Monday, April 11, 2022

Skopelos Scramblers

10 April 2022 Sondag.

Ons bly heerlik in Skopelos. Vandag gaan ons saam met die stapgroep, Skopelos Scrambles, na Glysteri Strand toe stap. Ons moet hulle 10:30 by Kastro karpark (Mylos Square) kry.

Ons stap eers oppad soontoe na ons huis toe en dit neem ons 9 minute om daar te kom van die hawe af. Die laaste deel maak mens nogal moeg. Ons huis staan darem nog en toe loop ons verder na Mylos Square.

Ons ontmoet die mede-stappers. Christine en Dominique van Frankryk, Jim en Muriel van Skotland, John en Janice van Engeland. En natuurlik ons van Suid-Afrika. 

Janice, John, Archie, Jim, Christine, Dominique and Muriel

Ons stap te heerlik na die strand. Oral langs die landelike pad, staan olyfbome in hul glorie tussen die fyn lenteblommetjies. Bokke se klokke klingel. Vreemdelinge leer mekaar gesels-gesels ken. 

Olyfbome

Lenteblom

Jim en Archie

Jim, Archie en Christine

Strand toe

By die strand gekom, kan ek die versoeking nie weerstaan om my stewels uit te trek en my voete in die see nat te maak nie. Die see is koud en verfrissend. Verwelkomend. Muriel se skoene waai ook en ons is albei in die helder deurskynende blou water.

Glysteri Strand

Voete in die water

Janice en John

Christine en Dominique

Toe gooi Muriel die tradisionele pieknieklap op die sand en die piekniek begin. Almal deel en ons eet heerlik saam. Almal aanvaar ons as deel van die groep en ons voel sommer baie tuis. Later sluit Stef en Marianne van Italië by ons aan. Hulle het eers vandag met die veerboot gekom. Baie gawe mense. Ons gesels soos ou vrinne. Ons voel sommer baie tuis hier op Skopelos. 

Pieknieklap

Die piekniek begin

Kaas en ham pastei

Ons stap terug en ons groet ons stapvriende. Ek en Archie besluit om te kyk waar 'n ander huis is waarvan ons ook gehou het, maar reeds verkoop is, die Argitek Mansion. Ons stap en verdwaal 'n paar keer voordat ons hom vind. Die huis lyk pragtig van buite af.

Argitek Mansion

Toe stap ons terug na ons apartment toe en kom moeg, maar tevrede tuis. 

Ons sien op die weervoorspelling dat daar vannag sterk winde gaan waai en ek dink aan Maja, wat geduldig in Lesvos wag dat ons moet klaar huis koop en haar dan gaan versorg.

Saturday, April 9, 2022

 

Huis Koop!

8 April 2022. Vrydag.

Ons maak 'n afspraak by 'n ander agent om vir ons nog huise te wys. Ons wil eintlik die Geelhuis hê, maar ek is baie nuuskierig hoe die ander huise lyk, al is dit nie presies wat ons wil hê nie. Sy sal ons Saterdag 10:00 gaan wys.

Vandag wil ons kyk of na ons Geelhuis toe kan loop van die hawe, want hy is nogal hoog op. Ons wil sommer vir 39 Steps gaan kyk. Archie is mos baie slim, hy het hoeka mos Gr 1 gespring. Hy het die huise geïdentifiseer op Google en nou is dit weer skattejag. Ons kry 39 Steps. Die huis is nie meer op die mark nie, maar hy is nie so mooi soos op die foto's nie. Ons kry die volgende huis met die banke op die stoep. Nee wat.

"39 Steps" huis

Ons kry die huis met die "attitude". Nee wat. Ons sien die huise net van buite af. Toe loop ons na die Geelhuis en kry hom later. Ek gaan sit buite op die ingang se trappies.

Huis met "attitude"

Ons huis


Ingang

En toe lui Archie se selfoon. Dis Mike. Hy het met Sue gepraat en sy aanvaar die aanbod. Ons is stomgeslaan en geskok. My mond word droog. Ons gaan 'n huis op Skopelos koop. Ons moet vir Mike die middag laat weet. Genugtig!

Ons loop terug hawe toe om 'n pad te soek wat na die huis lei. Onthou die Griekse choras is mos soos 'n doolhof. Klomp klein straatjies, trappe en verdwaal-stegies. Onder gekom, besluit ons ons gaan weer op loop om seker te maak dat ons weet om by huis te kom. Maar praat van die pad byster raak! dis ons daai.  Ons verdwaal in ons malle verstand in. Ons kom darem na 'n hele paar ompaaie daar uit en die Griekse ou tannie, ons nuwe buurvrou, kyk ons aan. Dis die tweede keer dat ons by haar verbyloop. Sy praat Grieks met ons, maar ons glimlag maar net vir haar, want dis Grieks vir ons.

Nuwe buurvrou

Ons stap weer af en kyk baie mooi hoe die pad lei en toe stap ons weer op. Díé keer loop ons sonder verdwaal na die huis wat ons so onwetend klaar gekoop het. Archie kanselleer ons afspraak met die ander agent en sê vir Mike ons koop die huis. Daai Geelhuis het al twee jaar terug met my gepraat. Praat nou nog. Ek is net bietjie geskok dat dinge so vinnig gebeur. Ons het skaars in Skopelos grond gevat, toe is ons al grondbaronne. 

Ons huis

Friday, April 8, 2022

Reis na Skopelos

7 April 2022. Donderdag.

Toe is ons reg om met die veerboot na Skopelos te vertrek. George van Sokaki Rooms, kom haal ons bagasie een vir een en ry dit met sy motofiets hawe toe. Baie gawe man. Die groot ou veerboot kom ingevaar en ek is sommer lus om 'n traan te pik. Die groot oomblik is hier. Ons wag al twee jaar om Skopelos toe te gaan om 'n huis te koop.



George op sy perd


"Marietjie surrounded by all her worldly possessions ...

Veerboot

Ons sukkel behoorlik om die tien ton bagasie aan boord te kry. Die veerboot vertrek. Skiathos word kleiner en 'n nuwe horison wag. Ons los wat agter is en kyk na wat voorlê. 'n Nuwe hoofstuk in ons lewe.

Tot siens Skiathos

Ons vaar verby die Mamma Mia kerkie wat nog steeds bewegingloos op sy rots staan en toe kom ons by Skopelos dorp.  Die dorpie is nog net so mooi soos altyd en wie weet, dalk word dit ons nuwe tuiste.

Mamma Mia kerkie

Skopelos

Die ou grote meer vas en dis weer ons en die tien ton bagasie. Gelukkig wag Mike en Safa ons in. Hulle is eiendomsagente wat vir ons huise gaan wys. Hulle ry ons aan na Karavos Apartment, ons verblyf vir die volgende negentien dae.

Mike en Archie besluit om sommer dieselfde middag na ons gunsteling huis te gaan kyk. En ek dog ons gaan eers Maandag ons soektog na 'n huis begin. 14:30 tel Mike ons op en daar trek ons. Op pad kyk ons na 'n ander huis met 'n pragtige uitsig en toe is dit sukke tyd. Ons kom by ons "Geelhuis", wat lankal nie meer geel is nie. Op die webwerf is dit geel, al is hy intussen spierwit geverf. Maar ek en Archie praat nog steeds van die Geelhuis.

Ek ken díé huis se foto's uit my kop. Het dit oor en oor gekyk. En ons word nie terleurgestel nie. Dis presies wat ons in 'n huis wil hê, tuin en al. Twee slaapkamers en badkamer onder (sodat ons gaste nie onder ons voete is as hulle kom kuier nie). Middelste vloer het kombuis en sitkamer en die wonderlikste terrasse. Tot 'n braaiplek by kombuis waarvan ons nie eers geweet het nie. 

Daar is 'n tuin met grond, wat baie raar in die Griekse dorpies is. Rose en wit irisse groei welig in die tuin. Laventelbos én 'n suurlemoenboom met regte egte suurlemoene. Ek is behoorlik in my noppies en wil dadelik 'n roosmaryn plant. En kruisement, oreganum en pietersielie. Archie keer net.

Ons suurlemoenboom

Braaiplek

Ons tuin

Ons sal bietjie werk aan die huis moet doen. Maar die prys is te hoog. So ons sal maar moet sien. Die uitsig van die terrasse én van ons balkon op die boonste verdieping, is pragtig en ek is in ekstase.

Uitsig oor die baai

Uitsig oor die dorp

Uitsig na Alonnisos 

Uitsig uit ons kamervenster

Mike vat ons terug na ons apartment toe en ek en ou Arch bespreek die huis. Maar ek wil graag na ander huise ook gaan kyk, alhoewel ek weet dat dit nie aan al ons vereistes voldoen nie. Ek het al daai huise op internet bestudeer.

Mike bel die aand en sonder dat ons dit eintlik besef, maak ons 'n offer heelwat laer as verkoopprys. Archie het eintlik net vir Mike gevra of Sue, die eienaar, so 'n offer sal oorweeg. Ons eet heerlike pasta en pesto en gaan slaap.

Pasts en pesto

 

Thursday, April 7, 2022

 

Skiathos

6 April 2022. Woensdag.

Daar is vandag veerboot stakings, so ons vertoef maar nog 'n dag in Skiathos. Staan lekker laat op en dwaal in Plaka rond. Dis die deel waar ons belanggestel het om 'n huis te koop. Maar ons het eintlik daarteen besluit. 

sdsdffasd
Sokaki Rooms

Church of the Holy Trinity

Ontbyt by die hawe

Skiathos

Ons begin soek na huise wat ons op die internet gesien het wat te koop was en spoor sowaar drie op. Dis amper soos skattejag. Ja nee, ons wil nie in Skiathos koop nie. Baie van die huise hier het nie see-uitsig nie. 

Hou amper van hierdie huis

Archie gaan Germanos toe en gaan koop Griekse lugtyd en internet. Dit is nogal 'n tydsame proses. Nou is ons weer op die lug. Ons eet ons eerste gyros, heerlike Griekse straatkos.

Wednesday, April 6, 2022

 

Die lang reis

4 en 5 April 2022. Maandag en Dinsdag.

" Nou is dit weer tyd om te groet. Tot volgende jaar, wanneer ons die volgende seiljaar aanpak". So het ek so ewe in September 2019 gesê. So asof dit vanselfsprekend is. Min het ek geweet wat voorlê. 'n Nare, vreemde virus, wat die wêreld en die volheid daarvan, verander het. Covid het 'n bangmaakwoord geword. Selfs mense wat ek ken, is dood. En die meeste mense wat ek ken, het die virus gekry. Ek en ou Arch is dit gespaar (tot dusvêr).

Die tasse is gepak en dis baaaie tasse. Die familie het afskeid geneem en Francois, my oudste seun, neem ons en die magdom bagasie, lughawe toe. Hy laai ons sommer net af, ons groet en ons reis na die bekende onbekende begin. Eers is dit die rapid antigen covid toets, wat die Grieke vereis. Ons slaag die toets! Dis net papiere, covid toetse, vaccine sertifikate, paspoorte, boarding pass. Ons moet kophou om niks te verloor nie.

Archie, ekke, Michelle met Mia, Johan, Roelien met Olivia, Francois en Pa

Die vlug van Qatar is met 'n uur vertraag. Ek aard na my oorle ma en ek wonder al klaar of ons betyds gaan wees vir ons volgende vlug na Athene vanaf Doha. Ons het net 1h15min om die volgende vlug te kry en die blerrie vliegtuig is klaar 'n uur laat! Donnerdag, kan alles maar nie liewer glad verloop nie!?

Ons sit heelagter in die vliegtuig. En as ek sê heelagter, bedoel ek héélagter. Teen die agterse muur. Dit beteken ons gaan lank vat om uit die groot voël te kom. Die lugwaardin verseker ons dat hulle bewus is van die situasie en die vliegtuig sal vir ons wag. Toe voel ek beter.

Die vliegtuigkos is die slegste wat ek nóg geëet het. Hondsleg. Ek sluk dit af met 'n glasie rooiwyn (ek het eintlik vir wit gevra). Die Afrikaanse jongman wat langs my sit, sê sy meisie in Amerika is nog 'n "virgin" en hy is spyt hy is nie meer 'n "virgin" nie. En ek wonder hoekom hy dink ek moet dit weet.

Op Doha gekom, is ons amper laaste uit die vliegtuig, en ons ander vlug vertrek amper. Archie is vlugvoetig voor en ek met my bilaterale knieë, gee my beste en ons wedloop na die regte hek begin. Op 'n stadium is daar iemand wat sê:"Athens", en in 'n rigting wys. Ons kom oop en toe by die regte hek aan, gaan deur (ek dink ons het in ons haas voor 'n paar mense ingedruk wat nog besig was om te "board").  En ons is op die vliegtuig. Daai vlug is toe ook vertraag, want hulle moes ons bagasie van die ander vliegtuig kry. Wel, ons is toe verlig, doodmoeg en uitasem op die vliegtuig oppad na Athene. Langs Archie sit 'n Thailandse vrou wat niks Engels verstaan nie en sy staan toe op toe ons besig was om te land, tot Archie en lugwaardin se ontsteltenis. 

Toe ons op die lughawe in Athene kom, is ons altwee seesiek. Alles voel of dit beweeg. Na 9 ure op Athene se lughawe, vlieg ons uiteindelik Skiathos toe in een van daai vliegtuigies wat nog propellers het. Dit voel mos altyd vir my of hulle graag in die see wil val. Ons kom 22:00 in Skiathos aan. Doodmoeg. Ons is Maandag 14:30 by die huis weg en dis nou Dinsdag, 22:00. Lang reis!



George, van Sokaki Rooms, staan so ewe daar met 'n naambord en ons en die baie bagasie word aangery na ons blyplek vir twee dae in Skiathos, voordat ons Skopelos toe gaan vir die groot huiskoop.

Die aarde draai en my kop draai en ek en Archie draai saam. Alles beweeg, behalwe die bed en toe maak ons daai bed seer.

 


Friday, October 4, 2019

Seiljaar 2019.

So ja. Die seilende sigeuners het nog 'n jaar aangepak, geleef en beleef en is verby. 'n Unieke jaar. 'n Jaar van kuier en lag, kuier en huil. 'n Jaar van seil en skuil. 'n Jaar van hereniging met ou vriende. 

Ons het 1300  seemyl geseil in die seisoen, 300 in Turkye en 1000 myl in Griekeland. Ons het 20 eilande in Griekeland besoek. Nuwe en ou plekke.

Turkye.
 
Sehir Adalari
 
Mooi ou Turkye, wat ons nou al so goed ken. Stil kalm water, met salige ankers in die suide en dan die noorde, waar die wind altyd waai.  "Hy waai my hier, hy waai my daar, hy waai ou Maja sommer deurmekaar!"

In Turkye het dierbare ou Sullivan weer vir ons kom kuier. Weereens het dit gevoel of hy op Maja hoort. Altyd gereed om te help. 'n Juweel! "Dankie dat jy ons weer kom beteer het met jou sjarmante persoonlikheid."
 
Sullivan by Okluk Koyu
In Turkye het ons ook saam met Trevor en Leslie gekuier. Heerlik, soos ou vriende. En Leslie voel vir my soos 'n suster. Altyd lekker om hulle te sien.
 
Archie, Leslie en Trevor
 
Zafer het ons kom besoek in Ayvalik. Dit was heerlik om hom weer te sien. Met die sukkelende gesprekke, handgebare en skaterlag as woorde wegraak, het ons die kuier baie geniet. 

Archie en Zafer
 
Griekeland
 
Mourtzeflos Baai
 
Hierdie jaar het ons die noorde van Griekeland aangedryf. Snaakse plek, die noorde. My gunsteling plek vir hierdie jaar in Griekeland, was die seil om die derde vinger met sy sewentien kloosters. Vir Archie was die eiland, Limnos, die hoogtepunt van Griekeland.

Ons moes dié jaar twee keer vir lang periodes skuil. Eerstens, saam met Elize en Martie in Chios vir 'n week. En toe vir 12 dae in Myrina, op Limnos Eiland. Gus was op sy stukke in die seiljaar.

 Al ons seilplanne vir die jaar het verander toe ons besluit het om Maja in Lesvos te laat oorwinter, in plaas van Marmaris. Toe moes ons in die noorde bly, want as jy suid gaan, wind-af, sukkel jy om terug noord, wind-op, te gaan. Al wat ek kan sê, is die blêrrie Gus!

Paddy en Mary-Jane het vir ons kom kuier en hulle het in Datça op  Maja geklim. Hulle het toe van Symi tot Kos daam met ons geseil. Die twee het vir baie pret gesorg. Ons het hul kuier baie geniet.
 
Paddy en Mary-Jane by Kos
 
Elize en Martie het kom saam seil van Patmos tot Chios. Die twee musketiers se kuier is kortgeknip deur Gus en hulle het by Chios, in plaas van Lesvos afgeklim. Hulle het ook die stormsee saam met ons beleef.
 
Martie en Elize by Patmos
 
Pierre en Annatjie het vir ons kom kuier, maar Gus het ander planne vir ons gehad. Hy het ons vir die tweede keer op Limnos vasgevang, en hulle het toe nie eintlik baie saam met ons geseil nie. Hulle het egter hul kuier op Limnos baie geniet. (Daar is mos baie koffie winkels vir 'n ou koffietjie).
 
Annatjie en Pierre by Limnos
 
Ons het heerlik saam met Neil en Sandi by Limnos gekuier. Ons was 'n paar dae saam op die eiland. Dit was die eerste keer toe ons op Limnos was, en ook geskuil het teen Gus.

Sandi en Neil by Limnos
 
Vir Hentie en Diana het ons baie gesien in die jaar. Ons was vir drie dae saam in Thassos en toe vir 12 dae saam op Limnos. Hulle is jou waarlik van die gasvryste mense wat ek ken.
 
Diana en Hentie
 
Wat 'n vreemde jaar. Ons het altyd gehoor dat Gus vir twee weke aanmekaar kan waai en die jaar het ons dit beleef. Ons het hierdie jaar so seil-sel, skuil-skuil en kuier-kuier verby gekry. 
 
Nou is dit weer tyd om te groet. Tot volgende jaar, wanneer ons die volgende seiljaar aanpak.

Tot siens