Saturday, August 27, 2022

Kuşadasi. Vaarwel Maja.

 26 Augustus 2022. Vrydag.

Dis nou amper tyd vir "Vaarwel my eie soetelief", dis 'n stukkie van 'n liedjie uit my jeug. Dis nou tyd om Maja te groet. Enes sal Woensdagaand hier wees en dan sal hulle bank toe gaan dat Enes die geld kan oorbetaal en die koopkontrak teken. (Ek is al bietjie allergies vir die woord "koopkontrak".

Donderdag probeer Enes die geld oorbetaal, sonder einge sukses. Hy probeer by ander bank. Geen sukses. Hy vind toe uit dat ons adres op vorms verkeerd is. Nou in Griekeland werk dit so. As jy huis wil koop, moet jy 'n Griekse bankrekening hê. Om 'n bankrekening oop te maak, moet jy 'n Griekse adres hê. Nou vra ek, hoe de moer? ( My matrooswoorddae is amper verby)

Nou kan ons nie onthou watter adres het hulle op die vorms ingevul nie. Die bankmense sê daar is adres, maar hulle wil nie sê wat dit is nie. Archie bel vir Evangelia dat sy kan hoor, maar sy sê die Griekse bank is al toe. En dis nou eers 14:32!

Hulle gaan weer bank toe, sonder sukses. 'n Oorplasing is onmoontlik. Toe maak hulle mmar ,n plan en Maja word betaal. Nou is sy nie meer ons s'n nie.

Enes hoor hy kan nie 'n kontrak in Kuşadasi teken nie. Dit moet in Çeşme gedoen word. Toe besluit hulle Medocean, die boot waarop ons ry, Maya, 'n boot wat hulle Istanboel toe moet vat en Maja, ons eie kleine boot, moet nou almal Çeşme toe. Dis 'n 11 uur lange vaart en deur die nag.

'n Ander kaptein is op Maja. Toe sy uit die marina vaar, bars ek toe dramaties kliphard in trane uit. Die drie kapteins, Merwe meisiekind (wat op Maja gaan bly) en Archie kyk my grootoog aan. Merwe Meisiekind troos net. Enes troos net en Archie lag verleë.

Daar vaar Maja uit die marina met 'n vreemde man agter die helm. Ons vertrek ook uit die marina. Toe bel Maja. Die autopilot werk nie. Die man is man alleen op Maja sonder autopilot!  

Toe draai al drie bote om en gaan terug na die marina. Archie is asvaal. Hy gaan dadelik kyk. Sy gereedskaptas is heelonder heelagter in die kajuit waarin al ons miljoen pakkesie is. Hy gaan toe maar met een van hulle "tools" en nie met sy "crimping tool" nie.

Ek stap later na Maja, wat op 'n pier baie vêr van die ander twee bote is. Ek sien hoe stoei Archie. Die sweetdruppels drup van die punt van sy neus af. Ek stap toe terug na Medocean en pak al daai bokse af om die gereedskapboks te kry. Metin kom later help. Ek sny boks oop en stap na Archie toe met swart ding. Hy sê toe dis verkeerde tool. Ek stap toe maar terug om die hele swaar gereedskapkas te vat. Metin sê hy sal dit vat. Nou het Archie darem die regte gereedskap. Puur verniet. Maja se autopilot verseg om te werk.

Ons gaan slaap toe maar die aand op Maja, ons gaan nie vertrek nie. Enes gaan nog 'n kaptein laat kom dat daar twee kapteins op Maja is wat beurte agter helm kan maak.

Volgende oggend begin Archie al vroeg, so tussen sy koffie deur, aan die autopilot te werk. En eureka! Dit werk! Hy installeer die ding weer en die manne toets. Dit werk. Ons maak toe gereed om te vertrek. Ons gaan alleen na Çeşme en Maya en Maja gaan Istanbul toe. Hulle wag net vir ander kaptein. 

So vertrek ons toe weer en 'n uur na ons, die ander twee bote. Ons kry 'n oproep. Die autopilot werk weer nie. Ag, hoekom word die dinge net moeiliker? Niks wil uitwerk nie. Enes sê hulle gaan nog 'n kaptein kry. Dan is daar vier kapteins tussen die twee bote. Hulle sal regkom.

Nou is ons oppad na Çeşme, omtrent 55 myl. Met twee vreemde mans. Tuis is die familie besig om vir ons te bid. Archie het vir Michelle ons "location" gestuur. Sy track ons nou. Ons sal haar laat weet as ons veilig in Çeşme kom.

Hierdie is sowaar een van die moeilikste jare in my lewe. Ons vaar en vaar en vaar, tot by ons bestemming. Die eerste been van die reis is afgehandel.

Laaste langbeenlê

Laaste langbeensit

Pakkerasie

Soentjies vir Maja

Mr Fixit vir oulaas

Lief vir Maja

Pakkerasie oppad na Medocean

Nog pakkerasie

Merwe meisiekind gaan in Maja bly in Istanbul

Maja se Merwe meisiekind

Maja se meisies



Enes in groen

Ou kaptein en nuwe kaptein en meisies

Archie en Metin stoei met autopilot

Yavus en Archie oppad na Cesme

Archie en ek

Enes

Cesme

Cesme





Tuesday, August 23, 2022

Göreme. Kiliçlar- en Roos Valleie

 22 Augustus 2022. Maandag.

Hier in Göreme staan ons elke dag vreeslik vroeg op. Dis nou om na die ballonne te kyk en dan vroeg te begin stap voordat dit te warm is. Ons wil vandag die Kiliçlar Vallei stap. Ek wil nie vandag te vêr stap nie, want ons het die vorige twee dae 10 km per dag gestap.

Die ballonne stel nie teleur nie. Dis so mooi om hulle so luilekker te sien sweef, tussen al die mooi rotsformasies deur. 

Toe begin ons te stap, natuurlik saam met 'n hond. Archie stel so nou en dan ondersoek in. Hy is vreeslik nuuskierig oor wat binne-in aangaan. Later moet ons met 'n leer opklim en die hond is toe vreeslik terleurgesteld dat hy moet agterbly. Hy blaf-huil toe ons allees verder stap. Honde kan nie lere uitklim nie. Hier is 'n fotobeeld van ons staptog.











Archie en Hond



Ons kom bo uit en die Rooi-en Roos Vallei lyk so mooi, dat ons besluit om dit ook te stap. Dit word 'n baie lang stap vir die dag, 14 km. Na 'n lang pad om by die valleie uit te kom, besluit ons om die Roos Vallei te stap. Ons het die Rooi Vallei vantevore gedoen, maar nog nie die Roos nie. Ons kom doodmoeg en warm terug in die dorp. 

Vannand 20:30 klim ons die bus terug na Maja toe.












Pragtige Rooi- en Roos valleie

Woensdagaand sal Ennes hier wees dat die papierwerk van die verkoop van Maja gedoen kan word. Dan sal ons ook hoor wanneer beplan hy om ons Skopelos toe te vat met die groter en vinniger seiljag. Intussen bly ons vir oulaas op Maja. En pak natuurlik.


Sunday, August 21, 2022

Göreme, Cappadocia. Zemi Vallei.

 21 Augustus 2022. Sondag.

Ons staan weer douvoordag op, drink koffie en stap op na die sonsopkoms uitsigpunt. Minstens 102 balonne vul die lugruim bokant Göreme. Archie het getel. Daar is waarskynlik meer. Dis prentjiemooi. 

Ons stap verder na die beginpunt van ons stap, Zemi Vallei. Die groot kasteel van Uçhisar, pryk aan ons regterkant. Balonne sweef droomverlore oor die landskap. Die son gee betekenis aan die spreekwoord "Die oggendstond het goud in die mond".

Die Zemi Vallei is 'n waterryke groen vallei, anders as die ander valleie wat baie warm en droog is. Vrugte is vollop in die geweste. Ons eet geurige appeltjies en smaaklike pruimpies. Die druiwe en kwepers in ongelukkig nog groen.

Daar is ook mooi rotsvorms, maar nie so vollop soos in die ander valleie nie. Aan die einde van ons stap, kom ons op die mooi feetjie skoorstene af. Ptagtig. Ons stap 10.4 km vir die dag. Dit was 'n doodgewone heerlike stap.












Sarniç Kerk (11de eeu), grotkerk

Sarniç Kerk

Pluk appels




Pluk pruime




Brood en kaas

Feetjie skoorstene

Feetjie skoorstene