Friday, May 10, 2019

Marmaris Yacht Marina. Hier kom hy!

9 Mei 2019. Donderdag.

Vandag is die dag! Ons eerste kuiergas kom. Dis nou Archie se ou skoolmakker, Sullivan. Maja is silwerskoon en reg vir hom. Nou is dit die groot wag.

Ons kry die boodskap dat hy met 'n taxi vanaf die busstasie af vertrek. Nou is dit net so tien minute, dan is hy hier. En daar kom die geel taxi aangery met een kop voor en een kop agter. Dit moet hy wees. En hier is hy, spierwit hare en stokkiesbaard.

Die twee makker val mekaar om die hals en groet soos vroumense. So bly om mekaar te sien. Sullivan is hier vir sy tweede seilervaring. Maar daai tas? Ek wou sê dit lyk soos 'n doodskis, maar dan verlang ek te veel na my ma. Nou sê ek maar dat dit lyk of hy die hele seisoen gaan bly!

Ons stap na die India kaai en hulle stoei die tas op. Dié groot gedoente kry, toe die seilklere uitgepak is, lêplek in Martie (stoorkamer) se kajuit.

Dawid en Jonathan
India kaai (links)
Sukkel aan boord

Ons geniet iets nat en droog en klim die dolmus dorp toe. Nou is ons toeriste. Ons stap langs die see en kyk na die interessante standbeelde.

Seekat

Toe stap ons na die kasteel toe en geniet die mooi straatjies getooi met helder blomme. Pienk en pers en pragtig. Die makkers hou hul lywe modelle en poseer vir die fotograaf. Hulle lyk so seksie vir my, al dans hulle nie (verwys na 'n liedjie).

Blommetjie stegie
Stokkiesbaard
Mooie meisie

Daarna drink ons ook 'n koffie by Panorama koffiekroeg, die hoogste uitsigpunt in Marmaris. Ons kyk uit oor die baai en doer vêr is Yacht Marina. Die groot geel verkyker bring alles nog nader.

Panorama
Kasteel
Marmaris baai en kaai
Soek vir Maja

Ons koop lekker magnum roomys en sit op 'n bankie en eet. Pure toeris! Toe is dit terug na die dolmus en Maja verwelkom ons met ope arms. Terwyl ek 'n vroeë aandete maak, gaan stort die makkers. Ons het 20:00 'n koffie afspraak by Trevor en Leslie.

Sullivan sit met sy Magnum in sy hand

Die aandete is heerlike hoender, sampioen en houterige aspersies. Heerlik. En toe stap ons na Azuria, ons vriende, Trevor en Leslie, se catamaran.

Ek en Archie drink van die koffiemasjien se koffie wat Trevor maak en die Kapenaars drink wyn. Kuier heerlik en toe is dit weer sukke tyd. Koebaai-sê. Ons vertrek môre en dan skei ons paaie. Ons gaan die kuiers mis.

Trevor maak koffie
Leslie poets glase
Kuier lekker saam

Ek het my stortgoed saamgebring en spring gou by die stort naby Azuria in. Snaakse stort dié, dit klink of dit sparks maak. Ek kyk agterdogtig ba die stortkop. Klaar gestort en toe ek uitstap, hoor ek nog meer sparks. Wonder wat dit kan wees. Toe loop ek terug na Maja.

Ons sou later uitvind dat net toe ek weg was, het daar 'n elektriese brand uitgebreek en die groot buite geyser van die stort waar ek nou gestort het, het ontplof en uitgebrand. Trevor het die hoë vlamme gesien en dadelik gehardloop om te kyk of ek nog daar is. Sjoe, wat 'n noue ontkoming! Die personeel was dadelik op die toneel om die brand te blus. Soveel dae, soveel dinge.

Uitgebrande geyser

Thursday, May 9, 2019

Marmaris Yacht Marina. Water toe.

7 en 8 Mei 2019. Dinsdag en Woensdag.

Vandag gaan ons uiteindelik water toe. Wel, ons het nou al lank genoeg hoog en droog op die land gesit. Ek word nou ook al moeg vir trappies op en trappies af. Ons kan ook nie eintlik water hier in die hoogte gebruik nie, want dit val alles onder die boot op die sement én dit is nie goed vir die romp se verf nie.

Archie pomp die nuwe Dinkie op en monteer dit voor op Maja. Dit is bietjie groter as die vorige een. Nou gaan ons al te lekker land toe ry! En ek was gou vir oulaas die vuil fenders.

Pomp Dinkie op
Maak fenders skoon

En toe wag ons. Maar daai trekker kom nie. Ons maak tee, met die hoop dat dit hom lok. Gewoonlik werk dit mos so dat as jy net die tee klaar gemaak het, kom hy. Maar niks! Later stap ek soontoe en die man sê nog twee ure. Dan sal hy 16:30 hier wees. Dit begin reën en 16:30 kom en gaan. Niks trekker nie!  Ek brei toe maar 'n ry of twee. Skielik hoor ek hoe die houtstut val en skrik so groot vir die lawaai, dat ek vyf steke op een slag verloor. Hulle is hier! Die aksie begin!

Die trekker ry met Maja watersloot toe. Die groot blou masjien kom haal haar en die bande word onder haar romp gesit en word sekuur in die water gelaat. Uiteindelik voel Maja weer die water voel-voel aan haar seksie agterstewe. Sy is weer waar sy hoort, in die water! Met dié kom Trevor en Leslie daar aan. Ons het hulle mos verlede jaar by Marmaris ontmoet. So bly om hulle te sien. Dit groet en waai en lag en gesels. Toe wag ons vir die marinero om ons na ons staanplek in die marina te vat. Hulle vat omtrent hulle tyd en toe vat hulle ons na die India kaai toe en help vasmaak. Dis lekker om weer in die water te wees.

Water toe
"Hitchhiker"
Sak Sarel!
Marina
Trevor en Leslie kom ook daar by ons nuwe blyplek aangestap. Hulle het ons sweerlik agtervolg! En kom aan boord, ons eerste kuiermense vir die splinternuwe seisoen. Die weersiens is gelaai met blydskap en vrolikheid en hartlikheid.
Trevor en Leslie kom kuier
Die aand gaan eet ons almal by die marina se restaurant en die kos en geselskap was heerlik. Ek en Archie eet vis.  Die borde geurige kos word behoorlik verslind. Sjoe, ons was eintlik baie honger na die wagdag.

Uit gevat
Leslie en ek
Archie en Trevor
Levrek
Woensdag gaan ons dorp toe om voorraad te koop vir Sullivan se kuier. Hy kom Donderdag en ons sien baie uit na sy kuier. Archie gaan ook na die hawemeester om vir Sullivan op die transitlog te sit. Dit vat nogal lank en die agent bied vir ons 'n heerlike ontbyt aan. Gawe mense die Turke.

Ons en die Koekemoers gaan eet die aand Turkse huiskos by die kantien. Nederige kos, geurige boontjies, rys, brood en jogurt in 'n varkpan. En elkeen kry 'n lekker appel. Ag, maar dis te lekker! Dit voel of ons in die hart van Turkye is as ons so saam met die werkers eet. Hulle verdien omtrent so 'n lekker bord kos na hulle daaglikse harde werk.
Kantien ete
Dis nog vroeg, want die kantien is net oop van 18:30 tot 19:30. Die son probeer nog skyn en daarna trakteer die Koekemoers ons op hulle catamaran. Koffie met hul nuwe koffiemasjien en 'n Magnum roomys. "Dankie julle vir 'n heerlike aand".
Gaan kuier by Koekemoers
Trevor
Leslie
"In the lap of luxury"
"n Koue wind waai op die kaai. En ons gaan snoesig slaap.

Monday, May 6, 2019

Marmaris Yacht Marina. Nog steeds hoog en droog

4 to 6 Mei 2019. Saterdag tot Maandag.

Werk, werk werk. Almal werk. 'n Flukse klomp manne, hier in Marmaris se Yacht Marina. Dit verf en was en politoer. Nuwe toebehore word geïnstalleer. Sommige van die jagte is nog onder hul bekleedsels weggesteek. "Gaan na die mier, luiaard …" of miskien "gaan na die marina, luiaard …".  So besig soos bye en so doenig soos miere.


Verwers
Archie verf

Manne was

Politoer

Aan die werk

Politoer
Archie is net so besig. Eers sit hy 'n spesiale onderlaag op die propeller, kiel en "saildrive". Daarna word die senuweeagtige eerste haal "antifouling"geverf. Dis die eerste keer dat Archie self Maja se romp verf. Hierdie is peperduur verf (R680/liter) wat verhoed dat seegediertes aan Maja vasgroei. Dit gaan goed en ten spyte van die sagte ligte reën, word die eerste laag geverf. 
 
Onderlaag
R680 per liter
Begin verf
Toe is dit 'n splinternuwe dag met 'n son wat vrolik aan die hemel hang, en Archie kan sy tweede laag opsit. Hy verf  nou soos 'n ervare verwer. Die deel net onder die watervlak, kry 'n derde laag. Nou lyk Maja se romp te pragtig. Die verf word vinnig droog en later trek hy die spesiale maskeerband versigtig af. En Archie het op die koop toe duisende rande gespaar deur self te verf.
 
Verwyder maskeerband
Maja te pragtig
Ons het 'n spesiale skoonmaakmiddel gekoop en nou word Maja buite van hoek tot kant geskrop. Met 'n borsel en sponsie. Daai seep werk. Maja kom silwerskoon anderkant uit. Intussen is dit gedurig trappies af en trappies op as jy iewers wil heengaan. Ai, dit sal lekker wees om op die water te wees!

Trappies af …
… en trappies op
Al die silwer liggies en handvatsels binne Maja word gepolitoer en blinkgevryf. Ons vorder omtrent goed met al die skoonmakery. So tussen-in hekel ek ook 'n bietjie. Sewe blokke gehekel en sewe blokke gebrei!

Vorder goed
Môre is dit water toe!

Friday, May 3, 2019

Marmaris Yacht Marina. Maja word meisie-mooi.

1 tot 3 Mei 2019. Woensdag tot Vrydag.
Ons is nog steeds in Marmaris Yacht Marina op die stelte. Die weer is heerlik. Sonnig en warm in die dag en koudterig in die aand. Ons kry wel soms in die nag bietjie reën. Ek voel sommer tuis hier in die marina so tussen die bote. So nou en dan kom my groot vriend, Gus, net liggies hallo sê.

Wel, belangrike dinge eerste. Ons gaan dorp toe met die dolmus. Dis so dertig minute se ry om by die supermark, Migros, in Marmaris se dorp  uit te kom. Archie pik toe sommer dadelik na die bootwinkel toe en koop skoonmaakgoed en 'n nuwe Turkse vlag. Toe is dit die wolwinkel en ek koop wol vir my projek vir hierdie jaar. My vriendin, Esther het my leer hekel en nou gaan ek vir die kleine Maja se dek 'n kombers brei en hekel. 

Die verleidelik aarbeie moet doodeenvoudig gekoop word en ook blare en tamaties. Ons rugsakke is vol voorraad en ons ry tevrede met die dolmus terug huis toe.
Koop wol
Vars produkte
Nou begin die groot taak om vir Maja reg te kry vir vaar. Ai, sy word darem gepamperlang! Die silwer pype word blink gepoets en aspoestertjie word weer 'n prinses! Eers word die pype skoongemaak en afgewas. Daarna word dit gepolitoer met 'n spesiale peperduur produk, Vachicon Metal Polish. Toe is daar diamante in haar skitter en 'n glimlag op my gesig!
Poets pype
Archie is net so doenig. Hy ghries die laers (bearings) van die  "furler" aan die voorpunt van die boot. Dit is die ding wat die genoa oprol.
Ghries genoa "furler" se laers
Mustafa kom en verwyder die toilet se onderwater toebehore en pype. Dié goeters gaan deur die boot se romp onder die watervlak, en beheer die in - en uitlaat van die toiletwater. Dis die goed wat ook kan lek as dit onklaar raak, dan sink jou boot. Nuwes word gekoop en geïnstalleer. Sonder Archie sou Mustafa nie die werk kon voltooi nie. Dis verseker 'n "two man job". Die hele petalje kos ons R7 700.00. Dit sluit darem die arbeid is. Jy sien, vir 'n boot word alles mos van metaal gemaak wat nie roes nie, in dié geval, brons. Dan betaal jy dat jy bars.
Mustafa aan die werk
"Two-man job"
Archie vervang die toiletuitlaatpyp se drieringtingklep en sit die pype wat hy verlede jaar afgehaal het om skoon te maak, terug. (Ek hekel so bietjie).
Sit toiletpype terug
Archie maak toe die "Symi stamp" van verlede jaar toe Francois en Roelien saam met ons was, reg met 'n spesiale gom, Sikaflex 292i. Hoop dit hou. Hy sit ook die offeranode op die kiel (dit keer dat die kiel nie roes nie).
Herstel "Symi stamp"
Offeranode …
… op die kiel
Ek was wasgoed en dit wapper op die drade. Daarna begin ek met die kamers. Alles wat op die beddens gestoor was, moet eers hulle regte plek kry. Dit lyk nog steeds of 'n orkaan Maja getref het. Oral staan goed rond en dis gereedskap waar jy kyk. Ek stofsuig die matrasse en sit die beddegoed op. Nou lyk ons kajuit pragtig. Toe is dit Sullivan/Paddy/ Elize/Pierre/Dirk/Francois se kamer se beurt. En siedaar, die kajuit is gereed vir Sullivan wat ons eerste besoeker is en hy kom al 10 Mei. Ek was die toilet en die kombuis. Ai, 'n huisvrou se werk is ook nooit klaar nie. So elke nou en dan rus ek 'n bietjie en dan hekel ek.
Wasgoed
Ons kamer
Gastekamer
Hekel
Archie skuur die boot af as voorbereiding vir die verf, wat hy hiedie jaar self gaan doen. Hy lyk vir my na 'n kruising tussen 'n mediese chirurg en 'n maanman.  Ai, al die manne in die marina is aan die werk en Archie werk saam. Sowat van bedrywigheid het ek lanklaas gesien. Welkom by die 2019 seiljaar!

Reg vir afskuur