Monday, May 4, 2015

Kazikli Baai.



3 Mei 2015. 

Talianaki tot Kazikli Baai

Vandag vaar ons verder in die Güllük Körfesi. Ons moet steeds beskut wees teen Gus wat vanmiddag en vanaand gaan waai. Ons keuse val op Kazikli 37°20.246 N, 27°28.496 O, ’n baie beskutte baai. Dis ’n kort dag van net 11 myl.

Ons trek anker op en laat spaander. Gus (die wind) lê nog en ons motor die hele pad, te rustig vir woorde. Ons kyk na dit wat aan ons sigsintuig uitgedeel is om te waardeer en ons geniet die sien terdeë. Die see gly-gly sag en soepel by ons verby. Maja vaar statig met haar kameelperd-grasie in die golf. Ek en my kaptein sit tevrede en in harmonie op die dek. Die kaptein natuurlik op sy nuwe kussing.

Oggendskoot
Windpatrone


Niks opwindend gebeur nie (waaroor ek baie bly is). Ons vaar verby Paradys Baai waar ons verlede jaar saam met Gerrie en Ansu geanker het. 

Paradys Baai


Ons motor by Kazikli Baai in. Dit word omring deur bergerige heuwels. Dis mooi hier.

Ons gooi anker, sonder stry. Daai anker trek stokstyf, soos my pa se visstok as ’n ou grote byt. Ons is reg vir enige wind.

Dinkie se lyfie word vir die eerste keer die seisoen natgemaak toe ons land toe gaan. Ons stap bult op en bult af. Langs die pad gooi die bome plek-plek vir ons ’n kolletjie skadu. Dis warm. Ons kyk hoe ’n trok ’n wavrag vol vis oplaai. Ons kyk na die olyfplaas en oorweeg om dit te koop. Ons lag oor die lawwe gedagte. Dinkie neem ons terug na die wagtende Maja. Ons roei dat dit klap wind-op.

Kazikli Baai
Olyfplaas te koop
Maja in Kazikli Baai
Maja


Maja is hier tussen ’n klomp werksbote. Hulle ry heen en weer tussen die visplase in die golf en die baai, waar hulle “hoofkantoor” is. Dis glad nie steurend nie, dis lewe. As hulle verby vaar en ons sit op die dek, is dit net wuiwende hande en breë glimlagte. Dan waai ons vriendelik terug. Later word die dagskof verruil vir die nagskof. Bote vol manne kom terug van ’n dag se harde werk op die visplaas en nuwe vars manne word aangery vir hulle nagtaak. Daai visse is vreeslike vrate, want hulle vreet heeldag, as ek kyk na die hoeveelheid van sakke kos wat deur die bote opgelaai en weggery word na die plaas.

Werksboot op pad na visplaas


Die dag verander in aand sonder dat ons dit eintlik opmerk. Ons geniet ons aandete op die dek. Dis eergister se vars skaap (“overshoot”, soos Michelle sou sê).

Dis volmaan vanaand en dit strooi silwer rimpel dimpel diamante op die water.

Volmaan

Sunday, May 3, 2015

Çukurcuk? Nee, Talianaki!



2 Mei 2015

Port St Paul tot Talianaki

 Dit was heerlik in oorle Paulus se baai. Hier het hy mos in vergange se dae, op pad na Efese, geskuil teen die alewige blasende Meltemi. 
 
Vandag is ons roete na Çukurcuk. Ons was al daar, maar ek kan glad nie onthou hoe lyk dit daar nie. Ek het die plek uit my vertroebelde geheue uitgesny. Daar is al weer gerugte van winde vanuit die suide. Die boek sê Çukurcuk het goeie skuiling teen die Meltemi, maar dis “open to the south”. Wel, nou toe nou.!

Ons vaar uit die baai. Nou is dit eers die groot toets. Was dit die seegediertes op die propeller se skuld dat Maja se o.p.s. so laag was en dat ons nie spoed gehad het nie? Of is daar fout met die "sail drive” wat hulle verlede jaar ingesit het toe die motor vervang is? Ons hou asem op en duime vas... Archie stoot die spoedtrottel vorentoe terwyl hy sy tong senuagtig vasbyt. Die revolusies gaan op en op en op. Tot by 3 300! Vreugdevolle verligting! Alles is hankiedorie! Kan jy glo dat so ’n eenvoudige ding soos seelewe op die propeller ’n hele motor se werkvermoë kan beïnvloed. Ons leer nog ’n les – voor jy vaar, moet die propeller dit skoongemaak word.

Die kaptein dink toe dis die ideale tyd om sy Kersfees kapteinskussing wat my susterskind, Brigida, vir hom gegee het, in te wy. En hy sit toe alte lekker. Sy spykerboude sal nie weer agter die helm seer word nie. “Dankie, Gido!” Ons vaar oor ’n groot stuk see in stille waters. Ek vat ook toe alte gewillig die helm oor, net om so nou en dan ook op die kussing te sit.

Kaptein op sy kusssing
Visplaas


Om die draai is Çukurcuk. Maar my maggies, dit lyk of die hele Suidersee hier gaan inwaai as Gus gaan begin waai. Ek wil g’n niks hier op anker wees nie. Daar is mos hoeka gerugte van winde! Ons neem ’n wyse besluit om verder te gaan na ’n beskutte baai met “good all round shelter and excellent holding”. Dit klink na my tipe plek. En ons vaar verder. 

Çukurcuk


Ons vaar na Kuruerik Limani, ’n groot beskutte baai.met verskillende keuses van waar om te anker. Ons tuiste vir vir aand is Talianaki, 37°22.520 N, 27°19.904 O, die verste deel van die baai, lekker beskut. Ons gooi anker met minder stry, en vas en veilig is ons. Dit was ’n lang dag, 30.9 myl, maar dit het so kort gevoel.

Alles is blou

Kuruerik Limani
Talianaki Baai

Dis amper volmaan.

Saturday, May 2, 2015

Port St Paul



1 Mei 2015

Kuşadasi tot Port St Paul


Vandag is lentedag in hierdie deel van die wêreld. Dis ook die dag wat ons die waters weer gaan aandurf. Ek voel soos ’n groentjie. So of ek niks meer van seil kan onthou nie. Ons is albei bietjie senuweeagtig, soos voor ’n toets. Jy weet jy het geleer, maar jy voel of jy niks ken nie.

Voor ons begin seil, moet ons eers uit die marina kom. Ons is knus tussen twee bote ingedruk in Maja se winter slaapplek. Reg voor ons is ’n boot, met ’n lang snoet, so half in ons pad. Daar is ’n kans dat ons teen sy vasmeer ketting kan vasry en verstrengel kan raak. Glo my, dit kan gebeur! Die marina man is op sy pos en gebruik sy boot as buffer tussen Maja en die ketting. Archie skakel die motor aan, die marina man maak ons snoettou los. Ek staan gereed met fender in die hand om te keer as ons agterstewe met die draaislag nie teen die Cat langs ons gaan bots nie. 

Beperkte beweegruimte


Archie bestuur meesterlik uit. Hy vat die draai goed, Maja raak nie eers aan die Cat nie en vaar veilig verby die kettings en die lang snoet. Maja verlaat haar blyplek waar sy haar winterslaap van sewe maande lank geslaap het. En skielik is ons weer op die oop see. 

Kuşadasi se kasteel


Ons gaan vandag na Port St Paul, 37°39.269 N, 27°00.549 O. Dis 21.4 myl om te seil en behoort 5h30m te neem .Maja se motor wil nou skielik nie meer as 2 300 opm onder vrag draai nie. En onthou, die motor is splinternuut. Archie kry sy eerste swem toe hy kyk of die propeller mooi skoon is .Dit is vol seediere en hy probeer dit afkry. Elke keer moet hy asem skep en dan onder Maja induik en die gediertes probeer afborsel. Hulle klou soos nete. Hy besluit om verder te probeer by Port St. Paul. Die water is maar lekker koud so vroeg in die seisoen. Maja se motor prrr voort, seediere en al. Dit veroorsaak wel dat ons net vier knope met ons vinnige nuwe motor kan vaar.

Archie se eerste swem


Gus waai liggies en ons span die seile. Ons motorseil vir ’n ruk en daarna skakel kaptein die motor af en ons seil.


"Kaptein, span die seile ....
... Kaptein, sy is myne"


Ons vaar verby bekende plekke waar ons verlede jaar saam met Gerrie en Ansu gevaar het. Gerrie se kop het mos hoeka altyd Samos se kant toe gestaan. Dit was altyd Samos sus en Samos so. Dié Griekse Eiland het hom omtrent getiekel. Turkye en Samos is hier net een seemyl van mekaar verwyder. Dit is die naaste wat Turkye en Griekeland aan mekaar kom.

Samos
Bayrak Eiland met Samos in die agtergrond


Ons nader ons ankerplek en Arch sien op die vorige jaar se roete aanwysing presies waar ons moet anker gooi. Die eerste gooi van die seisoen is suksesvol, met ’n bietjie stry tussen die kaptein en sy “first mate”. Maar nou ja. So is dit maar.

Amper daar


Gewapen met eierspaan en snorkel, takel Archie weer Maja se pens. Hy skraap en rus en skraap en rus. Die water is koud en die asem raak min. Na vele pogings is die seelewe op Maja grootliks vernietig. Ons sal môre sien of dit Maja se spoedprobleem oplos. Ons hou duim vas.
 
Toe kry daai man koud, hoor. Tot op die been. Hy het al sy hitte in die see verloor. Dit was omtrent ’n storie en ’n half om hom weer warm te kry.

Die son sak om die eerste dag van die nuwe seilseisoen te volbring. Die weste lug word geverf met kwatsels pienk en vlam. Dis magies mooi. Die ooste lug word silwer-goud getint met die amper volmaan. Dis misterieus mooi. 

Sonsondergang


Ons is terug!
 

Thursday, April 30, 2015

Kuşadasi. Maja



27 - 30 April 2015

Archie sê altyd: ”’n Huisvrou se werk is nooit klaar nie!”  Wel, dis miskien waar, maar wat die waarste is, is dat ’n bootmens se werk is wraggies nooit ooit klaar nie.

'n Huisvrou se werk is nooit klaar nie ...
... en 'n bootman s'n ook nie.


Na sewe maande van eensame oorwintering, is Maja toe onder ’n stofkombers. Ons moet mooi kyk om haar te erken so tussen die stof deur. Dan begin ons. Dis afwas en afstof en uitvee. Matrasse uitslaan, kussings opplomp en beddens opmaak. Kaste regpak, klere uitpak. Al Maja se geskenke oorhandig en uitpak. Dan is daar nog die miljoene gereedskap wat Archie saambring en die kosvoorrade van die huis af. Ons spit en polish vir die vale. Was die hele Maja van kop tot toon silwerskoon. Maar dis die maklike deel.

Boot was


Dan begin daai Ingelsman soos Sherlock Holmes die een na die ander stukkende ding opspoor. As iets nie stukkend is nie, dan breek hy dit self, net om iets reg te maak.

Ons bed is nog vars opgemaak, toe pluk hy weer die beddegoed af en takel die snoet watertenk se meter wat aandui hoe vol die tenk is (baie sielkundig positief). Hy ontdek met vreeslike opgewondenheid dat daar bietjie water in die ruimte onder ons bed is. Die oorsaak van die lek word uitgesnuffel en opgespoor. Verlede jaar het Archie en Gerrie aan die ankermotor gewerk. Hulle het mos hoeka ’n wonderwerk verrig toe hulle dit suksesvol reggemaak het. Die gat waardeur die ankerkabels na die anker gaan, was nie heeltemal geseël nie en water het baie stadig daardeur gelek. Archie geniet homself terwyl hy dit regmaak. Hy neurie mos as hy met moeilike reparasies besig is.



Seël snoet se lek


Van die lewensbaadjies is effe klam en word opgehang om uit te vars en droog te word. 

Effe klam lewensbaadjies


Toe vernis hy die hout rondom die nuwe enjinmeters en sit ’n nuwe rubberseël vir die helm se kontrole-instrumente dinges in. Toe soldeer hy sommer ’n paar dun draadjies wat ek so ewe moes vashou.

Die volgende slagoffer is die gasstoof se brander wat oneweredig vlam. Hy skuur en druk goed in gaatjies (nee Verona, moenie verkeerde ideas kry nie) en maak skoon. Nou brand die stoof lekker.

Ek vra ewe onskuldig vir Archie hy moet net na die spaarkajuit se een venstertjie kyk. Dit voel ’n bietjie los. Hy raak so begeesterd met die regsien van die venster, dat hy daar en dan elke liewe venster ondersoek en nog vyf ander stewiger maak. Ek staan vol bewondering vir hom en kyk. Sowat van daad by die woord voeg, kry jy nie aldag nie.

Maak venster reg


Archie is nog glad nie klaar nie. Hy vervang ook die element van ons geyser, want dit trip elke keer Maja se krag. Dis geyser uithaal, winkel toe, koop ’n nuwe element. Sit dit in. Winkel toe, koop o-ringe en voltooi die projek na baie moeite. Ek help ook darem om die water uit die enjin “bilge” op te droog. 

Spoel geyser uit


Hy beraam planne om die nuwe afdakkie te “installeer”. Ons sit die bimini weer op.  Ek maak die vleklose staalpype skoon. Ons werk ons kuduks. 

Poets pype


Oral op die bote werk die manne. Dan spring hulle op ’n fiets en jaag winkel toe om iets te gaan koop en kom met ’n plastieksak vol goed teruggejaag. Dan werk hulle weer.

Ek sê vir Archie ons moet ook fietse kry. Hy sê nee.

Almal het fietse


Ons het darem kans vir kuier ook. Ons kry mense vir aandete. Ons koop hoender en sampioene en regte spinasie en slaai en uie en tamaties by die mark. Alles vars. 

Op pad mark toe


Ek kook ’n storm los vir Niel van Rensburg en sy seun Pierre, ook Suid-Afrikaners wat ons toevallig hier in Kusadasi ontmoet het. Niel bring ’n bottel sjampanje uit Suid-Afrika. Niel en sy vrou Sandi, wat eers 4 Mei Turkye toe kom, gaan ook vir vyf maande in Turkye en Griekeland toer. 


Pierre, Archie en Neil


Archie kraak die sjampanjebottel se kurk en ons klink ’n glasie op nuwe vriendskappe. Ons hoop om hulle êrens eendag weer te sien.