Sunday, August 10, 2014

Turkye. Teos Marina. Siğaçik.

8 Augustus 2014. Vrydag.

Körmen Adasi tot Siğaçik

Vroeg uit die vere en ek en Archie klim in Dinkie en sit af na die grot om die warmwaterbron te gaan uittoets. Gerrie en Ansu was gister reeds daar en het dit aanbeveel.


Roei terug

Ons sit in die warm water en kry dit hotagter. In gelid roei ons terug, maak klaar om te vertrek na Teos Marina by Siğaçik (38°11.591 N, 26°46.929 O), 13.4 myl.

Körmen Adasi Baai
Kranse en wolke

Dis weer opdraende, soos Gerrie sê, wind-op. Ons vaar verby 'n vissersboei (wit drom) in die water. En wil jy nou meer. Die ding se tou dryf bo-op die water en ons vaar bo-oor. Dit sit êrens aan Maja vas. Gelukkig stop Archie dadelik.

Nou is die die swaers weer in hulle element. Eers spring Gerrie af om ondersoek in te stel. Hy sê die tou is om die propeller gedraai.
Nie lank nie of albei is besnorkel in die water. Hulle moet asem skep, onder Maja se romp in swem en die tou losmaak. Dis 'n gesukkel, die tou wil nie los nie en die asem te min. Ansu bring 'n mes en Archie sny die tou los. Maar daai tou klou. Na vele pogings is die tou los, die swaers is aan boord en ons vaar verder.

Tou om propeller

Om die draai, sien ons vir Teos Marina. Die vasmeermanne wag ons in en met moeite maak ons vas. Na Ansu se koue drankies, gaan hulle dorp toe en ons volg later in hulle voetspore.

Ons bekyk die dorp se kasteel en stap op sy mure rond. Ons betrap vir Gerrie op heterdaad waar hy sulke ronde koeksister-oliebolle in ontvangs neem. Toe hy wil betaal, weier hulle sy geld. Dit is gratis. Archie staan toe ook in die ry en kry sý drie gratis soetgoed.

Ingang tot kasteel
Kasteel se mure

Ons eet broodjies by 'n restaurant, maar dis niks lekker nie en daarna vat ons die wandelpad na Dionysus se tempel, by Antieke Teos, tussen die olyfboorde. Gerrie is weer in sy element tussen die ruïnes.

Olyflaning
Reuse ou olyfboom
Dionysus se tempel
Ou kolom

Ons geniet die stap in die platteland en kom tevrede terug by Maja, waar ons 'n heerlike vrugteslaai vir aandete eet.

Geniet die stap

Friday, August 8, 2014

Turkye.Körmen Adasi.

7 Augustus 2014. Donderdag.

Kuşadasi tot Körmen Adasi.

Vir drie aande het ons in Kuşadasi oornag. Die rede? Ons wag op die ankermotor wat gemaak pas moet word in Izmir. Die moedelose ankerman kom eers teen 18:00 daar aangejaag met die ankermotor.

Blik oor marina

Dis te laat om te vertrek en die motor moet nog ingesit word. Wat die swaers toe ook vanoggend doen. Die nuwe motor is bietjie groter as die oue en hulle moes modifikasies met Pratley Putty maak om die omhulsel waterdig te kry. Of so iets.

Hulle kry die ankermotor gepas en sit toe ook die watertenk se prop op. Archie, (Mr. Fixit) het 'n prop met Pratley Putty gemaak. Hy het mos verlede jaar die prop in die see laat val.

Pratley Putty wonderwerk

Ons vertrek eers 11:00, na Körmen Adasi  (38°01.914 N, 26°52.118 O), 24 myl. Dis al baie laat, want daar word sterk winde vir 15:00 voorspel. Dis bewolk. Ons seil 'n ruk en ons is almal eilande. Sit daar, nikssiende en niksseggend, stilstarend. Is sommer maar net.

Wolkmassa
Wolkontploffing

Toe begin die wind waai. Van voor af. Gus verdeel die groot, vriendelike, saggolwende deine in twee vernynige (soos ek) deinings, maak  water bymekaar, versamel rimpels en die see word nors en onvriendelik. Maja word rondgepluk en die deinings sproei water oor haar snoet tot in ons gesigte.

Sproei

Dit word 'n moeisame vaart, vir Archie agter die stuur, vir die bemanning en vir die arme kleine Maja.

Beskerm teen die sproei
Wind en weer

Die vreugde is groot toe ons, na 'n vaart van 6 ure, by die ankerplek aankom. Ons soek plek om te gooi en die nuwe ankermotor werk soos 'n droom.

Maan kom op

Daar is 'n grot met 'n warmwaterbron naby en Gerrie en Ansu klim in Dinkie en gaan geniet die warmte van die bron na 'n vermoeiende dag.

Warmwaterbron

Die baai is bekoorlik mooi en bied aan ons die veiligheid en rus na 'n lang dag op see.

Die dag is verby

Wednesday, August 6, 2014

Turkye. Kuşadasi. "All work and no play".

5 Augustus 2014. Dinsdag


Vandag is dit "all work and no play" vir my en Archie. Vir Gerrie en Ansu wat Efese toe gaan, is dit "all play and no work". Hulle klim die bus en weg is hulle, na Efese, een van die hoogtepunte op die Turke se lys van besienswaardighede.

Ek en Archie moet vandag probeer om om visum van 30 dae te verleng, want ons het 69 dae in Turkye nodig. Die amptenare by die doeane polisie is baie behulpsaam, maar kan niks vir ons doen nie. Ons moet na 30 dae land-uit en dan weer terugkom. Ons sal dit twee keer moet doen. Gelukkig het ons nog twee dae op ons Schengen visums oor. Ons gaan dit doen deur 'n veerboot na 'n Griekse eiland te neem en dan sommer dieselfde dag terugkom. Land uit, land in.

Rus 'n bietjie oppad na doeane polisie
Kuşadasi Kasteel op Pigeon Eiland

Archie laat ook sommer die waterpomp regmaak, want hier by Kuşadasi is goeie werkswinkels. 

Dan is daar die ankermotor. Die swaers het gister die hele eenheid (die ankermotor en die windlass) uitgehaal.  Die man by die werkswinkel het 'n nuwe motor in voorraad en hy sweer hoog en laag dit sal pas.

Hulle probeer die ou motor uit die "windlass" haal, maar dit is so vas gekorrideer, dat 'n ander werktuigkundige drie ure moes sukkel om dit uitmekaar te kry. Die geld vloei, die kostes is hoog. Toe pas die nuwe motor nie op ons "windlass" nie.

Die besigheid moet môre nou na Izmir, 'n ander dorp, geneem word om te máák pas. Wat sê hulle van 'n seiljag? Dit is 'n gat in die water waarin jy net geld gooi...

Ons gaan dorp toe en geniet Kuşadasi se heerlike atmosfeer. Eet mossels by 'n restaurant. Intussen karjakker Gerrie en Ansu by Efese en kom baie later poot-uit terug.

Stadskasteel
Afrikaners?
Waterfront
Marina in die verte

Die aand neem Gerrie ons uit vir ete. Ons bestel een groot vis, slaai en meze. En was daai vis lekker! 

Ek kan nie dieselfde sê van die Turkse koffie nie!

Vis-uiteet


Turkye. Kuşadasi.

4 Augustus 2014. Maandag.

Port St Paul tot Kuşadasi

Die windvlae het feitlik die hele nag aangehou. Ek kan hoor as Gus aangehardloop kom. Dan waai hy ons in ons verstand in en net so skielik is dit weer stil as hy verder aanbeweeg. Dan kom hy weer. En so hou dit aan en aan.

Ons gaan vandag na Setur Marina in Kuşadasi. (37°52.238 N, 27°15.793 O), 20.1 myl om te gaan. Dit is ons heenkome vir twee aande.

Waarheen nou

Die berge hier langs die Turkse kus is hoog. Reuse kolosse wat bo die blou see uittoon. Oorkant, net een myl ver, is Samos, die naaste stukkie Griekeland aan Turkye. Ek verlang nie meer heeltyd na Griekeland nie.

Samos Eiland - Net een myl ver

Die wind is van voor en ons vaar die grootste deel van die dag. Die omgewing is bebos en groen. Ons kyk hier, daar en doer. Oral rondom ons is die mooi.

Fifty Shades of Grey

Oppad red ons twee eensame, verlore strandballe uit die see. Dit word deel van ons reddingsversameling.

Reddingsaksie

Archie vleg mooi deur die vlak plekke oppad na die Marina en die rubberboot wag ons in en wys die plek aan. Ansu en Gerrie weet al goed wat hulle take is en binne oomblikke is ons vasgemeer.

Die kasteel by Kuşadasi
Setur Marina Kuşadasi

Nou vir daardie heerlike luukse van 'n regte stort met baaaie water!!!

Turkye. Port St Paul.

3 Augustus 2014. Sondag.

Paradys Baai tot Cukurcuk tot Port St  Paul

Daar word winde vir vandag voorspel en ons moet vandag 'n stuk see oorkruis na Port St Paul (37°39.285 N, 27°00.562 O), 22.9 myl. En dit nogal wind-op.

Ons is voor die son op en vat  06:15 die pad terwyl Gus nog nie waai nie. So het ons gedink, maar toe ons uit die baai vaar en die see tref, tref die wind en die see ons. Hoe verder ons vaar, hoe beter word die wind en die see. Dit is glad nie so erg soos ek gedink het nie.

Vroegdag oppad
Turkse ruwe kuslyn
Daar's die pad
Samos Eiland in agtergrond

Ons vaar eers by Port St Nikolao in. Die boek sê die vasbyt van die ankers is nie goed nie. Te veel seegras. Ons kan daarvan getuig, want ons gooi vier keer anker en ons trek elke keer 'n seetuin vol gras op.

'n Turkse oom in 'n vissersbootjie, wat die ankergooiery só staan en dophou, beduie vir ons dat ons hom moet volg en hy neem ons na Port St Paul, die baai net langsaan. Hy beduie presies waar ons moet anker gooi en wraggies, na die eerste gooi, byt dit. Ons beloon hom met 'n bier.

Turkse weldoener

Dis 'n pragtige baai en volgens oorlewering, het oorlede Paulus van die Bybel hier geskuil, terwyl hy gewag het dat die Meltemi moet bedaar. Alles wat ons nou rondom ons sien, het hy ook gesien. Wat 'n gedagte!

Gus waai met venynige vlae in die baai en laat Maja tril en draai en swaai.

Port St Paul Baai

Ek wens hy wil loop lê.

Saturday, August 2, 2014

Turkye. Paradys Baai.

1 Augustus 2014. Vrydag.

Asin Limani tot Paradys Baai

Die paradys is ons s'n. Ons het net 12.7 myl om te vaar, dan is ons daar. In Paradys Baai (37°19.139 N, 27°227.985 O).

Oggendskoot - Studie in grys (Gerrie)

Ons vaar maar net, want die wind is weg. Tussen visplase en visnette en nog visplase. Gelukkig is die paradys in sig.

Visplaas

Die water in die baai is 'n skakering van groen en die bome is 'n ander skakering van groen en daar is selfs 'n groen seilboot. Ons swem en baljaar in die groen.

Windverwaaide boom
Paradys Baai

Ons geniet die rustigheid van die baai, totdat 'n groot motorboot met hulle harde musiek die rus versteur. Archie kry hulle terug deur die mishoring te blaas en daarna is hulle musiek sagter.

Die baai is weer in stilte en vreedsaamheid gehul. Net soos ons daarvan hou.

Vreedsaamheid

Turkye. Asin Limani.

31 Julie 2014. Donderdag.

Ilica Baai tot Asin Limani

Vandag is weer 'n Geskiedkundige dag. Ons gaan na Asin Limani (37°16.627 N, 27°34.923 O), 13 myl.

Voor op die wa

Die klein dorpie lê onder die hange van 'n heuwel met 'n fort aan die oostekant. Die ruïnes van die antieke Iassus lê tussen die olyfbome met koeie en skape wat  tussen die antieke agora en die tempel wei.

Asin Limani
Bizantynse toring
'n Bees vir Dirk
Olyfboom vir Leon

Die dorpie is volgens oorlewering gestig deur die mense van die  Peloponese Eiland en spesifiek van Argos, omtrent 900 v.C. Die ruïnes word opgegrawe deur 'n groep Italiaanse studente wat elke somer terugkom om hul werk te voltooi.

Ruïnes
Romeinse kolomme
Teater

Dis heerlik om deur die ruïnes te drentel, tussen die olyfbome, en al die prentjies van die outyd in jou kop te sien.

Uitsig oor baai

Die mense van Asin Limani is nog regte mense wat in hul eenvoud in die dorpie hul bestaan voer, sonder veelvoudige toeriste en restaurante.

Ons geniet ons verblyf in die eenvoudige dorpie.