Thursday, May 19, 2022

Marina Lewe

15 tot 17 Mei 2022. Sondag tot Dinsdag.

Seile. Dis daai groot wit goed op Maja wat van haar 'n seiljag maak. Ek hou nie eers daarvan om seile te hys op die see nie, maar nog minder om die seile in 'n vasgemeerde boot in 'n marina te hys. Dit voel kompleet vir my of ons gaan opstyg soos die Vlieënde Hollander. Maar nou moet dit gedoen word.

Die groot genoa seil is nog steeds opgerol in die spaarkamer. Dit word mos altyd, as ons klaar geseil het vir die jaar, afgehaal en gestoor. Noudat ons terug op die water is, is dit nou tyd om dit op sy regmatige plek terug te sit.

Archie moet die seil-oprolmeganisme ("furler") van die genoa diens. Hy smeer die nodige gries op die furler en toe moet die genoa opgehys word. Gelukkig is daar geen wind nie, anders het ons dalk opgestyg as die wind nesmaak in die seil. Archie hys die genoa op en daarna word dit opgerol. Nou is die genoa gereed om mee te seil.

Toe is dit die hoofseil se beurt. Dit word nie aan die einde van die seisoen afgehaal nie, maar bly opgerol in die mas. Weer word die furler en ratte gegries. Die hoofseil wil ook nie samewerking gee nie. Dit wil nie behoorlik uitrol of intrek nie.Soos Archie sê "Dit jam in die mas!" Maar slim soos dié man is, kry hy dit darem "ontjam". Met  baie gesukkel en moeite. Nog 'n groot werk is gedoen. Die hoofseil is nou gereed om mee te seil.


Genoa word gehys

Genoa word gehys

Hoofseil haak vas

"Jammed solid"


Elke dag lewer sy eie take wat verrig moet word. My wasgoed hang skoon en welriekend op die draad. Met hul weerkaatsing in die water. Projek Plantjie hou my ook besig. Ek kry hier en daar 'n stiggie wat ek dan plant, in grond wat ek hier by die marina tuin kry. Ek hou baie van plantjies en Archie sê dis omdat ek my ma se kind is. My ma het altyd oral waar sy gegaan het, stiggies gekry en gaan plant. Hierdie plantjies word gekweek vir Marchie's Place. 
 
Intussen hoor ons nie 'n woord van ons belastingnommer-prokureur nie. Hy antwoord g'n niks sy foon nie. Probeer hy ons vermy of wat? Ek word nou al bietjie moedeloos oor die huiskopery. Dit voel net of daar niks gebeur nie en ons Schengen dae loop uit. 

Wasgoed op die draad

Projek Plantjies

Daar is niks so goed om my swaar gemoed ligter te maak as sosiale terapie nie en ek nooi wildvreemde mense vir ete. Archie het darem al met die vrou gepraat en haar naam is Shirley. Hulle kom oorspronklik, twintig jaar gelede van Durban, maar bly nou in Nieu-Zeeland. Ek moet sê, die man was taamlik verbaas toe ek in die donker by hul boot, wat in die krip op land gestaan het, opdaag, Shirley se naam roep, en vir hom vra of hulle nie die volgende aand by ons wil kom eet nie. Hy was deur die slaap, hulle gaan slaap baie vroeg, want hulle ly nog aan "jet lag".

Wel, hulle boot word toe die volgende dag in die water gesit en daag die aand 19:00, met twee bottels wyn as geskenk, by Maja op. Shirley en Stewart kuier toe by ons en ons lag en gesels soos ou vrinne. Heerlike kos, gawe mense.

Wag vir gaste

Steward, ek en Shirley

Sunday, May 15, 2022

Die Wagtende kaptein.

11 tot 14 Mei 2022. Woensdag tot Saterdag

Toe ek 'n kind was, was daar 'n storieboek met die naam "Ons wag op die kaptein". Wel hier by ons kan ek 'n boek skryf "Die wagtende kaptein".

Ons is hier op die stelte, in 'n stabiele Maja, wat vir my voel of sy heeltyd beweeg. Veral as die son sak, dan begin sy met die maan-dans. Wanneer gaan ons koppe ophou om te beweeg?! En dan is dit nog die alewige leertjie op en leertjie af.  

As die wagtende kaptein veveeld raak, dan pak hy allerhande obskure take aan wat my onkundige hare laat rys. In die  stilligheid wonder ek wanneer die dag gaan kom dat hy iets gaan opblaas. As ek na daai klomp elektriese drade kyk wat met battery gekoppel is, monitors en alarmpies en skakelaars, is ek bly Archie weet skynbaar wat daar aangaan.

Leertjie op

Battery monitor

Hier is ook 'n skoonmaakaksie in die marina aan die gang. Vrywilligers is besig om vullis uit die see te haal. Dis swart sakke vol plasties en maskers en lappe en items wat die geidentifiseer kan word nie. Daar is ook baie plastiese pype en 'n motorfiets wat baie meer eendemossels en ander seediere as Maja se romp ophet. Ek is net bly hulle het nie die persoon wat die motorfiets bestuur het, ook gevind nie. Ek wens mense wil besef die see is nie 'n stortingsterrein nie. En dan is daar ook die nare ou Gus wat rommel in die see waai.

Seevullis

Mossel motorfiets

Ons wag steeds vir die badkamer se stortkraan. Dis 'n komplekse kraan wat uittrekbaar is as jy in "head" wil stort. Jy krap nie so 'n kraan agter elke bos uit nie. Archie het hom bestel van vêr af. Dit kom met 'n skip of vliegtuig.

Ons wag vir die man wat propeller diens. Hy wag weer op sy beurt vir 'n Volvo onderdeel van Athene af. Sonder propeller kan ons nie terug water toe nie. 

Ons wag vir die man wat die bimini oor stik, want dié se stiksel het plek-plek begin lostrek. In 2019 het ek dit begin oorstik met 'n naald en dentalflos. Dit hou nou nog. Sterk goeters daai. 

Ons wag vir die koopkontrak van die huis op Skopelos om voltooi te word dat ons dit kan teken. Ons wag vir my belastingnommer. Dis baie belangrik dat ek en Archie 'n  gesamentlike bankrekening moet hê vir die betaling vir ons huis op Skopelos, wat miskien "Marchie Place" gaan heet. My skoonseun,  wat van Upington se wêreld kom, noem ons Marchie - Ma(rietjie) en Archie. As iemand dalk 'n ander oorspronklike naam het, laat waai met die voorstelle. Onthou net, jy sal self die naambord moet kom opsit as jou voorstel gekies word as naam!

So ons wag wag wag. Intussen merk ons die ankerketting. 10m groen, 20m geel, 30m rooi, 40m blou, 50m wit, 60m is bont. (Of so dink ek). Archie vervang die skakel wat die anker aan die ketting verbind, want dit het geroes.  Hier kom my susterskind, Brigida, se kersgeskenk aan Archie handig in, 'n ystersaag. Dankie Brigida!

Merk ankerketting

60 meter - bont

Brigida se ystersaag kom handig in

Archie maak Maja se spoedmeter skoon. Nou is ons reg vir hoë spoed. Soos my seun Francois sê: "Burn!" Dis toe hy nog gehoop het Maja kan vinnig vaar.

Skoon spoedmeter

Reg vir insit

Die fenders lyk horribaal. Ons het eintlik nou vir Mary-Jane en Paddy nodig. Hulle het in 2019 by Tilos so mooi gehelp met die fenders. MJ het dit spierwit geskrop. Sy sou dit nie kon doen sonder Paddy se hulp nie. Hy het die fendertoue met presisie vasgehou, nugter weet hoekom. Waar is julle twee nou om hierdie fenders skoon te kry!

Ek en my fenders

Skoon fenders

Ons het drie fenders verloor, twee het geel-bruin sonskade opgedoen. Selfs die twee balfenders is geel gebrand. Ons het reeds twee nuwe fenders gekoop, maar die motorhawe se pomp waarmee hulle dit vir ons moet oppomp, is stukkend. Nou het ons twee nuwe pap fenders. Archie vervang van die fenders se toue, want sommige is deurgeskaaf. Ai tog, behalwe dat die kaptein nou so vreeslik wagtend is, is 'n kaptein se werk ook nooit klaar nie.

Archie sit nuwe offeranodes aan Maja se kiel. 'n Kiel word van gietyster gemaak en kan baie maklik roes. Die offeranodes offer hulself dan op dat die roes na hulle gaan en nie na die kiel nie. Dis vir my mooi dat die anodes dit doen. Hoe die roes weet om na die anodes te gaan, weet ek nie. Ek dink roes is baie slim (of dalk dom).

Offeranode word vasgebout

Nuwe offeranode 

Ons was boot. Ons was wasgoed. Ons koop kos. Maak dit op nuwe stoof gaar. Ons het nou net maar 'n alledaagse lewe wat gevul word met alledaagse dagtake. Gelukkig kom die propeller. Die man sit dit terug en Archie moet môre die olie ingooi en dan die propeller twintig keer draai om die lugborrels uit te kry. Nou is Maja weer reg vir water toe. 

Draai propeller om lugborrels uit te kry

Vandag sit hulle ons terug in die water. Christopher en Archie staan gereed om die laaste plekke op Maja se romp en onder die kiel te verf. Toe word Maja aan die hyskraan se kloue en bande vasgemaak en hulle sit ons doodluiters langs die kaai in die water neer. So maklik soos rys kook. (Party mense kan nie rys kook nie)

Die optog begin

Verf word opgeknap

Uit die krip

Water toe

Pasop die kaai!

Amper daar

Terug in die water

Ons vaar terug marina toe en Christopher wag vir ons by kaai D. Ons meer in die marina vas om verder te wag. Dis lekker om weer in die water te wees.


Tuesday, May 10, 2022

Rompslomp

6 to 10 Mei 2022. Vrydag tot Dinsdag.

Maja staan op haar stelte. Minder trots as gewoonlik. Plek-plek is haar romp die woonplek van spesies wat in marinebiologie bestudeer word. Hoe de moer gaan ons dit afkry!

Maja se nuwe vel

Seetuin

Eendemossels ("Barnacles")

Baardmossels

Archie het die hoëdruk waterspuitmasjien by die marina gehuur en nou spuit hy verbete. Hy kry die slym en seeplante af, maar daai seeskulpdoppe (eendemossels) sit. So asof hulle deel van Maja se romp is. Hulle ís haar romp. Versteen. So hard soos rots.  Haar nuwe vel. Archie spuit die hele boot af.  Dis baie harde werk. Toe lyk hy soos 'n boemelaar. Haweloos. Sonder huis of haard.

Spuit vir die vale

Eendemossels sit vas

Kry net slym en seeplante af

Boemelaar

Ek krap tussen die kombuisgereedskap rond. Vind 'n ding om die eendemossels mee af te krap. Optimisties  begin ek werk. Hierdie eendemossels het gekom om te bly. Ek kry drie beserings op een slag. My middelvinger se kneukel bars oop toe dit teen 'n eendemossel skraap, 'n ander een sny die bokant van my wysvinger en 'n stuk eendemossel val in my oog. Toe lê ek plegtig die gereedskap neer.

Archie kap met 'n stuk hout die ander kleiner hout om die goed af te kry. Dis toe dat die marina man, Christopher,  kom en vra of hy die werk kan doen vir €650. Archie sê dadelik ja. Hy het nie die gereedskap en masjinerie om dit te doen nie. Christopher gaan saam verfwinkel toe en Archie koop onderlaag en die bolaag. Daar was nie donkerblou verf nie en hy koop toe maar ligte blou.

'n Ander man doen die vuilwerk. Skraap eers vir die vale. Ons bly binne-in Maja, want dis net stof. Daarna gebruik hy die skuurmasjien en jy sien net blou stof. Daarna spuit hy Maja af met die hoëdruk spuitmasjien. Waar is Laurika nou met haar "Blou" liedjie, want alles is blou. Nou moet Maja behoorlik uitdroog.

Reg vir verf

"Before"

Christopher doen self die verfwerk. Hy lyk soos 'n gesondheidswerker in die voorste linie tydens die covid epidemie. Masker, handskoene, wit oorpak (die vorige man het ook so gelyk).

Eers die onderlaag. Dan word Maja droog. Dan die eerste laag verf. Dan word sy weer droog. Dan die laaste laag verf. Heel laaste word die gedeeltes wat onder die krib is, gedoen. Die man van die hyskraan kom help. Steier vir steier word die hout wat tussen Maja en die yster is, uitgekap. Dan skuur Christopher dit af, sit onderlaag op en verf dit. Elke keer moet die verf eers droog word. Goeie werk.

Toe is Maja geverf en sy lyk sommer trots en pragtig met haar nuwe romp.

"After"

Selfs onder steiers is geverf

Intussen was die Volvo man hier om die propeller se se seels te vervang. Dit sit so vas, dat die man se gereedskap breek om die bout los te maak. Hy is toe hier weg met die hele boksemdaais. Die propeller, die bout met sy gebreekte gereedskap en die stang en rat (of iets). Ek weet eintlik nou gladnie waarvan ek praat nie. Skryf op hoorsê.

Al wat oorbly is 'n gat

Nog intussender, het ek 'n prokureur gesien vir 'n belastingnommer, sodat ek en Archie gesamentlike bankrekening kan hê. Nou wag ons verder op Maja wat hoog en droog op land staan. En as die son sak, voel dit kompleet vir my of sy beweeg.



Sunday, May 8, 2022

Hoog en Droog.

  6 Mei 2022. Vrydag.

Vrydag is die dag. Dan gaan Maja land toe na drie winters in die water. Ons is effe benoud oor hoe haar romp gaan lyk. Dolfyne hou van Maja, maar seersekerlik seediere wat nuwe woonplek soek ook.

Natuurlik begin Gus skielik Vrydagoggend vreeslik te waai. Seker net om vir my te sê:"Hallo daar!" Net om my te temteer.

Ons wag vir ons beurt. Eers word 'n ander jag te water gelaat en daarna word 'n motorboot uitgelig. Gelukkig het Archie gister sy nuwe enjinbattery gekry, so Maja kan vaar. Ons wag maar geduldig op ons beurt.

Toe is dit sukke tyd. Die marina manne kom help ons uit ons staanplek, een is op Maja en die ander een in die dinghie. Daai snoettou sit behoorlik vas na twee jaar. Die marina man sukkel om dit los te kry. Los is ons, Gus waai en ons vertrek. Die dinghie stoot ons van ons buurboot af en die ander man bly aan boord. Ek is lus en soen hom, want ek is baie uitoefening met vasmeer.

Ons vaar uit die marina, na so 'n klein hawetjie langsaan waar die mobiele huiskraan vir ons wag. Nou ek, as meganies onnosel, verstaan nou glad nie hoe 'n hyskraan Maja uit die water gaan kry nie. Dit klink vir my te veel na omval se dinge. Die manne is op die kaai om te help en die marina man aan boord help ook. Vinnig en maklik is ons alongside en ek klim af, gewapen met die kamera om dié katastrofe op beeld te verewig.

Mobiele hyskraan

Bande word nader getrek

Die manne weet wat hulle doen. Vier hake aan kettings daal uit die hemel neer (daai kraan is blerrie hoog). Hieraan is twee lang bande vasgemaak en dié word versigtig onder Maja se romp geplaas. Dit word sekuur en met sorg gedoen en toe begin die hyskraan vir Maja uit te lig - stadig maar seker. Onthou, die doenigheid is nie stagnant nie, Maja kan rondswaai as dit te vinnig gaan. 

Hake reg vir bande

Bande is gehaak

Op opper opste (dis vir Paddy) gaan sy. Die een man hou 'n tou vas om te keer dat  Maja nie teen die ander boot langs ons bots nie. Wel, op 'n stadium skree die manne, want Maja is 'n haarbreute van die buurboot. Ek sluit my oë en sien in my geestesoog hoe Maja die buurboot tref en 'n domino reaksie begin wat in 'n katastrofe eindig. Maar alles is onder beheer. Die touman trek, en Maja is weer in posisie. Stadig laat hulle haar op die krip neer. Ek slaak 'n sug van verligting en ek is seker Archie ook.

Op ...

... opper ...

... opste!

Amper stamper



Sak Sarel

Amper daar

Hulle maak seker sy is stewig met allerhande stukke hout en toe is hulle tevrede. Ons is hoog en droog op die land. Die kraan werk baie effekief en ek was verniet so skrikkerig vir die uithaal.

Toe kyk ons na Maja se romp...