Monday, September 23, 2019

Roemenië. Sibiu.

22 September 2019. Sondag.

Sommer vroeg is ons uit die vere en sleep ons tasse in die donker stasie toe. Ons klim 6:15 die trein na Sibiu. Sondae is daar geen busse van Sighişoara na Sibiu nie.

En daar trek ons. Na 2h 30min is ons in Sibiu. Dit was die kulturele hoofstad van Europa in 2007.  Ons sleep ons tasse op na ons woonstel. Hulle is besig om die gebou te restoureer, en die ingang na die woonstelle is afgryslik. Ons is te vroeg daar, die vorige huurders is nog nie uit nie, so ons maak toe soos Pierre en Annatjie en gaan drink 'n koffietjie.

Ons gaan los toe na 10:00 ons tasse in die kamer en durf toe die dorp aan. Ons kan eers 15:00 inboek. 

Sibiu is pragtig. Ou geboue staan sy aan sy in die strate. Pleine sonder motors is volop. Toeriste en toergroepe dwaal in die strate rond.
 
Piata Mare (Groot Plein)
Sibiu
Gheorghe Lazar (1779 - 1823)
 
Ons gaan klim die toring van die Evangeliese Kerk. Dis steil op boontoe. Omtrent 200 trappe. Die eerste deel is dit sukke benoude spiraal trappe in die klein toring. Dan loop ons oor na die hooftoring en klim verder. Ons klim verby die drie reuse ou klokke. Bo gekom kry ons die mooiste dak-uitsigte van die dorp. Pragtig hier van bo af. Toe is dit af affer afste tot onder.
 
Evangeliese Kerk
Reuse klok
Archie in een van die sytorings
Uitsig
Aanmekaar huise
 
Die Banka Agricola is 'n reuse pragtige gebou. Dit word nou gebruik as stadsaal en toeriste inligting sentrum. Voor hom is die kindertjies besig om op die "merry go round"  al in die rondte te gaan.
 
Banka Agricola
 
Die Rooms Katolieke kerk se vensters beïndruk ons vreeslik. Die kerk is kleurvol en pragtig.
 
Jesus se doop
St George en die draak
 
So stap ons in die dorp rond. Die Leuenaars Brug is 'n gewilde plek vir die toeriste. Daar word vertel dat as jy 'n leuen vertel as jy op die brug is, gaan die brug ineenstort. So julle, praat die waarheid asseblief! Ons stap onderdorp toe en dis heelwat stiller as die bodorp, maar hier is ook 'n klomp mooi geboue.
 
Die Leuenaars Brug
Onderdorp
 
Die hele stad het 'n muur om, wat nog in 'n goeie toestand is. Dit was eintlik 'n Sakse dorp en die Duitse invloed is oral te sien. Hier in Roemenië hou hulle Oktoberfest in September. En dit is nou aan die gang. Vir die kinders is daar 'n treintjie, rondomtalies, springtoue. En vir die grootmense is daar stalletjies met die heerlikste koek en soetgebak. En natuurlik die heerlikste kos. 'n Reuse biertent is opgeslaan, met verhoog en al. Ons is net 'n dag te laat vir die konsert wat in die biertent was! Dis etentyd en by die stalletjies word smullekker schweinehaxe verkoop en ons swig. Dit kos 'n arm en 'n been, maar ons eet heerlik. 

Stadsmuur
Heerlike Duitse kos
Schweinehaxe
Val in
 
So dwaal ons rond en drink die atmosfeer van die dorp saam met al die ander toeriste in. Ons kan sien hoekom dit die Hoofstad van Kultuur in 2007 was.

Saturday, September 21, 2019

Roemenië. Sighişoara.

19 tot 21 September 2019. Donderdag tot Saterdag.

Ons gaan vandag na Sighisoara met die bus. Ry eers tot by Targu Mures en daarna met 'n ander bus na Sighisoara. Ons blyplek is binne in die citadel. Gigi en Mariana Marcus is uitstekende gasheer en gasvrou. Hulle laat ons vreeslik welkom voel en elke oggend kry ons heerlike koffie in die tuin. Dis sommer baie koud in die oggend.

Mariana en ek
Oggendkoffie

Die dorp het 'n baie interessante geskiedenis. Hier is 'n klomp torings. Die sigeuners en ambagsmanne het goedere buite die citadel vervaardig en dan het die handerlaars dit by die verskillende torings verkoop. As jy skoene wil hê, gaan jy na die Skoenmakers Toring om dit te koop. So het elke toring sy eie goedere wat verkoop word.

Skoenmakers Toring (1521)
Tinsmit Toring (25m hoog)
Toumakers Toring (enigste bewoonde toring)
Kleremakers Toring
Slagters Toring en Pelsjas Toring
Rooms Katoliek Kerk

Die kloktoring is die mooiste van die torings en die simbool van die dorp. Dit het 'n baie mooi klokhorlosie en figure. Dit is in die 14de eeu gebou en in 1575 voltooi. Van oral kan die pragtige toring gesien word. Ek gaan klim die kerktoring en kyk uit oor die citadel en die stad.

Kloktoring

Kloktoring
Klok

Sighisoara is ook baie bekend vir die feit dat Vlad Tepes Dracul hier gebore is. Oral is prente en standbeelde van hom . Ek gaan besoek die huis waar hy gebore is. Ek betaal my geld en gaan kyk na die kamer waar hy sy eerste lewenslig gesien het. Die kamer is dramaties met rooi en swart versier en oral is beelde en prente van hom. Daar lê ook 'n man in 'n kis wat sy hande oplig as jy inkom. Ek het natuurlik gegil toe die dooie beweeg! Archie sê die foto van die man is te kommin om in die blog geplaas te word.

Vlad Tepeş Dracula se geboorte huis
Casa Vlad - Dracul
Stamboom
Geboortekamer
Dracula
Standbeeld

Die hele dorp in die citadel is eintlik 'n monument en historiese sentrum.  Daar woon tans sestig gesinne in die citadel en die strate en huise is kleurvol en pragtig. Ons bly in Casa Marcus, dit beteken dis die huis van die Marcus familie. So is al die huise genoem, na die familie wat daar woon.

Dis ook 'n gewilde plek vir troues. Ek sien drie bruidspare wat tussen die mooi geboue deurloop. Hulle lyk te pragtig, so ook die bruilofsgaste.

Citadel Plein
Straat
Straatkafee
Straat
Bruidapaar

Ek gaan besoek ook die museum en die martelkamer. Baie interessante goed word daar uitgestal.

Skilde
Wapenrusting
Ou kas

Die begraafplaas is die rustigheid self. Hier kan jy nou behoorlik in rus en vrede rus. Daar is verskillende dele in die begraafplaas. Die Sakse rus op een plek, die Hongare op 'n ander plek en die ander volke rus elders. Sommige mense het baie oud geword as mens so na die grafstene kyk.

Begraafplaas
Seigmund se familiegrafsteen

Selfs buite die mure van die citadel, is daar pragtige huise en strate. Hierdie is jouwaarlik 'n pragtige dorp. Dit laat my aan Brasov dink. Ons het die drie dae wat ons hier gebly het, vreeslik geniet. Dis heerlik om in die citadel te bly. Ons stap rond, Archie kyk wêreldbeker rugby. Ons kuier in ons mooi kamer. Loop dan weer rond, klim die toring, gaan dorp toe. Dis heerlik hier.

Mooi ou gebou
Nuwe Grieks Ortodokse Kerk



Friday, September 20, 2019

Roemenië. Viseul de Sus. Mocănița Stoomtrein.

18 September 2019. Woensdag.

Na baie moeilike navorsing, want die inligting op internet verskil met die werklike tye hier in Roemenië, en drie keer se stap na twee verskillende outogari, het ons 'n bus wat ons vanoggend 7:00 na Viseul de Sus kan neem. Ons wil die Mocănița stoomtrein klim.

Viseul de Sus is so 50km van Sighetu Marmatiei. Dit gee ons 2h30min om daar te kom. Ons stoomtrein kaartjies is bespreek en betaal vir 9:30. Die busrit is pragtig, so tussen al die klein dorpies deur. Dis baie groen en weereens bos en berg.

Die bussie stop gedurig om passasiers op en af te laai. Meestal ou ooms en tannies, almal met 'n "plestiek" sak in die hand. Die tyd stap aan en die spoedbeperking in die dorpies is 40km/h.

Ons is vol moed dat ons betyds gaan wees, totdat die bestuurder toe 'n ander ompad ry. Toe begin die tyd te loop en hy ry stadig, want hy klets te heerlik met 'n passasier voor langs ons. Ek kan behoorlik eiers kook! 

Die GPS op die selfoon sê later dis nog 35 min tot daar en dit is al 09:00! Ons gaan dit nooit maak nie. Dan moet ons nog stasie toe stap.

Ek kan dit toe nie meer hou nie en sê vir die bestuurder, wat nie Engels kan praat nie: "Go go go! Go fast!" Archie sê: "Train, 9:30". Hulle almal weet van die  Mocănița stoomtrein. Toe jaag hy behoorlik. Die medepassasiers hou ook duim vas. 9:15 laai hy ons af en die bordjie sê Mocănița Train, 1km. 

Hoe de moer gaan ons betyds daar kom. Ons begin teen 'n spoed te stap. Met my knieë is hoë spoed nie my sterk punt nie. Archie is toe op 'n drafstap vooruit om die trein te stop en ek kom flink agterna. Presies 9:30 kom ek uitasem daar aan. Die trein beweeg stadig vorentoe! 

Ek skrik my kuduks. Gelukkig is die lokomotief toe net besig om te rangeer. Ek stap trein toe en soek vir Archie. Hy roep my, met die kaartjies in die hand. Ons is uitasem, maar gaan sit dankbaar op ons plekke. (Wil net noem dat 'n man ons met 'n privaat motor wou bring, dan moes hy heeldag vir ons wag en dit sou ons €150 gekos. Dit is R2300.00. Hulle het gesê daar is nie busse soontoe nie).

Die stoomtrein trek 9:40 met 'n ruk weg en ons rit begin. Toe ontspan ons heerlik. Die roete is al langs die rivier op. Pragtig, berge toe. Al hoër en hoër ry ons teen 'n slakkepas. Die trein stop vir 10 minute en ons kan afklim. Daar heers 'n opgewonde gemoedelikheid onder die passasiers. Ons klim weer op en ry verder. Die trein stop twee keer weer en toe stop hy by die omdraaipunt vir middagete vir 1h30 min. Dis eintlik tussen niks en nêrens.


Trek weg

Berge toe
Plaashuise

Tipiese houthuis
Boervrou
Hooimiedens
Loopbrug

Tweede stop
Archie
Silwer boom

Mercedes loko

Ek en Archie gaan stap 'n ent boontoe. Ek sê mos ons beland altyd in die bos. Ons kyk af en sien die trein doer onder. Almal geniet hul middagete. Oral sit mense tussen niks en nêrens by tafels en eet. Sommige gaan rivier toe. Musiek speel oor luidsprekers. Later begin mense in 'n kring te dans. Ek val ook toe met die tweede rondte in.

Van bo gesien

Middagete
Volksdanse
Staan gereed om te trek

Ons loko vervaardig in 1955

Ai, maar dis heerlik. Ons lokomotief loop nou agteruit, want hier is nie omdraai plek nie. Teen 14:30 blaas die fluitjie en ons vertrek. Nou is dit afdraende en die trein moet al remmend ry. Ons vorder darem nou bietjie vinniger. Ek staan en kyk na die dik ketting wat die waens verbind.

Hierdie spoorlyn is eintlik 'n werkende spoorlyn en nie net vir toeriste nie. Reuse bome word hier in die berge afgekap en word dan met stoomtreine af stasie toe vervoer. Ons ry verby waar hulle besig is om die houtstompe op die waens te laai.

Trekketting

Die spook van die Mocănița stoomtrein
Boomstompe gelaai
Huise langs die spoor

Archie het op internet gesien daar is 17:20 'n bus terug. Nou of dit regtig so is, weet ons nie. Die internet en die werklikheid verskil mos hier in Roemenië. Dis altyd raai raai riepa! En die tyd loop! Ons het drie ure gery tot die middagete plek. Nou is dit al 14:30! Gaan ons daai bus haal? Ons moet nog 1.8 km van die stasie na die busstop toe stap. Gelukkig stop die trein net eenkeer. Almal klim af asof ons die wêreldse tyd het. Hulle klim weer op en ons ry verder.

Presies 16:30 trek ons by die stasie in. Ons klim af en begin te stap. Ons gaan dit maak! Weet nie eintlik waar om die bus te kry nie. En dis te sê as die bus ooit gaan kom.

Ons vra rond en 'n meisie sê toe daar is 'n bus 17:20 en ons is op die regte plek. Ons moet net daar staan. En wraggies die bus kom, ons klim en ry verlig terug huis toe. Sowat van bus-stres en spanning het ons lanklaas beleef.

Wat 'n suksesvolle heerlike dag, met 'n skootjie stres ook by. En wie moet ons bedank? Vir Archie en al sy volgehoue navorsing!