Sunday, April 24, 2022

Skopelos Scramblers. Panormos hike.

 24 April 2022. Sunday.

Today we met again with our lovely new friends from the Skopelos Scramblers. Muriel organized a wonderful spring flower walk in the area of Panormos.

Afterwards, having been joined a paint-flecked Sev(?), we enjoyed a delicious lunch at Kosta's taverna metres from the sea. Roast lamb, fish soup, cold beer, crisp white wine and pleasant company made this an experience to be cherished. 

Many thanks to the friendly people of this green and blue island, which we hope will soon become our home.

Here are the highlights of the walk.

Dominique, Christine, Muriel, John, Archie, Jim, Leah, Charles, Marianne, Jenny, Terry, Janice and Eileen














































Skopelos Paasfees. Paas Sondag

 23 April 2022. Saterdag/Sondag

Ek en Archie is alweer oppad kerk toe, na die Paasfees. Vanaand is dit met ons wit kerse. Ons stap so 22:00 dorp toe. Die Hellenic Seaways se groot veerboot staan vanaand in die hawe. Helder verlig. Al die ligte op die boot brand. Eienaardig, die veerboot oornag nooit in die hawe nie. Wonder hoekom vanaand ...

Verligte veerboot

Ek het gedink die dorp sal wemel van mense, maar dis stil. In die tavernes sit daar paar toeriste. Ons sit toe maar op 'n bankie en wag. (Archie effe frustreerd.) Die polisie staan op die kaai waar die hawe polisie se boot altyd vasmeer. Die boot is nie daar nie. 

Darem sien ons later ander mense met wit kerse. Ons weet nie eintlik na watter kerk om te stap nie en stap eers na verkeerde kerk toe (iemand het ons daarheen verwys). Pikdonker daar. 

Ongeveer 23:00, terwyl ons opstap na verkeerde kerk, kom die hawe polisie se boot ingevaar en die veerboot en ander bote blaas hulle mishorings. Die lawaai is so groot, dat ek bang is Skopelos se mure gaan nou enige tyd val. Soos in Jerigo van ouds.

Ons stap toe maar na die kerk waar ons Vrydagaand was en gaan sit in die kerk. Daar is 'n paar mense in die kerk. Toe gebeur dit. 'n Baie aantreklike kaptein (of iets) kom daar aan, in sy swart uniform en baie blink skoene, met 'n latern wat brand. Toe besef ons wat hier aan't gebeur is.

Laat ek verduidelik, soos iemand ons die ander dag vertel het. Die Grieks Ortodokse Kerk gebruik die Julian kalender. Die heilige vlam  word in Jerusalem gaan haal en na Athene toe geneem. 'n Ryk man wat in Skiathos woon, stuur 'n vliegtuig na Athene om 'n latern aan die brand te steek met die heilige vlam. Vlieg dan met vlam terug Skiathos toe, waar die kaptein van die hawe polisie boot (ek dink) van Skopelos ons latern gaan aansteek. Die mishorings van die bote is om aan te kondig dat die polisie boot met die heilige vlam arriveer het vanaf Skiathos. Magiese oomblikke.

Dis nou terwyl ons so in die kerk sit, dat díé kaptein daar instap met die latern. Dis die heilige vlam! Die priester steek dan 'n paar kerse en klein laterns met die heilige vlam aan. Nog meer magiese oomblikke. 

Versierde kruis

Kaptein met heilige vlam

Kers is aangesteek

Vlam word versprei

Die kerkdiens begin, en meer mense kom die kerk binne. Ek en Archie staan op en gaan uit, sodat gemeentelede sitplek kan kry en gaan wag buite die kerk, saam met die skare. Ons verstaan mos in elk geval nie 'n woord wat hulle sê nie. Dis grieks vir ons!

Die priester en sy gevolg kom later uit en volvoer die seremonie buite die kerk met voorlesings. Die man wat sing, val so nou en dan in met sang. Die aangesteekte kerse kom uit en almal steek hul wit kerse aan en die diens gaan aan.

Seremonie

Skielik dink ek weer die mure van Skopelos gaan val. 'n Verskriklike lawaai! Bom klappers, wat na oorlog klink, vul Skopelos se strate en oordonder die priester se stem en vuurwerke verlig die hemelruim. Dis om aan te kondig, Christus het opgestaan. Toe grens ek!

Vuurwerke

Christus het opgestaan

Wat 'n fees! Wat 'n samehorigheid! Wat 'n ontploffing van emosies! Wat 'n nag! Christus het opgestaan! Nog oneindig baie magiese momente. 

Terloops, "grens" beteken huil.

Vir meer inligting oor die Griekse Paasfees :

Saturday, April 23, 2022

Skopelos Paasfees. Heilige Vrydag.

22 April 2022.


Die Grieks Ortodokse Kerk vier Paasfees 'n week later as Suid-Afrika. Dis 'n baie religieuse tydperk. 

Ek en Archie gaan koop ons kerse by ons eie supermark. Twee bruines vir Vrydagaand en 2 wittes vir Saterdag om middernag. Die vrou het weer benadruk dat ons die Vrydagaand met die bruin kerse by die kerk aankom en nie die wittes nie. Sy wil net seker maak ons verstaan. Die bruin kerse is om die hartseer van die kruiseging te simboliseer. 


Reg vir Paasfees

Die vrouens van Skopelos is die hele Vrydag besig om  blommekranse te maak om die "bier" te versier. Dit word met die grootste sorg en liefde gedoen. 

'n "Bier" is 'n raamwerk waarop 'n dooie se liggaam na die graf toe gedra word. In die "bier" word daar dan 'n ikoon of prent van Christus geplaas en dit simboliseer dan Christus wat na die graftombe toe gedra word.

Daar is dienste in vier van die kerke op Skopelos en dis waarheen ek en Archie oppad is, gewapen met ons bruin kerse.

Daar is aanvanklik net 'n paar mense in die kerk. Soos die lang kerkdiens vorder, kom die mense op strepe daar aan met hul kerse en vergader voor die kerk. Die kerk is in elk geval nie groot genoeg vir almal nie. 

Sodra die diens klaar is (so 21:30 se kant) word 'n prosesssie gevorm gelei deur die priesters, die versierde kruis, kerkamtpenare en die die "bier" wat deur kerkgangers gedra word. De kerse word aan die brand gesteek. Jy vat jou kers en steek dit met iemand anders se vlam aan,  as't ware van hand tot hand. Dit laat jou regtig deel voel van die prossessie.

Prosessie word gevorm

Versierde kruis

Voorlopers

Dis nogal 'n ondervinding om as deel van die prosessie so deur die donker strate van die chora te loop met verligte kerse en die sang van die kerkmanne en gemeente.

Die prosessie (wat al groter word soos nog mense saamloop) loop later af na die hawe en dan weer boontoe na 'n ander kerk. Hier kom dit tot stilstand en almal loop onder deur die "bier".

"Bier" by die hawe

Op pad boontoe

Prosessieganger loop onder deur

Wat 'n ondervinding om die heilige gebeurtenis saam met die eilandbewoners te ervaar.

Sunday, April 17, 2022

Die lang wag

 11 tot 15 April 2022. Maandag tot Sondag


Hier by ons op Skopelos gebeur op die stadium nie juis veel nie. Ons wag om die prokureur 27 April te sien. Ons kon nie die afspraak vervroeg het nie. 

Die wind het vreeslik gewaai. Die see het soos Wildernis in Wes-Kaap se strand gelyk. Vreeslik koud gewees. Mus en serp weer.Tot Archie het 'n langbroek gedra en nie sy tradisionele Maja-broekie nie.

Wildernes

Winderig

Mus en serp


Ons stap rond in Skopelos op soek na meubels, want Sue, die eienaar, gaan omtrent alles vat. Dis omtrent 'n ding en 'n half om meubels te voet te soek. Eintlik jok ek nou, want hier is net een meubelwinkel waarvan ons weet. Tassos, wat soos 'n seerower lyk, is baie behulpsaam (en ook baie duur). Sy meubels is van baie goeie gehalte en word in Thessaloniki gemaak. Die sitkamerstel en ook die eetkamerstel steel toe daar en dan my hart. Kos 'n arm en 'n been en ons kan nie eers van pap en wors leef om geld te spaar nie, want hier is pap (polenta) peperduur en wors word "sausage" genoem. 

Kerk van die Maagd Maria


Ons koop ons eerste vis van die seisoen en dié seedier verander in 'n heerlike feesmaal. Saam met pan aartappels smaak dit vorentoe, altyd vorentoe.

Eerste vis


Ons loop vir Dominique en Christine (Skopelos Scramblers) raak en hulle nooi ons na hul huis. Toe ons die volgende dag hulle huis soek, vind ons dit nie en loop toe maar in die landelike deel van Skopelos rond. Dis pragtig.

So gaan die dae een vir een verby. Ons gaan elke dag supermark toe en die kassier ken ons al. Maak 'n draai by die kwekery wat 'n miernes van bedrywigheid is. Lente is in die lug en almal koop plantjies vir hul potte. En ek sien 'n magdom potte en plante wat ons moet koop. Sue gaan ook 'n klomp van haar kleiner potplante saamvat. Sy is nie soos hulle in daai ou halleluja liedjie sing nie, wat sê:"Moet ek gaan met leë hande ...", nee, sy gaan met armsvol! (Genade, maar my woorde speel parte met my denke en my logika is seker maan toe!) 

Lemoene

Aarbeie


Ons wag vir die prokureur en Maja wag vir ons.

Hier op die eiland is dit die ene doenigheid. Want sien, almal kry hulle tavernas en winkels reg vir die seisoen se toeriste. Dit verf en verf en verf nog. Die mure word geverf. Stoele en tafels ook. Alles wat lyk of dit 'n verfkwas nodig het, loop deur. Hulle skrop en polish omtrent soos wat ons altyd aan die begin van die seisoen op Maja doen. 

Hulle hoop op vragte toeriste wat daagliks die hawe binnevaar op reuse veerbote. Mense is uitgehonger om 'n normale bestaan te voer. Die lewensaar van die eilande is toeriste met vet beursies, wat lus is vir spandeer..

Archie se skootrekenaar se "Windows" het hul uitsig verloor. Toe is dit winkel toe dat die een of ander slim nerd dit kan regmaak. Dit is omtrent 'n ding om mens se lewensuitkyk in nuwe vensters te installeer. Langsame proses en ure se geduld.

Saterdagaand is die eerste keer dat die kaai lewe. Die musiek speel feestelik en kom oor die baai aangedreun. Onthou, ons verblyf kyk uit op die dorp. Mense lag en gesels. Stadig maar seker begin die seisoen.

Vandag is dit 'n mistroostige nat dag hier op Skopelos. Grys en grou is dit nou en weg is die blou dis grys en grou.

Grys en grou

Gryser en grouer



Monday, April 11, 2022

Skopelos Scramblers

10 April 2022 Sondag.

Ons bly heerlik in Skopelos. Vandag gaan ons saam met die stapgroep, Skopelos Scrambles, na Glysteri Strand toe stap. Ons moet hulle 10:30 by Kastro karpark (Mylos Square) kry.

Ons stap eers oppad soontoe na ons huis toe en dit neem ons 9 minute om daar te kom van die hawe af. Die laaste deel maak mens nogal moeg. Ons huis staan darem nog en toe loop ons verder na Mylos Square.

Ons ontmoet die mede-stappers. Christine en Dominique van Frankryk, Jim en Muriel van Skotland, John en Janice van Engeland. En natuurlik ons van Suid-Afrika. 

Janice, John, Archie, Jim, Christine, Dominique and Muriel

Ons stap te heerlik na die strand. Oral langs die landelike pad, staan olyfbome in hul glorie tussen die fyn lenteblommetjies. Bokke se klokke klingel. Vreemdelinge leer mekaar gesels-gesels ken. 

Olyfbome

Lenteblom

Jim en Archie

Jim, Archie en Christine

Strand toe

By die strand gekom, kan ek die versoeking nie weerstaan om my stewels uit te trek en my voete in die see nat te maak nie. Die see is koud en verfrissend. Verwelkomend. Muriel se skoene waai ook en ons is albei in die helder deurskynende blou water.

Glysteri Strand

Voete in die water

Janice en John

Christine en Dominique

Toe gooi Muriel die tradisionele pieknieklap op die sand en die piekniek begin. Almal deel en ons eet heerlik saam. Almal aanvaar ons as deel van die groep en ons voel sommer baie tuis. Later sluit Stef en Marianne van Italië by ons aan. Hulle het eers vandag met die veerboot gekom. Baie gawe mense. Ons gesels soos ou vrinne. Ons voel sommer baie tuis hier op Skopelos. 

Pieknieklap

Die piekniek begin

Kaas en ham pastei

Ons stap terug en ons groet ons stapvriende. Ek en Archie besluit om te kyk waar 'n ander huis is waarvan ons ook gehou het, maar reeds verkoop is, die Argitek Mansion. Ons stap en verdwaal 'n paar keer voordat ons hom vind. Die huis lyk pragtig van buite af.

Argitek Mansion

Toe stap ons terug na ons apartment toe en kom moeg, maar tevrede tuis. 

Ons sien op die weervoorspelling dat daar vannag sterk winde gaan waai en ek dink aan Maja, wat geduldig in Lesvos wag dat ons moet klaar huis koop en haar dan gaan versorg.