Wednesday, September 25, 2019

Roemenië. Astra Museum.

23 September 2019. Maandag.
 
Een van die hoogtepunte van Sibiu is die Astra Museum, so 5 km van die dorp af. Dis 'n opelug museum oor die tradisionele leefwyse van die Roemeniërs. 

Ons klim bus nr 13 en sommer gou is ons daar. Dis bewolk en toe ons betaal, sê die vrou dat die huise is op 'n Maandag toe. Wel, ons besluit ons gaan maar in elk geval in en na die tradisionele nedersetting kyk. Een voordeel daarvan, is dat daar nie vandag honderde toeriste is nie. Dis vreeslik rustig hier. Ons hoop net dat die son sal deurbreek.

Daar is meer as 120 woonhuise, meulens en kerke. Hulle kom van oor die hele land en is hierheen gebring en tussen die twee klein mere weer aanmekaar gesit en opgerig. Die museum strek oor ongeveer 96 hektaar.  Die uitstallingsroete is 10 km lank. Voorwaar 'n wonderlike plek om te besoek.

Ek kry darem so nou en dan 'n roofkyk deur die vensters en by die een huis sit 'n vrou en weef.
 
Strooidak
Skool
Goudmyner se huis
Houtkerk
Houtkerk se fresco's
Sit- en slaapkamer
Muurversierings
Weefster
"Ferris wheel"
 
Archie verstom hom aan al die watermeulens en hoe hulle werk. Hy bekyk dit en probeer uitwerk hoe dit gewerk het. Die ratte en goed is van hout gemaak. Besonders.
 
Watermeul
Watermeul se houtratte
Toe is Archie honger
 
Ons stap na die vissershuise toe. Sommige is baie groot en ander eenvoudig. Die meer blink in die lig en eende swem verby. Die windmeulens is vir my baie mooi. Dit het in daardie tyd 'n baie belangrike rol gespeel om graan te maal. Archie klim in die een ou grote tot bo. Die ander een het seile. 
 
Visserman se opstal
Eenvoudige visserman se huis
Eende
Windmeul
Windmeul met seile …
… en sy ratte
 
Ons kyk na die skaapskuilings en die eenvoudige hut vir die herder. Daardie mense het eenvoudig gelewe en hard gewerk. Dis baie koud in die winter en alles is toegesneeu. Die skape word dan in skuiling gehou tot die lente.
 
Skaapskuiling
Eenvoudige kamer van skaapwagter
Langstert skape
 
Toe is dit die terugtog en ons stap verby die vervoermiddels van daardie tyd. Meeste van die waens is van hout gemaak. Sekuur en effektief. Ek kan nie glo dat die houtwiele so rond is nie.
 
Ou wa
Kapkar
Stoontrekker
 
Die laaste ding wat ons bekyk, is die veerboot op die meer. Toe is dit busstop toe, klim die bus en gaan terug na die mooi Sibiu.
 
Langs die meer

Monday, September 23, 2019

Roemenië. Sibiu.

22 September 2019. Sondag.

Sommer vroeg is ons uit die vere en sleep ons tasse in die donker stasie toe. Ons klim 6:15 die trein na Sibiu. Sondae is daar geen busse van Sighişoara na Sibiu nie.

En daar trek ons. Na 2h 30min is ons in Sibiu. Dit was die kulturele hoofstad van Europa in 2007.  Ons sleep ons tasse op na ons woonstel. Hulle is besig om die gebou te restoureer, en die ingang na die woonstelle is afgryslik. Ons is te vroeg daar, die vorige huurders is nog nie uit nie, so ons maak toe soos Pierre en Annatjie en gaan drink 'n koffietjie.

Ons gaan los toe na 10:00 ons tasse in die kamer en durf toe die dorp aan. Ons kan eers 15:00 inboek. 

Sibiu is pragtig. Ou geboue staan sy aan sy in die strate. Pleine sonder motors is volop. Toeriste en toergroepe dwaal in die strate rond.
 
Piata Mare (Groot Plein)
Sibiu
Gheorghe Lazar (1779 - 1823)
 
Ons gaan klim die toring van die Evangeliese Kerk. Dis steil op boontoe. Omtrent 200 trappe. Die eerste deel is dit sukke benoude spiraal trappe in die klein toring. Dan loop ons oor na die hooftoring en klim verder. Ons klim verby die drie reuse ou klokke. Bo gekom kry ons die mooiste dak-uitsigte van die dorp. Pragtig hier van bo af. Toe is dit af affer afste tot onder.
 
Evangeliese Kerk
Reuse klok
Archie in een van die sytorings
Uitsig
Aanmekaar huise
 
Die Banka Agricola is 'n reuse pragtige gebou. Dit word nou gebruik as stadsaal en toeriste inligting sentrum. Voor hom is die kindertjies besig om op die "merry go round"  al in die rondte te gaan.
 
Banka Agricola
 
Die Rooms Katolieke kerk se vensters beïndruk ons vreeslik. Die kerk is kleurvol en pragtig.
 
Jesus se doop
St George en die draak
 
So stap ons in die dorp rond. Die Leuenaars Brug is 'n gewilde plek vir die toeriste. Daar word vertel dat as jy 'n leuen vertel as jy op die brug is, gaan die brug ineenstort. So julle, praat die waarheid asseblief! Ons stap onderdorp toe en dis heelwat stiller as die bodorp, maar hier is ook 'n klomp mooi geboue.
 
Die Leuenaars Brug
Onderdorp
 
Die hele stad het 'n muur om, wat nog in 'n goeie toestand is. Dit was eintlik 'n Sakse dorp en die Duitse invloed is oral te sien. Hier in Roemenië hou hulle Oktoberfest in September. En dit is nou aan die gang. Vir die kinders is daar 'n treintjie, rondomtalies, springtoue. En vir die grootmense is daar stalletjies met die heerlikste koek en soetgebak. En natuurlik die heerlikste kos. 'n Reuse biertent is opgeslaan, met verhoog en al. Ons is net 'n dag te laat vir die konsert wat in die biertent was! Dis etentyd en by die stalletjies word smullekker schweinehaxe verkoop en ons swig. Dit kos 'n arm en 'n been, maar ons eet heerlik. 

Stadsmuur
Heerlike Duitse kos
Schweinehaxe
Val in
 
So dwaal ons rond en drink die atmosfeer van die dorp saam met al die ander toeriste in. Ons kan sien hoekom dit die Hoofstad van Kultuur in 2007 was.

Saturday, September 21, 2019

Roemenië. Sighişoara.

19 tot 21 September 2019. Donderdag tot Saterdag.

Ons gaan vandag na Sighisoara met die bus. Ry eers tot by Targu Mures en daarna met 'n ander bus na Sighisoara. Ons blyplek is binne in die citadel. Gigi en Mariana Marcus is uitstekende gasheer en gasvrou. Hulle laat ons vreeslik welkom voel en elke oggend kry ons heerlike koffie in die tuin. Dis sommer baie koud in die oggend.

Mariana en ek
Oggendkoffie

Die dorp het 'n baie interessante geskiedenis. Hier is 'n klomp torings. Die sigeuners en ambagsmanne het goedere buite die citadel vervaardig en dan het die handerlaars dit by die verskillende torings verkoop. As jy skoene wil hê, gaan jy na die Skoenmakers Toring om dit te koop. So het elke toring sy eie goedere wat verkoop word.

Skoenmakers Toring (1521)
Tinsmit Toring (25m hoog)
Toumakers Toring (enigste bewoonde toring)
Kleremakers Toring
Slagters Toring en Pelsjas Toring
Rooms Katoliek Kerk

Die kloktoring is die mooiste van die torings en die simbool van die dorp. Dit het 'n baie mooi klokhorlosie en figure. Dit is in die 14de eeu gebou en in 1575 voltooi. Van oral kan die pragtige toring gesien word. Ek gaan klim die kerktoring en kyk uit oor die citadel en die stad.

Kloktoring

Kloktoring
Klok

Sighisoara is ook baie bekend vir die feit dat Vlad Tepes Dracul hier gebore is. Oral is prente en standbeelde van hom . Ek gaan besoek die huis waar hy gebore is. Ek betaal my geld en gaan kyk na die kamer waar hy sy eerste lewenslig gesien het. Die kamer is dramaties met rooi en swart versier en oral is beelde en prente van hom. Daar lê ook 'n man in 'n kis wat sy hande oplig as jy inkom. Ek het natuurlik gegil toe die dooie beweeg! Archie sê die foto van die man is te kommin om in die blog geplaas te word.

Vlad Tepeş Dracula se geboorte huis
Casa Vlad - Dracul
Stamboom
Geboortekamer
Dracula
Standbeeld

Die hele dorp in die citadel is eintlik 'n monument en historiese sentrum.  Daar woon tans sestig gesinne in die citadel en die strate en huise is kleurvol en pragtig. Ons bly in Casa Marcus, dit beteken dis die huis van die Marcus familie. So is al die huise genoem, na die familie wat daar woon.

Dis ook 'n gewilde plek vir troues. Ek sien drie bruidspare wat tussen die mooi geboue deurloop. Hulle lyk te pragtig, so ook die bruilofsgaste.

Citadel Plein
Straat
Straatkafee
Straat
Bruidapaar

Ek gaan besoek ook die museum en die martelkamer. Baie interessante goed word daar uitgestal.

Skilde
Wapenrusting
Ou kas

Die begraafplaas is die rustigheid self. Hier kan jy nou behoorlik in rus en vrede rus. Daar is verskillende dele in die begraafplaas. Die Sakse rus op een plek, die Hongare op 'n ander plek en die ander volke rus elders. Sommige mense het baie oud geword as mens so na die grafstene kyk.

Begraafplaas
Seigmund se familiegrafsteen

Selfs buite die mure van die citadel, is daar pragtige huise en strate. Hierdie is jouwaarlik 'n pragtige dorp. Dit laat my aan Brasov dink. Ons het die drie dae wat ons hier gebly het, vreeslik geniet. Dis heerlik om in die citadel te bly. Ons stap rond, Archie kyk wêreldbeker rugby. Ons kuier in ons mooi kamer. Loop dan weer rond, klim die toring, gaan dorp toe. Dis heerlik hier.

Mooi ou gebou
Nuwe Grieks Ortodokse Kerk