Friday, May 3, 2019

Marmaris Yacht Marina. Maja word meisie-mooi.

1 tot 3 Mei 2019. Woensdag tot Vrydag.
Ons is nog steeds in Marmaris Yacht Marina op die stelte. Die weer is heerlik. Sonnig en warm in die dag en koudterig in die aand. Ons kry wel soms in die nag bietjie reën. Ek voel sommer tuis hier in die marina so tussen die bote. So nou en dan kom my groot vriend, Gus, net liggies hallo sê.

Wel, belangrike dinge eerste. Ons gaan dorp toe met die dolmus. Dis so dertig minute se ry om by die supermark, Migros, in Marmaris se dorp  uit te kom. Archie pik toe sommer dadelik na die bootwinkel toe en koop skoonmaakgoed en 'n nuwe Turkse vlag. Toe is dit die wolwinkel en ek koop wol vir my projek vir hierdie jaar. My vriendin, Esther het my leer hekel en nou gaan ek vir die kleine Maja se dek 'n kombers brei en hekel. 

Die verleidelik aarbeie moet doodeenvoudig gekoop word en ook blare en tamaties. Ons rugsakke is vol voorraad en ons ry tevrede met die dolmus terug huis toe.
Koop wol
Vars produkte
Nou begin die groot taak om vir Maja reg te kry vir vaar. Ai, sy word darem gepamperlang! Die silwer pype word blink gepoets en aspoestertjie word weer 'n prinses! Eers word die pype skoongemaak en afgewas. Daarna word dit gepolitoer met 'n spesiale peperduur produk, Vachicon Metal Polish. Toe is daar diamante in haar skitter en 'n glimlag op my gesig!
Poets pype
Archie is net so doenig. Hy ghries die laers (bearings) van die  "furler" aan die voorpunt van die boot. Dit is die ding wat die genoa oprol.
Ghries genoa "furler" se laers
Mustafa kom en verwyder die toilet se onderwater toebehore en pype. Dié goeters gaan deur die boot se romp onder die watervlak, en beheer die in - en uitlaat van die toiletwater. Dis die goed wat ook kan lek as dit onklaar raak, dan sink jou boot. Nuwes word gekoop en geïnstalleer. Sonder Archie sou Mustafa nie die werk kon voltooi nie. Dis verseker 'n "two man job". Die hele petalje kos ons R7 700.00. Dit sluit darem die arbeid is. Jy sien, vir 'n boot word alles mos van metaal gemaak wat nie roes nie, in dié geval, brons. Dan betaal jy dat jy bars.
Mustafa aan die werk
"Two-man job"
Archie vervang die toiletuitlaatpyp se drieringtingklep en sit die pype wat hy verlede jaar afgehaal het om skoon te maak, terug. (Ek hekel so bietjie).
Sit toiletpype terug
Archie maak toe die "Symi stamp" van verlede jaar toe Francois en Roelien saam met ons was, reg met 'n spesiale gom, Sikaflex 292i. Hoop dit hou. Hy sit ook die offeranode op die kiel (dit keer dat die kiel nie roes nie).
Herstel "Symi stamp"
Offeranode …
… op die kiel
Ek was wasgoed en dit wapper op die drade. Daarna begin ek met die kamers. Alles wat op die beddens gestoor was, moet eers hulle regte plek kry. Dit lyk nog steeds of 'n orkaan Maja getref het. Oral staan goed rond en dis gereedskap waar jy kyk. Ek stofsuig die matrasse en sit die beddegoed op. Nou lyk ons kajuit pragtig. Toe is dit Sullivan/Paddy/ Elize/Pierre/Dirk/Francois se kamer se beurt. En siedaar, die kajuit is gereed vir Sullivan wat ons eerste besoeker is en hy kom al 10 Mei. Ek was die toilet en die kombuis. Ai, 'n huisvrou se werk is ook nooit klaar nie. So elke nou en dan rus ek 'n bietjie en dan hekel ek.
Wasgoed
Ons kamer
Gastekamer
Hekel
Archie skuur die boot af as voorbereiding vir die verf, wat hy hiedie jaar self gaan doen. Hy lyk vir my na 'n kruising tussen 'n mediese chirurg en 'n maanman.  Ai, al die manne in die marina is aan die werk en Archie werk saam. Sowat van bedrywigheid het ek lanklaas gesien. Welkom by die 2019 seiljaar!

Reg vir afskuur




Wednesday, May 1, 2019

Hier gaan ons weer


28 tot 30 April 2019. Sondag tot Woensdag.
 

Wel, ek het my weereens spekvet afgeskeid. İn my kringe neem jy mos nie afskeid sonder 'n eetdingetjie nie. Dis BEAM etes, vriende en vriendinne etes en ook die familie.

Mnr en Mev Steenkamp neem ons lughawe toe. (Dié tweetjies is toe mos Februarie in die eg verbind en mag nou in hul ouershuis in een bed slaap!) En toe is dit weer sukke tyd. Hier gaan ons weer, vir die sewende jaar, na ons kleine Maja.

Mnr en Mev Steenkamp …

… neem ons lughawe toe

Ons drink vir oulaas ons tradisionele lughawe koffie, groet en waai vreeslik en toe verlaat ons ons deurmekaar land en vertrek na Maja, ons tuiste in die bekende onbekende.

Ons vlieg na Kaïro in Egipte. Wag vir so vier ure vir die vlug na Istanbul en toe wag ons vir 6h30min op die busstasie vir ons bus na Marmaris. Dit was omtrent 'n ewigheid en 'n half! Al die vroeë busse was vol en ons klim toe doodmoeg die 21:30 bus en ry deur die nag, in die volgende dag in en kom toe na 13 ure in Marmaris aan.

Wag ure vir die bus …
… toe word ons honger

Die taxi neem ons na Yacht Marine en toe is Maja weg. Skoonveld! Daar is net 'n leë spasie waar ons verlede jaar plegtig van haar afskeid geneem het. Archie soek en soek en gaan vra toe maar later vir die marina kantoor waar sy is. Vir 'n paar sekondes het ek gedink sy hét in die orkaan van verlede  Desember weggewaai! Maar uiteindelik, daar staan sy op 'n heel ander plek, onder 'n stofjas.

Maja

Welkom tuis! İn 'n oogwink lyk dit inderdaad of 'n orkaan haar getref het. Dis tasse en goeters wat nou eers hul lêplek moet kry. Die waterpomp wil ook nie pomp nie en Archie kry dadelik die fout. Bietjie roes of iets gedurende die winter. Mr Fixit, fieks dit en siedaar! Ons het water, want die pomp pomp weer!

Deurmekaar
Wel, nou begin die groot werk. Eers moet Archie van Maja se stofjas ontslae raak. En dán begin die werk. Net soos wat hulle met nagmaal op Pofadder die "tafel in gereedheid bring", moet Maja nou ook in gereedheid gebring word om water toe te gaan.

Spuit stofjas af
Aan die werk

Thursday, October 11, 2018

Tot siens.

So kom nog 'n seilseisoen tot 'n einde. Dit was ons sesde jaar wat ons die seilding doen. En net sodra ons dink ons raak nou pro's, word ons weer deeglik aarde toe gebring deur 'n skande of skade waardeur ons nog wyser word.

Ons het die Med se waters behoorlik deurkruis, 1660 seemyl gereis - 1000 in Griekeland en 660 in Turkye. 27 Griekse eilande is deur ons besoek. Ons het nog 'n mylpaal bereik deur om die Peloponnisos te vaar.

Daar was erge winde en ons het telke male geskuil teen Gus. Ander tye was die see spieëlglad en soms het ons ook darem geseil.

Griekeland

Manolonisi Baai

Griekeland bly maar bobaas. Daar is atmosfeer, 'n "vibe", wat mie maklik ootrtef word nie. İn Mei het ons die voorreg gehad om saam met Archie se skoolmaat, Sullivan, te seil en ons het 'n heerlike tyd saam beleef.
Sullivan
 
My getroue ou seilsuster, Elize en haar man Fanie, het ook weer kom kuier. Saam het ons die oostelike Pelloponisos besoek. Elize was weer 'n toegewyde toeris. Sy en Fanie het dié deel van Griekeland omtrent bekyk en "gedoen" en beleef. Altyd lekker om hulle op Maja te hê.

Fanie en Elize

Ons het vir Sakari en Riita van Finland in Zakythos ontmoet en vir so drie weke sy aan sy gevaar, totdat ons om die derde vinger van die Peloponnisos is. Toe vat hulle die pad Cyclades toe en ons die Saronic See.

Sakari en Riita

Griekeland bly bo-baas-beste. Ons het nuwe eilande ontdek wat behoorlik in ons harte gekruip het. Ek sê weer:"Ek lief Griekeland".

Turkye.

Keçi Bükü

Dié plek se natuurskoon bly die beste. Salige ankers en turkooi water. Ons het ou bekende plekke besoek en nuwes ontdek. 

Dirk en İna het vir ons kom kuier in Turkye en saam-saam het ons die saligheid van Turkse baaie en ankers beleef.

Dirk en Ina

Francois en Roelien het vir die eerste keer kom kuier. Roelien was 'n uitstekende baarmoeder en Francois het gesorg dat ons ys aan boord het. Ons het dié twee kinders se teenwoordigheid baie geniet!

Francois en Roelien

Ons Franse Kanadese vriede was ons laaste gaste van die seisoen en het van Kemer tot Fetiye saam met ons gevaar. Hulle het die reis én die res van hul Turkse vakansie terdeë geniet.

Louise en Yvon

Ons het heerlik saam met Neil en Sandi, Mark en Ebeth, Trevor en Leslie, İan en Mark gekuier. Heerlik om met mede-landgenote in verre lande te kuier.

Marmaris se mense

Martin en Shiree van Gumnuts gaan die Med verlaat. Hul boot is Thailand toe op 'n skip. Ons het darem die voorreg gehad om vir oulaas saam met hulle te kuier. Ons gaan hulle voorwaar mis.

Martin en Shiree

En Maja? Sy het 'n houvas op my. Ek het haar waarlik lief. Die bootlewe laat jou lag en huil en vloek en sweet en stink. Jy beleef lief en leed. Word een met die natuur, die wind en weer. Maar daar is 'n uniekheid aan die lewens van seilende sigeuners. Dis prysloos!

Dan groet ons maar tot volgende jaar.

Ons groet
Tot siens.


Saturday, October 6, 2018

Terugtog.

5 Oktober 2018. Vrydag.

Ons begin vandag ons lang pad huis toe. Dis 'n grys grou dowwe dag. Vaal. Dit reën liggies. Dis nou tyd om te gaan.

Ons klim vandag (Vrydag) 12:15 die trein na Tbilisi en kom 17:30 daar aan. Môreoggend (Saterdag) vlieg ons 6:05 van Tbilisi na Istanbul en arriveer 7:30 op die verkeerde lughawe. Dan moet ons die bus na Taksim klim en daarna die lughawebus na Ataturk Lughawe in Istanbul.

14:00 klim ons EgyptAir en vlieg na Egipte. Arriveer 15:10. Omdat ons so lang tyd op die Kairo Lughawe moet wag, vat hulle ons na EgyptAir se **** hotel vir rus, stort en aandete. Dan vlieg ons 23:10 terug na Suid-Afrika. Ons behoort 7:10 (Sondag) op ORT lughawe te arriveer.

Nog 'n seilseisoen is verby. Ons sal as ons tuis is die opsomming van die jaar se seilervaring  neerpen en met julle deel.

Thursday, October 4, 2018

Kutaisi. Toer.

3 Oktober 2018. Woensdag.

Dis alweer sukke tyd. Ons gaan op 'n dagtoer na twee kanjons en 'n grot. 10:00 laai die toermotor ons op en agterin sit reeds twee mooi jongmense van Switzerland. Die bestuurder kan nie Engels praat nie en 'n ander man ry vir 'n ent saam en verduidelik die toer en toe klim hy af. En daar trek ons. Net ons en die bestuurder wat nie kan Engels praat nie. Hy is bietjie ouer en bestuur nie lewensgevaarlik nie.

Eerste op die program is die Martvili Kanjon. Die ding om hier te doen, is om in 'n bootjie in die kanjon te vaar. Ons koop ons kaartjies en begin af te stap na die bootjies. Archie en die Switser roei en die stuurman sit agter en roei. Daar is sewe van ons op die rubberboot.

Die kanjon is 40m tot 70m diep. Daar is ook 'n waterval wat sommer so uit die klip val. Die water is 'n blou-groen kleur en dit voel so vreeslik rustig in die kanjon. Ons vaar rustig en dit lyk so vreedsaam met die ander bootjies wat ook met 'n klomp agies in die kanjon vaar. Ons draai om en gaan terug na die beginpunt.

Ons klim uit die bootjie en stap verder in die kanjon. Archie en die Switsers staan op die loopplank en bewonder die skoonheid van Moeder Aarde. Die groen mosbaarde hang aan die bome en die water vloei oor die klippe daar onder. Ons stap terug en sommer gou ons ons uur wat ons hier kan spandeer verby. İn die kar en ons ry verder.
 







 

Die volgende kanjon is omtrent 42 km noord-wes van Kutaisi naby die Zeda Gordi dorpie. Dit is die Okatse Kanjon.
 
Ons koop ons kaartjies en begin die 2.3 km stap na die begin van die kanjon. Die stap daarheen is pragtig. Ons loop tussen hoë bome op goed uitgelegde paadjies. Die Switsers loop voor ons. Ons het 2h30 min om die kanjon te besoek en te bekyk.
 
Stap tussen die bome

Op pad
 
Ons kom na 'n lekker lang stap by die kanjon en begin die stap op die loopweg. Hier is baie werk in hierdie paadjie gesit. Die pad bestaan uit hout en staal met handrelings. Baie veilig. As jy hier sou afval, val jy tot oormôre.

Ons loop op die kant van die 100m diep kanjon en bekyk die dieptes op die uitsigpunte. Daar onder kronkel die honger stroompie wat oor duisende jare die kanjon uitgevreet het. 

Uitkykpunt

Hang paadjie

Jy kan op die suspensieplatform loop en nog 'n beter uitsig op die kanjon kry. Die Switsers is daar en die Israeli's wil net foto's neem. Hulle poseer ook toe so ewe saam met my vir 'n foto. Twee gawe manne.

Toe is dit die terugtog. 'n Gids het gesê mens klim altesaam 1 000 trappe kanjon toe en terug. Ons loop en klim behoorlik vandag. Toe stap ons weer die 2.3 km terug na die motor waar die bestuurder geduldig vir ons wag en ons ry verder.

Hang platform

Ek en Archie

Toergroep

Ek en Israeli's

Suspensieplatform
 
Die hoogtepunt van die dag is die Prometheus Grot. Die grot is 1,4 km lank met ses groot grotkamers en 'n ondergrondse meer van 400 m. 

Ons begin ons staptog in die aarde se binnegoed. Die sementpaadjie is plek-plek baie glad, want dis nat hier binne. Dit het 'n hoë humiditeit en daar is 880 trappe in die grot wat jy moet klim. Ons klim behoorlik vandag trappe! Daar is 'n konstante temperatuur van 14° C.

Ons klomp stap saam met 'n gids en verwonder ons aan die stalagtiete en stalagmiete. Dis 'n sprokieswêreld. Die grotkamers is groot en prentjiemooi met al die vorms wat uit die dak van die grot hang en uit die vloer groei. Ligte van verskillende kleure verlig die grot.

Na die stap kom haal die hout motorboot ons en ons vaar die 400m op die ondergrondse meer. Wat 'n heerlike uitstappie. Hierdie grot is inderdaad indrukwekkend!
 








 

Ons klim in ons motor en ry huis toe. Die bestuurder het seker die huis geruik, want nou ry hy skielik vinniger. Hy bestuur nogtans baie veiliger en beter as die ander jaagduiwels waarmee ons al in Georgië getoer het.

Wat 'n heerlike opwindende dag! Die twee kanjons was totaal verskillend van mekaar en die grot slaan jou asem weg! 'n Uitstekende verskeidenheid.