Wednesday, September 10, 2014

Turkye. Kirkdilim.

8 September 2014. Maandag.

Sarpdere tot Kirkdilim

Dis van die een mooi baai na die ander een. Ons vat dit maar stadig, want dis nie ver na Kuşadasi toe nie en ons het 'n week om daar te kom.

Vroegoggend Sarpdere

Vandag is dit Kirkdilim (38°08.613 N, 26°33.918 O), net 7.5 myl. Ons vertrek saam met 'n magdom wolke, hulle bo en ons onder. Hulle seil deur die lug en ons seil op die water.

Tektas Eiland
Magdom wolke

Sommer gou is ons daar. Die baai strek diep in die land in. Weer omring deur berge.

Kirkdilim Baai

Ons roei land toe en Archie versamel allerande toue wat hy optel. Terug by Maja, sit hy en ontrafel hy die toue asof dit 'n speurverhaal is.

Geen internet nie

Ons is stoksielalleen in die baai. Totdat 'n swerm dorstige bye kom water soek. Ons nooi hulle vir 'n "sundowner". Hulle drink buite en ons drink binne, met alle moontlike openinge in Maja dig toegemaak.

"Sundowners"

Sunday, September 7, 2014

Turkye. Sarpdere Baai.

7 September 2014. Sondag.

Çeşme tot Sarpdere Baai

Ons groet Çeşme, wat al soos 'n tuiste vir ons voel. Ons het al baie tyd hier deurgebring.

Die wolke lyk dreigend oppad na Sarpdere Baai (38°11.013 N, 26°30.989 O), 22 myl vanaf Çeşme. Daar oorkant, by Chios se wêreld,  lyk dit na reën. Die wolkmassa verander van kleur, wit word grys met 'n tikkie rammel in die verte.

Wolke

Ons vaar verby die visplase by Mersin Körfesi, waar ons die vorige keer geanker het. Hier het ons laas saam net Gerrie en Ansu gevaar in 'n ongemaklike ontstuimige see. Vandag lyk dit heel anders. Ons span seil en Gus dryf ons rustig voort op die waters. Die wolke ontplof oor die berge, wit en dik.

Wolkontploffing

Sarpdere Baai is pragtig. Berge reg rondom. Ons anker en geniet die middag. Die water is deursigtig helder en swem is 'n moet.

Ingang tot Sarpdere Baai
Sarpdere Baai
Helder water

Die laatmiddag verander in skemer, lug word pienk, dan pienker, grys. Die maangloed verhelder die water tot amper goud.

Friday, September 5, 2014

Turkye. Eğri Baai. Çeşme.

4 September 2014.  Donderdag.

Eskifoça tot Eğri Baai

Eğri Baai (38°32.261 N, 26°22.591 O), 27.7 myl, is alweer 'n bekende plek. Die berge staan trots en hoog langs die kalm see, elkeen met sy eie wolke.

Trots en hoog

Ons vaar

Rots ru rof,
Wit wolke opgepof.


Bos bas boom,
Windmeul draai loom.


Stil stom see,
Seemeeu vlieg mee.


Ruwer rofste, gruwwer grofste
Gladder stiller bomer
Skurwe, my siel vermurwe


 ***
Ons vaar op die Aegean see.


Rof en ru
Wit wolke opgepof
Stil stom see


Eğri is in sig en ons vaar die baai binne. Dolfyne swem-spring in die baai rond. Ek wag dat hulle nader kom, maar hulle ontglip ons en swem verder weg.

Eğri Baai

Ons anker. Vas, diep ingeploeg, veilig vir die nag.



5 September 2014.  Vrydag.

Eğri Baai tot Çeşme

Ons gaan vandag weer na Çeşme (38°19.273 N, 26°18.113 O), 16.7 myl, vir twee dae.

Oggendskoot - Dreigend

Dis alweer sukke tyd. Ons moet  land-uit, na die Griekse eiland, Chios, om dan weer dieselfde dag terug te kom na Turkye om ons nuwe visums te kry. As dit deurmekaar klink, wees verseker, dit is 'n deurmekaarspul. So, môre 09:40 klim ons die veerboot na Chios en 18:00 is ons terug in Çeşme.

Turkye. Eskifoça.


3 September 2014.  Woensdag.

Yeniifoça tot Eskifoça

Yenifoça, Eskifoça, watse "gefoça" is dit met hulle?

'n Foç is 'n "monk seal" oftewel 'n monnikrob? Yeni beteken nuwe (dis die nuwe dorp) en Eski beteken ou (die ou dorp). Dié rob is 'n bedreigde spesie en sekere dele van hierdie kus is as bewaringsgebied verklaar.

Ons is vandag na Eskifoća (38°39.917 N, 26°44.872 O), die ou dorp oppad. Dit is 14.3 myl tot daar.

Ons vaar verby interessante rotsformasies. Dit is punterig en platterig en lyk soos paddastoele en feekastele. Die toerbootjies neem nuuskierige agies rondom die eilandjies dat hulle die mooi kan gade slaan.

Nuuskierige agies
Paddastoele
Feekasteel
Raaisel: Waar's die bok?

Eskifoća lê in 'n groot baai, maar ankerplek is maar min. Oral is bote op boeie en dit maak sake moeilik. Ons kry wel 'n diep plek, 14 meter, en ek gooi maar. Archie tru, die ding trek styf en ons is geanker.

Eskifoça Baai
Uitsig oor baai

Dinkie neem ons land toe en ons stap dadelik die koppie uit, na die ou windmeulens toe. 'n Bruidspaar het ook die plek gekies om hulle foto's te neem. Hoë skoentjies en rok en al staan die bruid in die stof.

Oppad na windmeul
Bruidspaar by windmeul

Na ons dorpeskapades en 'n balik emlek (vis bunny chow) gaan ons terug na Maja wat getrou om haar anker draai.

Hierdie is nie 'n lekker huis nie
Dramaties

Francois, my oudste, verjaar vandag. En waar nogal, in Istanbul. Ons is vreeslik jammer ons kan nie daar wees nie. "Baie geluk met jou verjaardag, Francois!"


Geluk Francois en Roelien
Antwoord:  Daar's die bok!


Wednesday, September 3, 2014

Turkye. Yenifoça.

2 September 2014. Dinsdag.

Bademli tot Yenifoça

Op hierdie deinserige Dinsdag is ons oppad na Yenifoça (38°45.003 N, 26°50.058 O), 17 myl. Vandag verlaat ons Bademli Baai deur die suidelike uitgang wat mos die nouer ingang (of uitgang) is. Die baai word ryklik verfraai deur kwatsels kleur, die verf van die natuur.

Vroegoggend weerkaatsings
Deinserige Dinsdag

Yenifoça is alweer 'n bekende plek, maar die keer deel 'n paar sku en skaam dolfyne die water met ons. Ek dink terug aan die baldadige dolfyne wat naby Zakynthos met Maja gespeel het. Ons vaar in die stil, gladde waters met geen spoor van Gus nie. Daar is 'n duidelik verskil in kleur en patroon van die water toe Gus lig begin waai.

Twee winde

Die dorpie, Yenifoça, is naby 'n olieraffinadery.  Die skepe lê voor dit soos gorillas in die mis.

Gorillas in die mis

Die baai is stil en ons gooi anker. Ons gaan land toe en bewonder die kantoor van die man wat trapbootjies uithuur. Arch sê: "A job in a million." Die heuwels roep en ons klim 'n nabye koppie om die ongelooflikste uitsigte oor die baai te geniet.

Kantoor met 'n see-uitsig
Maja alleen in die baai
Golf van Çandarli

Ag ja, wat 'n voorreg.

Tuesday, September 2, 2014

Turkye. Bademli. Terugtog.

1 September 2014. Maandag

Alibey tot Bademli

Ons drie dae se verblyf in Alibey se hawe was bo verwagting lekker. Sowat van lekker skuil het ek lanklaas beleef. Die kuierplek van die plaaslike inwoners was op ons voorstoep. Ons was as't ware deel van hulle.

Vandag begin ons amptelike terugtog suid na Kuşadasi, waar Maja gaan oorwinter. Soos gewoonlik vertrek ons vroeg na Bademli (39°00.946N, 26°48.289 O), 23.5 myl. Dis amper soos 'n herinneringstog. Ons besoek plekke waar ons reeds was.

Goud

Bademli stel ons nie teleur nie. Dis nog steeds mooi. Ons kom by die noordelike ingang in. Ons anker, amper op dieselfde plek as verlede keer.

Güvercin Kayasi by noord ingang. Lesvos steeds in agtergrond.

Hierdie baai is bekend vir sy warmwaterbronne. Ons klim in Dinkie en roei land toe. Maja draai sierlik rond in die baai. Ons kyk hoe swem die baaiers en piekniek word op groot skaal gehou. Die Turke is lief vir die buitelug.

Maja draai sierlik
Strand by warmwaterbron

Die pad lei ons in die olyfboord. Die olyfbome se grysgroen laat my verlang na die Ioniese See saam met Leon en Dirk. 

Verlang

Ons stap die pad en word beloon met uitsigte van Maja en die baai. 

Bademli Baai
Herfsgras

Die skemer daal. Die laaste sonneskyn verdwyn.

Laaste sonneskyn