Sunday, September 18, 2022

Uiteindelik

 18 September 2022. Sondag.

Al ons verwagtings is in die drein af. Dit voel of hierdie huis nooit gekoop gaan word nie. Dis nou een van twee dinge, óf iets wat regtig die moeite werd is, kom nie maklik nie, óf die heelal wys vir ons dat ons nie die huis moet koop nie. Die eienaar, Giannis, gaan nou Maandag met die vroeë Flying Dolphin kom om te teken. (Dit klink amper vir my na nog 'n Sue-situasie.)

Intussen lê ek met my opgeswelde seer enkel in die lug. Archie moet nou verblyf vir nog drie dae hier in Volos soek, want hierdie plek waar ons nou bly, is vol bespreek. Hy kry gelukkig plek net 240m van hier af en ek loop baie stadig soontoe.

Nou wag ons maar weer. Ek lê op die bed en kyk na die enigste Engelse kanaal op die tv, BBC news. So lê ek vir drie dae en kyk na die koningin se dood. Archie gaan stap so nou en dan om net uit te kom. Van goedkoop kruideniersware en klein matjies koop in Volos, is daar nou geen sprake nie. Ek lê pens en pootjies in die lug en ons weet nie eers of die koop gaan deurgaan nie.

Archie se afspraak is vir Maandag, 10:30 by die bank. Ek kyk Sondag na Poiseidon se windvoorspelling en hulle voorspel wind vir Maandag. En as daar wind is, kan die klein sensitiewe Flying Dolphin nie vaar nie (as sy ooit al reggemaak is)

Maandag is Archie 10:30 by die bank en Giannis (eienaar) het nie opgedaag nie. Die Flying Dolphin kon nie vaar nie. Hy gaan nou met die  groot 14:00 veerboot kom. Die rit duur so 4 ure, dus sal hy so 18:00 in Volos wees. Hulle kry toe alles by die bank gereed en Archie het die tjeks in sy sak, gereed om vanaand, 18:00 aan Giannis te oorhandig.

Die roubeklaers lê blomme ter ere van die koningin, ek rus my voet om reg te wees vir die groot trek en Archie gaan weereens om kontrak te probeer teken. Die spanning! Het Giannis opgedaag?

Dit word later 19:00 en Archie is nog steeds weg. Hoe lank vat dit nou om 'n kontrak te teken. Dit word 20:00 en toe kon ek dit nie meer hou nie en ek bel vir Archie. Giannis het opgedaag en hulle is nog besig. Hy kom net voor 21:00 terug. En ons is toe die trotse bankrot eienaars van Marchie's Place! Die spanning val sommer so van my lyf af.

Archie sê elke bladsy (31 bladsye) van kontrak is gelees én vertaal. Dan stry hulle in Grieks. Dan praat almal gelyk. En Giannis is toe volgens Archie 'n baie gawe man. 

Dinsdag vat ons die 8:30 veerboot huis toe (ja, huis toe) en Safa en Mike wag vir ons op die hawe met die sleutel. Almal is ene glimlagte en ons is tuis. Nou gaan ons eintlik eers regtig sien wat ons gekoop het.

Wel, die uitsig is pragtig! Maar Marchie's Place is nie volmaak nie. Hy front oos, so ons sal pergola moet opsit, anders gaan die oggendson ons uitbak. Mike het gesê al die huise in Skopelos het sommige klam mure en Marchie's Place is geen uitsondering nie. Mens kan sien dis was 'n vakansie huis, want daar is die een en ander wat Mr Fixit moet fieks.

Maar dis 'n heerlike gerieflike mooi huis. Bietjie te na aan die pad,  maar almal sê ek sal gewoond raak aan die padgeluide. Hier gaan ons lekker bly.

Ons bly nou amper 'n week hier en dit voel of ek al maande hier bly. Totaal tuis in die huis. Die pad? Wel, ek is nog besig om gewoond te raak. (Ons was nou die dag by Safa se kantoor in die chora en die motorfietse en kinders het so lawaai dat ek toe dankbaar is vir Marchie's Place se "stilte".

Ons begin in die tuin te werk. Archie moet die buurman se braambosse wat oorhang, snoei. Hy grawe ook 'n gat vir die suurlemoenboom wat ons wil plant. Ons gaan koop baie grond, roosmaryn en olyfboom en dit word geplant. Ook al die steggies wat so mooi op Maja gegroei het, word uitgeplant. Hier is nog baie werk in die tuin, maar die meeste moet in die lente gedoen word.

Dan sit ons op die stoep en bewonder die mooi uitsig. Ai, maar ons bly te lekker in ons huis op straat! En net om heeltemal tuis te voel, bak Archie beskuit. 

Marchie's Place

Sue se huis (regs)

Leë kombuis

Ons trek in

Gastekamers ...

... gereed vir gaste

Werk in die tuin

Snoei braambosse

Olyfboom geplant

Bak beskuit

Ons eerste koffie ...

... op die stoep

Skemerkelkie ...

... met 'n uitsig

Ons afspraak vir ons Golden Visa is 23 September en ons Schengen Visum verstryk 24 September. Praat van "living on the edge". Ons moet die Donderdag, 22 September die veerboot klim. En ek sien alweer daar kom erge wind. Dink darem die ou grote sal kan vaar in sterk wind.

Friday, September 9, 2022

Marchie's Place

09 September 2022. Vrydag.

Net 'n vinnige "update". Ons bly vir 10 dae in Smile Yellow Studio in Skopelos.  Ons mag mos nie in Marchie's Place bly voordat ons die kontrak geteken het nie. 

Elke dag dwaal ons maar in Skopelos rond. Loop in verskillende stegies en straatjies en verken die dorp. Gaan gee my plante water en kyk na Marchie's Place. Beplan wat ons met haar gaan aanvang. Ek raak al geheg aan die huis.

Marchies Place


Toe hoor ons ons kan Vrydag, 9 September in Volos gaan teken vir die huis. Ons is baie bly, want nou hoef ons nie Griekeland te verlaat om ons Schengen dae te spaar nie. Archie het klaar die belasting vir huis by die bank in Sopelos gaan betaal. Hy moet die bewys ook saamvat.

Ons bespreek die veerboot vir Donderdagmiddag en daar trek ons. Baie opgewonde. Vrydag betaal en teken, Saterdag met veerboot terug na Skopelos en dan kan ons intrek. Ons wag nou al so lank daarvoor.

Ons kry vir Evagelia 8:00 by die bank. Ons moet eers betaal en dan teken ons 12:00, Archie en die verkoper by die notaris, in die teenwoordigheid van die twee prokureurs.

Maar "back at the ranch", breek die vinnige veerboot wat die verkoper Vrydagoggend wou vat vanaf Skopelos na Volos!!! Hy kan nie hier wees nie. Ons kan nie teken nie. Dis toe vreeslike selfoonoproepe tussen Evagelia, Safa (eiendomsagent), verkoper en verkoper se prokureur. 

Almal is op hol. Archie moet gelawe word. Hy is mos vreeslik geduldig, maar as hy sy geduld verloor!! Die verkoper is nervous (soos Evagelia  sê) en ek is opstroppelis. Evagelia slaan net vure dood en sê so iets het nog nooit met haar gebeur nie. 

Safa sê sy sal Maandag saam met verkoper kom en seker maak hy kom. Hulle verander toe ook sommer dadelik sy kaartjie na Maandag. Hoop die blerrie veerboot is reg. As vroeē veerboot nie vaar nie, sal hy met 14:00 veerboot kom, dan teken ons die middag laat. 

Ag, daar was nog 'n klomp goed gesê en gedoen  en gebeur het wat ek nie die krag het om hier te vertel nie.

Ek en Archie was veronderstel om nou vreeslike opgewonde huiseienaars te wees, maar hier loop ons nou in sak en as in Volos se strate. Ons moet nou blyplek soek vir nog drie dae. Ons stap toe maar AB supermark toe. Ons wou in Volos, waar dit goedkoper is, bietjie kruideniersware vir die huis gekoop het.

Toe slaat ek in die stofpad, waar hulle besig is om aan pad te werk, neer. Soos 'n dooie os, (jy kan maar in jou mou lag, want ek dink dit was baie aanskoulik vir die omstanders) en swik my enkel lelik. Ons stap toe na ons woonplek en daai enkel begin swel. Hy rys soos die brode wat almal in die covid tyd begin bak het. Dis ys opsit en verbind en enkel in die lug lê. Nou kan ek nie op my voet trap nie. En ons trek hopelik Dinsdag in en duisende bokse moet uitgepak word. Dit was nou baie onnodig. 




Ek sê weer, hierdie was vir ons een moeilike, stresvolle en ingewikkelde jaar. Ek wens alles wil nou regkom. En êrens elders is Maja ...

Tuesday, August 30, 2022

Éinde van 'n era

 27 tot 29 Augustus 2022. Saterdag tot Maandag.

Vandag is die laaste skof na Skopelos op Medocean, Enes se 45 voet jag. Enes kry 'n agent en ons klok maklik uit Turkye. Ons vertrek uit Çeşme na Chios, Griekeland, 9 myl. Hierdie is gewoonlik een mislike stuk see waarteen die boek mens waarsku. Ons het eerstehandse kennis van die stuk seestraat. Gus waai altyd hier.

En wonder bo wonder, die see is kalm en Gus waai net liggies. Wat 'n bonus! Ons is sommer gou by Chios waar die Griekse agent ons inwag. Die inklok verloop maklik en vinnig en toe val ons 13:30 in die pad. Dit is 138 myl tot by Skopelos. Dis 'n 24 uur lange reis, en dwarsdeur die nag. 

Tot siens Turkye ...

... hello Griekeland

In hierdie stuk van die Aegean See waai Gus al vanaf Junie aanmekaar. Stormsterk. Maar nou is sy gô uit. Gus lê so bietjie. Ons vaar en motorseil in die gevreesde stuk see sonder enige sterk wind. Ons, Enes en Yavuz, die twee kapteins, is almal baie dankbaar dat ons nie die lang tog op 'n rowwe see aanpak nie.

Sekond vir sekond, minuut vir minuut, uur vir uur vaar ons op die see. Myl vir myl word Maja deel van die verlede en ons nuwe toekoms kom nader. Die einde van 'n era. Dit word later aand en nog later donkernag. Geen maan wat bietjie lig vir ons gee nie. En ons motorseil vorentoe, altyd vorentoe. Baie gemakliker op die groot jag as op ons kleine Maja.

Motorseil

Aandete saam met Enes en Yavuz

Twee kapteins

Skemerkelkie

Die twee kapteins hou hul skerms dop om ander verkeer op die water te sien. Veral op die Athene-Istanbul seeroete, waar die groot skepe vaar. Hulle beman die helm beurtelings, eintlik nie die helm nie. Medocean is op autopilot, sy bestuur haarself. Ek en Archie sit ook maar op die donker dek. Ek probeer om te gaan skuinslê, maar die slaap ontwyk my. Eers laatnag gaan slaap ek. Archie kyk ook op die AIS vir skepe. Baie later gaan slaap hy 'n bietjie.

Dis ons eerste nagseil en dis eienaardig om te vaar sonder om te kan sien. Alles gaan goed en uur vir uur en myl vir myl kom ons nader aan ons eindbestemming.  Die son kom op oor die horison van ons laaste bladsy van ons seilhoofstuk. Die nag verander in dag en ons vaar vorentoe, altyd vorentoe. 

Uiteindelik oggend

Kapteins

Ons sien Skopelos in die vêrte. Eers net 'n dowwe beeld. Later kom ons nader. Skopelos lê duidelik voor ons. Dit het uiteindelik aangebreek. Ons is hier! Ons vaar by die hawe in. Enes en Yavus maak gereed vir vasmeer. Ek is nou soos een van daai vroumense wat op my g@t sit en niks doen nie. Veilig vas en ons is hier.


Skopelos Eiland

Amper daar

Skopelos dorp

Skopelos

Skopelos

Baie dankie aan twee uitstekende kapteins

Die aand neem ons vir Enes en Yavus uit vir 'n dankiesê-ete, soos wat ons gaste altyd op Maja gedoen het. Ons gaan eet by "The Muses". Enes eet garnale en ons drie eet kalamari. Ek smul behoorlik. Daar heers 'n heerlike atmosfeer tussen die twee Suid-Afrikaners en die twee Turke. Daar is 'n band tussen ons. Beloftes van weersiens word gemaak. Wat 'n genotvolle aand.

Ekke en die kapteins

Die drie kapteins


Enes

Skopelos in die nag

Die volgende dag word ons pakkersaie op die kaai afgelaai. "People stop and stare ..."  Al die ander seilers op die kaai wonder oor die klomp goed. Ons trokkie kom eers so 9:00 om ons goed in Marchie's Place se stoorkamer te gaan stoor.

Pakkerasie

Op die kaai

Die manne

Toe is dit sukke tyd. Ons groet Enes en Yavuz. Enes het sy belofte om ons veilig by Skopelos te besorg, nagekom. Hy en Yavuz was regte gentlemen en het ons op die hande gedra. "Baie dankie julle twee!"

Hulle vertrek uit die hawe en ons waai soos my familie altyd waai. Tot hulle uit die hawe is en ek hulle nie meer kan sien nie. Ek het natuurlik weer gegrens.

Hulle vertrek

Tot siens

Nou begin ons nuwe hoofstuk. 'n Nuwe era. Maja is in die goeie hande van Merwe meisiekind. (Sy het die eerste aand op Maja toe hulle op anker was, niks geslaap nie. Dit het gereën en sy het Maja heeltyd opgepas, soos ek altyd gemaak het)

Die trokkie kom en ons pakkerasie word gestoor by Marchie's Place. Ons mag nie daar intrek voordat die kontrak nie geteken is nie. Toe gaan ons na ons studio toe vir ons verblyf tot 5 September. Daarna sal ons waarskynlik Albanië, Macedonië of Bulgarye toe moet gaan om ons Schengen dae te spaar. Die blerrie kontrak kan dalk nog lank neem, of dalk nie. Ons weet nie. Maar ons is darem nou op Skopelos. Wat hou die toekoms vir ons in?

'n Blink toekoms lê voor

Saturday, August 27, 2022

Kuşadasi. Vaarwel Maja.

 26 Augustus 2022. Vrydag.

Dis nou amper tyd vir "Vaarwel my eie soetelief", dis 'n stukkie van 'n liedjie uit my jeug. Dis nou tyd om Maja te groet. Enes sal Woensdagaand hier wees en dan sal hulle bank toe gaan dat Enes die geld kan oorbetaal en die koopkontrak teken. (Ek is al bietjie allergies vir die woord "koopkontrak".

Donderdag probeer Enes die geld oorbetaal, sonder einge sukses. Hy probeer by ander bank. Geen sukses. Hy vind toe uit dat ons adres op vorms verkeerd is. Nou in Griekeland werk dit so. As jy huis wil koop, moet jy 'n Griekse bankrekening hê. Om 'n bankrekening oop te maak, moet jy 'n Griekse adres hê. Nou vra ek, hoe de moer? ( My matrooswoorddae is amper verby)

Nou kan ons nie onthou watter adres het hulle op die vorms ingevul nie. Die bankmense sê daar is adres, maar hulle wil nie sê wat dit is nie. Archie bel vir Evangelia dat sy kan hoor, maar sy sê die Griekse bank is al toe. En dis nou eers 14:32!

Hulle gaan weer bank toe, sonder sukses. 'n Oorplasing is onmoontlik. Toe maak hulle mmar ,n plan en Maja word betaal. Nou is sy nie meer ons s'n nie.

Enes hoor hy kan nie 'n kontrak in Kuşadasi teken nie. Dit moet in Çeşme gedoen word. Toe besluit hulle Medocean, die boot waarop ons ry, Maya, 'n boot wat hulle Istanboel toe moet vat en Maja, ons eie kleine boot, moet nou almal Çeşme toe. Dis 'n 11 uur lange vaart en deur die nag.

'n Ander kaptein is op Maja. Toe sy uit die marina vaar, bars ek toe dramaties kliphard in trane uit. Die drie kapteins, Merwe meisiekind (wat op Maja gaan bly) en Archie kyk my grootoog aan. Merwe Meisiekind troos net. Enes troos net en Archie lag verleë.

Daar vaar Maja uit die marina met 'n vreemde man agter die helm. Ons vertrek ook uit die marina. Toe bel Maja. Die autopilot werk nie. Die man is man alleen op Maja sonder autopilot!  

Toe draai al drie bote om en gaan terug na die marina. Archie is asvaal. Hy gaan dadelik kyk. Sy gereedskaptas is heelonder heelagter in die kajuit waarin al ons miljoen pakkesie is. Hy gaan toe maar met een van hulle "tools" en nie met sy "crimping tool" nie.

Ek stap later na Maja, wat op 'n pier baie vêr van die ander twee bote is. Ek sien hoe stoei Archie. Die sweetdruppels drup van die punt van sy neus af. Ek stap toe terug na Medocean en pak al daai bokse af om die gereedskapboks te kry. Metin kom later help. Ek sny boks oop en stap na Archie toe met swart ding. Hy sê toe dis verkeerde tool. Ek stap toe maar terug om die hele swaar gereedskapkas te vat. Metin sê hy sal dit vat. Nou het Archie darem die regte gereedskap. Puur verniet. Maja se autopilot verseg om te werk.

Ons gaan slaap toe maar die aand op Maja, ons gaan nie vertrek nie. Enes gaan nog 'n kaptein laat kom dat daar twee kapteins op Maja is wat beurte agter helm kan maak.

Volgende oggend begin Archie al vroeg, so tussen sy koffie deur, aan die autopilot te werk. En eureka! Dit werk! Hy installeer die ding weer en die manne toets. Dit werk. Ons maak toe gereed om te vertrek. Ons gaan alleen na Çeşme en Maya en Maja gaan Istanbul toe. Hulle wag net vir ander kaptein. 

So vertrek ons toe weer en 'n uur na ons, die ander twee bote. Ons kry 'n oproep. Die autopilot werk weer nie. Ag, hoekom word die dinge net moeiliker? Niks wil uitwerk nie. Enes sê hulle gaan nog 'n kaptein kry. Dan is daar vier kapteins tussen die twee bote. Hulle sal regkom.

Nou is ons oppad na Çeşme, omtrent 55 myl. Met twee vreemde mans. Tuis is die familie besig om vir ons te bid. Archie het vir Michelle ons "location" gestuur. Sy track ons nou. Ons sal haar laat weet as ons veilig in Çeşme kom.

Hierdie is sowaar een van die moeilikste jare in my lewe. Ons vaar en vaar en vaar, tot by ons bestemming. Die eerste been van die reis is afgehandel.

Laaste langbeenlê

Laaste langbeensit

Pakkerasie

Soentjies vir Maja

Mr Fixit vir oulaas

Lief vir Maja

Pakkerasie oppad na Medocean

Nog pakkerasie

Merwe meisiekind gaan in Maja bly in Istanbul

Maja se Merwe meisiekind

Maja se meisies



Enes in groen

Ou kaptein en nuwe kaptein en meisies

Archie en Metin stoei met autopilot

Yavus en Archie oppad na Cesme

Archie en ek

Enes

Cesme

Cesme