Monday, July 9, 2018

Thirasia Eiland. Santorini.

6 Julie 2018. Vrydag.

Manganari tot Thirasia

Vandag gaan ons Thirasia toe. Dis 'n klein eiland wat 'n gedeelte is van die rand van die kaldera van Santorini. Ons boei is by Captain John bespreek en weg is ons.

Captain John's restaurant

In die verlede kon mens nie eintlik Thira (Santorini) toe seil nie, want daar was nie veilige ankerplek om jou boot te los nie. Nou kan jy 'n boei bespreek en jy weet Maja is veilig. 

Dis 'n heerlike ervaring om in die kaldera (krater) in te vaar. Links lê Oia op die berg met sy mooi huise en windmeulens. Te pragtig.

Verder in die baai lê Fira se huise soos sneeu op die berge. Skitterwit. Ons vaar na Thirasia en hulle help ons om die boei te kry. Dan word Maja ook met 'n agtertou aan nog 'n boei vasgemaak sodat sy nie kan rondswaai nie.

Ons maak teg om die 12:15 watertaxi na Oia te vat. Dis maar 'n skotige opdraende om van die hawe tot by die dorp te kom. My tong hang (saam met al al die stappers s'n) uit en my bene voel loodswaar. Almal haal harder as gewoonlik asem. Almal kom bo uit. Die paadjie is vol donkiemis, want die arme dierasies moet lui toeriste opdra na bo.
Boontoe per voet
Lui toeriste

Ons het net 5 ure om altwee dorpe te verken en ons stap dadelik busstop toe en klim die bus na Fira. En is daai Fira besig! Mense net waar jy kyk. Ons verken net die mooiste dele van Fira. Die huise lê op die toppe van die regaf kranse. Dis baie mooi. Ons tyd is verby en klim die bus terug na Oia.
Fira
Fira

Oia is pragtig. Hier is baie minder mense en ons kan asemhaal. Die kerke met hul blou dakke, die straatjies en geboue. Wit met spatsels kleur. Die blou water. Alles is pragtig.
 
Oia
Windmeule
Krater kranse
Kerk
Fira in agtergrond
Terug by Oia hawe
Tot siens Oia

Ons het die vinnige uitstappie na Fira en Oia baie geniet en is reg om die watertaxi wat 17:20 kom, te klim en terug na Maja toe te gaan. Die taxi vaar net twee keer op 'n dag. 12:15 en 17:20. Dit maak dat dit amper te min tyd is om Fira en Oia te besoek. En die sonsondergang in Oia is totaal buite die kwessie. 

Dis vreeslik warm en ons swem rondom Maja. Die gedagte om in die kaldera te swem, is baie opwindend. Die water is eintlik te warm, maar heerlik.
Swem in die krater

Archie neem my uit vir ete vir my verjaarsdag (wat eintlik eers 8 Julie is). Ons bestel calamari en dis heerlik. Ons eet mille-feuille en kaaskoek met pynappel en mango. Dis besonder lekker.

Die eienaar van die restaurant is 'n afgetreede skeepskaptein. Hy het 'n 80 000 ton skip gevaar wat hout vervoer. Hy ken Kaapstad, Port Elizabeth en Durban. Dit was op sy roete. Hy vertel staaltjies van storms, rowwe see en 60 m deinings. Ons hang aan sy lippe. 

Die maaltyd word afgesluit met 'n baie duur sopie wyn, amper soos hanepoot en raki van Kreta. Wat 'n heerlike dag.

Heerlike ete


Manganari Baai en Tris Klises Baai. Ios Eiland.



5 en 7 Julie 2018. Donderdag en Saterdag.

Manganari Baai en Tris Klises Baai

Voor en na Santorini het ons op die eiland Ios geanker. Manganari Baai het die mooiste turkoois-blou water gehad. Gus het so sterk gewaai, met die sterkste windvlae, van tot 29 knope, dat geen mens die plek kon geniet het nie. Ons het die hele dag op Maja deurgebring.

Kaptein aan die werk

Na ons Santorini ondervinding is ons terug na Ios en het by Tris Klises Baai geanker. Die weer was beter en ons het darem voet aan land gesit. Maja staan op anker in deurskynende turkoois water.







Môre is dit 'n seekruising na Amorgos Eiland. Hoop die wind en water is ons genadig.

Thursday, July 5, 2018

Skala. Sikinos Eiland.

4 Julie 2018. Woensdag.

Karavostasi to Skala

Van die een barre eiland na die volgende. Vandag is dit Skala Baai, 15.9 myl op Sikinos Eiland. Ons seil vir 1h30min. Dis van daai seil wat ek nie van hou nie. Gus wat tot 25 knope "close haul" waai. Seile en toue wat raas. See wat groter word. Elke nou en dan nog 'n reef in die genoa sit. Ai, dan verlang ek sommer na my ma.

Ons vaar eers verby Skala na St Georgios baai. Snaakse baai, maar ons gooi anker en hy sleep eers voor hy byt. Nie ek of Archie is tevrede mer die baai nie en ek trek die anker op. Maar helaas! Ons sit vas! Archie kom kyk. Dit lyk na 'n elektriese kabel. Toe is dit bietjie agtertoe en vorentoe ry en genadiglik kom ons los.

Toe gaan ons terug Skala, die hoofdorp van die eiland, en gooi daar in die wind anker. Ons sit maar so op Maja en waai en swaai saam met haar rond. Gus bedaar en ons gaan verken die piepklein dorpie. Daar is nie veel te sien, maar dis 'n mooi gesellige plekkie.
 
Skala
Maja en Archie

Hawe
Lyne

Maja met Santorini in die agtergrond
Aand








Wednesday, July 4, 2018

Karavostasi. Folegandros Eiland.

3 Julie 2018. Dinsdag.

Manalonisi tot Karavostasi

Kyk, van hierdie Folegandros eiland het ek nog nooit gehoor nie. Tot hierdie jaar. Opgrawings het openbaar dat dié eiland bewoon is sedert 3000 v.C. Weereens is dit deur talle magte verower en in 1828 is dit verenig met Moeder Griekeland.

Maar eers vertrek ons van Manolonisi se pragtige ankerplek na Karavostasi, 20.5 myl. Ons vaar verder verby Poliagos Eiland, wat 'n onbewoonde eiland is. Mens kan nogal sien hoekom niemand hier bly nie, want dis net klip en rots.

Wit kranse

Rotsagtig
 
Gus waai reg en ons seil vir 1h30 min. Stadig, maar seker kom Folegandros nader. Geweldige groot rotse intimideer my, want hulle staan kolossaal grotesk sommer so in die see. Toring boontoe. Onherbergsaam en dreigend. Daar is ook die Chrysospiliá grot teen die hang. Dit was blykbaar 'n plek van aanbidding. Dertig klein trappies is van die see se kant af in die rotse uitgekap om die grot te bereik.
 
Trots op sy seile
Chrysospiliá Grot
 
Ons vermy eers 'n paar rotse en toe lê die hawe voor ons. Die Port Polisie blaas hard op haar fluitjie en skree om moet vinnig vasmeer, want die veerboot kom om die daai. Gus waai, Archie tru en ek gooi anker. Alles in staccato. Ek besef die ketting gaan te min wees en ons moet op tou gaan. Fanie weet hoe bang ek vir daai tou is (veral nadat ek daai tou by Nafplio moet gryp en die riool op my gespat het). Ek druk die knoppie tot die laaste ankerketting skakel verskyn, sit my pendant neer en toe die swart tou uit die opening verskyn, gryp ek dit en sit dit om die cleat om dit te beheer. 'n Man vang die toue op die kaai en ons is vas.
 
Karavostasi
 
Alles beweeg hier op die kaai. Gus waai, veerbote kom en gaan, die see is nooit stil nie. Maar hier is ons! Ons maak klaar om die bus na Chora toe te klim. Dis die hoofdorp van die eiland. Aan die een kant van Chora is die huise op verikale kranse gebou. Dis hoog. Doer onder lê see wat teen die rotse  klots.
 
Huise op kranse
Hoogtevrees
See doer onder
 
Die Chora is omtrent 'n oase in die barre landskap. Pragtige basiliekruid groei in oordaad. Blompotte vol tuin staan oral rond. Rein en wit is die huise met hul veelkleurige vensters en deure en ons stap in die strate rond. Daar is sulke terrasse teen die steil berghange waar hulle seker soms probeer om iets te plant. Of dis kampe vir bokke.
 
Winkelstraat
Chora
Terrasse
 
Soos gewoonlik is die kerk op die berg. Die Christene was seker baie fikse mense! Hoog en wit skitter dit in die son. 
 
Wat 'n lekker uitstappie. Ons klim die bus en ry terug huis toe. Na die kaai waar die see altyd beweeg.
 
Kerk teen die berg

Tuesday, July 3, 2018

Manolonisi. Poliagos Eiland.

Pirgonisi tot Manolonisi via Psathi

Die storie van my lewe. Anker op en weg is ons na Manolonisi, by Poliagos Eiland, 4.2 myl. Ons vaar eers verby Psati om te kyk hoe hulle hawe lyk. Lyk na 'n lekker ou plekkie.

Toe is dit net 'n hanetree na Manolonisi waar ons gaan anker. Dis 'n pragtige baai met deurskynende water. Ons gooi die anker in die sand en hy byt laat dit bars. 

Dis 'n gewilde swemplek en klein en groot bote kom en gaan. Selfs een van daai oorvol kommersiële seilbote vol lywe kom hier swem. 
Oorvol jag
Ek en Archie gaan land toe en van bo af is dit eers mooi. Maja en haar vriendinne lyk elegant in die turkoois water. Gus swaai hulle liggies op die maat van sy blaas rond. Oorkant in die vêrte lê die eilande rustig gebed in die blouselblou see.
Die rotsformasies is baie interessant in die geweste. So asof 'n reuse hand dit uitgekrap het. Met mooi kleure. Ai, dis lekker om hier rond te stap. 
Pêreltjie
Later is daar ses jagte wat hier in die baai oornag. Kort-kort klink 'n lag op. Oral sit met op die dek en kuier en geniet hul aandetes. Ons eet lekker ouzo hoender wat die kaptein gemaak het. Wat 'n lekker dag!