Tuesday, May 12, 2015

Çökertme.



11 Mei 2015.
 
Akyarlar tot Çökertme

Dit is Maandag. ’n Effe bewolkte grou Maandag. Sewe uur is ons op pad na Çökertme, 37°00.225 N, 27°47.253 O, ’n volle 24.4 myl. Die golf van Gökova is ’n ongerepte deel van die kus. Dis nie besaai met klompe huise van beton nie. Verseker is dit nie ’n betonoerwoud soos in die golf van Gülluk nie.

Rotse naby Akyarlar
Mooi berge


Ons geniet die berge en dale van die omgewing. Daar is ook ander seiljagte op die water. Gus lê nog, maar ons seil darem vir so ’n halfuur.

Oggendskoot - Toue
Berge en dale


Met die ingaan van die baai, sien ons dis ’n mooi plek. Aan die Noordekant, is die Switserse Alpe met ’n verskil - daar is olyfbome en die see. Hierdie is ’n stap paradys waar Deon du Plessis, ons vriend van Aliwal-Noord se wêreld, homself sal kan uitleef. 

Stap paradys


Hierdie is een van daai ankers met ’n “long line ashore”, wat eintlik moeilik is vir twee mense om te doen. Die boek sê:”...with bad holding at places”. Ons eerste anker is toe een daai plekke en ek trek ’n seetuin op, die alewige seegras! Ons gooi weer, die anker byt en die man van die boot langs ons in ’n dinghy, bied aan om die tou aan die land vas te maak. Archie vat nog ’n tou land toe en na ’n volle uur se gewerk, is ons eers vas. En julle dink dis vakansie!

Daar trek hy
Hou vasberade vas


Daar is belofte van reën in die lug. En nie elders nie, hier! Ons maak klaar om met Dinkie land toe te gaan, maar net toe ons wil klim, lyk dit of daai belofte waar word. Toe is ons ”all dressed up, but nowhere to go”. Ons bly maar op Maja, terwyl dit saggies reën. Daar was die enkele bliksemstrale wat my bietjie laat skrik het.

Belofte van reën ...
... nie elders nie


Ons eet heerlike boontjiebredie met murgsagte lam op ’n koue dek. Hulle voorspel reën vir môre, so die kaptein besluit om nog ’n dag te bly.


No comments:

Post a Comment