Wednesday, June 22, 2022

Şerince

Soms is ons wel egte toeriste. Soos vandag. Ons gaan na Şerince.

Drie dolmusritte en ons is daar. Şerince was oorspronklik 'n Griekse dorpie. Met die uitruiling van die Turke en Grieke, was die Griekse inwoners van Şerince verplig om terug te gaan na Griekeland. Hulle is gedeporteer na Griekeland. Hulle moes hul vrugbare plasies en vrugteboorde verlaat en 'n ander heenkome in Griekeland vind. 

Tot vandag is Şerince bekend vir sy oorvloed vrugte. Kersies, moerbeie, perskes, appelkose, bessies. Om net 'n paar te noem. En dan maak hulle vrugtewyn daarvan. Elke tweede winkeltjie verkoop wyn.

Wynwinkel

Ons besluit om wyn te koop. Hulle laat ons proe. Soos engelpiepie op die tong. Heerlik. Ons koop toe twee bottels - moerbei en appelkoos - en loop toe die res van die dag met 'n drankasem rond. Een winkeleienaar, waar ons my dogter Michelle se geskenk koop, vra of ons wyn geproe het. Hy lag en beduie dat ons asems na wyn ruik.

Dis 'n heerlike dag in Şerince. Die huise hang teen die berghang. Die son skyn loomwarm. Ons eet middagete by 'n restaurant wat oor die dorpie uitkyk.

Ons bekyk die twee kerke in die dorp en koop kersies wat uit die vrou se tuin kom. Heerlik.

Şerince

Tradisionele huis

In die strate

Restaurant

Bees- en sampioenbredie

Ou Griekse kerk (nou 'n kunsgallery)

Muurskildery

Die dorpie wemel van toeriste. Dis veral gewild onder die Turkse toeriste. En dit is duidelik waarom hulle so van die plek hou. Baie handgemaakte produkte word hier verkoop. Van poppe, breekgoed, konfyt, speelgoed tot die mooiste leerprodukte. Pierre en Annatjie sal sommer baie van al die leerprodukte hou. Die restaurante en strate word kleurvol versier. Die plek het nou behoorlik atmosfeer.

Kleurvolle dennebolle

Gesig van leer gemaak

Nog'n leer gesig

Restaurant

Winkel

Winkelstraat

Toe is ons klaar getoeristeer en klim die dolmus na Selçuk. Hier is die wonderlikste varsprodukte mark. .Die tamaties roep ons naam. Dit lyk vir my of die groente en vrugte hier meer kleur het as op ander plekke. Baie van die goed kom uit die mense se tuine en van hul plasies af. Ai, wat 'n lus vit die oog. 

Ons klim weer die dolmus en ry terug na Kusadasi. Wat 'n heerlike uitstappie.

Boontjie stalletjie

Groente

Waatlemoene

Dit is snikheet hier in Turkye.

Saturday, June 18, 2022

Kuşadasi

 14 tot 17 Junie 2022. Dinsdag tot Vrydag.

Mytilini to Kusadasi

Vandag is ons oppad na Kuşadasi, 21.7 myl. Anker op en weg is ons. Ons probeer seil, maar genoa haak vas en Archie trek dit met moeite in. Gus waai in elk geval nie reg vir seil nie.

Rimpel dimpel diamant

Setur Marina Kuşadasi is nie vie ons 'n onbekende plek nie. Maja het in 2014 hier oorwinter. Die marina manne is op hulle pos om ons in te help en vas is ons. 

Ons gaan weer tyd verwyl in die marina om ons 3 maande in Turkye om te kry. Mr. Fixit het baie om hom mee besig te hou. Hy herstel die genoa probleem (waarskynlik). Hy maak Dinkie se enjin reg (onsuksesvol tot dusver). 

Daar is bietjie water in die "bilge". Die "bilge" is plek onder die vloerbord van die saloon waar water heen loop as daar iewers 'n waterlek is. Ons gebruik dit as 'n spens vir ons voorrade. Ook vir die blikkies bier. So droog Archie elke dag die bietjie water op. Hy spekuleer vreeslik waar die water vandaan kom. Miskien is dit van die waterpomp wat gelek het. Miskien is dit kondensasie van ons uiters effektiewe yskas. Miskien is dit van 'n onbekende bron. 'n Lek waarvan ons nie weet nie. 

Archie ontdek toe dat van die biere wat onder die vloerborde gestoor word, ligter as die ander is. Daar was toe 'n klein gaatjie in die bierblikke wat geleidelik uitlek en in die "bilge" opdam. Die waterlek is toe opgelos. Dis bier! Ek moet sê, ons het gewonder waar die bierreuk vandaan kom as ons die vloerbord oplig. Archie het gedink dis van 'n blikkie wat in 2019 gebars het, se reuk. Maar nou is die "bilge"kurkdroog. 

Maak Dinkie se motor reg (onsuksesvol sover)

Ek en my twee susters, Laaina (bynaam) en Elize, dink mos ons kan bene kou soos Duitse Herdershonde (my ma was van Duitse afkoms) of soos Bouboirs (my pa is van Franse afkoms). Dit is toe nou met my beengekouery dat ek iets hard in my mond voel. Agge nee! My tand het gebreek! Vreeslike gat met 'n skerp punt daar waar 'n kiestand moet wees. Bliks€m!

Volgende dag benoud tandarts toe. Verwag dat hulle dalk die tand sal moet trek. Ek hou minder van 'n tandarts as van Gus. Ek is baie bang vir hulle.

Die tandarts bekyk die situasie en sê sy kan tand red en moet eers die ou stopsel wat oor is uithaal. Hulle sal vir my 'n kroon moet maak. Nou voel ek soos die queen. Eers is dit die 3 inspuitings. Net bietjie seer. Toe begin die geboor. Dan met die boorpunt en dan met daai boorpunt. Die ander vroutjie suig met haar gedoente vreeslik om my van verdrinking te red.

Hulle maak nuwe stopsel. Ek ruik later gebrande tand. Hulle skuur en skaaf vir die vale. Toe maak hulle speelklei aan waarin ek moet byt. Ek weet nie ek ek dalk nie goed genoeg byt nie, maar hulle bekyk die gebyt en maak dan weer speelklei aan en ek byt weer. En weer. En weer. Toe is hulle tevrede.

Ek kan Dinsdag kom om my €200 kroon laat opsit. Sjoe, ek het oorleef. En het nie eers pyn gehad nie. Net 'n vreeslike wawielbek van al die oopmond sit.

Nou kan ons in elk geval nie hier weggaan voor ek gekroon word nie.

Groot skip

Setur Marina Kuşadasi

Friday, June 17, 2022

Körmen Adası

 13 Junie 2022. Maandag.

Gökkovar is regtig beskut teen die wind. Dit besef ons terdeë toe die wind op die see meer as 20 knope waai. Met groot deinings.

So vat ons die pad na Körmen Adasi, 15 myl. Vir ons is dit 'n bekende plek. Hier was ons al saam met Gerrie en Ansu. Hier het Deon en Ryna so lekker geduik. Dis ook hier waar die polisie ons een nag met 'n geloei wakker geskree het om ons paspoorte te sien.

Ons seil heelpad met die genoa. Lekker spoed en die seil maak ook dat Maja nie so erg in die deinings heen en weer wieg nie.

Later word wind bietjie ligter, maar waai ons steeds. Die see rol berede vorentoe.

Ons kom by Körmen Adasi en die see is plat daar. Dis heerlik beskut teen die Meltemi. Ons gooi anker en hy byt behoorlik. Natuurlik gaan maak die kaptein net doodseker. Gus waai maar steeds. 

Körmen Adası

Körmen Adası

Twee toerbote met plesiersoekers kom anker hier vir 'n swem in die warm poele, waarvoor die plek so bekend is. Hulle braai en dit klink sommer jolig. Hulle vertrek en ons bly alleen in die baai agter. Archie swem land toe om die warm poele te gaan ondersoek. 

Later waai Gus al hoe erger en ek vervies my sommer. Die blerrie Gus. Moet altyd my siel versondig. Hy gaan lê toe later en dit word 'n heerlike stil aand.

Toerbote

Ondersoek warmbron

Die maan kom bolrond op terwyl die son besig is om onder te gaan. Daar is skielik 'n klomp tente op die strandjie opgeslaan. Wonder hoekom kom kamp hulle op 'n Maandagaand. Hulle maak vuur. Kamp seker te lekker.

Tenters

Toe word dit 'n magiese aand. Gus roer liggies. Die maan glim in die hemelruim. Vanaand slaap ek op die dek om een te word met die baai. Ek sluimer in. Tussen my slaapnewels hoor ek iemand ankergooi. Dis is seiljag wat 22:10 daar aankom. Hy staan afgeëts teen die maanlig. 'n Pragtige prentjie. Vol misterie.

Maanlig

Bolrond

Laatkommer

Ek sluimer weer in. Deur my volgende slaapnewels hoor ek musiek. Dis die tenters. Hulle maak musiek. Dit klink soos dreunsang sonder dreun. Kompleet of hulle vir die maan sing. So half 'n religieuse en rituele aanslag. Ek luister in verwondering en die maanlignag het magiese mooi momente. Twee maanverligte seiljagte in glimmende water. Die monotone sang en snaarinstrument wat die nag vul met die bolmaan wat alles saambind. Hulle sing hul gesange sonder deuntjie tot 02:00 en toe is dit skielik stil.

Toe begin Gus koud en sterk waai en dryf my na Maja se binnelyf wat my met warmte en liefde omvou.

Wednesday, June 15, 2022

Gökkovar

12 Junie 2022. Sondag.

Kirkdilim het vir ons 'n rustige veilige nag op anker gegee en nou is ons oppad na Gokkovar, 7.1 myl.

Gokkovar is 'n fjord-tipe baai met hoë kranse aan weerskante. Dis eintlik 'n pragtige plek. Een van Archie se gunsteling baaie hier in die noorde van Turkye. Gerrie en Ansu was in 2014 saam met ons hier.

Dis ons eerste anker met lang landlyn, maar gelukkig is Gus doodstil toe ons moet anker en die hele proses is maklik. Met 'n sierlike boog duik  Archie en swem met die tou rotse toe en kry die regte rots om Maja te beveilig. Toe is dit die ander tou en ons staan lekker wind-af sodat Gus geen stremming op die anker sit nie. Veilig vir die aand.

Sierlike boog

Archie roei land toe en verewig Maja in die baai. Hy kom haal my en toe roei ons in die nou baai tot by die noordelike punt. Nie veel om te sien op land nie, maar dis heerlik om in die fjord te roei.

Gökkovar

Hello!

Ons swem en geniet die ankerplek en die dag word afgesluit met heerlike peri-peri hoender en pap en 'n wolkvertoning onder toesig van die maan.

Peri-peri hoender en pap

Wolke


Monday, June 13, 2022

Kirkdilim

 11 Junie 2022. Saterdag.

Na ses heerlike dae vertrek ons uit Setur Marina Çeşme. Dis windstil en ons kom maklik uit ons staanplek. Die Suidewind het gedraai. 

Ons eindbestemming is Kirkdilim, 35.6 myl. Hierdie noordelike deel van Turkye se kus is nie waffers nie. En die weer is ook nie waffers nie.

So vaar ons maar vorentoe, altyd vorentoe. Die wêreld om ons is deiserig en donsig. Ons vaar verby Mersin Körfezi, waar ons in 2014 saam met my broer Gerrie en skoonsus Ansu geanker het. Ek onthou hoe ons toe in swak sig en sterk wind deur die visplase gevaar het. Net om by ons ankerplek, Mersin te kom wat pragtig versier was met tientalle windturbines. My hart het gehuil, want hulle sit nie windturbines by salige ankerplekke nie. Die wind het ons die hele tyd daar op anker hot en haar gewaai.

Mersin Körfezi

Ons vaar verder en kom by Kirkdilim. Beskut teen alles, behalwe Suidewind. En jou wrintie, vir 'n ruk waai daar 'n suidewind. Wat darem later in 'n Noord-westewind verander het.

Archie swem om te gaan kyk of anker goed gebyt het, en toe is ons reg vir die aand. Ek swem ook, maar dis maar nog koud.

Twee ander jagte deel die baai met ons vir die nag.

Kirkdilim - The morning after

Kirkdilim


Kirkdilim











Friday, June 10, 2022

Çeşme

7 tot 10 Junie. Dinsdag tot Vrydag.

Wel, ek weet nie van Archie nie, maar ek bly lekker in die marina. Ek is nie op die stadium hart en siel in seil nie. My kop staan mos Skopelos toe. Gelukkig is dit mooi in die marina. Hier is nie veel te doen nie. Ons leef maar net die lewe soos ons dit by die huis in Suid-Afrika sou doen. Geen opwindende gebeure nie. Ek het in elk geval nie nou energie vir opwinding nie. Dit voel vir my of ons aan die vooraand van 'n nuwe hoofstuk in ons lewe staan. 

Ons marina

Ons marina

Ek en Archie stap 3km na 'n MMM Migros. Dis 'n grooooot supermark. Ons is baie opgewonde om heerlike lam en ander winskopies te koop.

Ons kyk na die pryse. Wat 'n skok! Alles is duur! Elke bedrag  word ×2. Een lira is omtrent R2. Genugtig, dis dan duurder as Griekeland. Dis seker oor die oorlog. Ons koop net die nodigste goedjies en stap depressief na die dolmus. 

Daardie aand maak ons die laaste stuk vark gaar. Ons eet elkeen drie klein flentertjies vark, sodat ons die volgende aand ook elkeen drie flentertjies kan kry. Ons moet ons vleistande maar uittrek. Ons kan nie lam teen R300.00 per kilo bekostig nie. Selfs die hoender is te duur. Ons is nou amptelik op 'n finansiële dieet. Dis nou nie om maer te word nie, maar om nie bankrot te word nie.

Ons vat die volgende dag die dolmus dorp toe. Çeşme is 'n kleurvolle dorp. Hierdie Turke toor met blomme. Alles is so kleurvol. Dis 'n plesier om hier rond te loop. 

Die kasteel pryk in die middel van die dorp. Pragtig. Toeriste loop op die trappies daar bo in die kasteel. Terloops, hier staan 'n groot passasierskip in die hawe. 

Kasteel

Kasteel

Standbeeld

Ons word honger en eet 'n heerlike döner. Dit is amper soos die Griekse gyros. Dis bietjie duur vir 'n döner, maar nou ja. Die hongerpyne pla. Daar heers 'n heerlike atmosfeer in Çeşme. En ons is deel daarvan. 

Dönerse honger

Archie gaan ruil euros vir lire en daarna stap ons na die ander marina toe. Dis hier waar hulle ons nuwe Volvo enjin in 2014 ingesit het. Ons het vir 2 weke hier in die lug op Maja gebly. Gerrie en Ansu was ook hier by ons in Çeşme marina én Deon en Ryna. Ons voel amper tuis hier.

Çesme Marina

Ons koop niks nie want alles is te duur. Kan nie glo Turkye is duurder as Griekeland nie. Later klim ons die dolmus terug na Setur Marina Çesme.

Kyk Archie hou mos boek van elke sent. En dis toe met die boekhouery dat sy somme nie uitwerk nie. Hy sê toe vir my ons het 'n groot fout gemaak en ek verwag toe dadelik die ergste. Hy sê 'n Turkse lire is nie R2 nie, dis R1. Toe lag ons lekker, want skielik is alles goedkoop in Turkye. Baie goedkoper as in Griekeland. 

En toe gaan sny ek my hare by 'n salon in die hotelkompleks. Weliswaar nie so erotiese haarsny soos in 2015 in Bodrum nie. Maar by 'n baie entoesiastiese haarkapper. Hy geniet sy werk. 

Haarsny

Môre gaan ons lam koop. En nog sommer baie ander goed. Ons is nie meer op 'n finansiële dieet nie.

Lekker lamsblad

N.S. Die huiskopery in Skopelos is besig om te gebeur. Ons het gedurige kontak met die prokureur wat besig is om pre-kontrak en finale kontrak op te stel. Ten minste weet ons die eienaar wil nog verkoop en gaan nie 'n Sue op ons trek nie. Ek dink my voorland is om in Skopelos op straat te gaan bly. Dis hoekom ons so lank in Turkye op plekke moet bly. Ons kan nie te vêr suid gaan nie, want dan moet ons te vêr teen die wind-op seil terug na Skopelos. 

Ons gaan waarskynlik Saterdag die marina verlaat. Ons wag net vir die Suidewind om te draai. Hierdie noordelike deel van Turkye en Griekeland het regtig mislike winde.  


Tuesday, June 7, 2022

Turkye. Çeşme Setur Marina

5 en 6 Junie 2002. Sondag en Maandag.

Die nag waai Gus sterk vanaf 00:00. Volgens weervoorspelling moet hy gaan lê. 03:00 nog sterker. My moed sak in my skoene. Nou gaan dit rof gaan in die stuk see van 15 myl.

Teen 07:00 is dit bietjie beter. Die bure vertrek en ons maak ook reg. Ons het nou verdomp lank genoeg hier gebly en elke dag was "môre" 'n beter dag om te seil. Nou is dit "môre" en los is die toue.

Ons vertrek uit die veilige onklaar marina en ons tref daai see. En hy is groot. En Gus waai. Ons moet eers na die ander hawe ry om te gaan uitklaar. Vandag verlaat ons Griekeland. 

Ons alongside langs die doane gebou en begin die prosudure. Dis diekant toe en daaikant toe. Almal stempel dokumente en toe is ons uitgeklaar. Ek moet sê die Chios polisie, hawepolisie en hawemeester is regtig baie gaaf en behulpsaam. Drie hoera's vir hulle.

Nou moet ons skuins oor die see vaar. Gus waai 17 tot 22 knope. Gelukkig nie van voor nie. Van die kant en skuins van voor. 

Ons span 'n verkleinde genoa en seil gemaklik sonder skuinslê met 'n lekker spoed van so 5.5 knope.
Ons is dankbaar dat die see later nie meer so groot is nie. Maja neem ons met gemak oor die sruk see tussen Chios en Çeşme.

Ons is oppad na Çeşme Setur Marina, waar ons volgens ons Mytilini Setur kontak 'n hele week gratis in 'n luukse marina kan bly.

Ons nader die Marina en roep hulle oor kanaal 73. Die marinaman is daar om ons in te help. Dis nie nodig nie, want Archie tru meesterlik in ons spasie. Die marinaman gee vir my die snoettou aan en vas is ons.

Nou moet ons in Turkye inklaar. Ons agent, Murat, neem foto's van al ons dokumente, want hy doen die hele inklaarproses vir ons. Hy laai ons in sy kar en daar trek ons. Ek sit voor en Archie sit agter in een van die twee babastoeltjies. Regte ou maergat!

Ons wag by 'n koffie plek terwyl Murat eers na die hawemeester toe gaan. Hy moet ons papiere stempel. Daarna gaan ons saam na die paspoortpolisie. Hulle neem foto's van ons terwyl hulle jou paspoortbesonderhede intik. Dis nou om te kyk of dit regtig jy is. Wel, die polisieman kyk ons stip aan. Eers vie Archie, dan vir my. Dan weer vir Archie en dan vir my. Ek skaam my in my enigheid, want ek dink miskien ruik ons nie lekker nie. Min het ek geweet hoekom hy ons so aankyk!

Intussen praat Murat vreeslik op sy foon. Dis die een oproep na die ander. Hy gaan na die doanepolisie toe om hul fooi te betaal. Hy sê vir ons die hawemeester weier om ons papiere te stempel. Volgens lg. was ons nog al die tyd vanaf September 2019 onwettig in Turkye. Ons het nooit uitgeklaar nie. Ons is in groot moeilikheid.

Ek vra toe vir Murat of ons nou moet tronk toe gaan. Hy sê niks. Ek en Archie sit geskok op die polisiegebou se muur terwyl Murat heeltyd op sy foon is. Die man lyk bekommerd. 

Hy het 'n vriend by Aiwalik se hawepolisie. En dis met die wat hy so praat. Archie het gelukkig nog die dokumente van 2019 toe ons by Aywalik uitgeklaar het.

Blykbaar het hulle in 2019 alles gestempel, maar dit nooit in die rekenaarsisteem ingetik nie. Çesme se hawemeester sê dis nie sy probleem nie. Hulle gaan ons beboet. Dan moet ons briewe skryf en vertoë rig met verduidelikings wat gebeur het, voordat hulle ons geld terugbetaal.

Gelukkig vir Archie se bewyse, Murat wat ons kant van die saak so verdedig en sy polisievriend by Aywallk, kom ons skotvry. Wat 'n noue ontkoming. Gelukkig het ons vir Murat gehad. Wat 'n 45min werk was, word 'n 3 ure werk, wat oorgaan tot die volgende dag. Maar ons papiere is reg en ons is wettig. Dis wys jou hoe maklik kom onskuldige mense in groot moeilikheid in 'n vreemde land.

Ons eet die aand Griekse vark. Heerlik. Rondom ons pryk die groot wit Altin Yunus Hotel. Dis dieselfde hotel waar ons in 2014 met 'n stukkende enjin kom vasmaak het. Daar waar die babes met die boobs ons so aangekyk het.

Ons verkeer rustig op Maja se dek. Heerlike kos en yskoue wyn. Luukse hotel, Vas en veilig. 

Welkom in Turkye.

Altin Yunus Hotel

Vol marina

Setur Marina Çeşme

Setur Marina Çeşme

Maja

Griekse varkvleis