Tuesday, May 10, 2022

Rompslomp

6 to 10 Mei 2022. Vrydag tot Dinsdag.

Maja staan op haar stelte. Minder trots as gewoonlik. Plek-plek is haar romp die woonplek van spesies wat in marinebiologie bestudeer word. Hoe de moer gaan ons dit afkry!

Maja se nuwe vel

Seetuin

Eendemossels ("Barnacles")

Baardmossels

Archie het die hoëdruk waterspuitmasjien by die marina gehuur en nou spuit hy verbete. Hy kry die slym en seeplante af, maar daai seeskulpdoppe (eendemossels) sit. So asof hulle deel van Maja se romp is. Hulle ís haar romp. Versteen. So hard soos rots.  Haar nuwe vel. Archie spuit die hele boot af.  Dis baie harde werk. Toe lyk hy soos 'n boemelaar. Haweloos. Sonder huis of haard.

Spuit vir die vale

Eendemossels sit vas

Kry net slym en seeplante af

Boemelaar

Ek krap tussen die kombuisgereedskap rond. Vind 'n ding om die eendemossels mee af te krap. Optimisties  begin ek werk. Hierdie eendemossels het gekom om te bly. Ek kry drie beserings op een slag. My middelvinger se kneukel bars oop toe dit teen 'n eendemossel skraap, 'n ander een sny die bokant van my wysvinger en 'n stuk eendemossel val in my oog. Toe lê ek plegtig die gereedskap neer.

Archie kap met 'n stuk hout die ander kleiner hout om die goed af te kry. Dis toe dat die marina man, Christopher,  kom en vra of hy die werk kan doen vir €650. Archie sê dadelik ja. Hy het nie die gereedskap en masjinerie om dit te doen nie. Christopher gaan saam verfwinkel toe en Archie koop onderlaag en die bolaag. Daar was nie donkerblou verf nie en hy koop toe maar ligte blou.

'n Ander man doen die vuilwerk. Skraap eers vir die vale. Ons bly binne-in Maja, want dis net stof. Daarna gebruik hy die skuurmasjien en jy sien net blou stof. Daarna spuit hy Maja af met die hoëdruk spuitmasjien. Waar is Laurika nou met haar "Blou" liedjie, want alles is blou. Nou moet Maja behoorlik uitdroog.

Reg vir verf

"Before"

Christopher doen self die verfwerk. Hy lyk soos 'n gesondheidswerker in die voorste linie tydens die covid epidemie. Masker, handskoene, wit oorpak (die vorige man het ook so gelyk).

Eers die onderlaag. Dan word Maja droog. Dan die eerste laag verf. Dan word sy weer droog. Dan die laaste laag verf. Heel laaste word die gedeeltes wat onder die krib is, gedoen. Die man van die hyskraan kom help. Steier vir steier word die hout wat tussen Maja en die yster is, uitgekap. Dan skuur Christopher dit af, sit onderlaag op en verf dit. Elke keer moet die verf eers droog word. Goeie werk.

Toe is Maja geverf en sy lyk sommer trots en pragtig met haar nuwe romp.

"After"

Selfs onder steiers is geverf

Intussen was die Volvo man hier om die propeller se se seels te vervang. Dit sit so vas, dat die man se gereedskap breek om die bout los te maak. Hy is toe hier weg met die hele boksemdaais. Die propeller, die bout met sy gebreekte gereedskap en die stang en rat (of iets). Ek weet eintlik nou gladnie waarvan ek praat nie. Skryf op hoorsê.

Al wat oorbly is 'n gat

Nog intussender, het ek 'n prokureur gesien vir 'n belastingnommer, sodat ek en Archie gesamentlike bankrekening kan hê. Nou wag ons verder op Maja wat hoog en droog op land staan. En as die son sak, voel dit kompleet vir my of sy beweeg.



Sunday, May 8, 2022

Hoog en Droog.

  6 Mei 2022. Vrydag.

Vrydag is die dag. Dan gaan Maja land toe na drie winters in die water. Ons is effe benoud oor hoe haar romp gaan lyk. Dolfyne hou van Maja, maar seersekerlik seediere wat nuwe woonplek soek ook.

Natuurlik begin Gus skielik Vrydagoggend vreeslik te waai. Seker net om vir my te sê:"Hallo daar!" Net om my te temteer.

Ons wag vir ons beurt. Eers word 'n ander jag te water gelaat en daarna word 'n motorboot uitgelig. Gelukkig het Archie gister sy nuwe enjinbattery gekry, so Maja kan vaar. Ons wag maar geduldig op ons beurt.

Toe is dit sukke tyd. Die marina manne kom help ons uit ons staanplek, een is op Maja en die ander een in die dinghie. Daai snoettou sit behoorlik vas na twee jaar. Die marina man sukkel om dit los te kry. Los is ons, Gus waai en ons vertrek. Die dinghie stoot ons van ons buurboot af en die ander man bly aan boord. Ek is lus en soen hom, want ek is baie uitoefening met vasmeer.

Ons vaar uit die marina, na so 'n klein hawetjie langsaan waar die mobiele huiskraan vir ons wag. Nou ek, as meganies onnosel, verstaan nou glad nie hoe 'n hyskraan Maja uit die water gaan kry nie. Dit klink vir my te veel na omval se dinge. Die manne is op die kaai om te help en die marina man aan boord help ook. Vinnig en maklik is ons alongside en ek klim af, gewapen met die kamera om dié katastrofe op beeld te verewig.

Mobiele hyskraan

Bande word nader getrek

Die manne weet wat hulle doen. Vier hake aan kettings daal uit die hemel neer (daai kraan is blerrie hoog). Hieraan is twee lang bande vasgemaak en dié word versigtig onder Maja se romp geplaas. Dit word sekuur en met sorg gedoen en toe begin die hyskraan vir Maja uit te lig - stadig maar seker. Onthou, die doenigheid is nie stagnant nie, Maja kan rondswaai as dit te vinnig gaan. 

Hake reg vir bande

Bande is gehaak

Op opper opste (dis vir Paddy) gaan sy. Die een man hou 'n tou vas om te keer dat  Maja nie teen die ander boot langs ons bots nie. Wel, op 'n stadium skree die manne, want Maja is 'n haarbreute van die buurboot. Ek sluit my oë en sien in my geestesoog hoe Maja die buurboot tref en 'n domino reaksie begin wat in 'n katastrofe eindig. Maar alles is onder beheer. Die touman trek, en Maja is weer in posisie. Stadig laat hulle haar op die krip neer. Ek slaak 'n sug van verligting en ek is seker Archie ook.

Op ...

... opper ...

... opste!

Amper stamper



Sak Sarel

Amper daar

Hulle maak seker sy is stewig met allerhande stukke hout en toe is hulle tevrede. Ons is hoog en droog op die land. Die kraan werk baie effekief en ek was verniet so skrikkerig vir die uithaal.

Toe kyk ons na Maja se romp...

Kry Maja reg

 3 tot 5 Mei. Dinsdag tot Donderdag. 



"Ai, 'n kaptein se werk is nooit klaar nie," sê Archie met genoegdoening, terwyl hy fluitende al sy take verrig. Al wat ek kan sê is "Welkom op Maja!"

Die dek het nogal groot skade gedurende die twee jaar gekry. Al die rubberagtige vulsel tussen die hout het verkrummel en lê die hele dek vol. Dit gaan groot werk wees om dit weer te vul. Eintlik 'n werk waarvoor ons nie kans sien nie. Dit moet maar wag tot later. 

Die twee fenders is heeltemal stukkend en 'n ander een is pap. Dit lek by sy prop. Miskien kan Archie dit regmaak, andersins sal ons drie nuwe fenders moet koop. Een fender kos omtrent R700.00.

Die ui het dit ook nie gemaak nie.




Dek se "caulking" vergaan

Hier wag 'n groot werk

Twee stukkende fenders

Ui

Op 'n stadium sien ek hom op die kaai in Dinkie sit en wonder vir 'n oomblik of die man vergeet het Dinkie hoort eintlik in die water! Sien, ons het so lank nie geseil nie. Toe sien ek hy is met die toue besig. Was asof dit Maandag (wasdag) is. 

Was toue

Dan word die batterye getoets. Die huisbatterye lyk goed, maar die enjinbattery is moeg. Hy laai die enjinbattery, maar dit help nie. Hy spring op die marina fiets en gaan bestel dadelik een. Sonder die battery kan Maja se enjin nie vat nie.

Toe word die toilet weer geteiken. Die affêre het mos nie gepomp nie, toe maak Archie dit reg. Nou lek hy by die pompdeksel. Archie maak dit geduldig, al fluitende reg. Ek vervies my as 'n ding lek, hy fluit daaroor.

Maak toilet reg

Dank vader vir silikoon

Die verkoelingswater se impeller word inspekteer en lyk nog gesond. Terloops, Archie het die moeë battery "gebypass"  en ons kan met groot vreugde sê die enjin werk nog én spoeg water uit.

Die hoofseil se uithatou het deurgeskaaf en weer is Archie op die fiets en gaan koop 16m nuwe tou. Hy trek daai tou deur en sit ook al die ander toue op hul regte plekke terug. Wel, na twee jaar, moet mens maar mooi dink waar kom al die toue nou weer.

Las tussen oud en nuut

Toe is dit die nuwe stoof se beurt. Die ou stoof, waarop ek ure se kookgenot gehad het, word uitgehaal en langs die vullisdrom neergesit. Ek groet die stoof plegtig en bedank hom vir 7 jaar se getroue diens.

Die nuwe stoof (wat twee jaar in die marina se kantoor deurgebring het) word uit sy boks gehaal, en toe begin die proses. Eerste vraag, gaan dit pas? Dit pas gelukkig, met moeite, in die opening. En toe is dit nie sommer net vir insit nie. O nee, die nuwe stoof is te hoog en die deksel wat stoof moet bedek as dit nie gebruik word nie, wil nie mooi toemaak nie. Nou moet die hingsels laat sak word. Uit is die stoof en die gate word verstel. In is die stoof.  Nou vind ons doe stoof is te vêr voor. Die oonddeur kan nie oop nie, want die kas is in die pad.

Nuwe stoof uit die boks

Stoof word uitgehaal (elke keer met groot moeite) en gate word agtertoe geskuif. Weer in en nou het dit nie genoeg plek om agtertoe te swaai nie. Die stoof swaai mos om waterpas te bly. Weer uit, skuif die gate. Sit weer die stoof terug. Oonddeur kan nie heeltemal oop nie, maar genoeg om oondbak met gemak in te sit. Ai, dit was omtrent sukkel-sukkel.

Gaan dit pas?

Sukkel-sukkel! 

Toe steek die stoof aan en hoera!, dit werk. Ons is skoon opgewonde totdat ons gas ruik. Weer word die stoof uitgehaal en Archie maak die konneksie stywer vas. Sit stoof terug en gelukkig ruik ons nie meer gas nie. Daai stoof is ses keer ingesit en uitgehaal. Elke keer met die grootste moeite. Maar al Archie se moeite word beloon met 'n bord heerlike kos en die volgende aand met oondgebraaide hoender.

Reg vir aksie (kyk hoe blink die oonddeur)

Die stoof werk wonderlik

Eerste maaltyd. Noedelrys en hoender

Die oond werk ook uitstekend

Griekse slaai

Monday, May 2, 2022

Terug op Maja

30 April en 1 Mei 2022. Saterdag en Sondag.

So ja, al Archie se besigheid in Volos is afgehandel. Vandag klim ons die bus na Thessaloniki. Ons vertrek 12:15 en kom 14:00 by die busterminaal. 'n Taxi neem ons na die veerboothawe en ons begin ons 9 ure se wag vir die veerboot na Lesvos, waar Maja weemoedig wag.

Thessaloniki is 'n groot stad. Dink amper dis Griekeland se tweede grootste stad. Archie stap om vir ons iets te koop om te eet, terwyl die bagasie my geselskap hou. Hier is absoluut niks by die hawe om te koop nie. Hy kom terug met 'n souvlaki gyro en 'n appel vir elk. En sap. Ons eet gulsig, want ons is honger. As ons moeg gesit is, gaan loop ons beurtelings so bietjie rond. Die kaai is die uithangplek vir die studente en daar is so baie van hulle daar, dat ek wonder wanneer hulle dan klas draf. 

Thessaloniki

Studente

Vensters

21:00 is nog vêr en die ure strek oneindig lank voor ons uit. Teen 19:00 begin die passasiers opdaag en begin saamdrom by die heining. Ons gaan met die reuse Blue Star Mynonos, vaar. Teen 20:00 begin hulle die mense groep vir groep aan boord gaan. Uiteindelik is ons aan boord en gaan na ons besigheidsklas sitplekke. Ons gaan sit nie dadelik op ons sitplekke nie, maar kry plek by 'n lekker sofa om te sit en uitkyk.Dis heel voor by in boot.

Sit heel voor

Sofa

Besigheidsklas

Uiteindelik vertrek ons en die lang vaart na Lesvos begin. Ek sien nou dat 'n masker baie veeldoelig is. Baie sit dit oor hul oë om te kan slaap. Op 'n stadium, tussen Limnos en Lesvos, kan ons voel die see is rof. Ek hoor hoe slaan die boot die deinings en die water spoel oor die dek. Die kaptein kondig af dat ons slegte weer het en almal moet op hulle sitplekke bly. Later bedaar die see weer. So tussen alles deur kry ons tog maar bietjie gebroke slaap. Ek slaap op die sofa en Archie op die sitplekke.

7:30 kom ons in Mytilini, Lesvos, aan en die lang stap na die marina begin. En toe sien ons haar - 'n verstote, eensame weemoedige Maja. Ons is só bly om haar te sien op kaai D. Sy is darem nog (op die oog af) ongeskonde na drie winters in die water. Daar is wel twee fenders wat stukkend is. Ons gaan aan boord, en ons is baie verlig dat daar geen vreemde nat- of mufreuk is nie. Sy het darem nie gelek nie, sy is kurkdroog binne. 

Kaai D

Kleine Maja

Fenders

Welkom

Dis vakansiedag en geen winkels is vandag of môre oop nie. Vanaand suig ons weer 'n Halls vir aandete, soos in 2013, toe ons vir Maja ontmoet het.

Ons pak uit en werkskaf in Maja. Archie is die sewende hemel, want 'n klomp goed is stukkend. Daar's 'n waterlek (ons hoor die waterpomp gaan aan al gebruik ons nie water nie) en hy sien die kombuiskraan lek. Die kraan word uitmekaar gehaal en toe heelwat later weer teruggesit. Die water lek nog steeds. 

Ons tel die kussing van die bank op en ontdek 'n skatkis vol kos wat ons in 2019 agterlaat het. Vannand suig ons beslis nie Halls vir aandete nie! En so met die oplig van die kussing, ontdek ons die groot  waterlek. Die water lek by 'n buigbare konneksie tussen voerpyp en die badkamerkraan.

Die probleem is om die ou buigbare pyp van die kraan af te kry. Dit sit heel agter in die hoek in 'n klein kas en boonop is alles geroes. Uiteidelik kry Archie 'n spanner op die moer en begin draai. Kerplaps, daar breek die hele bout af. PROBLEM SOLVED. So word die tweede moer ook "losgemaak" en, siedaar, die kraan kom nou maklik uit. Archie besluit dat dit tyd is om 'n nuwe kraan te koop. Dit sal Woensdag se werk wees. Die kraan is moer toe.

Maar nou moet die twee oop pype geblok word sodat ons die watersisteem weer kan gebruik. Makliker gesê as gedaan.

Toe begin Archie daaraan werk. Soms spat en spuit die water. Dan is dit droogmaak en verder werk. Ai, ek sal weer moet gewoond raak aan die primitiewe lewe van 'n Seilende Sigeuner. Archie ontdek nog baie skroewe en moere wat geroes het. Dan maak hy dit skoon en sit dit terug.


Soek die lek

Mr Fixit

Probeer kraan uithaal

Die sondebok - stukkende buigbare pyp

Terwyl Archie hom afsloof met al die waters en pype en roes en moere, loer ek weer vol bewondering in die koskas. So dink ek hier is nie kos nie. Maar dis verskillende soorte pasta, pesto, konfyt, heuning, koffie, tee, Nar, pul biber, oats, rys, blikkies sardientjiesen tuna. Sommige het nou wel lankal die vervaldatum bereik, ander het net-net verval en ander op die rand van verval. Sommige het nog wraggies nie verval nie.

Ou kos ...

... nog kos ...

... sjokolade ...

... en BIER

Ek delf in die koskas en besluit, ons eet vanaand ou spagetti en vervalde 2020 pesto. Archie eet kos wat al  twintig jaar terug verval het, so die pesto is nog jonk. Ek kook so tussen die chaos en later smul ons aan pasta en pesto. Na 'n lekker warm stort, kruip ons in die bed en slaap heerlik.

Chaos op Maja

Pasta en pesto

Vreetsaam