3 Mei 2015.
 |
Talianaki tot Kazikli Baai |
Vandag vaar ons verder
in die Güllük Körfesi. Ons moet steeds beskut wees teen Gus wat vanmiddag en vanaand
gaan waai. Ons keuse val op Kazikli 37°20.246 N, 27°28.496 O, ’n baie beskutte
baai. Dis ’n kort dag van net 11 myl.
Ons trek anker op en
laat spaander. Gus (die wind) lê nog en ons motor die hele pad, te rustig vir
woorde. Ons kyk na dit wat aan ons sigsintuig uitgedeel is om te waardeer en
ons geniet die sien terdeë. Die see gly-gly sag en soepel by ons verby. Maja vaar
statig met haar kameelperd-grasie in die golf. Ek en my kaptein sit tevrede en
in harmonie op die dek. Die kaptein natuurlik op sy nuwe kussing.
 |
Oggendskoot |
 |
Windpatrone |
Niks opwindend gebeur
nie (waaroor ek baie bly is). Ons vaar verby Paradys Baai waar ons verlede jaar saam met Gerrie en Ansu geanker het.
 |
Paradys Baai |
Ons motor by Kazikli Baai in. Dit word omring deur
bergerige heuwels. Dis mooi hier.
Ons gooi anker,
sonder stry. Daai anker trek stokstyf, soos my pa se visstok as ’n ou grote
byt. Ons is reg vir enige wind.
Dinkie se lyfie word
vir die eerste keer die seisoen natgemaak toe ons land toe gaan. Ons stap bult
op en bult af. Langs die pad gooi die bome plek-plek vir ons ’n kolletjie
skadu. Dis warm. Ons kyk hoe ’n trok ’n wavrag vol vis oplaai. Ons kyk na die
olyfplaas en oorweeg om dit te koop. Ons lag oor die lawwe gedagte. Dinkie neem
ons terug na die wagtende Maja. Ons roei dat dit klap wind-op.
 |
Kazikli Baai |
 |
Olyfplaas te koop |
 |
Maja in Kazikli Baai |
 |
Maja |
Maja is hier tussen ’n
klomp werksbote. Hulle ry heen en weer tussen die visplase in die golf en die
baai, waar hulle “hoofkantoor” is. Dis glad nie steurend nie, dis lewe. As
hulle verby vaar en ons sit op die dek, is dit net wuiwende hande en breë glimlagte.
Dan waai ons vriendelik terug. Later word die dagskof verruil vir die nagskof.
Bote vol manne kom terug van ’n dag se harde werk op die visplaas en nuwe vars
manne word aangery vir hulle nagtaak. Daai visse is vreeslike vrate, want hulle
vreet heeldag, as ek kyk na die hoeveelheid van sakke kos wat deur die bote
opgelaai en weggery word na die plaas.
 |
Werksboot op pad na visplaas |
Die dag verander in
aand sonder dat ons dit eintlik opmerk. Ons geniet ons aandete op die dek. Dis
eergister se vars skaap (“overshoot”, soos Michelle sou sê).
Dis volmaan vanaand
en dit strooi silwer rimpel dimpel diamante op die water.
 |
Volmaan |
No comments:
Post a Comment