Thursday, September 12, 2019

Roemenië. Bran en Raşnov.

11 September 2019. Woensdag.

Ons bly nog te lekker in die "vintage" suite in Braşov. Die uitsig van ons kamer is pragtig. Ons is in die hartjie van die sentrum van die stad. Die plek is gelaai met atmosfeer én mense. Maar dis heerlik!

Vandag klim ons bus 16 na die groter busstasie en dan vat ons die bus na Bran. 

Bran is s ook 'n pragtige dorp. Dit laat my aan Switserland dink. Hier is ook die bekende Dracula Kasteel. Die kasteel is 60m hoog en is op rotsagtige heuwel gebou. Die fliek oor Dracula is hier verfilm. Inderdaad 'n interessante kasteel.
Bran se Dracula Kasteel
Daar is bespiegelinge dat Dracula self nooit regtig daar gebly het nie, maar dat hy moontlik daar in die tronk was. Die kasteel word Dracula se kasteel genoem om toeriste te lok, maar daar is wel 'n konneksie tussen Drucala en die kasteel. Maak nou nie eintlik saak nie, ek en Archie geniet dit vreeslik
Binnehof en put
Kasteel
Uitsig uit koeëlgat
Die kasteel was die woonplek van koningin Marie van Roemenië in die vroeë 1900. Tydends die Eerste Wêreldoorlog het koningin Marie se dogter, prinses Illeana van Roemenië as verpleegster gewerk. Sy was baie geliefd.
Koningin Marie se wapen
Wapenrusting
Die kasteel se hout trappe kraak vreeslik. Hier kan niemand in die nag skelm rondsluip nie. Ek kan my indink hoe lê jy in die donker nag in jou bed. Die trappe kraak, voetstappe kom nader en nader. Die deur se handvatsel draai en Dracula kom binne. Jy sien sy tande glim in die effe lig. Hy kom nader. Jy gee 'n bloedstollende gil ...
Geheime deurgang
Ornate deur
Ons kyk na al die kamers in die kasteel. Daar is ook 'n martelkamer wat omtrent soos 'n marteling lyk. Wonder wie is almal hier gemartel.
Ons geniet die kasteel baie, want dit is amper 'n lewendige kasteel, nie 'n ruïne nie.
Gotiese eetkamer
Koning Ferdinand se kamer
Martelkamer
Martelkamer
Volgende op ons lys is Raşnov. Nes Braşov, het hy 'n groot naambord teen die berg.

Raşnov
Raşnov is die tuiste van die 13de eeuse fort. Dis op die berg gebou. Ons klim van die bus af en begin stap. Daar is ook mooi geboue in dié dorpie. 'n Groot kerk staan trots in die dorp as 'n monument.
Kerk
Daar is 'n kabelkar-hysbak ding waarmee jy boontoe kan gaan, maar soos gewoonlik pak ek en Archie die trappe aan. Op opper opste stap ons en aan ons voete lê die dorpie. Vêrder invdie vallei is baie landerye.
Op pad na fort
Raşnov en landerye
Ons betaal die ingangsfooi en begin die fort verken. Archie is nie vreeslik in sy skik nie, want hy is nie lus vir ruïnes nie.
Fort
Daar is klein winkeltjies en die stap in die fort is eintlik heerlik. Archie kyk diep in die put af en tot hy geniet die stap in die fort. Toe is ons klaar gefort.
Wapens en implemente
Winkeltjies
Skool
Geboue in die fort
Die put
Die put
Attilla the Hun
Ons begin die aftog en klim die bus en gaan terug na Braşov. Wat 'n heerlike dag. Ons is omtrent poot-uit.

Tuesday, September 10, 2019

Roemenië. Braşov. Berg Tâmpa.

10 September 2019. Dinsdag.

Daar is 'n groot Hollywood tipe naambord in Braşov. En dis op Berg Tâmpa. Dis waarheen ons vandag gaan stap. Gestewel en gespoor en daar trek ons. Daar is wel 'n kabelkar boontoe, maar hoe ken jy vir ons?! Die berg is maar net 960m hoog.
 
Naambord
 
Ons stap tussen die woud berg-op. 'n Maklike pad, tussen bome en heerlik koel. Die roete is baie goed met 'n rooi en wit ∆ gemerk. Die ou dorp kruip vir ons weg daar onder in die vallei.
 
Eers toe ons bo by die naambord kom, kan ons die rooidakkies vreedsaam daar onder sien lê. Oral is die mooi geboue te sien.
 
Braşov
Dorpsplein
 
Ons stap vêrder na die saal en kyk af op 'n ander deel van die dorp. Aan die linkerkant is nog berge met groen boom plantasies. Daar is 'n klomp jongmense wat die mooi saam met ons bewonder. 
 
Braşov
Groot begraafplaas
Jongmense
 
Ons stap met  die geel en wit ∆ roete terug. Maar my maggies, raak dit toe steil af! Gelukkig het hulle handreëlings daar gesit waaraan ek kan klou. Af af af en toe nog 'n bietjie af. Dis eintlik pragtig en opwindend om die roete te stap. Ek sit 'n rukkie op die bankie. Ons stap verder en die einde is in sig. Dit was omtrent 'n heerlike stappie.
 
Steil af
Bankie
Einde in sig
Herfsblaar
 
Die lang staptog het ons nou behoorlik honger gemaak. Ons besluit om tradisioneel Roemeens te eet. En niks is so tradisioneel soos 'n lekker bakkie afvalsop nie! Hulle bedien dit met brood en suurroom.
 
Ons koop 'n hoender om vanaand die lewe met 'n plathoender en blomkool te vier. Dis vir my heerlik om 'n oond te hê waarin ek iets kan bak en my lyf roep na groente.
 
Afvalsop
Plathoender
 

Sunday, September 8, 2019

Roemenië. Bucharest.

6 tot 8 September 2019. Vrydag tot Sondag.

Bucharest is 'n mengsel van verskillende eras. Daar is heerlike boulevards, eeu-oue villas, versteekte kloosters, lelike kommunistiese blokke, indrukwekkende regeringshoofkantore, (sommige nog met koeëlgate van die 1989 rewolusie) en op 'n stadium is die stad "Parys van die Ooste" genoem.
Dombovita Rivier
Fonteine
Ou gebou
Ou gebou
Ou gebou
Arcul de Triumf
Hier is baie groen mooi boomryke parke, waar die inwoners kan ontspan, weg van die ewigdurende vinnige motors wat op die strate brul. Ons stap heerlik in die Herastrau Park en later ook in die Cişmigiu Tuin.
Herastrau Park
Cişmigiu Tuin
Tuin musikant in Cişmigiu Tuin
Bruidspaar in Cişmigiu Tuin
Nicolae Ceauşescu is 'n gehate man in Bucharest, want hy het 'n hele aantal historiese geboue vernietig na sy toere na Pyongyang en Beijing in die 1980's.  Die geboue is herkonstrueer en lyk baie na geboue wat jy in Parys sal kry. 

As jy in die oudorp rondloop, sal jy 'n idee kry hoe dit eens oo 'n tyd hier gelyk het. Pragtig!

Die Paleis van die Parlement is die wêreld se tweede grootste parlement ( grootste is die Pentagon). Dis in 1984 deur Nicolae gebou, het 3100 kamers, is twaalf verdiepings hoog, is 330 000 vierkante meter. Dit het 'n beraamde € 3.3 biljoen gekos om te bou. Bloedgeld. Nicolae Ceauşescu het nie lank genoeg geleef om van die marmer balkon 'n toespraak te gee nie. Hy was inderdaad 'n gehate man wat burgers hot en haar geskied en vervolg het.
Paleis van die Parlement
Die pragtige klooster is ongedeerd en word deur baie toeriste besoek. Dit dateer uit 1715. Die Catedrala Patriahala is die sentrum van die Roemeense Ortodokse geloof en is tussen 1656 en 1658 gebou.
Catedrala Patriahala
Catedrala Patriahala
Binne
Muurskildery
In die oudorp is pragtige kerke en geboue te sien. Die Stavropoleos Kerk is een van die mooistes in Bucharest.
Stavropoleos Kerk
Koepeldak
St Anthony Princely Old Court Church
Passage Macca-Vilacrosse
Ekonomiese Konsortium Paleis
Ons drink koffie en bier by Hanul lui Manuc, 'n historiese herberg wat nou as 'n restaurant gebruik word. Dit wemel van mense wat heerlike tradisionele disse eet.
Hanul lui Manuc
Restaurant
Wel, ek moet sê, ons het Bucharest terdeë geniet. Ons sluit ons verblyf af met 'n uiteet by 'n restaurant baie naby ons woonstel.
Tradisionele Roemeense dis met geel pap en eier