Monday, June 27, 2022

Pamukkale Travertines

 22 en 23 Junie 2022. Donderdag en Vrydag.

Vandag klim ons die dolmus en dan die bus na Pamukkale. Ons was in 2014 daar en het dit baie geniet. Dis tyd om nou weer te gaan. Dan kom ons sommer bietjie van Maja af en gaan die wye wêreld in. 

Ons kry gratis roomys op die bus toe ons begin ry. Later kry ons soutbeskuitjies en Pepsi. En water. Ek onthou hoe onnosel was ek en Archie toe ons die eerste keer in Turkye met die luukse busse gery het. Ons het vir alles nee dankie gesê. Ons het gedink mens betaal daarvoor. Tot ons besef het dis gratis. 

Die bus laai ons by die terminaal in Denizli af en ons klim weer 'n dolmus na Pamukkale. 

Hierdie is Turkye se wit berg. Hy is van kalk gemaak. Warm water vol kalk kom uit die grond en die water loop oor die berg. Kalk word gedeponeer en word klipsteenhard. Die wit is skouspelagtig. Die aand loop ons langs die eende dam. Alles lyk mooi en vars. Eende swem dolgelukkig op die dam. Sommige knip 'n uiltjie, terwyl Skillie sy rondtes doen.

Dam aan't voet

Slapende skone

Skillie

Smôrens durf 'n paar lugballone die lug aan en sweef stadig rustig oor die wit landskap. Gladnie in dieselfde klas as Goreme se ballonvaart nie, maar darem. 


Lugballon

Ons besluit om vroegoggend te gaan loop, voordat die massas opdaag. Kaalvoet loop ons, skoene is verbode. Net soos die Voortrekkers kaalvoet oor die Drakensberge getrek het. Net een groot verskil, die kalk is baie sag op die voet. Dit maak (die meeste van die tyd) nie jou voete seer nie. By sommige plekke loop daar water ook en daar is poeierblou poele wat so kniediepte is. 


Dis heerlik om hier op te loop. Die wit word gebreek met die sagte blou water. Almal geniet dit om hier te loop.

Kaalvoet klonkie

Een van die talle poele

Dam

Kalkvalle

Stalagtiete

Pamukkale dorp

Toerbus massas

Travertines

Af afkoel

Amper onder

Boom-koelte

Ons bly sommer drie nagte hier. Pamukkale is eintlik 'n dorp vol hardwerkende boere. Hulle kom in die aande met hul trekkers huis toe. Heeldag op hul lande gewerk. Hier is ook die bekende Denizli hoenderhaan. Hy kan tot 50 sekondes lank kraai en is ook 'n haan onder die henne. Hy woeker so tussen die henne. Oral is beeldjies en vaddoeke met hoenderhane op te koop. Natuurlik koop ek Denizli hoenderhaan vaddoeke vir Marchie's Place.

Denizli hoenderhaan

Ons gaan eet twee aande by dieselfde eetplek, Hiera Cafe. Goedkoop met baie kos. Die kelner se grootste genot is om die mense se gesigte dop te hou as hy die klomp souse uitpak. Dit laat my aan Snotkop se liedjie, "Souserig", dink. Na ete kry jy gratis koffie of tee en deeg ding en sukke sjokolade balletjies. En 'n botteltjie water.

20 souse om van te kies

Adana Döner en tjips

In die aande is die dorpie maar leeg. Al die massas in die toerbusse gaan huis toe en die talle restaurante staan leeg. Hier en daar toeriste wat êrens eet.

Wednesday, June 22, 2022

Kuşadasi

18 tot 22 Junie 2022. Saterdag tot Woensdag.

Kuşadasi groei op mens. Dit raak nou ons dorp. Ons gaan omtrent twee weke hier bly. Vandag is my kroning. Die geleentheid word gevier met Gus wat sterk waai en met sy geloei voer hy die seiljagorkes aan. Toue tril, maste maak moles, seiljagte wieg en die hele marina raas. Die see is vol berede perdjies. Ek en Archie stap na die tandarts.

Marina

Die kroning verloop seepglad. Kap en skaaf en pas en oop-en toemaak en toe is sy tevrede met die kroon. Dit word seremonieel vasgeplak en ek is gekroon in Turkye.  Toe ek uitstap, is dit doodstil. Gus het gaan lê.

Kuşadasi se dorp is altyd vol toeriste, want hier is omtrent elke dag twee passasierskepe. Toeriste gaan na Efese. Ons stap heerlik in die dorp rond. Ek ken die dorp al goed, want ons het baie beddegoed vir Marchie's Place hier gekoop. Handdoeke, lakens en beddegoed.  Ons moet juis tot volgende Dinsdag wag vir nog bedlinne wat Yataş Bedding vir ons bestel het.

Boks vol beddegoed

Kervansaray

Kervansaray

Afrikaanse winkel

Seefront

"Ladies beach"

Selonsroos

Ons besoek die kasteel. Dit was eers op 'n eiland, maar hulle het 'n looppad soontoe gebou wat dit met hoofland verbind. Dis heerlik vreedsaam in die kasteel. 'n Seilboot aan 'n boei verfraai die baai aan die ander kant van looppad. 

Kasteel op Duifeiland

Kasteel ingang

Kasteel

Uitsig van kasteel



Şerince

Soms is ons wel egte toeriste. Soos vandag. Ons gaan na Şerince.

Drie dolmusritte en ons is daar. Şerince was oorspronklik 'n Griekse dorpie. Met die uitruiling van die Turke en Grieke, was die Griekse inwoners van Şerince verplig om terug te gaan na Griekeland. Hulle is gedeporteer na Griekeland. Hulle moes hul vrugbare plasies en vrugteboorde verlaat en 'n ander heenkome in Griekeland vind. 

Tot vandag is Şerince bekend vir sy oorvloed vrugte. Kersies, moerbeie, perskes, appelkose, bessies. Om net 'n paar te noem. En dan maak hulle vrugtewyn daarvan. Elke tweede winkeltjie verkoop wyn.

Wynwinkel

Ons besluit om wyn te koop. Hulle laat ons proe. Soos engelpiepie op die tong. Heerlik. Ons koop toe twee bottels - moerbei en appelkoos - en loop toe die res van die dag met 'n drankasem rond. Een winkeleienaar, waar ons my dogter Michelle se geskenk koop, vra of ons wyn geproe het. Hy lag en beduie dat ons asems na wyn ruik.

Dis 'n heerlike dag in Şerince. Die huise hang teen die berghang. Die son skyn loomwarm. Ons eet middagete by 'n restaurant wat oor die dorpie uitkyk.

Ons bekyk die twee kerke in die dorp en koop kersies wat uit die vrou se tuin kom. Heerlik.

Şerince

Tradisionele huis

In die strate

Restaurant

Bees- en sampioenbredie

Ou Griekse kerk (nou 'n kunsgallery)

Muurskildery

Die dorpie wemel van toeriste. Dis veral gewild onder die Turkse toeriste. En dit is duidelik waarom hulle so van die plek hou. Baie handgemaakte produkte word hier verkoop. Van poppe, breekgoed, konfyt, speelgoed tot die mooiste leerprodukte. Pierre en Annatjie sal sommer baie van al die leerprodukte hou. Die restaurante en strate word kleurvol versier. Die plek het nou behoorlik atmosfeer.

Kleurvolle dennebolle

Gesig van leer gemaak

Nog'n leer gesig

Restaurant

Winkel

Winkelstraat

Toe is ons klaar getoeristeer en klim die dolmus na Selçuk. Hier is die wonderlikste varsprodukte mark. .Die tamaties roep ons naam. Dit lyk vir my of die groente en vrugte hier meer kleur het as op ander plekke. Baie van die goed kom uit die mense se tuine en van hul plasies af. Ai, wat 'n lus vit die oog. 

Ons klim weer die dolmus en ry terug na Kusadasi. Wat 'n heerlike uitstappie.

Boontjie stalletjie

Groente

Waatlemoene

Dit is snikheet hier in Turkye.

Saturday, June 18, 2022

Kuşadasi

 14 tot 17 Junie 2022. Dinsdag tot Vrydag.

Mytilini to Kusadasi

Vandag is ons oppad na Kuşadasi, 21.7 myl. Anker op en weg is ons. Ons probeer seil, maar genoa haak vas en Archie trek dit met moeite in. Gus waai in elk geval nie reg vir seil nie.

Rimpel dimpel diamant

Setur Marina Kuşadasi is nie vie ons 'n onbekende plek nie. Maja het in 2014 hier oorwinter. Die marina manne is op hulle pos om ons in te help en vas is ons. 

Ons gaan weer tyd verwyl in die marina om ons 3 maande in Turkye om te kry. Mr. Fixit het baie om hom mee besig te hou. Hy herstel die genoa probleem (waarskynlik). Hy maak Dinkie se enjin reg (onsuksesvol tot dusver). 

Daar is bietjie water in die "bilge". Die "bilge" is plek onder die vloerbord van die saloon waar water heen loop as daar iewers 'n waterlek is. Ons gebruik dit as 'n spens vir ons voorrade. Ook vir die blikkies bier. So droog Archie elke dag die bietjie water op. Hy spekuleer vreeslik waar die water vandaan kom. Miskien is dit van die waterpomp wat gelek het. Miskien is dit kondensasie van ons uiters effektiewe yskas. Miskien is dit van 'n onbekende bron. 'n Lek waarvan ons nie weet nie. 

Archie ontdek toe dat van die biere wat onder die vloerborde gestoor word, ligter as die ander is. Daar was toe 'n klein gaatjie in die bierblikke wat geleidelik uitlek en in die "bilge" opdam. Die waterlek is toe opgelos. Dis bier! Ek moet sê, ons het gewonder waar die bierreuk vandaan kom as ons die vloerbord oplig. Archie het gedink dis van 'n blikkie wat in 2019 gebars het, se reuk. Maar nou is die "bilge"kurkdroog. 

Maak Dinkie se motor reg (onsuksesvol sover)

Ek en my twee susters, Laaina (bynaam) en Elize, dink mos ons kan bene kou soos Duitse Herdershonde (my ma was van Duitse afkoms) of soos Bouboirs (my pa is van Franse afkoms). Dit is toe nou met my beengekouery dat ek iets hard in my mond voel. Agge nee! My tand het gebreek! Vreeslike gat met 'n skerp punt daar waar 'n kiestand moet wees. Bliks€m!

Volgende dag benoud tandarts toe. Verwag dat hulle dalk die tand sal moet trek. Ek hou minder van 'n tandarts as van Gus. Ek is baie bang vir hulle.

Die tandarts bekyk die situasie en sê sy kan tand red en moet eers die ou stopsel wat oor is uithaal. Hulle sal vir my 'n kroon moet maak. Nou voel ek soos die queen. Eers is dit die 3 inspuitings. Net bietjie seer. Toe begin die geboor. Dan met die boorpunt en dan met daai boorpunt. Die ander vroutjie suig met haar gedoente vreeslik om my van verdrinking te red.

Hulle maak nuwe stopsel. Ek ruik later gebrande tand. Hulle skuur en skaaf vir die vale. Toe maak hulle speelklei aan waarin ek moet byt. Ek weet nie ek ek dalk nie goed genoeg byt nie, maar hulle bekyk die gebyt en maak dan weer speelklei aan en ek byt weer. En weer. En weer. Toe is hulle tevrede.

Ek kan Dinsdag kom om my €200 kroon laat opsit. Sjoe, ek het oorleef. En het nie eers pyn gehad nie. Net 'n vreeslike wawielbek van al die oopmond sit.

Nou kan ons in elk geval nie hier weggaan voor ek gekroon word nie.

Groot skip

Setur Marina Kuşadasi