11 tot 15 April 2022. Maandag tot Sondag
Sunday, April 17, 2022
Die lang wag
Monday, April 11, 2022
Skopelos Scramblers
10 April 2022 Sondag.
Ons bly
heerlik in Skopelos. Vandag gaan ons saam met die stapgroep, Skopelos
Scrambles, na Glysteri Strand toe stap. Ons moet hulle 10:30 by Kastro karpark
(Mylos Square) kry.
Ons stap
eers oppad soontoe na ons huis toe en dit neem ons 9 minute om daar te kom van
die hawe af. Die laaste deel maak mens nogal moeg. Ons huis staan darem nog en
toe loop ons verder na Mylos Square.
Ons
ontmoet die mede-stappers. Christine en Dominique van Frankryk, Jim en Muriel
van Skotland, John en Janice van Engeland. En natuurlik ons van
Suid-Afrika.
Janice, John, Archie, Jim, Christine, Dominique and Muriel |
Olyfbome |
Lenteblom |
Jim en Archie |
Jim, Archie en Christine |
Strand toe |
By die strand gekom, kan ek die versoeking nie weerstaan om my stewels uit te trek en my voete in die see nat te maak nie. Die see is koud en verfrissend. Verwelkomend. Muriel se skoene waai ook en ons is albei in die helder deurskynende blou water.
Glysteri Strand |
Voete in die water |
Janice en John |
Christine en Dominique |
Toe gooi
Muriel die tradisionele pieknieklap op die sand en die piekniek begin. Almal
deel en ons eet heerlik saam. Almal aanvaar ons as deel van die groep en ons
voel sommer baie tuis. Later sluit Stef en Marianne van Italië by ons aan.
Hulle het eers vandag met die veerboot gekom. Baie gawe mense. Ons gesels soos
ou vrinne. Ons voel sommer baie tuis hier op Skopelos.
Pieknieklap |
Die piekniek begin |
Kaas en ham pastei |
Ons stap
terug en ons groet ons stapvriende. Ek en Archie besluit om te kyk waar 'n
ander huis is waarvan ons ook gehou het, maar reeds verkoop is, die Argitek
Mansion. Ons stap en verdwaal 'n paar keer voordat ons hom vind. Die huis lyk
pragtig van buite af.
Argitek Mansion |
Toe stap
ons terug na ons apartment toe en kom moeg, maar tevrede tuis.
Ons sien
op die weervoorspelling dat daar vannag sterk winde gaan waai en ek dink aan
Maja, wat geduldig in Lesvos wag dat ons moet klaar huis koop en haar dan gaan
versorg.
Saturday, April 9, 2022
Huis Koop!
8 April
2022. Vrydag.
Ons maak
'n afspraak by 'n ander agent om vir ons nog huise te wys. Ons wil eintlik die
Geelhuis hê, maar ek is baie nuuskierig hoe die ander huise lyk, al is dit nie
presies wat ons wil hê nie. Sy sal ons Saterdag 10:00 gaan wys.
Vandag
wil ons kyk of na ons Geelhuis toe kan loop van die hawe, want hy is nogal hoog
op. Ons wil sommer vir 39 Steps gaan kyk. Archie is mos baie slim, hy het
hoeka mos Gr 1 gespring. Hy het die huise geïdentifiseer op Google en nou is
dit weer skattejag. Ons kry 39 Steps. Die huis is nie meer op die mark nie,
maar hy is nie so mooi soos op die foto's nie. Ons kry die volgende huis met
die banke op die stoep. Nee wat.
"39 Steps" huis |
Ons kry
die huis met die "attitude". Nee wat. Ons sien die huise net van
buite af. Toe loop ons na die Geelhuis en kry hom later. Ek gaan sit buite op
die ingang se trappies.
Huis met "attitude" |
Ons huis |
Ingang |
En toe lui Archie se selfoon. Dis Mike. Hy het met Sue gepraat en sy aanvaar die aanbod. Ons is stomgeslaan en geskok. My mond word droog. Ons gaan 'n huis op Skopelos koop. Ons moet vir Mike die middag laat weet. Genugtig!
Ons loop
terug hawe toe om 'n pad te soek wat na die huis lei. Onthou die Griekse choras is
mos soos 'n doolhof. Klomp klein straatjies, trappe en verdwaal-stegies. Onder gekom, besluit ons ons
gaan weer op loop om seker te maak dat ons weet om by huis te kom. Maar praat van die pad byster raak! dis ons daai. Ons verdwaal in ons malle verstand in. Ons kom darem na 'n hele paar ompaaie daar uit en die Griekse ou
tannie, ons nuwe buurvrou, kyk ons aan. Dis die tweede keer dat ons by haar
verbyloop. Sy praat Grieks met ons, maar ons glimlag maar net vir haar, want
dis Grieks vir ons.
Nuwe buurvrou |
Ons stap
weer af en kyk baie mooi hoe die pad lei en toe stap ons weer op. Díé keer loop ons sonder
verdwaal na die huis wat ons so onwetend klaar gekoop het. Archie kanselleer
ons afspraak met die ander agent en sê vir Mike ons koop die huis. Daai
Geelhuis het al twee jaar terug met my gepraat. Praat nou nog. Ek is net
bietjie geskok dat dinge so vinnig gebeur. Ons het skaars in Skopelos grond gevat, toe is ons al grondbaronne.
Ons huis |
Friday, April 8, 2022
Reis na Skopelos
7 April 2022. Donderdag.
Toe is
ons reg om met die veerboot na Skopelos te vertrek. George van
Sokaki Rooms, kom haal ons bagasie een vir een en ry dit met sy motofiets hawe
toe. Baie gawe man. Die groot ou veerboot kom ingevaar en ek is sommer lus om
'n traan te pik. Die groot oomblik is hier. Ons wag al twee jaar om Skopelos
toe te gaan om 'n huis te koop.
George op sy perd |
"Marietjie surrounded by all her worldly possessions ... |
Veerboot |
Ons sukkel behoorlik om die tien ton bagasie aan boord te kry. Die veerboot vertrek. Skiathos word kleiner en 'n nuwe horison wag. Ons los wat agter is en kyk na wat voorlê. 'n Nuwe hoofstuk in ons lewe.
Mamma Mia kerkie |
Skopelos |
Die ou
grote meer vas en dis weer ons en die tien ton bagasie. Gelukkig wag Mike en
Safa ons in. Hulle is eiendomsagente wat vir ons huise gaan wys. Hulle ry ons
aan na Karavos Apartment, ons verblyf vir die volgende negentien dae.
Mike en
Archie besluit om sommer dieselfde middag na ons gunsteling huis te gaan kyk.
En ek dog ons gaan eers Maandag ons soektog na 'n huis begin. 14:30 tel Mike
ons op en daar trek ons. Op pad kyk ons na 'n ander huis met 'n pragtige uitsig
en toe is dit sukke tyd. Ons kom by ons "Geelhuis", wat lankal nie
meer geel is nie. Op die webwerf is dit geel, al is hy intussen spierwit
geverf. Maar ek en Archie praat nog steeds van die Geelhuis.
Ek ken
díé huis se foto's uit my kop. Het dit oor en oor gekyk. En ons word nie
terleurgestel nie. Dis presies wat ons in 'n huis wil hê, tuin en al. Twee
slaapkamers en badkamer onder (sodat ons gaste nie onder ons voete is as hulle
kom kuier nie). Middelste vloer het kombuis en sitkamer en die wonderlikste
terrasse. Tot 'n braaiplek by kombuis waarvan ons nie eers geweet het
nie.
Daar is
'n tuin met grond, wat baie raar in die Griekse dorpies is. Rose en wit irisse
groei welig in die tuin. Laventelbos én 'n suurlemoenboom met regte egte
suurlemoene. Ek is behoorlik in my noppies en wil dadelik 'n roosmaryn plant.
En kruisement, oreganum en pietersielie. Archie keer net.
Uitsig oor die baai |
Uitsig oor die dorp |
Uitsig na Alonnisos |
Uitsig uit ons kamervenster |
Mike vat ons terug na ons apartment toe en ek en ou Arch bespreek die huis. Maar ek wil graag na ander huise ook gaan kyk, alhoewel ek weet dat dit nie aan al ons vereistes voldoen nie. Ek het al daai huise op internet bestudeer.
Mike bel
die aand en sonder dat ons dit eintlik besef, maak ons 'n offer heelwat laer as
verkoopprys. Archie het eintlik net vir Mike gevra of Sue, die eienaar, so 'n
offer sal oorweeg. Ons eet heerlike pasta en pesto en gaan slaap.
Pasts en pesto |
Thursday, April 7, 2022
Skiathos
6 April
2022. Woensdag.
Sokaki Rooms |
Church of the Holy Trinity |
Ontbyt by die hawe |
Skiathos |
Ons begin soek na huise wat ons op die internet gesien het wat te koop was en spoor sowaar drie op. Dis amper soos skattejag. Ja nee, ons wil nie in Skiathos koop nie. Baie van die huise hier het nie see-uitsig nie.
Hou amper van hierdie huis |
Archie gaan Germanos toe en gaan koop Griekse lugtyd en internet. Dit is nogal 'n tydsame proses. Nou is ons weer op die lug. Ons eet ons eerste gyros, heerlike Griekse straatkos.
Wednesday, April 6, 2022
Die lang reis
4 en 5
April 2022. Maandag en Dinsdag.
" Nou is dit weer tyd om te groet. Tot volgende jaar,
wanneer ons die volgende seiljaar aanpak". So het ek so ewe in September 2019 gesê. So asof dit vanselfsprekend
is. Min het ek geweet wat voorlê. 'n Nare, vreemde virus, wat die wêreld en die
volheid daarvan, verander het. Covid het 'n bangmaakwoord geword. Selfs mense
wat ek ken, is dood. En die meeste mense wat ek ken, het die virus gekry. Ek en
ou Arch is dit gespaar (tot dusvêr).
Die
tasse is gepak en dis baaaie tasse. Die familie het afskeid geneem en Francois,
my oudste seun, neem ons en die magdom bagasie, lughawe toe. Hy laai ons sommer
net af, ons groet en ons reis na die bekende onbekende begin. Eers is dit die
rapid antigen covid toets, wat die Grieke vereis. Ons slaag die toets! Dis net
papiere, covid toetse, vaccine sertifikate, paspoorte, boarding pass. Ons moet
kophou om niks te verloor nie.
Archie, ekke, Michelle met Mia, Johan, Roelien met Olivia, Francois en Pa |
Die vlug van Qatar is met 'n uur vertraag. Ek aard na my oorle ma en ek wonder al klaar of ons betyds gaan wees vir ons volgende vlug na Athene vanaf Doha. Ons het net 1h15min om die volgende vlug te kry en die blerrie vliegtuig is klaar 'n uur laat! Donnerdag, kan alles maar nie liewer glad verloop nie!?
Ons sit
heelagter in die vliegtuig. En as ek sê heelagter, bedoel ek héélagter. Teen
die agterse muur. Dit beteken ons gaan lank vat om uit die groot voël te kom.
Die lugwaardin verseker ons dat hulle bewus is van die situasie en die
vliegtuig sal vir ons wag. Toe voel ek beter.
Die
vliegtuigkos is die slegste wat ek nóg geëet het. Hondsleg. Ek sluk dit af met
'n glasie rooiwyn (ek het eintlik vir wit gevra). Die Afrikaanse jongman wat
langs my sit, sê sy meisie in Amerika is nog 'n "virgin" en hy is
spyt hy is nie meer 'n "virgin" nie. En ek wonder hoekom hy dink ek
moet dit weet.
Op Doha
gekom, is ons amper laaste uit die vliegtuig, en ons ander vlug vertrek amper.
Archie is vlugvoetig voor en ek met my bilaterale knieë, gee my beste en ons
wedloop na die regte hek begin. Op 'n stadium is daar iemand wat sê:"Athens",
en in 'n rigting wys. Ons kom oop en toe by die regte hek aan, gaan deur (ek
dink ons het in ons haas voor 'n paar mense ingedruk wat nog besig was om te
"board"). En ons is op die vliegtuig. Daai vlug is toe ook vertraag,
want hulle moes ons bagasie van die ander vliegtuig kry. Wel, ons is toe
verlig, doodmoeg en uitasem op die vliegtuig oppad na Athene. Langs Archie sit
'n Thailandse vrou wat niks Engels verstaan nie en sy staan toe op toe ons besig
was om te land, tot Archie en lugwaardin se ontsteltenis.
Toe ons
op die lughawe in Athene kom, is ons altwee seesiek. Alles voel of dit beweeg.
Na 9 ure op Athene se lughawe, vlieg ons uiteindelik Skiathos toe in een van
daai vliegtuigies wat nog propellers het. Dit voel mos altyd vir my of hulle
graag in die see wil val. Ons kom 22:00 in Skiathos aan. Doodmoeg. Ons is
Maandag 14:30 by die huis weg en dis nou Dinsdag, 22:00. Lang reis!
George,
van Sokaki Rooms, staan so ewe daar met 'n naambord en ons en die baie bagasie
word aangery na ons blyplek vir twee dae in Skiathos, voordat ons Skopelos toe
gaan vir die groot huiskoop.
Die
aarde draai en my kop draai en ek en Archie draai saam. Alles beweeg, behalwe
die bed en toe maak ons daai bed seer.