Thursday, May 9, 2013

Amper-anker. Dag 12

Dit is vir my lekker in Hvar en ek is nie eintlik lus om nou al te gaan nie. Gelukkig is Archie besig met allerande rekenaar goeters, so ek kan die atmosfeer nog 'n rukkie geniet.

Ons vertrek na 11:00 uit Hvar en die losmaak van die toue verloop sleepglad. Ons is oppad na die eiland Scedro, waar ons in 'n klein baai gaan anker. Dit gaan ons eerste alleen anker wees. Die baai se naam is Manastir (43° 05.653 N  16° 42.442 E). Ons moet vandag net 14 myl (25 km) aflê.

Oppad na Scedro
Klein boeredorpie



Ons seil, want daar is bietjie wind, maar later motor ons verder, want die wind is moeg en het gaan lê. Dit is rustige seil en motor en ons het baie dinktyd. Ek weet nie eintlik of Archie dink nie, want as hy dink, dan dink hy altyd vreeslike goed uit wat ons nog moet doen. So, eintlik is dit nie goed dat hy dink nie.

Ons nader die baai  waar ons moet anker. Die boek sê die bodem sand en seegras. Archie verfris my geheue met al die anker detail. Eers moet krag op die kragpaneel aangeskakel word. Dan moet ek die ankerpen uit die dinges trek, dan moet ek die af-knop druk, dan moet die anker die grond raak, dan moet ek vir Arch skree die anker raak die grond (hoe de moer moet ek dit weet?), dan moet Archie tru ry, dan moet ek die af-knop indruk en die res van die uitgewerkte hoeveelheid ankerketting uitlaat. Dan is ons geanker. Nou draai my kop.

Geskikte ankerplek (Bure-boot op boei)


Archie kry die geskikte plek. Ek is op my pos, heel voor op die boot. Archie skree: "Laat sak!" En ek druk die knop en die anker sak. Ek kan nie sien of dit die bodem raak nie, maar dis die regte hoeveelheid ketting. Archie tru, maar ons is onseker of die anker gebyt het. Archie vat die snorkel en bril en doen ondersoek oor die stand van sake. Daar is te veel seegras, hy kan niks sien nie. Ek trek die anker weer op en sien net seegras. Ons probeer nog twee keer. Sonder sukses.

Anker vol seegras

Anker vol seegras


Toe kom die eienaar van die Grill daar aan en sê ons kan 'n boei gratis gebruik, want dis amper onmoontlik om daar te anker. Die seegras verhoed dat die anker vasgryp aan die bodem.

Die "Grill"


Ons voel toe baie beter, dis darem nie ons onnoselheid nie. Ons het amper geanker.

Wednesday, May 8, 2013

Hvar. Dag 11

Kaptein bring koffie en goeie nuus- die son skyn! Na ontbyt maak ons die boot los en vertrek. Ons is nie haastig nie, want ons het net 12,34 myl (23 km) om te vaar. Die wind lê nog. Die son baljaar in die baai. Ons motor uit die baai.

"As idle as a painted ship upon a painted ocean"   Samuel Taylor Coleridge



Die see (is dit 'n see?) is soos 'n spieël. My swaer, Fanie, sal nie seesiek raak op dié water nie. Daar is min bote op die see en nog minder wind. Vasco da Gama vaar rustig in die verte verby.

Eensaamheid
Vasco da Gama



Op 'n stadium span ons die seile (Kapteins bevel), maar die wind gaan lê dadelik toe hy die seile sien. Af met die seile en aan met die motor.
Ons swenk links na die eiland Hvar. Die dorpie lê in die verte.
Dis die eerste keer dat ons alleen moet vasmeer en ons bespreek strategie. Wie doen watter toue en wat doen wie. Streslose aftrede? Ek het nou meer stres as wat ek gehad het in die onderwys, net voor 'n klasbesoek en my lêers is nie op datum nie!

Hvar


Hvar kom al hoe nader. 'n Groot plesierboot lê op anker in die see met die plesiersoekers wat op klein bootjies na die eiland aangery word.

Plesierboot


Ons ry by die dorpskaai in. Ek, gewapen met die boothaak in my hand om die tou op te raap. Archie tru perfek in ons vasmeerplek. Die vasmeerman, met die tou in die hand, wag ons in. Ek haak die tou. Dis mis! Ek haak weer die tou. Dis mis! Ek haak weer die tou. Dis raak!! Ek loop vinnig, tou in die hand, na die voorpunt van boot. Arch skree: "Maak vas!" Ek maak vas. Hy is doenig met al die toue agter.
Ons meer suksesvol en pragtig vas. Ek leer dat ek die boothaak nog langer moet maak om die tou op te raap. (Vasmeer is eintlik vier mense se werk)
Die spanning sypel weg en ek gooi bier. Ek het vasgemeer soos 'n man en nou vat ek 'n sluk bier soos 'n man. Ek trek my rok aan en ons gaan dorp toe.

Fyn uitgevat
Dorp toe
Dorpsplein


Hvar is 'n lekker lewendige dorp. Eetplekke, paar winkeltjies en baie toeriste. Ons boot lê vasgemeer in die hartjie van die dorp. Ek en Archie sit lekker langbeen op die dek van die boot en drink iets koud. Ons kyk vir al die mense wat verby loop. Dis soos fliek kyk.

Kasteel en kaai
Hvar Riva


'n Amerikaner loop verby. Hy is lus vir gesels. Sê hy het ook 'n boot en hulle wag vir hulle somer om te seil. Vriendelike man. Later kry ons nog 'n besoeker. Sê hy het die SA-vlaggie gesien. Hy bly nou in Duitsland, maar kom van SA.

Dit was 'n heerlike dag van sonskyn en sukses (vasmeer).

Tuesday, May 7, 2013

Donder, bliksem. Dag 10


Nee, dis nie matrooswoorde nie! Ek beskryf die weer. Dit reën in die nag. Dit reën ook in die dag.

Groot plesierboot naby Split



Ek en Archie seil alleen vandag, vir die eerste keer. Die weer lyk sleg... Ons gaan stort, maar die water is yskoud. Dis seker om ons voor te berei vir latere gebeure. Ek is sommer vies vir die koue water en trek 'n suur gesig.
Totsiens Split



Met 'n groot gesukkel kom ons uit die smal plek uit. Ek weet nie hoekom die Marinas soveel bote in so 'n klein plek wil saambondel nie. Die weer lyk slegter... 

Ons seil vandag na die eiland Brac. Dis nie ver soontoe nie, maar ek wil net daar kom voor die reën ons vang. Ons vaar voor die reën uit. Orals rondom ons reën dit. Die water het vaal riffels op as die reën daarop val.
.
Donderweer! Ons het nie in ons kursus geleer wat maak ons as daar donderweer op see is nie. Ek kyk hoopvol op, maar ek sien niks wat hoër as ons mas is nie.

Die weer lyk nou op sy slegste.. Skielik is daar 'n donder, 'n bliksem en 'n gil. (Die mense wat my ken, sal beaam - ek kán gil). Ek skrik groot en Archie skrik nog groter, want hy skrik vir my gil. Genadiglik was dit net een donder en bliksem wat so naby was. Ons is asvaal van die skrik.

Eindelik haal die reën ons in. Dit sous, maar ons reënbaadjies help. Ons kom by Uvala Osibova aan. Dis waar ons moet anker. Ons staan bedremmeld vir mekaar en kyk. Nie een van ons is lus om die anker in die reën te laat sak nie. Ons wag vir die reën om bietjie te bedaar en maak die boot vas aan 'n boei in die baai. Ons voel soos nat hoenders.

Ons eet die aand heerlike brinjal burgers en voel baie beter.
Brinjal burger


Dit word 'n kalm aand en nag en ons slaap rustig in die beskutte baai, Uvala Osibova (43º18'.8N  16º26'.4E). Hopelik is môre 'n beter dag.

Kapelletjie van die baai

Split. Dag 7, 8, 9

Ons vaar vandag van Trogir na Split. Kaptein span die seile en ons maak die beste gebruik van die effense wind wat ons kry. Dis 'n pragtige dag, vol sonskyn en blou water. Dis amper of die water jou wil inlok in die blou.
Die water fluister saggies en nooi ons vir 'n swem. Archie stem dadelik in en oorreed ons om ook te swem. Die eerste waterdruppels klou koud aan ons vas.
Trappie vir trappie dieper. Met die nodige gilletjies en grilletjies is ons meisies in. Ou Arch is sommer gilletjies, woeps in die water. Dis heerlik, ons swem soos meerminne in die helder blou water.

Die blouwaters lok
Meerminne? Walvisse?



Ons kom nader aan Split. Die dorp lyk groot en rustig. Daar is ook 'n baba-boot wedvaart aan die gang. Die ou bootjies lyk na speelgoed.
Baba-boot wedvaart



Die wolke besluit hulle wil die son wegsteek. Het ek gesê vol sonskyn? Nie meer nie. Ons meer vas by die ACI Marina Split.
Woud van maste


Ons gaan sommer dadelik dorp toe. Dis n ent, so 20 min se stap.
Split
Oppad na Split



Die oudorp bekoor my weer. Ons koop roomys en sit op die kerktrappies. Ek woon ook 'n oorvol kerkdiens in 'n baie ou kerk by.
Romeinse ruïnes
Moderne Romeine
Venster van my siel
Sfinks hou wag



Ons woon die aand 'n gratis vertoning van volksdanse by. Dit was uitstekend.





Bushy en Grietjie neem ons uit vir 'n heerlike ete om dankie te sê. Hulle is amper oppad. Hulle gaan die bus klim na Dubrovnik.
Ons loop die volgende oggend saam met hulle na die busstop. Hulle het gekom in die reën en hulle gaan in die reën. Die weer lyk dreigend! Met omhelsings en bedankings groet ons hartseer. Koebaai sê is nie lekker nie. Nou is hulle weg, en ons mis hulle al klaar.

"Koebaai julle"


Ons slaap nog 'n aand in Split.

Sunday, May 5, 2013

Mr. Bean. Dag 6

Na 'n mistroostige, grou-grys dag en 'n wiegende anker nag, is ons reg vir die nuwe dag.

Archie moet eers die Bushy-braai se grid uit die see duik. Die grid het tydens die wiegbraai in die see geval, toe Archie dit in die see gedruk het om af te koel. Die grid het uit sy hand geval.
Ja, jy verstaan nie verkeerd nie, hulle het gebraai terwyl ons op anker lê. En ons hét gewieg.
Jy moes dit gesien het. 

Dit het na 'n Mr. Bean-toneel gelyk, erger as die Kersfees kalkoen. Eers pomp Archie vir Dinkie op, sit duikbril en snorkel aan, en soek reg rondom Maja om te kyk waar die grid is - gat in die lug en gesig in die water. Bushy staan op die boot en soek. Uiteindelik sien hulle waar die grid op die bodem lê - in 6 meter diep water.

Hulle maak een punt van 'n tou aan 'n swaar pan en aan die ander punt  'n plastiese bottel vas. So merk hulle die plek waar die grid is. Onthou, as jy geanker lê en die wind waai, draai Maja heeltyd geduldig in die rondte.

Archie probeer die grid uitduik maar dit is te diep en hy soek vir iets swaarder sodat hy homself vinniger kan aftrek. Hulle besluit die spaar anker is net die regte ding.

Mr Bean!


Archie roei terug om die tweede anker te kry. Hulle laai dit met moeite op Dinkie. Terug na die toneel. Laat sak die anker. Besef hy het nie die duikbril of boothaak saamgebring nie. Maar nou is Dinkie geanker met die spaar anker. Wat nou? Bushy gooi die boothaak. Archie vang raak. Daarna die snorkel en bril. Dit beland in die water en... dit sink. Archie gryp die boothaak om die snorkel te gryp. Dit gly uit sy hand en val in die water en... dit sink. Arch gryp, maar te laat. Nou is die grid, snorkel, bril, boothaak en spaar anker op die bodem van die see.

Mr Bean!


Nou is dit ernstige sake. Die boothaak! Bushy gee nog 'n snorkel en bril. Met longe vol lug, is dit onder toe. Hy duik en bly lank onder. Skielik pop hy soos 'n kurkprop uit die water, met die grid triomfantelik bokant sy kop. Ek skep moed.
Hy duik weer met longe vol lug en kom die keer op met die snorkel en bril EN die boothaak. 
Ek slaak 'n sug van verligting. 
Daarna trek hy die pan op en toe die anker.
Alles is gered en die manne voel soos helde (en hulle is!)

My held



Ons seil heerlik. Die wind is van agter en dis 'n heerlike, sonskyn dag.

Ons seil
Ligtoring oppad na Trogir
Trogir is in sig
Hy seil ook



Ons kom vroeg by Trogir en geniet die dorp. Ek en Grietjie het dobber-oë. Ons probeer die juwele in die stalletjies raaksien, maar dit wieg so dat ons niks raaksien of koop nie. Die mans lag al die pad bank toe.

Trogir se Riva
Kasteel by Trogir

Friday, May 3, 2013

Dobber-Donderdag Dag 5

Vandag is Donderdag en ons dobber. Op die see. Ons het 10:00 uit Primosten vertrek. Dis bewolk, mistroostig, maar gelukkig reën dit elders. Die hele Marina slaap nog. Party van hulle slaap sommer op die dek. Ons is eerste om te vertrek. Vandag gaan ons nie baie ver seil nie, want ons gaan anker by Stari Trogir,  'n klein baaitjie oppad na Trogir dorp.

... blou word grys, gryser grou


Vandag is anders as ander dae. Die lug is grys, die blou is weg, die kleur van die water en die lug word een. Dit maak my weemoedig en ek velang na my mense by die huis.

Daar is golwings (nie golwe nie) op die see. Dit voel vir my of ons net dobber, dobber, dobber.

Dobberdag
Vandag...
     'n dobberdag
Mistroostig heen en weer
Hoekom, waarom, waarheen
Stille stiltes skree
Niemand praat
   wil nie praat
      kan nie praat
         mag nie praat

Blou word grys, gryser, niks
Hoekom dan
   Waarom dan
      Waarheen dan?
Is die verstaan dan weg
Of is dit net ek...

Woorde dobber weg
weemoedig, wiegend
amper weenend
tot in die blou
   maar
blou word grys, gryser grou

Niemand praat
   wil nie praat
      kan nie praat
         mag nie praat

Dis als verniet
als verskiet
tot in die niet...
                             Manas


Gister het Archie se dogter, Lauren, saam met ons geseil, vanaf Sibenik tot Primosten.

Vanaand braai ons weer, die keer op die boot. Bushy is 'n boerseun en is lus vir vleis. Die braai word noukeurig-versigtig op die broodplanke gebalanseer. Ek hou die storie dop met arendsoë.

Die eerste aanboord-braai
Wens dit is al gaar.



Alles verloop vlot en ons eet te lekker. Totdat Archie die braaigrid in die see moet afkoel ...




Thursday, May 2, 2013

Primosten. Dag 4

Ek en Grietjie het eers die oggend die oudorp van Sibenik gaan verken. Ek wou die ou kerk sien. Jy betaal om in te gaan. Wat 'n geluk! Toe ons daar kom, is hulle besig met die mis. Ongelukkig was dit amper klaar, maar ons gaan in en woon die laaste deel van die mis by. Gratis en verniet.

Kerk


Ons besoek die tuine en grafte en dwaal in die ouwêreldse dorp rond. Ons sit op die muur by die kerk, kyk na al die mense en luister na die weemoedige liedjies wat die straatmusikant sing. Sad sad songs.

Grietjie op die muur by die kerk
Kat op trap


Ons vertrek 11:00 uit Sibenik. Ons seil, die wind is nie sterk nie. Ou Bushy fluit maar weer. Ons seil rustig, stadig. Ek en Grietjie sit heel voor op die boot. Luilekker en langbeen.

Almal is op pad na êrens ...


Archie besluit om te swem. Die res van ons sien nie kans nie. Hy druk sy groottoon in die water en trek 'n lelike gesig. Hy's dapper en durf die water aan.

Sjoe dis koud ...
... maar lekker


Ons kom so 14:00 by Primosten aan. Daar is nog nie baie bote nie en ons meer maklik vas. Hoe later hoe kwater en die plek word propvol en dit word 'n lawaaierige rumoerige malligheid.

Primosten


Vanaand is braai-aand. Bushy haal sy braai uit wat hy vanaf Suid-Afrika saamgebring het. Die brikette word as't ware uitgetel en word sorgvuldig ingesit. Met groot seremonie word dit aangesteek. 

Die vuur is aan!


Ons wag dat die kole reg is en weereens word die vleis seremonieel opgesit. Die omstanders en verbygangers is verbysterd. Ek wens ek kan hulle kommentaar verstaan.
Die geur van  braaivleis hang swaar in die lug. Ek verlang!!! Die Belge van langsaan sê: "Smaaklik smaaklik". Ons eet Suid-Afrikaans lekker.

Bushy braai
Mmmmmm lekker!