Monday, July 8, 2013

Lastovo en Tri Luke. Dag 70 en 71



Prozura tot U. Zaklopatica, Eiland Lastovo

Die vraag is: "Wie wil Lastovo toe gaan?" Dit sal 'n lang dag se vaar wees. Die ander opsie is 'n anker op Korcula Eiland. Die kinders stem vir Lastovo.

Ek dink dis die woord "dorp" wat die deurslag gee. Hulle het "dorponttrekkingsindroom".

Ons vertrek 07:00. Dis vroeg, maar die magiese uitwerking van koffie kry lewe in die klomp (en in my). Dis 'n lang pad, sowat 36 myl na die baai Zaklopatica op Eiland Lastovo (42° 46.384'N 16° 52.528'O). Die kinders kry die tyd om deur te stry, te knibbel, te slaap en te sonbaai. Ek sit maar heeldag by die kaptein op die dek.

Die wind van voor word later erger en die deinings groter. Gelukkig vaar ons met Maja se snoet in die duinings, dis op en af, nie heen en weer nie.

Anika en Michelle sit voor op Maja en kyk uit vir rotseilandjies. Lastovo kom nader en nader. Maar nie naby genoeg nie. Die wind van voor word sterker en Maja se ou motortjie beur moedig teen die wind en die stroom wat teen ons saamsweer.

Ons kom later as wat beplan is, so 17:00 by Lastovo aan. Te laat om die amper 4 km dorp toe te stap. Ons besluit om die volgende oggend te gaan, want môre is 'n kort dag. Ons, eintlik ek en Archie, is moeg na die lang dag, maar Gerrit, Michelle en Anika voel perdfris na hulle oggendslapie, laatoggendlê, middagslapie en die uiltjie wat hulle geknip het.

Ek en die kaptein gaan kruip vroeg in.

U. Zaklopatica tot U. Tri Luke

Vandag gaan ons dorp toe! Anika is baie bly, want haar sjokolade is op. Michelle en Gerrit is lus vir chips. Gestewel en gespoor is ek en Archie reg vir die stap. Die kinders het nou nie eintlik wat jy sal noem "stapskoene" aan nie. Michelle dra Grietjie se plakkies, Anika dra 'n paar seilskoene van my en Gerrit dra sy groen seilskoene. Ek hoop hulle voete hou.

Ons stap deur die bos na die dorpie. Dis lekker in die bos. Ek stap voor met my stapstok en maak 'n pad deur die spinnerakke.

Ek dink die kinders hoop op 'n wonderwerk dat daar dalk 'n inkopiesentrum sal wees, maar helaas, hulle moet tevrede wees met 'n klein ou Studenac.


U. Zaklopatica tot U. Tri Luke


Ons stap boontoe na die kasteel en die sonbesies raas heelpad met ons. Ons is warm en sweterig. Die kinders wil nie die dorpie verder verken nie, en ons gaan Studenac toe en koop bietjie nodige kos en die kinders koop lekkernye.

Uitsig oor Lastovo Dorp
Kerke en landerye
Kapel


Ons stap terug. Die meisiekinders se voete is seer. Gerrit se voete hou gelukkig. Ons is warm en toe ons by Maja kom, is swem die ding om te doen. Ons voel heerlik verkwik deur die water en maak reg om te vertrek. Skuins voor een uur lig ons die anker en vertrek na Tri Luke op Korcula Eiland (42° 55.711'N, 16° 39.903'O, 17 myl).

Ons anker in die mooi blou-groen baai. Archie gaan swem en is baie verras toe hy 'n elektriese skok in die water kry - dit was 'n jellievis wat hom gepiets het. Een teen die voorkop en een teen die skouer.

Die kinders speel kaart en ek en Archie ontspan op die dek.

Kaartspel op anker


Published with Blogger-droid v2.0.10

Friday, July 5, 2013

Spesiale uitgawe!!! Dag 69

Dubrovnik tot Prozura


So vaar ons met glorie uit Dubrovnik se Marina. Ons gooi so maklik diesel in soos: "Maak self vol asb." 

"Maak vol, asseblief"

Ons vaar in die rivier af, oppad na die see. Die wind lyk goed van agter en ons span die hoofseil.
Gerrit neem die helm en oortree die spoedgrens, vaar 6 knope in 'n 4 knope zone. Net voor die padbrug is Maja wind-af, onder vol hoofseil, 16 knope wind en seil teen 6 knope.

TOE kom 'n sterk Gus van meer as 35 knope van die sykant en toe gebeur alles tegelyk.

Maja lê oor na port (links) so erg dat die water oor die rand van Maja stroom. Sy draai self 180º na starboard (regs). Gerrit probeer regstellend stuur, maar kom gou agter dat dit niks help nie. Hy bly kalm en bring die boot in die wind in en Maja stop. Dit het alles in die ewigheid van omtrent 5 sekondes gebeur.

Gerrit- Bly kalm en al waaraan hy kan dink is om die boot in die wind te kry en te stop.

Archie - Op die dek en klou vas vir sy lewe en sien hoe kom die seil al nader aan die water. Hy kan nie onthou of die hoofseil in die water was nie. "Scary shit". Hy trek die boom in.

Michelle - Sy sien 'n wit flits deur die luik, dit was die hoofseil oppad see toe! Sy hou in "surf" styl aan die wasbak en kapteinstafel vas. Sy het gedink ons gaan omwaai en rol. Sy hardloop uit en gaan katrol die hoofseil in.

Anika - Sit in die saloon aan port kant.Toe Maja kantel, probeer sy starboard kant toe. Al Archie se sjokolade reën van die rak af op haar kop. Sy kyk benoud deur die bo-luik hoe Michelle katrol en skree: "Moenie inval nie!"

Ekke - Ek het gedoen wat ek die beste kan doen - lank en deurdringend gegil. Hou vas aan die traplening en kapteinstafel. Kyk na buite, sien vir Gerrit agter die helm en skree: "GERRIT, mooi Gerrit"! Ek het regtig gedink dat Maja gaan rol.

Die naskok - Almal sit op die dek, grootoog. Almal van ons het gedink Maja gaan omrol. Ons praat gelyk en vertel vir mekaar van die belewenis. Adrenalien het deur almal se are gespoel. Opwinding, maar meer as alles, verligting en dankbaarheid.

Vir die res van die dag kry ons goeie winde en ons benut dit ten volle. Ons kom by Prozura (42° 43.870' N, 17° 38.971' O, 23 myl) op Eiland Miljet vroeg aan en gooi anker vir die eerste keer.

Baai by Prozura


 Na 'n uur of wat en 'n lekker swem en smul aan 'n koue waatlemoen, besluit die kaptein dat ons miskien te na aan die land is en ons trek na 'n beter posisie. 

Waatlemoen lafenis


Alles lyk goed totdat 'n boot aan 'n boei naby ons kom vasmaak en ons besef daar is 'n kans vir 'n botsing indien die wind sou verkeerd waai. So vir 'n derde keer is die anker gelig en ons skuif 20m weg van die boei.

Ons is uitgeput en almal sien uit na 'n goeie nagrus.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Thursday, July 4, 2013

Sudurad en Dubrovnik. Dag 67 en 68


Pomena tot Sudurad
Archie laat ons laat slaap. Dit werk so - niemand staan op voordat hy koffie gekry het nie. Nee, dis nie treurigheid nie, Archie het ons so bederf én geleer. Ons kry laat koffie, eers 08:00. Toe roer ons eers.
Ons het 'n ver pad vandag na Sudurad (42º42.683N. 17º54.795O), 32 myl. Ons begin eers 09.00 vaar. Dis windstil en ons motor. Die gemotor maak die kinders kort voor lank lomerig en hulle gaan lê skuins.

Die water is kalm en ons vaar en vaar en vaar. Later is daar wind van voor en om die eentonigheid te breek, span ons die seile en seil wind-op, totaal in die verkeerde rigting. Ons "tack" so drie keer en toe besluit Archie ons laat sak die seile en motor verder. Na 'n baie lang dag, kom ons by Sudurad aan (16:15) en gooi anker in die klein baai.

Sudurad hawe
Sudurad tot Dubrovnik


Vanaf Sudurad is dit 'n kort vaart van 9 myl na Dubrovnik. Dis sommer gou-gou en ons is daar. Die vasmeer is sommer 'n vulletjie. Na 'n vinnige middagete klim die kinders dadelik die bus na die ou dorp om die mure te gaan  loop.

Anika, Gerrit en Michelle op die mure
UItsig oor ou stad van die mure


Ons ontmoet die kinders later by die ou stad, want ek wil vir Gerrit met die kabelkar na die oorlogsmuseum bo-op die berg vat. Behalwe die museum is die uitsigte oor Dubrovnik en die kuslyn asemrowend.

Gerrit in oorlogmuseum
Cavtat in die verte
Uitsig
Uitsig
Uitsig
Uitsig
Uitsig oor Elephite Eilande


Ek en Gerrit gaan besoek die museum. Dit gaan oor die oorlog van 1991 toe  Serwië, Bosnië en Montenegro vir Dubrovnik aangeval het. Ons vind veral die film daaroor baie interessant.

Ons ontmoet die meisiekinders om 19:00 en ons bestel drie pizzas wat ons tussen ons vyf deel. Ons ruil skywe pizza uit en dit is 'n deurmekaar spul wat die kelner verwonderd dophou, maar ons is so honger dat dit ons glad nie pla nie.

Ons klim die bus terug Marina toe en toe word ons dors. Ons drink asof ons sewe dae in die Sahara sonder water was.

Dubrovnik bly maar iets besonders.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, July 3, 2013

Pomena, Mljet. Dag 66


Van Korcula tot Pomena


Ons vertrek vroeg, 06:50, vanuit ons nou plekkie uit die Marina. Almal help. Die fenders koek met die bure s'n, ons maak dit los. Maja se voorpunt pyl op 'n ander boot se snoet af. Ons stoot dit af. So kom ons uit die Marina. So kom álmal maar uit die Marinas - met stampe en stote én belangrikste van alles, met fenders.

Vroegoggend Korcula


Ons wil vroeg by Miljet kom, want ons wil soutmere toe. Almal besluit eenparig dat die kaptein se hare te lank is. Hy kry 'n haarsny wat hom jare jonger laat lyk.

Kaptein kry haarsny


Ons vaar 'n ruk en toe is daar wind en ons span die seile. Net ek en Archie, want die kinders lê oral en slaap. Sies tog, seker baie moeg. Ons seil lekker rustig en Miljet kom stadig maar seker nader. Die kinders is nog steeds moeg, hulle slaap nog. Archie besluit ons gaan nie Polace toe nie, maar na die baai van Pomena (42° 46.995'N  17° 20.015'O), want ons het nog nie daar anker gegooi nie. Die kinders is baie moeg, hulle slaap nog steeds!

Kaptein soek 'n plek na sy smaak, en ons gooi anker. Eers nadat ons suksesvol geanker het, word die kinders wakker. Lekker uitgerus! Toe word hulle honger en hulle eet "chips" en sjokolade. Slaap is harde werk, dit maak jou vreeslik honger. Hulle eet soos ruspers.

Maja op anker in baai van Pomena


Ek, Michelle en Anika maak broodjies vir middagete-piekniek. Gerrit kry die drinkgoed, Archie pak die klein rugsakke (dis swemklere en handdoeke en wie weet wat nog). Dis heerlik warm en ons sien uit na die swem in die soutmere.

Op vastegrond


Dinkie is op haar pos om ons aan wal te neem en ons begin ons staptog. Stap bly maar my eerste liefde en ek geniet die vaste grond. Die baai is onmoontlik blou van bo af. Ons loop met ligte tred oor die voorreg wat ons het om al die mooi gade te slaan. Ons sintuie werk oortyd. Ons ruik die geur van die bos, ons sien die mooi oral rondom ons, ons hoor die vrolike gesang van die voëls en die skril geskel van sonbesies, ons voel die ligte bries wat vat-vat aan ons wang en ons proe die sout van die seelug op ons tong. Ons leef!

Onmoontlik blou
Ons sien die mooi


Ons stap na Pomena en eet ons piekniekkos op die klipmuurtjie langs die hawe in die skadu van 'n boom. Ons begin aanstap na die soutmere. Dis net so mooi soos die vorige  keer. Die onmoontlike blou water lyk na 'n moontlikheid om te swem. So gedink, so gedaan. Ons swem en doen waterkaskenades. Ek en die kinders swem soos kinders in die water.

Swem in die soutmeer
Waterkaskenades


Ons stap terug en die meisiekinders gaan haal vir Dinkie en vat dit na die plek waar Arch en Gerrit wag. Die twee mans roei terug na Maja terwyl ek, Michelle en Anika swem. Archie en Gerrit word verlei deur die water en maak ook lyf nat. Ons baljaar in die kristalhelder water.

Die meisiekinders


Die laatmiddagson verhelder die hele omgewing. Archie neem nog 'n tou na die land vir ekstra veiligheid. (Ek dink hy is bietjie hiperaktief en soek net iets om te doen).

Hiperaktief


Die laatmiddag verander in vroegaand en baie later in aand. Dit voel vir my of dit nooit nag word nie, want die hemelruim is geverf met sterre.
Published with Blogger-droid v2.0.10

Monday, July 1, 2013

Korcula. Dag 64 en 65.


U. Manastir tot Korcula

Moeg na die nagrus, word ek wakker.  Die res van die bemanning lyk uitgerus en vars, nie so verlep soos ek nie.

Ons gaan vandag na Korcula. Dit is 'n ver pad en ons vertrek 07:50 vanaf Manastir. Die wind waai nog en die kaptein gee die opdrag: "Span die seile!" Dis 'n hele doenigheid. Gerrit vat die helm. Michelle en Anika help met die toue. Op gaan die genoa, met 'n "reef". (Jy reef as die wind sterk is en jy wil jou seil kleiner hê.)
Ons span die hoofseil. Op is die seil en met Gerrit agter die stuur, seil ons teen 'n redelike spoed, 6 tot 7 knope. Vir jou motor is dit stadig, maar vir ons voel dit soos jaag.

Ook oppad na Korcula


Na sowat 'n uur, gaan lê Gus en ons seil stadiger. Gerrit is baie teleurgesteld in die verminderde spoed en nog later gaan lê Gus en af met die seile. Ons motor verder tot naby Korcula. Die wind kom toe van agter en ek en Arch span weer seile.

Ek en Archie het 'n hewige meningsverskil oor hóé naby aan die Marina se ingang ons die seile moet intrek. Ek dink hy wil graag, onder vol seil, met 'n fanfare by die Marina in seil, met 'n skare wat juig.

Die wind waai erg en elke vasmeer van elke boot is 'n sirkus. Almal staan onbeskaam en toekyk en almal help afstoot en druk fenders by die botsplekke in. Ons is deel van die sirkus en die kinders dink seker ek is die hoofnar.

Korcula is kookwater. Daar is seiljagte in elke vasmeerplek, 'n klomp plesierbote vol mense en "super yachts". Die plek is stampvol, anders as wat ons dit saam met Elize-hulle beleef het.

Vyf in 'n ry
Stampvol marina
Kleinboot hawe
Korcula se mure


Die aand is daar 'n middel-van-die-jaarfees. En môre (1 Julie) word Kroasië by die EU ingelyf. Groot feeste en ons is deel daarvan!

Die kinders besluit hulle wil nog 'n dag bly, so geniet hulle dit. Die kaptein sê dit is reg.

Die meisies geniet Korcula ...
... en die kaptein ook

Die aand slaap ek 'n slag soos 'n baba.
Published with Blogger-droid v2.0.10

Sunday, June 30, 2013

Manastir. Dag 63.


U. Stipanska tot U. Manastir


Ek is al weer op verdomde nagwaak, want die wind die waai kwaai in die baai. Ek weet nie hoekom Gus se stryk-orkes my in die nag so wakker hou nie. Alles dril en beef en vibreer en klap en kreun harder in die nag. Ons swaai al om ons anker, die kant toe en daai kant toe. Die res van die bemanning slaap soos babas. Ek dink hulle is doof.

Michelle verjaar vandag. Sy is 'n volle 23 jaar oud en sy het blog-hoender vir haar verjaarsdag bestel. Ons moet 'n rou hoender by Hvar koop.

Hoopvol staan ons op. Ons moet in die baai bly tot so11:00 en dan na Hvar gaan. Miskien is ons gelukkig om 'n plek by die dorpskaai te kry. Ek, Michelle en Anika maak boot skoon. As Archie en Gerrit te lank stilstaan, word hulle ook met 'n nat lap afgevee. Die meisiekinders werk vlytig en fluks. Maja lyk pragtig skoon.

Dis 11:00 en ons vertrek na Hvar. Die wind waai. Dis net 30 minute se vaar tot daar. Dinge lyk nie goed nie. Die superbote neem al die plek op. Ons kry nie 'n plek nie. Tweede keuse - ons kry 'n boei. Ons vaar op die boei af. Ek en Michelle haak die boei met die boothaak. Ons maak die tou vas, maar die wind stoot ons net waar hy wil. Gerrit en Anika help wegstoot van die ander boot af. Dis 'n gesukkel in die sterk wind. 
Ons los die boei en probeer anker gooi. Voor die anker gegooi is, het die wind ons alweer in 'n verkeerde rigting gedryf. Ek trek anker op, moedeloos. Ons vergeet van Hvar en vaar verder. Tot siens hoender. Die kinders is teleurgesteld. Hulle wil dorp toe.

Ook oppad


Ons vaar na Scedro Eiland, waar ons by Uvala Manastir 'n restaurant boei gaan kry. Dit werk so: jy kan gratis vasboei, maar jy moet hulle peperduur kos eet. Wel, Michelle verjaar net een keer per jaar in Kroasië en ons besluit om haar verjaarsdag maar daar te vier.

Michelle en Anika sit heel voor op Maja en kekkel die hele tyd. Hulle sonbaai in 'n effentjies sonnetjie. Waar is die warm dae nou wat ons saam met Elize en Fanie beleef het.

Ons nader Manastir en vaar by die klein baai in. Ons is alleen daar. Ek vat die helm en Arch en Michelle kry die boei. Geen probleme díé keer nie en ons is vas. Ons neem 'n tou na die land vir ekstra veiligheid. Die baai is beskerm teen wind van alle rigtings, behalwe noord.

Grill by Manastir


Die mans gaan bespreek vir ons plek by die Grill, vier visdisse en een vegetariër dis. Ons meisies trek skoon rokkies aan oor ons nie silwerskoon lywe. Ons is almal "opgedress" en  Archie en Gerrit roei my in Dinkie na die Grill. Daarna gaan haal hulle vir Michelle en Anika en roei hulle na vaste grond.

Die meisies word ingeroei


Ons stap na die Grill waar ons tafel reeds gedek is.

Ons tafel



Ek lap dadelik uit dat Michelle verjaar. Ons klink 'n glasie op haar. Hulle bring twee slaaie, vars brood, een groentebord vir Anika en vier visse.

Visdis


Dit lyk vorentoe. Daar heers 'n ligte, ontspanne atmosfeer. Vergete is Hvar en ons geniet die aand. Die kersie op die koek was die verjaarsdag kersiekoek - op die huis.

Verjaarsdag kersiekoek


Nie eers die baie hoë rekening bederf die aand nie. Ons gaan tevrede en knuppeldik terug na Maja. Ons meisies hou sang-aand en sing (volgens Archie) vreeslik vals. Maar wie gee om?

Geluk met jou verjaarsdag, Michelle.

Verjaarsdagmeisie


Laat in die aand begin die wind te waai. En van watter rigting kom die wind? Noord natuurlik! Die wind waai en raas en baklei so vreeslik met Maja, dat ek wéér nie kan slaap nie.


Published with Blogger-droid v2.0.10