Wednesday, August 10, 2022

Palamut

6 en 7 Augustus 2022. Saterdag en Sondag.

Ons gaan vir die volgende twee dae na 'n klein hawe, Palamut, 13.3 myl.

Gus waai nie, maar daar is groot deinings. Dit waai mos op 'n permanente basis in die Cyclades. En ons kry hulle deinings hier. Hou nooit op nie.  Al vir twee maande waai Gus daar.  Dis miskien 'n genade dat ons nou so lank in Turkye vaar. Ek sou waarskynlik van my kop afgeraak het in Griekeland se waters.

Ons kom by die klein hawe  en daar is sowaar vir ons 'n plek. Die haweman help ons met die agtertoue en gee die snoettou aan en vas is ons. Dis warm. Dis baie warm.

Maja

Hierdie is 'n tipiese landelike Turkse dorpie. Oral is kleinhoewes en almal het op die soustrein geklim en blyplek vir vakansiegangers op hul kleinhoewes ingerig. Dit wemel van vakansiegangers. Sonsambrele vul al die strande. Met 'n lyf in elke stoel. Dan gaan maak hulle lyf nat en lê daai lywe weer en bak. Mense eet oral in die talle restaurante. En net om die prentjie te voltooi, is daar 'n klomp van Maja se vriendinne geanker in die baai. Somer son en saffier.

Palamut Baai

Sambrele en seiljagte

Strand restaurant

Rol pannekoek uit

Dis so warm dat ek en Archie op 'n gereelde basis die strand besoek.  Dan koel ons in die louwarm see af.

Ons gaan stap ook dieper in die dorp in. Daar waar die regte egte mense bly en hul brood en botter verdien. Hierdie is amandelwêreld en dié bome groei die wêreld vol. Archie tel amandels op en breek dit vir ons oop met 'n klip. Ai, dis lekker om hier te stap. Dis doodgewoon, sonder pretensie. Sonder dat iets vreeslik mooi moet wees vir toeriste om te geniet. Dit is sommer maar net eenvoudige lewe. Die land van oorvloed. Verskillende soorte vrugte groei hier. Bome is oortrek met die belofte van stroopsoet vrugte wat wag op die regte tyd om ryp te word vir mensekinders om te geniet.

Dis baie warm. Sonbesies skril-skree dat jou ore suis. 

Bougainvillea

Amandelbome

Turksvye

Granate

Vye

Druiwe

Grenadella blom

Grenadella vrugte

Soek die sonbesie

In die aand maak die stalletjies oop. Dan verkoop die mense onnodige snuisterye. Mense koop en die uitstallers glimlag breed.

Musiek is oral. Mense sing saam. Meestal Turke. Hier is nie eintlik buitelandse toeriste nie. Ek geniet die twee dae wat ons hier vertief.


Sunday, August 7, 2022

Datça. Noord Baai.

5 August 2022. Vrydag.

Ons het besluit om in die Noord Baai te gaan anker. Ons verlaat Datça se kaai sonder enige gekruisde anker en vaar om na die Noord Baai.

Ons kyk wes

Kampeerterrein

Ons kry 'n geskikte ankerplek en gooi en hy byt. Hier waai Gus liggies.  Dan van die suide, dan van die noorde en ook van die weste. Die jagte kyk oral rond, soos die wind van rigting verander.

Toe gebeur 'n interessante ding met ons anker. Met die draai van die wind,  het die ankerketting om die anker gedraai en Archie was bang hy gaan homself losmaak.  Archie het tekens na die anker gaan kyk en daar was geen manier wat die ketting kon vry kom van sy eie anker nie.

Toe trek ons anker op en gooi weer. Liewers nou oorgooi as wat dit homself in die nag loswoel. Om in die donker anker te gooi, is niks lekker nie.

Ons geniet die Noord Baai. Swem gedurig. Dis wat so lekker van anker is. Salig, veral as Gus net lig genoeg waai om jou af te koel.

Ek verkyk my aan 'n groepie mans (onder die invloed) wat onder die bome langs die see sit en kuier. Hulle dans en gesels 'n hond uit 'n bos.

Wyse manne

Hier is nog steeds baie jagte in die baai en dis ook die ankerplek vir baie groot jagte wat ewe brêggat hier kom anker en weet almal bewonder hulle prag en praal.

Groot jag in aantog

Bemanning van luukse seiljag

Tot die perdebye is groter

Ons kyk suid, Symi in agtergrond

Die aand is die liggies by die restaurante sprokiesmooi. En ons word verras deur 'n musiekkonsert wat in amfiteater gehou word. Ons kan niks sien nie, maar hoor goed genoeg.

Liggies

Dis heerlik hier in Datça se Noord Baai.

Saturday, August 6, 2022

Datça Dorpskaai

 3 en 4 Augustus 2022. Woensdag en Donderdag.

Van Çiftlik is dit 'n reguit pad na Datça, 10.3 myl. Ons hoop ons kry vandag plek op die kaai. Ons het dringend water nodig.

Ons vaar maar net vorentoe, altyd vorentoe. Ons kom angstig by die hawe aan. Uit ondervinding weet ons dat jy nie sommer invaar as jy 'n oop plek plek sien nie. Daar is twee oop plekke. 

Archie vaar in sirkels in hawe rond, maar van daai hawemeester is daar geen spoor nie. Uiteindelik kom hy en wys na 'n oop plek. Ek staan by anker en Archie tru. Die man wys ons moet die anker gooi. Hy weet presies waar die anker moet val om nie ander ankers te kruis nie. 

Moeiteloos is ons vas en veilig op die kaai. Datça is omtrent die naaste wat jy aan 'n amperse Griekse dorpskaai kan kom.

Maja by die kaai

Ons was al baie in Datça. Hier het ons vir Paddy en Mary-Jane, Dirk en Ina, Francois en Roelien al opgelaai. Hier het ons Chrismarie, Elize en Fanie afgelaai. Dis voorwaar vir ons 'n bekende tuiste.

Dis warm hier. My suster Elize, van Potchefstroom se wêreld, het gesê hier het sy die warmste ooit gekry. 

Ons stap in die dorp rond en kyk na die Noord Baai. Jy kan net hier anker as die wind nie sterk waai nie. Die baai is vol jagte wat rustig op anker draai. Gus is elders.

Die restaurante hier is kleurvol versier en dis 'n lus vir die oog om hier te stap. Die strate is 'n lushof van blomme en kleur. 

Noord Baai

Strand restaurant

Strand restaurant

Strand restaurant

Strand restaurant


Dekorasie

Op die spyskaart

Restaurant straat

Ons kyk ook na die Suid Baai (waar ons is) se swemstrand. Jagte draai daar ook rustig op hul ankers. Hier het ons ook al baie saam met Maja op anker gedraai. Soms net vinniger as ander kere.

Suid Baai

Kaai en Suid Baai

Blomme vir my Ma

Ons bly twee aande by Datça. Heerlike atmosfeer. Baie mense loop rond. Eet en drink in die restaurante. Lag en gesels en geniet die lewe. Meestal Turkse vakansiegangers. In die aand weerklink die musiek in die baai. Hard en duidelik. Maar dit pla nie, ons geniet dit.

Friday, August 5, 2022

Çiftlik Limanı

2 Augustus 2022. Dinsdag.

Tot siens Keçi Bükü. Die geelbaadjies knaag gou vir oulaas senings en been af en toe gooi ons die hoenderbene seremonieel in die see. Never say never, maar ons sal vir Keçi Bükü seker nooit weer sien nie.

Die pad na Çiftlik Limanı, 16.8 myl, is pragtig. Die superjagte dink ook so. Hulle anker hier by die dosyne. Ons gaan loer gou hoe lyk Bençik. Ons het nog nooit hier geanker nie. Dis 'n mooi baai met baie mooi uitsigte op die Griekse eiland, Symi. 

Superjagte naby Bençik

Eilandjie by Bençik se ingang

Bençik

Ons vaar verder en kom by Çiftlik Limanı. Dis 'n mooi groot baai vol vakansiehuise. Dit wemel van fietsryers wat die wêreld vol ry. Daar is geen motors wat daar rondry nie. Motors stop by 'n parkeerplek en verder is dit jou voete of fietse om êrens te kom.

Ons gooi anker en hy byt te lekker. Ons geniet ons verblyf hier en koel telkens in die see af as dit te warm word. 

Nog 'n salige anker soos in die ou dae.

Çiftlik Limanı

Fietsryer

Vakansiepret

Skemeraand



Wednesday, August 3, 2022

Keçi Bükü

30 Julie tot 1 Augustus 2022. Saterdag tot Maandag.

Ons groet vir Bozburun. Die baai lê vreedsaam en amper rimpelloos in die oggendstond, sonder die goud in die mond. Alles voel soos die laaste keer. Waarskynlik die laaste keer dat ons hierheen kom met ons kleine Maja.

Bozburun Baai

Tot siens Bozburun

Ons gaan vandag weer na Keçi Bükü, sommer vir drie dae. Gus is elders en ons prrr rustig vorentoe, altyd vorentoe. Hierdie deel van Turkye is pragtig. Lagie op lagie deinserige grys berge wat die glimmende silwer see omring. Ons vaar verby 'n ou Griekse klooster uit vervloë se dae. Nou is dit net die bokke wat hier woon. 

Ou Griekse klooster
 
Oggendskoot

Ons vaar by my gunsteling baai in en dis nog net so pragtig soos altyd. Ons kry 'n lekker ankerplek en soos gewoonlik, byt hy te lekker. En hier is ons nuwe tuiste. 

Dis warm hier by Keçi. Die seetemperatuur is 27°. Dit koel jou nou nie eintlik af nie. Ons is gedurig in die see. Dis darem beter as die 35° in Maja.

Dinkie se enjin is mos stukkend, so ons roei na die sandbank en trek vir Dinkie al op die sand land toe. Dis vroeg en daar is nog nie baie mense wat op die sandbank loop nie. Hierdie sandbank is 'n groot toeriste-aantreklikheid. Vanaf Marmaris is daar jeepritte wat verby Keci kom. Ek het een dag tot 62 jeeps getel. Hulle stop dan hier dan gaan loop die insittendes op die sandbank. Na 'n uur is hulle weer in die jeep en daar trek hulle weer. Toeriste op 'n "high" oppad na die volgende aantreklikheid. Ervaringsvrate (soos ek ook maar is).

Ons stap rond en koop toe ook vir ons börek wat ons op 'n bankie eet. Maja is doer in die vêrte rustig in die baai, saam met haar vriendinne. Archie roei terug terwyl ek op die sandbank loop. 

Keçi Bükü

Op die sandbank

Sandbank

Archie in sy Gucci

Sandlopers

Sandlopers

Eet börek

Roei terug na Maja

Ons geniet ons tyd werklik baie hier by Keçi Bükü. Daar steek net 'n nare ding sy kop uit. Die huisbatterye begin nou hulle covid-skade wys. Dis mos baie sleg as batterye nie werk nie en hulle het in die twee jaar covid tyd, niks gewerk nie. Nou moet ons elke paar uur die enjin laat loop dat huisbatterye kan laai. Ons wil glad nie  nou R7 000 tot R9 000 uithaal vir twee nuwe batterye nie. Die nuwe eienaar sal maar moet koop. Gelukkig het Archie van die begin af gesê dat die batterye sal op 'n stadium vervang moet word.

Hier in die baai is baie restaurante. Waarvoor ek baie waardering het, is dat die restaurante as't ware saamsmelt met die omwewing. Dit word omring met bome en baie hout is gebruik met die oprig daarvan. Dis in harmonie met die omgewing.

Ons deel die baai ook met Skillie Skaam en sy familie. Hy loer net een keer uit die water dan is hy lank onder water. Moenie dink jy kan hom behoorlik gekiek kry nie. Nee, te skaam vir die lens.

Dan kom die dag tot 'n einde en die baai verkleur eers pienk-bruin voordat die nag oorneem en die baai dan in donker hul.

Restaurant

Restaurant

Skillie

Laatmiddag

Geelbaadjies (yellow jackets) is baie lief vir hoender. Sodra jy daai hoender opdien en op die tafel neersit, is hulle daar. Hulle verstaan verkeerd. Dis eintlik nie hulle aanete nie, dis ons s'n. Ons het nou geleer. Ek sit dadelik vir hulle 'n kaalgesnyde hoenderbeen op die dek en dan begin hulle wegval. Stukkie vir stukkie vleis, sening en been word dan afgeknaag en nes toe gedra. Hoe later, hoe meer van hulle is daar. Hulle werk tot die son sak en môreoggend douvoordag is hulle terug om die bene nog kaler te eet. Hulle pla ons dan gladnie. Hulle het werk om te doen.

"Yellow jackets" se voerplek


Ai, maar dis lekker hier by Keçi Bükü.