Wednesday, May 17, 2023

 Pompeii. 

17 Mei 2023. Woensdag.

En dit reën reën reën nog steeds hier in die Suidelike deel van Italië.  Sonder ophou. Maar ons gaan nou maar vandag Pompeii toe. Dit lyk of die son wil-wil uitloer tussen die wit donskombers-wolkmassa.

Ons is gestewel (ek) en gespoor (Archie) en daar trek ons. Net toe ons ons voete uit die gebou sit, begin dit sous. Sambrele op en ons stap dapper stasie toe. Sal ons omdraai of voortgaan? Ons stap maar manmoedig aan en koop treinkaartjies Pompeii toe. Ons besluit as dit te veel daar reën, ons maar sal omdraai en terugry huis toe.

Die trein vertrek stampvol. Ons kry darem sitplek, wat skaars is in dié treine. By Pompeii gekom, skyn die son amper. Die ry by die kaartjiekantoor is kort en ons koop ons €18 kaarjies en begin die plek te verken. 

In die jaar 79 n.C. was dit 'n normale dag in die mense van Pompeii se lewe, of so het dit gelyk. Mense het hul daaglike take gedoen. Gewerk, gekoop, gebid, gesels. Dit wat as 'n ver-af gebrom begin het, het verander in 'n vreesaanjaende dreuning en toe bars die hel los. 

Die uitbarsting van Berg Versuvius het die het die stad letterlik in tyd laat vries. Onder 12 lae vulkaniese as, was die stad begrawe vir amper 17 eeue. In 1748 het die Switzerse argitek, Karl Weber met opgrawings begin. En stuk vir stuk het Pompeii weer vorm gekry. Berg Versuvius is steeds 'n aktiewe vulkaan en word fyn dopgehou. Uitbars gaan hy wel weer eendag.

Die reën het wel ons besoek kortgeknip, maar ons het 'n goeie idee gekry van die stad van toentertyd.

Hier is die oorblyfsels die die ou stad van Pompeii in fotobeeld.

Ingang

Basilika

Standbeeld

Tempio del Genius Augusti

Forum

Forum

Straat

Standbeelde in tempel

Straat

Huis

Standbeeld van Faun

Doriese kolomme

Papawers

Huis

Kleurvolle muur

Papawers

Mosaïek in Casa di Marcus Lucretius

Tuin van Casa di Marcus Lucretius

Kraan

Muurskildery

"Casting of one of the corpses"

Klein teater

Cas del Nave Europa

Amfora

Amfiteater

Papawers

Muurskildery

Muurskildery

Muurskildery



Tuesday, May 16, 2023

 Sorrento. 

14 Mei 2023. Sondag.

Die son skyn amper. Hulle voorspel reën vir vanmiddag. So, ons gaan die oggend gebruik om Sorrento te verken. Ons klim die trein en daar trek ons. Oral langs die treinspoor is boorde vol swaarbelaaide suurlemoenbome. Dit ís voorwaar suurlemoenwêreld hierdie.

Sorrento is pragtig. Die man uit graniet gekap verwelkom ons so hartlik as wat hy kan. Hy het mos maar eintlik 'n hart van klip. Daar heers 'n lewendige atmosfeer in die dorp. Vrolike gelukkige mense benut die reënlose paar ure. Stalletjies en winkeltjies is oral. Met natuurlik suurlemoene oral waar jy kyk. Die kenteken van dié omgewing. Ai, die helderkleurige rokke met die suurlemoene op, is vir my so mooi. Maar duur! Die songeel winkeltjies lyk vrolik en lok jou in. Ek wil net koop, maar gelukkig het ek amper geen ekstra plek in my tas nie. (Ek het in elk geval al my sakgeld op plante vir Marchie's Place spandeer) Al die goed kos 'n fortuin, want ons rand is mos in sy maai. Maar kyk is vry. Én ek kyk en snuffel en bewonder al die pragtige goeters.

Sorrento standbeeld

Voetganger straat

Stalletjies

Suurlemoen tema

Suurlemoen tema

Mandjiesvol granate

Vars granate

Suurlemoeme

Varsprodukte

Varsprodukte

Ons gaan na die kerke. Ek is mos 'n kerkmens en die Roomse kerke is mos vir my vreeslik mooi binne. Ek verkyk my aan die versierde dakke en mure. En die altare en beelde. Pragtig. Ons bekyk ook die "Dominona Seat" van die 14de eeu.                 

Katedraal
 
Katedraal binne

Katedraal binne

Dominova Seat, 14de eeu

Ons kyk na die marina wat daar onder lê. Mense staan in rye om met die toerbote rond te vaar en die Amalfikus van die see te sien. Ai, die alewige rye! 

Ons stap met baie trappe af na die hawe en dink onwillekeurig aan onse kleine Maja wat nou 'n ander heenkome in Istanbul gevind het. Daar gaan volgende week 'n seilwedvaart in die Sorrento, Amalfi en Salermo baaie wees, so die seilers werk en skarrel rond soos miere om hul seile en jagte reg te kry vir die groot gebeurtenis. Archie kyk baie belangstellend na die bedrywighede. Miskien verlang 'n stukkie van hom wél na Maja. Vir my is die strand op stelte, met al die sonstoele, baie interessant. As daar nie plek vir 'n strand is nie, maak jy 'n plan!

Marina
Kyk uit oor marina

Sorrento

Seiljag voorbereiding

Strand op stelte

Ons stap weer boontoe en drink die atmosfeer gulsig in. Elize sal baie van Sorrento hou. Dis 'n toeriste paradys. Archie staan by die ou olyfboom, wat sekerlik Marchie's Place se olyfboom se oupagrootjie kon gewees het. Hierdie Sorrento is 'n plek so na aan my hart.

Ons eet pizza vir middagete en klim die trein om voor die reën tuis te wees. En ons maak dit net. Toe ons tuis is, begin dit sous. Hulle voorspel reën tot en met Woensdag. Donderdag is ons laaste dag hier en dit behoort dan sonnig te wees. 

Ou olyfboom


Monday, May 15, 2023

 Amalfikus. 13 Mei 2023. Saterdag.

Ja, ons is terug. Nie op ons kleine Maja nie. Op Skopelos vanaf middel Maart. Ons het vreeslik aan die huis en in die tuin gewerk. En vreeslik saam met nuwe vriende gekuier. Maar dis anderdag se storie.

Ons gaan Italië toe. Amalfikus, almal raak gaande daaroor. Blykbaar prentjiemooi. So, ons het besluit ons laat Marchie's Place agter en die tuin in die bekwame hande van Anthony, 'n mede-Afrikaner. En daar trek ons, spei ons vlerke, gewapen met 8kg handbagasie en reënklere.

Nou bly ons in Kastellammare di Stabia. Dis 'n dorp wat baie sentraal tussen Napels, Pompeii en Amalfikus is. Ons arriveer saam met tropiese sikloon of iets, want van sonnige Amalfi, is daar geen sprake nie. Saterdag klim ons die trein na Sorrento en daarna die bus na Amalfi. Makliker gesê as gedaan, want jy moet heeltyd in rye staan om bus te kry. Die eerste bus is vol en ons kry plek op volgende bus. Gelukkig aan die regterkant van die bus, want dan kan jy mooi sien. Dis maar 'n gevaarlike pad die, vol draaie en baie smal en loodregte kranse aan die een kant. 

Wel, die busrit is asemrowend mooi, al is dit bewolk. (Foto's is aaklig vanuit 'n bewegende bus met baie swak lig). Ons besluit om nie by Positano af te klim nie, maar deur te ry tot by die dorpie, Amalfi. 

Amalfi is 'n pragtige dorpie. Wemel van toeriste. Dit reën liggies. Ons dwaal in die nat strate rond en elke nou en dan slaan ons die sambreel op. In hierdie geweste loop jy nie sonder 'n sambreel nie. Ons eet pizza so loop-loop, want hulle jaag jou weg as jy op die bankie wil eet.  Ek verstom my aan al die suurlemoene. Dis suurlemoenwêreld die. Oral hang goudgeel suurlemoene aan die bome. Dan word hulle mandjiesvol in stalletjies verkoop. Dis suurlemoenrokkies en lappe en serpe en kouse en kombuisgoed en keramiek en en en. Pragtig geel en sonnig. Dis nou die kleur van suurlemoene waarvan ek praat, want in dié wêreld vergeet die son om te skyn. Bottels Limoncello oral op die rakke.

Wikipedia sê: "Limoncello is an Italian lemon liqueur mainly produced in Southern Italy, especially in the region around the Sorrentine Peninsula and the coast of Amalfi. It is the second-most popular liqueur in Italy and is traditionally served chilled as an after-dinner digestivo. It is also a popular homemade liqueur, with various recipes available online and in print.

Limoncello is made from the zest of lemons and usually has a slightly cloudy appearance, which originates from the presence of small essential oil droplets suspended in the drink."

Dit begin reën en ons klim die bus, nee staan in die ry om die bus te klim. Ons is net te laat om sitplek te kry en ons sê ons sal in die bus staan. Hoop iemand klim af. Wat ook later gebeur en toe sit ons prima-voor in die bus en kan goed sien. Die pad is gevaarlik nat. Ons bestuurder is 'n tipiese joviale Taljaner wat almal langs die pad ken en soene waai. Hy swets ook ander bestuurders deur die oop venster en dan knipoog hy vir ons.

Ai, as die son net wil skyn. Ons kom darem veilig in Sorrento aan. Dit reën nou hard en ons klim die trein terug huis toe. En dit reën reën reën. 

Ek verlang na Skopelos. 



Amalfikus

Positano

Positano

Klou teen die kranse

Amalfi

Amalfi se hawe

Amalfi

Amalfi Katedraal

Trappe op

Fontein

Plein

"When life gives you lemons - make Limoncello"