Monday, May 2, 2022

Terug op Maja

30 April en 1 Mei 2022. Saterdag en Sondag.

So ja, al Archie se besigheid in Volos is afgehandel. Vandag klim ons die bus na Thessaloniki. Ons vertrek 12:15 en kom 14:00 by die busterminaal. 'n Taxi neem ons na die veerboothawe en ons begin ons 9 ure se wag vir die veerboot na Lesvos, waar Maja weemoedig wag.

Thessaloniki is 'n groot stad. Dink amper dis Griekeland se tweede grootste stad. Archie stap om vir ons iets te koop om te eet, terwyl die bagasie my geselskap hou. Hier is absoluut niks by die hawe om te koop nie. Hy kom terug met 'n souvlaki gyro en 'n appel vir elk. En sap. Ons eet gulsig, want ons is honger. As ons moeg gesit is, gaan loop ons beurtelings so bietjie rond. Die kaai is die uithangplek vir die studente en daar is so baie van hulle daar, dat ek wonder wanneer hulle dan klas draf. 

Thessaloniki

Studente

Vensters

21:00 is nog vêr en die ure strek oneindig lank voor ons uit. Teen 19:00 begin die passasiers opdaag en begin saamdrom by die heining. Ons gaan met die reuse Blue Star Mynonos, vaar. Teen 20:00 begin hulle die mense groep vir groep aan boord gaan. Uiteindelik is ons aan boord en gaan na ons besigheidsklas sitplekke. Ons gaan sit nie dadelik op ons sitplekke nie, maar kry plek by 'n lekker sofa om te sit en uitkyk.Dis heel voor by in boot.

Sit heel voor

Sofa

Besigheidsklas

Uiteindelik vertrek ons en die lang vaart na Lesvos begin. Ek sien nou dat 'n masker baie veeldoelig is. Baie sit dit oor hul oë om te kan slaap. Op 'n stadium, tussen Limnos en Lesvos, kan ons voel die see is rof. Ek hoor hoe slaan die boot die deinings en die water spoel oor die dek. Die kaptein kondig af dat ons slegte weer het en almal moet op hulle sitplekke bly. Later bedaar die see weer. So tussen alles deur kry ons tog maar bietjie gebroke slaap. Ek slaap op die sofa en Archie op die sitplekke.

7:30 kom ons in Mytilini, Lesvos, aan en die lang stap na die marina begin. En toe sien ons haar - 'n verstote, eensame weemoedige Maja. Ons is só bly om haar te sien op kaai D. Sy is darem nog (op die oog af) ongeskonde na drie winters in die water. Daar is wel twee fenders wat stukkend is. Ons gaan aan boord, en ons is baie verlig dat daar geen vreemde nat- of mufreuk is nie. Sy het darem nie gelek nie, sy is kurkdroog binne. 

Kaai D

Kleine Maja

Fenders

Welkom

Dis vakansiedag en geen winkels is vandag of môre oop nie. Vanaand suig ons weer 'n Halls vir aandete, soos in 2013, toe ons vir Maja ontmoet het.

Ons pak uit en werkskaf in Maja. Archie is die sewende hemel, want 'n klomp goed is stukkend. Daar's 'n waterlek (ons hoor die waterpomp gaan aan al gebruik ons nie water nie) en hy sien die kombuiskraan lek. Die kraan word uitmekaar gehaal en toe heelwat later weer teruggesit. Die water lek nog steeds. 

Ons tel die kussing van die bank op en ontdek 'n skatkis vol kos wat ons in 2019 agterlaat het. Vannand suig ons beslis nie Halls vir aandete nie! En so met die oplig van die kussing, ontdek ons die groot  waterlek. Die water lek by 'n buigbare konneksie tussen voerpyp en die badkamerkraan.

Die probleem is om die ou buigbare pyp van die kraan af te kry. Dit sit heel agter in die hoek in 'n klein kas en boonop is alles geroes. Uiteidelik kry Archie 'n spanner op die moer en begin draai. Kerplaps, daar breek die hele bout af. PROBLEM SOLVED. So word die tweede moer ook "losgemaak" en, siedaar, die kraan kom nou maklik uit. Archie besluit dat dit tyd is om 'n nuwe kraan te koop. Dit sal Woensdag se werk wees. Die kraan is moer toe.

Maar nou moet die twee oop pype geblok word sodat ons die watersisteem weer kan gebruik. Makliker gesê as gedaan.

Toe begin Archie daaraan werk. Soms spat en spuit die water. Dan is dit droogmaak en verder werk. Ai, ek sal weer moet gewoond raak aan die primitiewe lewe van 'n Seilende Sigeuner. Archie ontdek nog baie skroewe en moere wat geroes het. Dan maak hy dit skoon en sit dit terug.


Soek die lek

Mr Fixit

Probeer kraan uithaal

Die sondebok - stukkende buigbare pyp

Terwyl Archie hom afsloof met al die waters en pype en roes en moere, loer ek weer vol bewondering in die koskas. So dink ek hier is nie kos nie. Maar dis verskillende soorte pasta, pesto, konfyt, heuning, koffie, tee, Nar, pul biber, oats, rys, blikkies sardientjiesen tuna. Sommige het nou wel lankal die vervaldatum bereik, ander het net-net verval en ander op die rand van verval. Sommige het nog wraggies nie verval nie.

Ou kos ...

... nog kos ...

... sjokolade ...

... en BIER

Ek delf in die koskas en besluit, ons eet vanaand ou spagetti en vervalde 2020 pesto. Archie eet kos wat al  twintig jaar terug verval het, so die pesto is nog jonk. Ek kook so tussen die chaos en later smul ons aan pasta en pesto. Na 'n lekker warm stort, kruip ons in die bed en slaap heerlik.

Chaos op Maja

Pasta en pesto

Vreetsaam

Friday, April 29, 2022

Volos

26 tot 29 April 2022. Dinsdag tot Vrydag.

Ons, veral ek, neem swaar afskeid van Skopelos. Kyk vir oulaas na ons huis daar bo en wag vir die 7:00 veerboot na Volos. 

Hier's ons huis

Die veerbootvrou kom daar aan en sê die Flying Dolphin gaan ons by Agnondas se hawe oplaai. Dit gebeur gewoonlik as die wind te veel waai en die deinings te groot by Skopelos se hawe is. Ek en Archie kyk na die spieëlgladde rimpellose see en wonder maar net. Hulle laai ons almal in 'n bus en daar trek ons. En toe moes ons so ewe betaal vir die busrit.  Dis mos verregaande! 

Ons klim in die Dolfyn en vaar na die volgende been van ons huiskoop. Die prokureur gaan vir Archie vergesel om sy belastingnommer te kry, asook om 'n bankrekening oop te maak. Daarsonder kan jy nie 'n huis in Griekeland koop nie. 

Volos is maar doodgewone hawestad. Effens lelik. Ons stap na ons verblyf, City Hall House en dis skoon en netjies. En baie funksioneel. 

Ons soek mos meubels vir ons huis en klim die bus en ry na Larisa, waar ons die volgende bus klim na IKEA. Dis 'n baie groot winkel met alles wat jy nodig het om 'n huis toe te rus. Hulle lewer ook in Skopelos af. Ons wil nie nou al koop nie, ons kyk net. Die berge in die omgewing het nog hul wintershoede op en oral is die veld in geel getooi. 


Op pad na Volos

Winterhoed

By 'n ander groot winkel wat potte vir plante en ek weet nie wat alles verkoop nie, word ons ingang geweier omdat ons nie ons vaccine sertifikate daar het nie. (Het skoon vergeet dis op Archie se foon ook.) Ons stap toe maar druipstert weg na IKEA toe  (waar hulle ook ons vaccine vra) en sien baie goed wat ons later kan koop. Ons is eintlik net besig om pryse te vergelyk. Ons gaan ons brankrot moet koop om daai huis te meubileer! Toe ons terug by ons blyplek kom, is ons poegaai.  Ons gô is uit. 

IKEA

Die Woensdag is dit sukke tyd. Archie lyk skoon uitgevat en formeel met sy langbroek. Ek het gesê hy moet ordentlik aantrek en 'n goeie indruk maak. Archie en Evangelia gaan vir die belastingnommer. Archie bly baie lank weg en na drie ure kom hy terug. Met 'n belastingnommer!!! Hoera!

Uitgevat

Ons gaan stap in die dorp rond en 'n straat-hiasint roep my naam. Ek koop dit teen my beterwete, en veral teen Archie se beterwete. Die plant sal nou saam na Maja toe moet gaan en later eers sy rusplek vind by die nuwe huis. My oorle ma was so erg oor blomme. Hoe ouer ek word, hoe meer aard ek na my ma, 'n regte blommemeisie.

Hiasint

Stap hawe toe en verken die kaai, want ons sal later weer hierheen met Maja moet vaar om aansoek te doen vir ons Goue visums. Ons wil kyk waar is dit veilig om vas te meer. Daar is veilige plekke en ek voel sommer meer gerus. Volgens Archie was dit in 2017 maar erg op die kaai in Volos. Ek was nie daar nie, want ek is mos huis toe omdat my ma siek was.

Donderdag is Archie weer uitgevat, want hy en Evangelia is oppad vir bankrekening. Hy bly nie so lank weg nie en kom terug. Met 'n Griekse bankrekening!!! In Griekeland moet jy 'n belastingnommer en Griekse bankrekening hê om huis te koop.

Weer uitgevat

My vriend Leon, van Bethlehem in die Vrystaat se wêreld, vra toe mos nou die dag wat verhoed dat die koop deurgaan. Ek het dit so aan hom verduidelik. 

Lang storie. Hier in Griekeland moet 'n prokureur die koopkontrak opstel (en voor ons dit kan teken) en dit dan vir notaris gee. Lg kyk of alle aanbouings ens wettig is. Die Grieke bou sommer sonder planne aan en sit onveilige balkonne op. Dit beteken verkoper moet alles regmaak voor die verkoop, of koper moet bewus daarvan wees en onderneem om dit reg te maak. Dan eers word die kontrak geten. Volgens Mike is Sue se huis wettig. Maar 'n bou ingeneur moet eers alles ondersoek en wettig verklaar. Dit kan baie tyd neem. 

Dan moet hulle seker maak die hele huis aan Sue (eienaar) behoort. In die verlede het jy bv huis van een broer gekoop wat vloer 1 en 2 besit, maar dan het die basement aan ander broer behoort. Kom dan later agter basement behoort nie aan jou nie. Ens. Nou maak hulle seker alles is reg. En alles gebeur op Griekse tyd. So ons gaan nog lank wag. Intussen gaan ons Schengen dae uithardloop, daarom moet ons Turkye toe seil om ons dae te spaar. 

Ek en Archie gaan koop brood, bloukaas en salm vir middagete en ons smul behoorlik. Ons sit op ons stoepie, saam met die hiasint.

Middagete

Archie se laaste besigheid hier by Volos is om vir Evangelia die reg te gee om dokumente namens ons te teken, indien nodig. Die proses word deur 'n notaris gedoen en kos Archie €130.00. Ai tog, alles kos geld. Dié dat 'n roomys eintlik vir ons 'n onbekostigbare luukse is.

Toe is ons weer strate toe. Volos is nie 'n toeriste stad nie, maar 'n werkende stad. Dus, mooi is dit beslis nie, maar dit het tog 'n "vibe". Mense drink koffie en eet in die talle restaurante. Daar is selfs 'n straatmusikant of twee.

Volos se strate

Volos

Kerk

Blommeprag

Dan is daar ook bedelaars wat sit en bedel en die omie wie se broek afval. So loop hy maar met sy broek op sy knieë asof dit die natuurlikste ding is om te doen. Gelukkig is die ou vuil hemp lank en dit bedek darem sy geskaamte. "People stop and stare ..."

"People stop and stare ..."

Langs die hawe is talle vergete seiljagte wat wag op die kaptein, soos ons kleine Maja. Ons eet ons eerste roomys van die seisoen langs die kaai. Heerlik luuks.

Kaai kerk

Breekwater

Langs die kaai

Roomys eet

Môre, Saterdag, klim ons 12:15 die bus na Thessaloniki en dan 21:00 die veerboot na Lesvos. Behoort so Sondag, 7:00 by Mytilini Marina aan te kom. Daar waar Maja al in trane wag op die kaptein.

N.S. Ons wil net vir Mike, die eiendomsagent en Evangelia, ons prokureur, hartlik bedank dat hulle ons so bystaan met die huiskoop. Alleen sal ons dit nie kan doen nie.


Mike en Evangeia

Sunday, April 24, 2022

Skopelos Scramblers. Panormos hike.

 24 April 2022. Sunday.

Today we met again with our lovely new friends from the Skopelos Scramblers. Muriel organized a wonderful spring flower walk in the area of Panormos.

Afterwards, having been joined a paint-flecked Sev(?), we enjoyed a delicious lunch at Kosta's taverna metres from the sea. Roast lamb, fish soup, cold beer, crisp white wine and pleasant company made this an experience to be cherished. 

Many thanks to the friendly people of this green and blue island, which we hope will soon become our home.

Here are the highlights of the walk.

Dominique, Christine, Muriel, John, Archie, Jim, Leah, Charles, Marianne, Jenny, Terry, Janice and Eileen