Tuesday, May 23, 2023

Dingli Kranse en Mdina. Malta.

 23 Mei 2023. Dinsdag.

Ons gaan vandag weer bus 52 klim na Dingli. Die reën is weg en dis gedeeltelik bewolk. Ek kan nie wag om die indrukwekkende kranse van Dingli te ervaar en te beleef nie. Ek voel so positief. My glas is half vol. Archie is nog meer positief. Sy beker loop oor.

Ons klim by Dingli af en loop die ent na die kranse. Waar is die kranse? Daar is wel kranse, maar indrukwekkend?  Nou nie eintlik nie. My borrel bars. My glas is half leeg. Archie se beker loop leeg.

Maar ons geniet dit om te stap. Ons stap optimisties langs die kranse. Hoop ons sien iets spesiaal. Maar helaas. Ek dink wel die kranse is indrukwekkend van die see se kant af, as jy in 'n boot vaar. Ons klim die bus na Mdina.

"Thistle"

Archie op die kranse

Blom

Dingli kranse

Mdina is een van Malta se mooiste stede. Mdina en Rabat was eers deel van dieselfde nedersetting, maar die Arabiere het 'n muur rondom Mdina gebou en daarvan 'n fort gemaak. Dit het beswaarlik deur die eeue verander. Hier woon omtrent 400 mense nog in die stad.

Hierdie is voorwaar 'n pragtige stad. Ons dwaal behoorlik heerlik in die strate rond. Toe is ons moeg gedwaal en besluit om terug Valetta toe te gaan. Huis toe.

Mdina se strate

Katedraal

Standbeeld

Straathoek

Malta se platteland

Kerkkoepel

Morsa koepel, derde grootste in Europa

Mdina

Vensterbank

Straat

Lamp

Stadsmuur

Stadsmuur

Laatmiddag in Valetta is 'n besonderse tyd. Die son verhelder die geboue tot goud. Ons stap en drink die uitsigte in. Die Drie Stede pronk oorkant die water. Bote wieg in die marina. Dis 'n pragtige tyd van die dag om jouself net oor te gee aan die stad. 

Die kerke en geboue pronk statig en grotesk in die stad. Die strate met hul op en af en impossante geboue en pragtige kerke. En in die vêrte seil Maja se vriendinne op die blou water. Hierdie stad is 'n skouspel wat al jou sintuie prikkel.

Kerkkoepels van Drie Stede

Drie Stede

Kerk

Balkonne

Isla

Uitkyktoring

Straat met kerk

Muurblom

Ai ou Maja








Monday, May 22, 2023

Busrit na nêrens. Malta.

22 Mei 2023. 

Maandag.Ons klim die bus (52) na die Dingli Kranse. Dis blykbaar iets om te sien.  Hulle voorspel wel reën, maar ons besluit om die kans te waag. Almal klim by 'n bewolkte Mdina af maar ons sit voort. Dingli toe.

Wel, hoe nader ons aan Dingli kom, hoe dikker word die weer. Swaar wit wolke (ek het op skool geleer dat wolke bestaan uit duisende klein waterdruppeltjies) hang in die lug. Wel, die meneer was reg, want toe val daai duisende waterdruppeltjies reguit aarde toe. Dit sous!

En toe bly ons in die bus sit. Klim nie af nie en ry terug Valetta toe. En hier skyn die son. Ons klim af ons kyk na 'n paar besienswaardighede op die "Floriana heritage trial". Sommer net goeters. En dis so lekker om in die sonskyn te loop. Hier te kyk en daar te kyk. Ons kyk 'n Suid-Afrikaanse meisie raak. Sy bewonder ook die Robert Samet Hall. Sy werk op die Norwegian Breakaway as bemarker van die juwele. Oulike mooi meisie van Pretoria. Ons gesels 'n bietjie en toe word ons weer vreemdelinge wat mekaar nooit weer sal sien nie.

Ons stap see toe. Daar staan die Norwegian Breakaway vasgemeer, die hele hawe vol. Amper 4 000 pasassiers en 1 000 bemanning. Reusagtig groot. Aan die oorkant is die drie stede.

Ons stap stadig huis toe en kyk verras na hoe mooi ons straat eintlik is noudat die son skyn. Die balkonne is vir my so mooi. 

Sarria Kerk

Wignacourt Watertoring

Drinkplek vir perde

Robert Samut Hall, voorheen Methodiste kerk

Ingang van Robert Samut Hall

Agterkant van Robert Samut Hall

Wildevy in Botaniese Tuin

Waterlelie

Vetplante

Bloubul by Jakaranda

Leeu

St Anne Street

Norwegian Breakaway

Drie stede

Archie

Ons straat

Balkonne

Middelste vloer ons tuiste



"So much" vir die Dingli kranse!

Sunday, May 21, 2023

Marsaxlokk

21 Mei 2023. Sondag.

Vandag het ons die gaping tussen die reënbuie gevat en die bus geklim na Marsaxlokk. Bus 81 of 85. Twee vol busse ry verby ons stasie sonder om te stop. Hulle is stampvol. Ons loop toe hoof busstasie toe en kry die tweede bus. Eerste een was weer vol. Ek dink álmal gaan vandag soonheentoe. Ons al staande ook.

Marsaxlokk is 'n vissersdorpie. Op Sondae het hulle 'n mark. Ons is mos mal oor 'n mark. 

Dis aanvanklik bewolk, maar later breek die son deur. Hier is toerbusse vol mens. Dit lyk amper soos Positano. Dit koop en eet en gesels. Ons koop Indiese kruie en 'n dooie vis vir die pan. Die Maltese soetgoed lyk uiters verleidelik. Kleurvol, smaaklik. 

Nog bewolk

Lyk heerlik


Smaaklik

Verleidelik

Dooie visse

In die hawe lê baie vissersbootjies vasgemeer. Veelkleurig en vrolik. So asof hulle vir foto's wil poseer. Hierdie is voorwaar 'n visvangparadys as mens na die hoeveelheid bote in die baai kyk. 

Vissersbootjie

In 'n ry

Marsaxlokk

Kleurvol

Ons kyk na die geboue en kerke. Van die plaaslike bevolking staan op hul balkonne en verkyk hulle aan die roesemoes van mense wat rondskarrel.

Kerkmense

Kerktorings

Afdop

Drink dop

Was lekker

Marsaxlokk               

Skielik bars 'n reënbui los en almal soek skuiling. Ek loop onder die sambreel en Archie en sy vis loop van kafee-sambreel tot kafee-sambreel. Dan reën dit skielik sagter, dan hou dit op net om die volgende oomblik weer emmersvol te reën. 

Ons vat ons vis en gaan toe maar huis toe. Wat 'n heerlike tydjie in Marsaxlokk.