaans vir pendant is blykbaar pendant). En hier is ons!

Akyarlar


Dit lyk na reën. Hulle het ook reën voorspel vir vandag. Die wolke lyk dreigend en die lug rammel. Enkele weerligstrale word aarde toe gestuur. Dit reën elders en later ook by ons.

Dit reën elders
 

Gelukkige Moedersdag aan alle moeders van Moederaarde.

 

Saturday, May 9, 2015

Turgutreis



8 en 9 Mei 2015.

Sahil Adasi tot Turgutreis Marina


Daar is voorspellings van wind vir vannag en veral Saterdag. So, dis weer sulke tyd. Ons moet gaan skuil. Daarom besluit ons op die Turgutreis Marina, 37°00.176N, 27°15.360 O, 24.7 myl.

Ons vat die pad. Dis weer lekker kalm. Langs die pad is daar vreeslik baie lelike Turkse vakansiehuise. Die boek sê dis die “Concrete coast”. Die kus beloon ons met ’n skouspel van soepel dolfyne. Ons vaar na hulle toe en hulle swem ’n rukkie saam met Maja. Ons het al twee keer hierdie jaar dolfyne gesien, maar dis die eerste keer dat ons hulle so naby sien. Archie sê hulle is so naby dat hy nie ’n foto kon neem nie.

Dolfyne


Die kuslyn in die omgewing is mooi en bergagtig. In die verte is my geliefde Griekse eilande te sien. Ons gaan om die draai en vaar verby Gümüslük. 

"Wreck Rock"
Ruwe kuslyn


Turgutreis Marina is ’n pragtige goedversorgde plek. Die hele dorp het atmosfeer. Die aand kom die winde nie. Wel, so dink ons, maar die marina is baie beskut. Ons weet nie hoe lyk dit op see nie.

Turgutreis Marina


Saterdag gaan ons mark toe en koop vars groente en speserye. Dit wemel van kopers en verkopers.

Speserye
Koop en verkoop


Ons loop langs die hawe en daar is sulke mooi gullets. Die mense is vriendelik, almal wil bootritte aan ons verkoop. As hulle hoor dat ons ’n seiljag  het, los hulle ons.

Die hawe
Die dorpsplein
Die moskee
Standbeeld vir Leon


Archie gebruik die tyd om my te verras met ’n “pendant” vir die anker. Ek hoef nou nie meer op my knieë te gaan om anker te gooi nie. Ek kan nou luuks regop staan om die op en af knop te druk. Hy woel en werskaf om die die ding te installeer en die drade op te koppel. Toe kom die toets! En dit werk!

Bedrading
Dit werk


Ek hou van die plek. Ons moes hier skuil vir winde wat nie gekom het nie, maar dit was ’n heerlike tuiste vir twee dae. Ons moes ook ons voorrade aanvul, want vir die volgende week gaan ons seil waar daar nie eintlik winkels is nie.

Ons skuil

Friday, May 8, 2015

Güllük Körfesi. Sahil Adasi.



7 Mei 2015

Asin Limani tot Sahil Adasi

Ons Turkse vriende het nog nie kop uitgesteek nie, so ek groet hulle deur drie blomme in hulle ruitveër te sit. Hulle sal weet dis koebaai.

Ons het hier by Asin Limani ingewurm, nou moet ons uitwurm. Ons dink dis net van uitgaan, maar moenie glo nie. Ons neig al na die eenkant toe en dreig om vas te sit in die buurbote, aan die stuurboord kant, se toue en ankerkettings. Dis al weer afstoot en tru en anker uitlaat en weer optrek. Wel, almal kom darem ongedeerd daarvan af. Die blerrie Gus. En weg is ons. 

Ons is op pad na Salih Adasi, 37°08.997 N, 27°31.933 O, net nege myl verder. Ek en Archie sit afgehaal op die dek. Nie eers Maja se rustige geprrr beur ons op nie. Ons het gedink die uitgaan sal so maklik wees. Ons hou nabetragting van hoekom die losmaak en uitgaan nie vlot verloop het nie. Hemel, maar ons het nog baie om te leer. Ondervinding en ervaring is ons leerskool.

Sahil Adasi


Ons baai het helder, deursigtige water. Ek kan sien toe die anker die bodem raak. Ten minste gooi ons deesdae foutloos en sonder stry anker. Dis net jammer dat hier ’n bietjie rommel op die water ronddryf. Ons kry twee besoekers, Drykie en Dakkie. Hulle is twee slim eende. Toe ons in die baai kom, kom hulle met 'n spoed aangeswem. Hulle is so oulik, ek voer hulle dadelik brood. As 'n volgende toerbootjie inkom, swem hulle weer daarheen en word gevoer. So vreet hulle swem-swem van boot tot boot.

Drykie en Dakkie




Vanaand eet ons weer vis. Archie het gou gister, nadat ons so heerlik aan die vis gesmul het, nog een gaan koop. Gelukkig was die balik winkel nog oop. Ons gemoedere lig op soos wat die son sak en die koel aandlug die baai vul.

Aandete