16 Augustus 2022. Dınsdag.
 |
2022 Roete |
Die oggend trek buurman sommer al 5:45 anker op. Dis nog donker toe hy vertrek. Seker moeg van bekommernis. Ons vertrek ook 6:00, soos gewoonlik.
So verlaat ons ons laaste laaste ankerplek voordat ons vir Maja Kuşadası Marina toe vat waar haar nuwe eienaar haar gaan kry. Die laaste vaart breek aan. Dis nog skemerdonker en ons vaar met ons ligte aan. Verlaat Paulus se baai met Gus wat sterkerig uit hoofland se rigting in ons nekke blaas. Ons los hom in die baai agter, want op die see is dit as't ware windstil.
 |
Sonsopkoms |
 |
Ons buurman |
 |
Sonstraalpad |
Ons vaar in die Samos Strait, die plek waar Turkye en Griekeland die naaste aan mekaar is. Vorentoe, altyd vorentoe. Die Turkse kus is pragtig. Daar is 'n mistigheid oor Turkye, in 'n amper reguit lyn. Gus waai saggies. Maja prrr rustig voort. Ons vaar verby 'n ankerplek waar 'n klomp jagte op anker staan. Met hartseer besef ek dat dit nooit weer ons sal wees nie. Daai deel is nou verby.
 |
Samos ankerplek |
 |
Mistige Turkse kus |
Later draai Gus effens en Archie span die genoa. Ons motorseil en dit vermeerder ons spoed darem met 'n halwe knoop in hiedie ligte wind. Ons kry soos gewoonlik ons 30 minute beurte om die helm te beman. En ons vaar vorentoe, altyd vorentoe (behalwe daai een keer in 2019 saam met Elize en Martie) saam met ons kleine Maja (soos my ma altyd gesê het).
 |
Kaptein |
 |
First Mate |
 |
Laaste seil |
Toe lê Kuşadasi voor ons. Dis 'n gawe dorp, nie mooi nie. Dis soos mens altyd van 'n vet meisie sê: "Sy is baie gaaf".
In die baai staan "Elegant 007", 'n groot superjag met 'n grys agterstewe, asof daar 'n brand was. Ek roep die Marina op Kanaal 73, en hulle sê ons moet buite wag. Archie wag in die marina se ingang en die marinamanne kom daar aangejaag en sê ons moet by die petrolstasie alongside. Ek stry soos gewoonlik en beduie ons wil nie diesel ingooi nie. Hulle beduie ons moet kom. Intussen wil hulle ons net uit die pad kry, want die ou grote moet in die marina vaskry. Sy is 72 m lank. Dis moergroot. Ons wag toe geduldig dat hulle haar vaskry, wat meer as 'n halfuur neem. "Never a dull moment", tot aan die einde.
 |
Marina ingang |
 |
Elegant 007 |
Hy vat ons toe na ons staanplek vir 14 dae en dis net langsaan die plek waar ons die vorige keer was. Archie tru, en ons maak Maja vir oulaas veilig vas. Sela.
Ons drink ons laaste laaste koue drankies en 'n amper leë gevoel kom oor ons.
Hier is ons nou in Kuşadasi waar Ennes Maja gaan oorvat. Ons gaan eers vir 'n paar dae Goreme, in Capadocia toe. (Ons sal foto's plaas) Dan kom Ennes en hulle gaan die papierwerk doen om Maja op Ennes se naam te kry. Ons bootvrag word dan op sy boot gelaai en hy vat ons Skopelos toe, vir die begin van ons nuwe hoofstuk. Wat dit is, weet ons nog nie.
En om nie vir Archie teleur te tel nie, besluit Maja gou die koppeling aan die geyser moet lek. Mr Fixit moet vir oulaas iets regmaak. Met baie sweet kry hy die fout en herstel dit meesterlik. Wel gedaan, Kaptein!
 |
Laaste koue drankies na vasmeer |
 |
Maak waterlek reg |
 |
Ekke en my Maja |
Ons is nog steeds sigeuners, maar net nie seilende nie.