3 Augustus 2014. Sondag.
![]() |
Paradys Baai tot Cukurcuk tot Port St Paul |
Daar word winde vir vandag voorspel en ons moet vandag 'n stuk see oorkruis na Port St Paul (37°39.285 N, 27°00.562 O), 22.9 myl. En dit nogal wind-op.
Ons is voor die son op en vat 06:15 die pad terwyl Gus nog nie waai nie. So het ons gedink, maar toe ons uit die baai vaar en die see tref, tref die wind en die see ons. Hoe verder ons vaar, hoe beter word die wind en die see. Dit is glad nie so erg soos ek gedink het nie.
Vroegdag oppad |
Turkse ruwe kuslyn |
Daar's die pad |
Samos Eiland in agtergrond |
Ons vaar eers by Port St Nikolao in. Die boek sê die vasbyt van die ankers is nie goed nie. Te veel seegras. Ons kan daarvan getuig, want ons gooi vier keer anker en ons trek elke keer 'n seetuin vol gras op.
'n Turkse oom in 'n vissersbootjie, wat die ankergooiery só staan en dophou, beduie vir ons dat ons hom moet volg en hy neem ons na Port St Paul, die baai net langsaan. Hy beduie presies waar ons moet anker gooi en wraggies, na die eerste gooi, byt dit. Ons beloon hom met 'n bier.
Turkse weldoener |
Dis 'n pragtige baai en volgens oorlewering, het oorlede Paulus van die Bybel hier geskuil, terwyl hy gewag het dat die Meltemi moet bedaar. Alles wat ons nou rondom ons sien, het hy ook gesien. Wat 'n gedagte!
Gus waai met venynige vlae in die baai en laat Maja tril en draai en swaai.
Port St Paul Baai |
Ek wens hy wil loop lê.
No comments:
Post a Comment