Monday, August 27, 2018

Çavus Limanı.

26 Augustus 2018. Sondag.

Gökkaya Limanı tot Çavus Limanı

Vandag was glad nie 'n lekker dag nie. Ons vaar 38 myl na Çavus Limanı toe. Ek en die kaptein kon net nie ooreenkom waarheen ons moet gaan nie. Daar was onmin op Maja.

Vroeg-oggend by Gökkaya Limanı

Kuslyn

Ingang tot Çavus Limanı

Çavus Limanı.




Gökkaya Limanı.

25 Augustus 2018. Saterdag.

Üçağız tot Gokkaya Limanı

Ons vaar verby Kale Köy met sy pragtige kasteel op pad na Gökkaya, 4 myl. Die ou kasteel van Kasteel Baai lyk vir my maar baie eensaam. Sommer gou is ons by Gökkaya. Die baai is gewild, want hier is baie jagte wat die besonderse plek as 'n tuiste gebruik.

Kale Köy
Kale Köy
Kasteel Baai
Gökkaya Baai
 
Ons ontspan sommer heeldag op Maja. Swem, boeklees, gesels.
 
Die aand is dit weer een van daai "Maja Magic" momente. Gus waai baie liggies. Die son sak vroeg agter die berg en die wêreld sug soel en salig as die ergste hitte verdwyn. Die koeëlronde geel maan neem die son se plek in.

Hy glimlag geheimsinnig en glinster sy glim-gloed op die stilswye van die spieëlgladde baai. Êrens lag kinders en grootmense gesels. 'n Klokkie lui op 'n gullet om 'n avondmaal aan te kondig. Alles leefgeluide in die mooi Gökkova, waarvan ons tweetjies op Maja deel is.
 
Glimlag geheimsinnig

Saturday, August 25, 2018

Üçağız Limanı.

24 Augustus 2018. Vrydag.

Kaş Marina tot Üçağız Limanı

Die marina man word oor die radio geroep en hy staan ons by met die losmaak van die snoettou en neem ons toegangskaart in en weg is ons na Üçağız, 20.8 myl.

Op 'n stadium motorseil ons, maar die wind is maar min. Ons is eintlik op pad na Kemer, waar ons vir Yvonne en Louise, die Franse Kanadese, gaan oplaai. 

Ons sien 'n uitsonderlike skouspel wat ons asems wegslaan. 'n Groot tuna, so 1,5 m groot, spring ongeveer 2m met 'n boog uit die water uit agter 'n vis aan. Die knewel spring nie een keer nie, nee twee keer, in die lug. Dis 'n pragtige vis. Ons het nie besef hier is sukke groot tunas in dié geweste nie. Wat 'n gesig!

Ons vaar by Kekova in en wil eers by Woodhouse Bay probeer anker, maar dis net gullets waar jy kyk. Hier is nie plek vir 'n muis nie!
 
"Full house"
 
Toe gaan ons maar na die getroue Üçağız toe en gooi daar anker. Dis 'n bedrywige dorpie die. Toeriste net waar jy kyk.
 
Üçağız Baai

Friday, August 24, 2018

Kaş Marına en Kastellorizon

22 en 23 Augustus 2018. Woensdag en Donderdag.

Bayındır Limanı to Kaş Marina

Vandag gaan ons na Kaş Marina, 7 myl, vir twee dae. Ons moet na die Griekse eiland, Kastellorizon toe gaan, sodat ons nuwe Turkse visums vir die volgende 30 dae kan kry.

Ons trek die anker op en vaar terug na Kaş Marina, verby die rotse wat sommer so in die see staan. Die marina se personeel is uitstekend! Ons pomp eers swartwater uit en toe vergesel hy ons na ons plek in die marina, B 21. Hy spring self op Maja en maak die snoettou vas. Woeps, is die agtertoue vas en ons word met die hand gegroet en welkom geheet.
Oggendskoot - Geïsoleerde gevaar
Archie gaan koop dadelik veerboot kaartjies vir die volgende dag en toe is ons reg vir Kastelorizon. 'n Eiland wat my aan Symi laat dink. Kleurvolle huise wat vriendelik langs die see en teen die berg-op glimlag deur hul vriendelike vensters. Daar vind baie bemarking plaas, want hulle wil al die vervalle huise verkoop en die nuwe eienaars moet dit restoureer.
Meermin en haar dolfyne
Geraamte
Kastellorizon
Kastellorizon

Kastellorizon
Ons stap rond en eet by 'n restaurant waar die groot waterskilpad vreeslik lief is vir die mense se garnaalkoppe wat in die water gegooi word. Die groot ou vraat eet hom omtrent dik aan die garnale! 
Restaurant
Skillie
Archie se plakkie maak hom seer en hy sit op 'n bankie en boek lees, terwyl ek in die hitte rondstap. Nog steeds is die hartseer St George kerk, wat in die 19de eeu gebou is, daar. Verwaarloos en treur huil-trane deur sy gebreekte venster oë met stukke splinter glas, oor wat was, wat is en wat sal wees. En ek treur saam. 

Hartseer kerk
Kerk binne
Ek stap verder. En my siel word gelaaf deur die uitsig op die pragtige baaie waar jy kan nesskrop in turkoois water en 'n klomp jagte staan hier (wettig of onwettig) op anker. Ai, dis 'n mooi eiland hierdie!

Baai

16:00 vat die veerboot die pad terug na Turkye en ons is wettig vir die volgende dertig dae. Kaş Marina is pragtig én ons kry 60% afslag omdat dit een of ander godsdienstige vakansiedae is. 

Kaş Marina

Thursday, August 23, 2018

Bayındır Limanı. Kaş.

20 en 21 Augustus 2018. Maandag en Dinsdag.

Yeşilköy Limanı tot Bayındır Limanı

Maja se waterprobleem het baie erger gelyk as wat dit was. Archie doen 'n tydelike herstel van  die probleempie in omtrent vyf minute, totdat hy in Marmaris 'n nuwe part kan kry. 

Ons trek anker op en vaar die 14.8 myl na Bayındır Baai by Kaş. Dis mooi hier en ons vleg deur die eilandjies en vlakker plekke. 

Ek leef in 'n wêreld vol van skilderye. Van verskillende landskappe. Van hoë berge wat stil-stom met my praat. Van diep val-valleie, van die ewig-blou see. Van skilpad-swem en dolfyn-dein. 

Ek leef in 'n wêreld vol luister. Van water wat teen klippe klots. Van deinings wat teenaan die landskap bots. Van wind wat sag fluister, van wind wat loei, skree, raas. 

Van stil-streel see-spieëlbeelde. Van donkermaan, sekelmaan, volmaan. Van skitter-ster, van rimpel dimpel diamant.

Ons gooi twee keer anker in die baai voor hy byt, want dis weereens 'n baai met "bad holding in places". Maar toe is ons vas en die uitsig is pragtig. Daar vêr teen die berg lê Kaş. Op ons voorstoep is 'n strand vol gelukkige mense. Hulle lag en baljaar in die water. 
Ons baai
La Moda Beach Hotel
Kaş in die verte
Drie honger bytvisse knip my swem kort toe hulle op my afpyl om te begin knibbel. Dink hulle is agter die seep waarmee ek my gesmeer het, aan. Dit was so 'n bad-swem. Hulle stel glad nie daarin belang om aan die kaptein te knibbel nie. Sy vel is seker te taai!
Swem
Ons bly vir twee dae hier op anker en geniet die lewendige bedrywighede van die baai. Dis "Maja Magic"op sy beste.

Tuesday, August 21, 2018

Yeşilköy Limanı

19 Augustus 2018. Sondag.

Gemiler tot Yeşilköy Limanı

Nou ja, hier gaan ons. Voor ligdag is die toue los, anker op en weg is ons na Kalkan, 29.8 myl. Die windvoorspelling lyk goed en ons is reg vir die berugte Sewe Kape.

Die eerste nege myl is van Gemiler tot by die eerste kaap. Die volgende sewe myl is die kape. Dan is dit sewe myl langs die sandduine en die laaste sewe myl is na Kalkan.

Oggendskoot - Eerste drie kape
Oggendskoot
 
Ons vaar maar, want die wind is min. Die boek beskryf die see as "lumpy". Wel, ek stem saam, die see is vol klonte. Geen gelyk pad hier nie. So wieg ons vreedsaam vorentoe, altyd vorentoe.
 
Kaptein agter die helm
Die antieke dorp van Patara lê onder hierdie duine
 
Ons word darem beloon met twee skaam en skugter dolfyne, wat net hulle vinne vir 'n wyle vir ons wys en dan verdwyn na hul onbekende geheimsinnige donkerblou diepter waar mensekinders nie heen kan gaan.

Ons vaar by die baai in. Die boek sê die houkrag is swak in die baai en dis geen leuen nie. Die eerste keer byt Mantus nie en na 'n matrooswoord gooi ek weer en die keer behaal ons sukses. En ons is vas.

Ons deel die baai met baie gullets, 'n paar skilpaaie en 'n bytvis. Ja, so swem ek, onskuldige vrou en ek verbeel my iets knibbel aan my rug. Ek voel dit weer en nog 'n keer. Dis 'n klein vissie wat my byt. Ek gil en klim haastig uit. Al wat Archie te sê het oor die gebytery is: "Piranha Piranha!" Hy het die vissie gesien. Klein onskuldige blou vissie.

Ons kosvoorraad is laag. Ons sou kos by Fehtiye gekoop het, maar ons het nie daarheen gegaan nie.

Dié nag 01:00 bars die plastiese bottel wat die druk op die waterpomp beheer en ons moet omtrent 200 l kosbare vars water uit die "bilge" dreineer. Toe is ons ook gedreineer en gaan slaap eers op die dek om af te koel. Nou het ons 'n waterskaarste én 'n kosskaarste op hande.



Sunday, August 19, 2018

Gemiler.

18 Augustus 2018. Saterdag.

Baba Adası tot Gemiler

Die baba van Adası se wiegelied het amper opgehou in die nag. Wel, ons slaap soos babas en is vroeg op vir die 22.8 myl na Gemiler, een van Archie se gunsteling ankerplekke.

Die pad is lank en vol deinings. Gus waai bietjie en ons probeer motorseil, maar later gaan lê hy. Ons vaar toe maar net vorentoe, altyd vorentoe. Göcek is in die omgewing en baie bote en jagte vaar hier rond. 

Die pad voel of hy nie wil opraak nie. Maar eindelik vat ons die laaste draai na Gemiler en ons soek plek om anker te gooi met "line ashore". Ek is maar benoud, want in 2016 het ek mos 'n nare anker-ervaring hier gehad.

Ons maak reg. Archie tru, ek gooi die anker in 24 m diep water. Hy byt. Ek hardloop agtertoe, vat die helm en Achie duik om die tou land toe te swem. Alles gebeur seepglad, sonder voorval, sonder skouspel. En ons is vas in die pragtige Gemiler, aan die voet van die antieke dorp van St Nicholas.
Ons buurman
Ons swem in die pragtige water en later roei ons land toe om in St Nicholas se antieke heilogdom en nedersetting rond te dwaal. Ons bekyk die ruïnes en vir Ölü Deniz in die verte, met sy majestieuse berge.
Stap
Kerk (7de eeu)
"Corridor" (7de eeu)
Geraam in die gat
Tonnel
Uitsig oor Ölü Deniz
Uitsig oor Gemiler Baai
Uitsig

Baba bok

Ons geniet Gemiler en maak reg om die volgende dag die Sewe Kape aan te durf.

Baba Adası.

17 Augustus 2018. Vrydag.

Joya del Mar tot Baba Adası

Ons is vroeg uit die vere. Ons wil vroeg begin met die 25.5 myl pad na Baba Adası, nie een van my gunsteling plekke nie. Dis een van daai ankerplekke waar jy kan maak wat jy wil, maar jy sit en hop. Ons sal maar sien of dit vandag ook die geval is.

Ons vaar maar net. Dis ou bekende roete wat ons nie vreeslik opgewonde maak nie. Ons wil maar net daar kom. Om seker maar net weer te sit en hop.

En toe is Baba Adası voor ons. Archie vaar versigtig tussen die eiland en die hoofland deur, want dis maar plek-plek baie vlak. Ons soek ankerplek en gooi en dit byt dat dit bars. 
Baba Adası
Hier is baie watersport in die omgewing en dit Hobie cats, wurms agter motorbote, parasailing, mense wat ski en duikers. Ons dan ons, die enigste seiljag op anker. En wat doen ons? Ons hop en hop en hop. Heel middag en heel aand. 
Watersport
Maar dis alles deel van die lewe van  seilende sigeuners. Soms moet jy maar "suffer" om by die mooi uit te kom.

Ons eet ons hoender en slaai en laat die dag toe om nag te word sodat mensekinders kan gaan slaap en die soetste drome te droom. (En ek droom die nag van oor klein Isabella, my suster Laaina, se kleinkind).