Friday, August 5, 2022

Çiftlik Limanı

2 Augustus 2022. Dinsdag.

Tot siens Keçi Bükü. Die geelbaadjies knaag gou vir oulaas senings en been af en toe gooi ons die hoenderbene seremonieel in die see. Never say never, maar ons sal vir Keçi Bükü seker nooit weer sien nie.

Die pad na Çiftlik Limanı, 16.8 myl, is pragtig. Die superjagte dink ook so. Hulle anker hier by die dosyne. Ons gaan loer gou hoe lyk Bençik. Ons het nog nooit hier geanker nie. Dis 'n mooi baai met baie mooi uitsigte op die Griekse eiland, Symi. 

Superjagte naby Bençik

Eilandjie by Bençik se ingang

Bençik

Ons vaar verder en kom by Çiftlik Limanı. Dis 'n mooi groot baai vol vakansiehuise. Dit wemel van fietsryers wat die wêreld vol ry. Daar is geen motors wat daar rondry nie. Motors stop by 'n parkeerplek en verder is dit jou voete of fietse om êrens te kom.

Ons gooi anker en hy byt te lekker. Ons geniet ons verblyf hier en koel telkens in die see af as dit te warm word. 

Nog 'n salige anker soos in die ou dae.

Çiftlik Limanı

Fietsryer

Vakansiepret

Skemeraand



Wednesday, August 3, 2022

Keçi Bükü

30 Julie tot 1 Augustus 2022. Saterdag tot Maandag.

Ons groet vir Bozburun. Die baai lê vreedsaam en amper rimpelloos in die oggendstond, sonder die goud in die mond. Alles voel soos die laaste keer. Waarskynlik die laaste keer dat ons hierheen kom met ons kleine Maja.

Bozburun Baai

Tot siens Bozburun

Ons gaan vandag weer na Keçi Bükü, sommer vir drie dae. Gus is elders en ons prrr rustig vorentoe, altyd vorentoe. Hierdie deel van Turkye is pragtig. Lagie op lagie deinserige grys berge wat die glimmende silwer see omring. Ons vaar verby 'n ou Griekse klooster uit vervloë se dae. Nou is dit net die bokke wat hier woon. 

Ou Griekse klooster
 
Oggendskoot

Ons vaar by my gunsteling baai in en dis nog net so pragtig soos altyd. Ons kry 'n lekker ankerplek en soos gewoonlik, byt hy te lekker. En hier is ons nuwe tuiste. 

Dis warm hier by Keçi. Die seetemperatuur is 27°. Dit koel jou nou nie eintlik af nie. Ons is gedurig in die see. Dis darem beter as die 35° in Maja.

Dinkie se enjin is mos stukkend, so ons roei na die sandbank en trek vir Dinkie al op die sand land toe. Dis vroeg en daar is nog nie baie mense wat op die sandbank loop nie. Hierdie sandbank is 'n groot toeriste-aantreklikheid. Vanaf Marmaris is daar jeepritte wat verby Keci kom. Ek het een dag tot 62 jeeps getel. Hulle stop dan hier dan gaan loop die insittendes op die sandbank. Na 'n uur is hulle weer in die jeep en daar trek hulle weer. Toeriste op 'n "high" oppad na die volgende aantreklikheid. Ervaringsvrate (soos ek ook maar is).

Ons stap rond en koop toe ook vir ons börek wat ons op 'n bankie eet. Maja is doer in die vêrte rustig in die baai, saam met haar vriendinne. Archie roei terug terwyl ek op die sandbank loop. 

Keçi Bükü

Op die sandbank

Sandbank

Archie in sy Gucci

Sandlopers

Sandlopers

Eet börek

Roei terug na Maja

Ons geniet ons tyd werklik baie hier by Keçi Bükü. Daar steek net 'n nare ding sy kop uit. Die huisbatterye begin nou hulle covid-skade wys. Dis mos baie sleg as batterye nie werk nie en hulle het in die twee jaar covid tyd, niks gewerk nie. Nou moet ons elke paar uur die enjin laat loop dat huisbatterye kan laai. Ons wil glad nie  nou R7 000 tot R9 000 uithaal vir twee nuwe batterye nie. Die nuwe eienaar sal maar moet koop. Gelukkig het Archie van die begin af gesê dat die batterye sal op 'n stadium vervang moet word.

Hier in die baai is baie restaurante. Waarvoor ek baie waardering het, is dat die restaurante as't ware saamsmelt met die omwewing. Dit word omring met bome en baie hout is gebruik met die oprig daarvan. Dis in harmonie met die omgewing.

Ons deel die baai ook met Skillie Skaam en sy familie. Hy loer net een keer uit die water dan is hy lank onder water. Moenie dink jy kan hom behoorlik gekiek kry nie. Nee, te skaam vir die lens.

Dan kom die dag tot 'n einde en die baai verkleur eers pienk-bruin voordat die nag oorneem en die baai dan in donker hul.

Restaurant

Restaurant

Skillie

Laatmiddag

Geelbaadjies (yellow jackets) is baie lief vir hoender. Sodra jy daai hoender opdien en op die tafel neersit, is hulle daar. Hulle verstaan verkeerd. Dis eintlik nie hulle aanete nie, dis ons s'n. Ons het nou geleer. Ek sit dadelik vir hulle 'n kaalgesnyde hoenderbeen op die dek en dan begin hulle wegval. Stukkie vir stukkie vleis, sening en been word dan afgeknaag en nes toe gedra. Hoe later, hoe meer van hulle is daar. Hulle werk tot die son sak en môreoggend douvoordag is hulle terug om die bene nog kaler te eet. Hulle pla ons dan gladnie. Hulle het werk om te doen.

"Yellow jackets" se voerplek


Ai, maar dis lekker hier by Keçi Bükü. 

Friday, July 29, 2022

Bozburun

27 tot 29 Julie 2002. Woensdag tot Vrydag.

Vandag is dit net 'n hanetree na Bozburun, 6.6 myl. Ons wil sommer twee dae daar bly. (Ons bly toe drie dae)

Die baai is groot en baie diep op plekke. Ons kry plek in die baai wat baie vêr van die dorpie af is. Ons gooi in 13m anker en vas is ons op 'n modderbodem. Gus waai baie liggies tot gladnie. Dis warm. Maar dis die lekker van anker. Swem. Die seetemperatuur is 27°C. Heerlik, amper te warm. Jy laat jou bene dieper afhang in die see om die koeler water te kry.

Die tweede dag wag ons vir jagte wat nader aan die dorp geanker is om te vertrek. Nie lank nie en twee jagte vertrek. Ons trek anker op en gaan gooi in die baai naby die dorp anker.

Ons roei land toe. Bozburun is 'n mooi Turkse dorpie. Baie restaurante en ook toeriste winkeltjies. Dan is daar ook darem supermark en paar ander nuttige winkels. Ons koop voorrade en stap rustig rond. Dis lekker om vaste grond onder my voete hê. Ons roei terug in Dinkie en dis so warm, dat ons dadelik swem. 

Hierdie is soos die goeie ou dae toe Gus nie alewig gewaai het nie. Heerlik. Bozburun is bobaas.

Bozburun se ingang

Bozburun ankerplek

Moskee

Bozburun

Op die kaai met Maja in agtergrond

Hawe

Roei land toe

"Bozburun by night"





Söğüt Limanı

26 Julie 2002.  Dinsdag.

Nou moet ons hier uitkom. Die gulet het ons vas parkeer. Ons en Sugar Baby besluit ons gaan dieselfde tyd ry. Ly nou nog aan skok dat die varknek ons anker losgemaak het. Ek het nie eers genoem dat ons toe ons gister het van die land af teruggekom het, gesien dat Maja se snoet meer as gewoonlik heen en weer geswaai het nie. Dis omdat sy nie geanker was nie!

Ons laat weet die kaptein ons wil oor 15 minute vertrek. Natuurlik wag hy langer as 15 minute en sluit toe sy enjin aan. Hy maak die lang landtou aan ons kant los dat die gulet effens na die ander kant toe dryf. Archie dink hy het ons anker losgemaak omdat dit onder sy boot was en hy was nie lus om uit die baai te vaar dat ons kan uitkom nie. Toe moer hy dit langs die gulet neer dat ons kan uitkom sonder dat hy gepla word. Sugar Baby se kaptein is op sy dinghie om ons landtoue los te maak en toe is hy gereed om vir Maja af te stoot as ons te na aan die gulet kom. Ek trek anker op en ons is veilig. Ons waai vir Sugar Baby se mense. Toe maak die gulet se kaptein die ander tou los dat Sugar Baby kan uitkom.

Alles het goed afgeloop, maar as Archie nie die ankers gaan kyk het nie, kon ons baie skade gekry het.  Ek bedoel aan ons stuurboord kant, is ons naby die rotse en aan ons bakboord kant is Sugar Baby. Aan Maja se agterkant is ook rotse. Ek sê weer, daai kaptein is 'n gemene vark. Archie het ook 'n email vir die charter maatskappy gestuur en gesê hoe gemeen en arrogant die kaptein was en hy moet afgedank word. (Vir wat dit werd is).

Toe vat ons die pad na Söğüt Limanı, 14.9 myl. Ons kry 'n ankerplek en ons ervaar nog 'n salige anker sonder wind. As dit warm is, koel ons in die see af.

Tot siens Sugar Baby

Söğüt Limanı

Söğüt Limanı

'n Charter boot kom gooi te naby ons anker. Dit gaan alles goed totdat die wind draai. Toe kom ons te naby aan hom. (Sy fout. Ons was eerste daar) Hy kan nie nog ankerketting uitlaat nie, want hy is te na aan die rotse. Ons het meer ankerketting uitgelaat as hy, want ons het in dieper water as hy  anker gegooi. Archie ry toe weg van hom. Vir lank gaan dit goed. Maar onthou Gus waai jou maar altyd stadig maar seker wind-af.

Charter boot

In die nag so 3:00 sien ek weer ons is baie naby hom. Ek het op die dek geslaap om wag te hou. Ek maak vir Archie wakker en hy ry weer vorentoe. Ek gaan slaap, want toe is dit Archie se beurt om wag te hou. Ons kan bly wees Gus het baie lig gewaai. As hy sterk gewaai het, sou hulle moes skuif.

Maar Sögüt was 'n mooi en lekker plek om te anker. Ons het dit baie geniet.

Wednesday, July 27, 2022

Çatal Bükü

25 Julie 2022. Maandag.

Na 'n heerlike nagrus, kies ons weer die hasepad en vandag hoop ons om plek te kry by Catal Bükü. Daar is net plek vir een boot. Jy is gelukkig as jy daar plek kry. Die gulets is ook lief om daar te stop. Ons nader die baai en ons sien die twee hoë maste wat aan 'n gulet behoort. Agge nee! Maar wonder bo wonder is hulle besig om hulle lang landtoue los te maak. Hulle gaan ry! Hoera!

Ons wag dat hulle klaar maak en uitvaar, toe vaar ons in. Ook net betyds, want nog 'n seiljag is besig om nader te vaar.

Ons kry ons plek en ek gooi anker in die sand. Archie maak gereed om die tou land toe te swem. Met sy gewone sierlike boog duik hy in en maak Maja se een kant vas. Toe swem hy met die ander tou land toe en toe is ons vas.

Landlyn

Die ander seiljag wag dat ons klaar is, en gooi toe baie versigtig langs ons anker en maak sy jag vas. Maja en haar vriendin, Sugar Baby, staan toe netjies, in harmonie langs mekaar in Catal Bükü. Ons groet mekaar vriendelik. Archie swem en gaan kyk na die ankers. Ons ankers lê so 10m van mekaar af, altwee in die sand.

Nie lank daarna nie, kom 'n klein gulet daar aan en gooi toe vêr voor ons anker en maak aan die land vas. Hulle pla ons nie, want ons weet hulle gaan binnekort weer ry.

Intussen neem die vlieë vir Maja oor. Honderde vlieë vlieg rond, sit rond. Ons slaan dood, jy moet elke vlieg twee keer slaan voor hy dood is. Dan lyk dit of die lewendes die dooies mond-tot-mond-asemhaling gee. Die dooie loop dan weer rond met afvlerk of sleep-agterlyf. Dit het eintlik 'n ouderdomsbeperking nodig om daarna te kyk. Grusaam. Dan slaan jy maar weer. Hulle is op die stoof, sit op die vadoeke, broodplank. Oral. Ek gril.

Vliegfabriek

Toe kom daar 'n groot gulet in. 47m lank. Groot. En hy gooi anker en tru tot by ons twee jagte. Ons beduie vir hom hy kan nie so naby ons stop nie, maar hy vee sy gat aan ons af. Inteendeel, kom nog so bietjie nader. Die kaptein van die ander jag, bel die kuswagpolisie en die vrou bel die eienaar van die charter maatskappy. Ons weet sommer almal gaan maar net hul skouers optrek en niks doen nie. Sy toue blokkeer ons totaal. Ons kan nou nêrens heen gaan nie. Ons is vas.

Groot bure

Ek en Archie swem land toe. Die baai lyk mooi van bo af, hoewel bietjie oorvol. Toe ons terugkom, is ons een toue baie losser. Ons wonder wat gaan aan.  Archie besluit om weer na die ankers te gaan kyk. Ons anker lê seker onder die gulet.

Helderste water

Vol baai

Maja en Sugar Baby

Hy kyk eers na die bure se anker.  En wat hy daar sien, skok hom. Daar is 'n tou van die gulet se snoet wat onder sy anker is en weer opgaan na die gulet se snoet. Iemand moes dit opsetlik gedoen het. Hulle kan enige oomblik die anker lostrek.

Archie soek ons anker, maar ons anker is nie meer in die sand nie. Hy kyk met sy snoekelbril op bodem rond en sien toe ons anker lê los op die seegras, omtrent 15m van die plek waar ons anker gebyt het.  Net los. Iemand moes ons anker opgelig het en daar gaan smyt het. Hulle het die anker omtrent 15 m sywaarts geskuif. Daar is geen twyfel dat iemand dit opsetlik gedoen het nie nie. 'n Anker kan nie self sywaarts skuif nie. 

Archie swem na ons buurboot toe en vertel wat hy gesien het. Die buurboot het 'n ervare Turkse kaptein wat 4 Amerikaanse Turke op privaat charter neem. Archie en die Turke gaan kyk en die Turkse kaptein vra toe vir die kaptein van die gulet wat aangaan. Natuurlik ontken hulle dat hulle met die ankers gepeuter het.

Goed, nou is Maja aan die land vas, die gulet blok ons in en ons het geen anker nie. Krises. Nou sluit Archie Maja se enjin aan, hy swem anker toe en ek moet anker intrek en hoop hy byt weer. As die anker nie byt nie, is ons behoorlik in ons moer. 

Ek begin intrek. Die anker trek net seegras saam. Ons weet 'n anker wat vol seegras is, byt nie. Nou skree ek en Archie bevele vir mekaar, want die anker raas. Een van die Amerikaanse gaste op die gulet vra vir Archie wat aangaan en hy sê toe hy kan vryduik (9m) en anker skoonmaak. Hy doen dit toe en ek trek weer in. Ons het gelukkig aanvanklik 45m ketting uitgegooi.

Ek trek anker in, Archie kyk op die bodem wat die anker doen en op 30m byt die anker wonderbaarlik. Ons is weer vas.

Die buurboot bel weer en die kaptein van die gulet kom skree op die Turke. Hy skel ons nou behoorlik. 'n Ruk later kom die kuswagpolisie daar aan en gaan saam met die kaptein na die gulet se kaptein. Ons kry toe so lekker dat die kaptein se naam gat gemaak word voor sy Amerikaanse gaste. Die polisie kom neem verklarings af by Sugar Baby se mense. Wel, al wat ek kan sê, is drie hoera's vir die polisie. Die kaptein van gulet het 'n waarskuwing of boete gekry omdat hy met ons ankers gepeuter het. Hy is 'n opperse vark.

Vermy hierdie maatskappy ...

... en hierdie kaptein

Ons het nog nooit so iets in Turkye beleef dat iemand ons opsetlik leed wou aandoen nie. Wat jou anker losmaak en op seegras gooi en nie omgee dat Maja op die rotse kan loop nie. Ons vermoed hulle wou Sugar Baby se anker ook losgemaak het, maar gelukkig het Archie weer na die ankers gaan kyk. As hy dit nie gedoen het nie, ys ek as ek dink wat kon gebeur het.

Ek plaas die kaptein van die gulet in dieselfde katagorie as Sue. En laer as dit, kan mens nie daal nie.

Çiftlik


24 Julie 2022. Sondag.

Ons groet Marmaris Netsel Marina, wat vir ons soos 'n tuiste voel. Baie warm tuiste, maar tuiste. 

Groet Marmaris

Kasteel

Ons is oppad na Çiftlik, net 12.0 myl. Ons gooi diesel in en pomp swartwater uit en toe is ons gereed. Vandag gaan ons nie na 'n restaurantkaai toe nie, ons wil anker. Ek sien so uit om op anker te swem. Dis een van die dinge wat ek die meeste gaan mis van Maja. Daar is darem niks wat kan kersvashou by 'n salige anker sonder sterk wind waar mens enige tyd as die hitte jou vang, in die see kan klim nie.

Ons kry ankerplek en die anker byt verskriklik goed. Sommer heeltemal onder die sand. Dis 'n heerlike gevoel om so veilig te voel. Sommer gou is ek ook in die water.  Archie gaan kyk mos altyd of die anker goed gebyt het, dan kry hy sommer sy eerste swem. 

Ons geniet dit hier by die pragtige Çiftlik. Ons swem en lê op die dek en kyk hoe kom die jagte in na die kaai. Dis verseker nie so besig soos die ander dag nie, maar nogtans heerlike kykgenot.

Ons hou van Çiftlik. 

Çiftlik se berge

Kaptein

Çiftlik

Sambreelstrand