Friday, September 13, 2019

Roemenië. Braşov.

9 tot 12 September 2019. Maandag tot Donderdag

Ons het met die trein na Braşov gekom. Op pad hierheen, het ons verby Sinaia gery. Daar was vreeslike mooi berge en ek het gewens ons kon daar bly. Toe kom ons by Braşov se stasie. En o weë, dis vreeslik lelik. Op pad na ons blyplek is dit nog steeds lelik! Ek voel sommer depressief. Toe openbaar die ou dorp hom aan ons en ek raak dadelik verlief! 
Ek het vreeslik geheg geraak aan Braşov. Ons pragtige Vintage Suite, ons uitsig oor die berg en die dorp en die heerlike atmosfeer van die plek.
Uitsig van ons kamer
Uitsig van ons kamer - dakke
'n Bekende baken van die setrum is die gotiese Swart Kerk. Dis tussen 1384 en 1477 gebou en het sy naam gekry na die brand van 1689, toe sy mure swart gebrand het. Dis nie vandag meer so swart nie, veral nadat hulle dit probeer skoon skrop het. Binne die kerk is 'n versameling van baie waardevolle Turkse matte. Orreluitvoerings word ook gereeld daar gehou. Daar is 4000 orrelpype! Ons het so 'n uitvoering bygewoon en na Johann Helmich Roman (1694-1758) se Sonata in C, Johann Sebastian Bach (1685-1750) se Nun komm der Heiden Heiland en Max Reger (1873-1916) geluister. Toe die uitvoering klaar was, het Archie 'n sug van verligting geslaak en gesê: "Goddank!"
Swart Kerk (vanaf Swart Toring)
Swart Kerk (vanaf Tâmpa)
Die Piata Stafalui (plein) is bekend vir die feit dat hekse daar verbrand is. Dis nou 'n besige plek waar mense bymekaar kom en die dorp geniet. Ook hier op die plein word musiek gemaak deur verskeie musikante. Geen heks word meer hier verbrand nie!
Piata Stafalui
Geboue om die plein
Een van Europa se smalste strate, Stradã Sforii is ook hier. Ons loop deur die straat (nie stegie nie, maar regte straat) en kan aan albei mure raak.
Stradã Sforii
Stradã Sforii
Straat naby Stradã Sforii
Ons stap ook op 'n heerlike staproete deur die bos om die Swart Toring en Wit Toring te sien. Hulle is altwee eintlik wit en ons loop ook langs die westelike stadsmuur, wat pragtig behoue gebly het. Oral kyk jy uit op die rooi dakke van Braşov en die Swart Kerk.
Wit Toring
Kunsgraffiti
Loop langs die muur
Die hele dorp is eintlik pragtig en ek verkyk my aan al die mooi geboue. Braşov is beslis 'n besoek werd.
Sinagoge
Straat toneel
Mooi gebou
Mooi gebou
Nuuskierige agie

Thursday, September 12, 2019

Roemenië. Bran en Raşnov.

11 September 2019. Woensdag.

Ons bly nog te lekker in die "vintage" suite in Braşov. Die uitsig van ons kamer is pragtig. Ons is in die hartjie van die sentrum van die stad. Die plek is gelaai met atmosfeer én mense. Maar dis heerlik!

Vandag klim ons bus 16 na die groter busstasie en dan vat ons die bus na Bran. 

Bran is s ook 'n pragtige dorp. Dit laat my aan Switserland dink. Hier is ook die bekende Dracula Kasteel. Die kasteel is 60m hoog en is op rotsagtige heuwel gebou. Die fliek oor Dracula is hier verfilm. Inderdaad 'n interessante kasteel.
Bran se Dracula Kasteel
Daar is bespiegelinge dat Dracula self nooit regtig daar gebly het nie, maar dat hy moontlik daar in die tronk was. Die kasteel word Dracula se kasteel genoem om toeriste te lok, maar daar is wel 'n konneksie tussen Drucala en die kasteel. Maak nou nie eintlik saak nie, ek en Archie geniet dit vreeslik
Binnehof en put
Kasteel
Uitsig uit koeëlgat
Die kasteel was die woonplek van koningin Marie van Roemenië in die vroeë 1900. Tydends die Eerste Wêreldoorlog het koningin Marie se dogter, prinses Illeana van Roemenië as verpleegster gewerk. Sy was baie geliefd.
Koningin Marie se wapen
Wapenrusting
Die kasteel se hout trappe kraak vreeslik. Hier kan niemand in die nag skelm rondsluip nie. Ek kan my indink hoe lê jy in die donker nag in jou bed. Die trappe kraak, voetstappe kom nader en nader. Die deur se handvatsel draai en Dracula kom binne. Jy sien sy tande glim in die effe lig. Hy kom nader. Jy gee 'n bloedstollende gil ...
Geheime deurgang
Ornate deur
Ons kyk na al die kamers in die kasteel. Daar is ook 'n martelkamer wat omtrent soos 'n marteling lyk. Wonder wie is almal hier gemartel.
Ons geniet die kasteel baie, want dit is amper 'n lewendige kasteel, nie 'n ruïne nie.
Gotiese eetkamer
Koning Ferdinand se kamer
Martelkamer
Martelkamer
Volgende op ons lys is Raşnov. Nes Braşov, het hy 'n groot naambord teen die berg.

Raşnov
Raşnov is die tuiste van die 13de eeuse fort. Dis op die berg gebou. Ons klim van die bus af en begin stap. Daar is ook mooi geboue in dié dorpie. 'n Groot kerk staan trots in die dorp as 'n monument.
Kerk
Daar is 'n kabelkar-hysbak ding waarmee jy boontoe kan gaan, maar soos gewoonlik pak ek en Archie die trappe aan. Op opper opste stap ons en aan ons voete lê die dorpie. Vêrder invdie vallei is baie landerye.
Op pad na fort
Raşnov en landerye
Ons betaal die ingangsfooi en begin die fort verken. Archie is nie vreeslik in sy skik nie, want hy is nie lus vir ruïnes nie.
Fort
Daar is klein winkeltjies en die stap in die fort is eintlik heerlik. Archie kyk diep in die put af en tot hy geniet die stap in die fort. Toe is ons klaar gefort.
Wapens en implemente
Winkeltjies
Skool
Geboue in die fort
Die put
Die put
Attilla the Hun
Ons begin die aftog en klim die bus en gaan terug na Braşov. Wat 'n heerlike dag. Ons is omtrent poot-uit.

Tuesday, September 10, 2019

Roemenië. Braşov. Berg Tâmpa.

10 September 2019. Dinsdag.

Daar is 'n groot Hollywood tipe naambord in Braşov. En dis op Berg Tâmpa. Dis waarheen ons vandag gaan stap. Gestewel en gespoor en daar trek ons. Daar is wel 'n kabelkar boontoe, maar hoe ken jy vir ons?! Die berg is maar net 960m hoog.
 
Naambord
 
Ons stap tussen die woud berg-op. 'n Maklike pad, tussen bome en heerlik koel. Die roete is baie goed met 'n rooi en wit ∆ gemerk. Die ou dorp kruip vir ons weg daar onder in die vallei.
 
Eers toe ons bo by die naambord kom, kan ons die rooidakkies vreedsaam daar onder sien lê. Oral is die mooi geboue te sien.
 
Braşov
Dorpsplein
 
Ons stap vêrder na die saal en kyk af op 'n ander deel van die dorp. Aan die linkerkant is nog berge met groen boom plantasies. Daar is 'n klomp jongmense wat die mooi saam met ons bewonder. 
 
Braşov
Groot begraafplaas
Jongmense
 
Ons stap met  die geel en wit ∆ roete terug. Maar my maggies, raak dit toe steil af! Gelukkig het hulle handreëlings daar gesit waaraan ek kan klou. Af af af en toe nog 'n bietjie af. Dis eintlik pragtig en opwindend om die roete te stap. Ek sit 'n rukkie op die bankie. Ons stap verder en die einde is in sig. Dit was omtrent 'n heerlike stappie.
 
Steil af
Bankie
Einde in sig
Herfsblaar
 
Die lang staptog het ons nou behoorlik honger gemaak. Ons besluit om tradisioneel Roemeens te eet. En niks is so tradisioneel soos 'n lekker bakkie afvalsop nie! Hulle bedien dit met brood en suurroom.
 
Ons koop 'n hoender om vanaand die lewe met 'n plathoender en blomkool te vier. Dis vir my heerlik om 'n oond te hê waarin ek iets kan bak en my lyf roep na groente.
 
Afvalsop
Plathoender