Wednesday, June 5, 2019

Kos Eiland. Kamares Baai.

5 Junie 2019. Woensdag.

Paloi tot Kamares Baai
Na ons drie nagte in Nisyros, vertrek ons na Kamares, op Kos Eiland, 12.6 myl. Anker op, ons groet een van gunsteling eilande en weg is ons. Die twee Fallers is op hulle pos en trek die fenders op. Mandraki staan nog steeds met sy voete in die water. Pragtig!
MJ aan die werk
Paddy
Mandraki
Paddy is 'n ruk agter die helm en vaar vorentoe, altyd vorentoe. Die see is blou, wit watte wolke sluimer bo-op elke eiland. Maja prrr ritmies en daar is 'n rustigheid op Maja. 'n Eenheid tussen mens, water, wind.

Ons gooi anker in die baai en dis ons laaste anker saam met Paddy en Mary-Jane. Die plek lyk maar soos 'n gewone, niks besonderse vakansiedorp. Soos gewoonlik is MJ op haar pos met die drankies. Ons bring die middag rustig op Maja deur. Almal besig om sy lewe te leef. Party lees, ander skryf, sommige brei en ander hou die krieket dop.
Skryf dagboek
Lees boek
Later roei die vrinne ons land toe. Van die land se kant af, sien ons hoe mooi die baai is. Regs lê Nisyros. Daar vêr is Knidos en Symi.
Sit voet aan wal
Kamares strand
Die vissershawe is pragtig. Ai, dis mooi hier. Ons stap in die dorpie rond en koop roomys. Almal hap en suig en lek aan die heerlike Magnums. 
Eet roomys
Kamares
Visserbote
Ekke
In die baai staan Maja en nog 'n paar jagte op anker. Toe is dit tyd om terug te gaan en Gus help die vrinne vriendelik van agter en die lang pad word sommer korter.

Die son se gloed is van goud gemaak en die laatmiddag kroon die dag. Die Fallers flankeer met die kamera soos smeulende modelle.
Flankeer met mekaar
Skemerkelkies
Die laaste anker-aandete is varknek en uie slaai, met avo en soet rooi pepers. Ons eet heerlik en so kom 'n spesiale dag ook tot 'n einde.

Tuesday, June 4, 2019

Nisyros Eiland. Rondry.

3 Junie 2019. Maandag.

Vandag ry ons weer met die blou karretjie en eerstens na die vulkaan en Stefanos krater. Dis omtrent 'n gesig om te sien. Geel swael kristalle skitter in die son, terwyl swael gasse en stoom die krater 'n kenmerkende swael reuk gee. Dit ruik soos 'n dag-oud gekookte padkos eier.

150 000 jaar gelede het dié vulkaan in die Aegean See te voorskyn gekom. Daar was 'n paar vulkaniese uitbarstings. Om in die 4 000 - 5 000 jaar oue Stefanos Krater rond te loop, is 'n ongelooflike ervaring. Dis een van die grootste hydrotermiese kraters in die wêreld. En dit is baie goed bewaar. Dit het 'n diameter van 260m tot 330m en 'n diepte van 27m. Die bodem het ook "fumaroles" (gate in die grond). Dit stoom soos Maja se ketel wat kook.
Vulkaan
Op pad af
Kraterwand

Stomend
In die krater
Swaelkristalle

Fumaroles
Vloer mosaïek
Hotagter
Die Fallers is totaal vasgevang in die wonder van die vulkaniese krater. Ek moet sê, maak nie saak hoeveel keer jy dit al gesien het nie, dit bly spesiaal.

Ons stap ook na die kleiner krater toe, wat net so mooi is. Hierdie wêreld wat ons woning is, is 'n wonderlike plek.
Ander kraters
Polyvitis Krater
Kraterkrake
Ons volgende bestemming is die dorpie, Nikia. Dit is 'n pragtige ou dorpie bo in die berg. Ons stop eers by die Kerk van Profeet Elia. Die uitsigte daarvandaan is baie mooi. Ek en MJ kyk af op die mooi dorpie. Dis net rooi dakkies en wit huisies.
Kerk van Profeet Elia
Muurskildery
Uitsig op Nikia
Paddy lyk vir my soos 'n skaapwagter. Hy loop met my ou rooi stapstok, want sy knie protesteer teen die baie loop. Veral die op opper opste paaie wat dan daarna verander in af affer afste. 

Ons meisies drink lemonade en die vrinne drink yskoue bier by 'n restaurant op die Nikia plein. Dit is 'n pragtige plein met 'n mooi vloer en 'n kerk in die agtergrond.  Die kelnerin gooi amper 'n hele glas lemonade op MJ uit toe sy (kelnerin) struikel. Sy bring toe maar 'n ander glas lemonade vir MJ. Dis koud, nie verfrissend en heerlik.
Ekke
By Nikia Plein
Ons stap nog 'n bietjie rond voordat ons na ons volgende bestemming vertrek. Dit is die natuurlike sauna by Emporeios, wat 'n goeie voorbeeld is van die intense vulkaniese aktiwiteit van die eiland. Die dorp self is eintlik vervalle en plek-pkek begin hulle om dit te herbou.
Natuurlike sauna
Ek en MJ dwaal af maar later dwaal ons mekaar weer raak. Ons weet eintlik nie presies waar ons is nie. Dit terwyl Archie en Paddy geduldig vir ons by die karretjie wag. Ons vind ons pad en vind die twee vrinne by die kar. Dink nie hulle het ons eers gemis nie. Hulle gesels land en sand.
Kerk by Emporios
Terug na Mandraki om vleis en paar varsprodukte te koop en toe gee Archie die karretjie terug. Ons is tuis.
Paloi Hawe
Ons eet die aand heerlike mossels en die twee flukse Fallers, was die skottelgoed. (Party van hulle is flukser as ander). Wat 'n heerlike dag.

Monday, June 3, 2019

Nisyros Eiland. Paloi en Mandraki.

2 Junie 2019. Sondag.

Livadhi tot Paloi

Alles is blou. Blou is my hart, blou is my gemoed, blou is my  gedagtes, blou is my woorde, blou is my dade. Alles is blou, want my bliksemse blog is blou. Weg in die wind. Verdwyn in die niet. Asof ons nog nooit by die plek was nie.  

Ai, vandag het ek weer moed om die blêrrie blog weer oor te skryf. So, hier is 'n verkorte weergawe van die gebeure.

Ons gaan na Nisyros Eiland, 18 myl. Ons seil vir 1h45min. Paddy beman die helm vir 'n ruk, onder die wakende oog van vroulief, MJ. Die kaptein bekyk die seile en so gaan ons vorentoe, altyd vorentoe. 
Paddy agter die helm
Om die draai en daar is ons hawe, Paloi. Almal is slaggereed om hul take te verrig. Die Fallers laat die fenders sak. Archie kry sy posisie en tru. Ek gooi die anker, maar nou is die Fallers werkloos, want 'n man op die kaai is gereed om ons agtertoue te vang. Sommer gou is ons vas en veilig hier by een van my gunsteling eilande.

Nisyros is 'n klein eiland vol kleur en prag. Hier het Moeder natuur wit klippe, rooi vulkaniese rots en swart lawa klip gemaak om 'n wonderskone landskap met baie atmosfeer te skep. Ons gaan dit alles sien en beleef.

Die vrinne gaan huur 'n kar en 17:00 is ons op pad na Mandraki, waar ons die sonsondergang gaan vier. En weg is ons. Archie bestuur, Paddy is 'n kyker (hy moet kyk dat Archie aan die regterkant van die pad ry), ek is die giller (ek gil as ek gevaar sien) en MJ is die kontroleerder (sy hou almal kalm).
Ons by Mandraki
Klein Venesië
Munisipale plein
Maar eers stap ons na Hohlaki strand met sy groot swart vulkaniese spoelklippe. Die kaptein dwaal op die strand rond, tel klippe op en gooi dit dan weg soos dit 'n klein seuntjie betaam. Tel op, gooi weg, tel op, gooi weg.

Hohlaki Strand
Daarna gaan ons na die Panaghia Spiliani Klooster, wat wag staan oor Mandraki. Daar is 130 trappe wat jy moet klim om bo uit te kom. Bo gekom en die kerk is gesluit. Soos gewoonlik hier in Griekeland. Daar is darem mooi klipwerk wat ons kan bewonder.
Poue
Panagia Spiliani
Ons klim in ons blou karretjie en ry na Paleoskastro. Vir my is dit meer 'n kasteel waarvan die manne hou. Strak en korrek. Die klipwerk is indrukwekkend. Maar dis nie eintlik die plek waar ek in my verbeelding  feëprinssese kan sien rondloop en wag op hulle prinse nie.

By Paleokastro
Paleokastro
Alles is blou
Terug by Mandraki en ons sit in die restaurant gewapen met ons skemerkelkie en wag dat die son moet sak. Ons word nie teleurgestel nie. Soos al die ander dae sak die son en hier by Mandraki gaan skuil hy agter Kos Eiland se berg. Ons gee 'n applous.

Ons ry terug huis toe en Maja wag ons in en heet ons welkom.

MJ en Paddy
Ek en Archie
Ons meisies
Sonsondergang


Sunday, June 2, 2019

Tilos Eiland. Mikro- en Megalo Chorio.

1 Junie 2019. Saterdag.
Na 'n heerlike nagrus is ons vroeg op vir ons lekker lang stap na die Mikro Chorio. Die verlate dorpie was gedurende die 15de eeu die middelpunt van die eiland en baie vooruitstrewend. Na die Tweede Wêreldoorlog het almal die dorp verlaat en vandag is net die ou ruïnes te sien.

Ons geniet die stap én die verlatenheid van die dorpie. Die wit kerk is nog pragtig bewaar. Staan rein  en trots tussen die res van die vaal geboue. Hier is maar min teken van lewe in die geweste. Dis net 'n baba bok en sy ma se geblêr wat 'n teken van nog lewe hier is. Paddy het baie vrae en teorieë oor wat alles hier gebeur het. MJ bekyk alles en geniet die dorpie terdeë. Ek en Mr. Velle (Faller) beloer nog 'n paar verlate geboue en weereens wonder Mr. Velle oor alles. 'n Behoorlike nuuskierige agie.
Op pad na Mikro Chorio
Mikro Chorio
Mikro Chorio
MJ en ek en kerk
Die Fallers
Archie en ek
Begraafplaas
Bo
Uitsig
Bo-bok
Oorblyfsels van trappe
Geraam
"Christ the Saviour" Kerk (1430)
Frescos
Toe stap ons af affer afste na die teerpad toe op die mooi mensgemaakte klippad om vir die bus te wag. Ons gaan Megalo Chorio toe. Dit is die hoofstad van Tilos. Op die top van die heuwel is die kasteel wat  deur die ridders van St. John gebou.

Terug na teerpad
Hongerpyne knaag en ons swig. Dis 'n oulike restaurant met 'n baie oulike eienaar. MJ en Paddy eet 'n geroosterde toebroodjies en ek en Archie eet mossel saganaki. Die bier is yskoud en heerlik. 
Restaurant ingang
Toe stap ons op opper opste na die boonste kerk en bekyk die kloktoring. Ons meisies is lekker verspot en loer vir mekaar. Ai, dit raak warm hier in Griekeland. Dink die somer is hier. Ons dwaal lui-lui nog 'n ruk in die Megalo Chorio rond. By die supermark word die tradisionele  bottels tuisgemaakte "Raki from Tilos" gekoop. Ons klim die bus en ry terug na Livadia, waar Maja rustig langs die kaai vir ons wag.
3 Belles
Kerktoring
Daai fenders is mos pikswart van die blêrrie swart kaaifenders. Toe begin MJ die fenders te was. Met  die deeglikheid van 'n goeie huisvrou, kry sy daai fenders weer skitterwit. Mr. Velle sit ook handjie by, meer so met die oog as met die hand. O nee, nou lieg jy mos, Katriena, hy hou die tou van die fender met die hand vas, terwyl MJ was. Baie dankie julle. Goeie werk!
Maak fenders skoon