Sunday, June 17, 2018

Astrous

15 Junie 2018. Vrydag.

Leonidhion to Astrous

Dit was nou omtrent nou 'n winderige nag. Gus het hom gate uit geniet. Ons was veilig vas teen die kaai.

Op pak en gaan. Dis die lewe van seilende sigeuners. Altyd op pad. Ons gaan na Astrous, 18 myl. Van seil is daar nie sprake nie. Gus lê.  Maja prrr rustig ritmies vorentoe. Altyd vorentoe. Elize en Fanie staan op die dek en bewonder die verbygaande landskap. Hierdie Pelaponnisos se berge is mooi! Ons vaar verby die drie windmeulens van Tiros.

Elize
Elize en Fanie
Ou windmeulens naby Tiros

Astrous is eintlik 'n lekker vakansie plek. Die hawe bied ook meer as genoeg skuiling vir die bote. Met die aankons heet die kasteel op die heuwel ons welkom en ek sien al klaar die vonkel in Elize se oë. Sy is mos lief vir die ou goed.

Astrous

Archie tru, ek gooi anker en Elize en Fanie help met die agterste toue. En vas is ons! Die Le Roux's is dadelik dorp toe soos ware toeriste. Wil mos altyd alles dadelik bekyk. 

Later gaan almal kasteel toe. Dis deur die Venesiërs gebou. Dis heerlik om tussen die ruïnes rond te loop en jou verbeelding te laat gaan. Ek soek modelle om in al die boë vir my te poseer. Maar sowat van steeks donkies het ek lanklaas gesien. Ek moet hulle behoorlik blink lek. Toe wip ek my en maak my eie model! Almal hou hou toe maar hulle onwillige lywe model.



Ligtoring

Bastion
Swaers
Susters
Ek en Archie
Uitsig oor Astrous

Veral ek en Elize geniet dit om tussen die gebreekte mure en stukkende huise en die boë rond te loop. Archie en Fanie loop maar saam, net uit die liefde van die saak. Drie hoera's vir hulle!

Ons stap af, terug na Maja en koop roomys. Heerlik koel op die snikhete dag. Dis omtrent lekker om in die dorp rond te dwaal en ek geniet dit meer as verlede jaar. Vreeslike mooi deure verfraai die dorp. Ek hou van Astrous.

Deur
Blou deur

Friday, June 15, 2018

Leonidhion

14 Junie 2018. Donderdag.



Ieraka tot Leonidhion

Ons het omtrent lekker geslaap en reg vir die lang dag na Leonidhion, 25 myl. Die autopilot is mos stukkend so ons kry elkeen 'n halfuur beurt om te seil.  Fanie geniet dit vreeslik en tot Elize hou ons op die regte koers. In die verte duik 'n dolfyn en vedwyn in die niet.

Tot siens Ieraka

Fanie vat die helm
Op pad

Elize
Myl vir myl kom ons nader die hawe wat se bodem sand, seegras en rotse is en nie so goed is vir anker en kaai toe tru nie. Ons maak reg vir alongside. Toue word reggekry en Fanie word noukeurig ingelig hoe hy met die tou moet afklim om vir Maja aan die kaai vas te maak.

Alles verloop glad. Fanie klim soos 'n verspringer af en maak vas. Elize keer met die boothoek af waar nodig en die kaptein is agter die helm. Spanwerk duisend! Vas en veilig en tyd vir koue drankies wat Elize vir ons skink.
Leonidhion
Leonidhion kaai
Elize en Fanie gaan swem by die strandjie. Hulle sit soos verliefdes op die strand. Ek is seker Elize druk haar tone in die sand en draai hulle dan rond. Die water is heerlik en ek swem sommer by Maja.
Gaan swem
Ons kry 'n taxi en gaan na die groot dorp van Leonidhion toe. Dis 4 km van die hawe en is aan weerskante van die rivier gebou. Die rivier is gewoonlik in die somer droog. Die dorp is pragtig en lê aan die voet van 'n reuse berg. Soos gewoonlik dwaal ons in die strate rond. Elize geniet mos sukke dorpies baie. Ons meisies is sommer baie vrolik en verspot. Archie is maar droog en kyk ons net so en ek wil eintlik nie weet wat hy dink nie. Soos gewoonlik loop Fanie vooruit om die plek te verken en doen dan verslag. 

Ons sien 'n snaakse plant wat die blom van 'n grenadella het, maar dit het soet rooi pitte binnekant. Ons wonder of dit nou familie van die grenadella aan die ma se kant is, of aan die pa se kant!?

Dis baie warm en ons ry maar weer met die taxi terug. Archie maak vir ons heerlike ouzo hoender. Geurig en lekker. Ons gaan slaap en ou Gus waai nou behoorlik in die nag. Hy spring van die hoë berg agter ons af en val dan op Maja. G'n wonder die Duitsers noem die windvlae "falboon" nie!
De Deur
Uitsig oor Leonidhion
Kerktoring
Kerktoring
Lawwe susters
Grenadilla?
Pitsweer-susters

Thursday, June 14, 2018

Monemvasia Ou Dorp end Ieraka.

12 Junie 2018. Dinsdag.

Monemvasia tot Ieraka


Die gaste, Elize en Fanie, het skaars aangekom en is nog nie eers behoorlik uitgerus nie, toe moes ons al opstaan om Monemvasia te gaan verken. Die swaers stap en die susters klim die bus.
 
Hier is bietjie agtergrond. Monemvasia beteken "enkel ingang". Dit was eers verbind met die Peloponnisos en was bekend as "Kaap Minoa". In 375 n.C. het 'n groot aardbewing die streek getref en baie van die kusstede het gesink en  ander dele van die hoofland het eilande geword.

Die onderdorp is eers baie later gebou toe Monemvasia 'n belangrike handelsdorp geword het. Die stad het die belangrike handelsroete tussen die Aegean See en Kaap Malea beheer.

Verskillende magte het die Bisantynse stad oorgeneem. In 1249 het die Franke dit verower. Die Bisantynse het dit teruggevat en vir 130 jaar regeer. Die Turke en Venesiërs het dit ook verower.

In die oudorp word daar geen motors toegelaat nie en die muile, donkies en perde word ingespan om voorrade aan die oudorp te voorsien. Daar is min van die bo-dorp oor, maar die onderdorp is goed bewaar en herbou. 'n Ware juweel om te besoek. Elize is baie opgewonde. Sy is mos gaande oor sukke ou plekke met baie geskiedenis. Ons stap eers boontoe, zig-zag, zig-zag, op, opper, opste. Oral is huise en stegies en straatjies. Die modelle poseer in die boë van die oudorp. Ons kyk uit oor die see en in die vêrte lê die gevreesde Kaap Malea. 

Monemvasia bakkies
Ek, Fanie en Elize
In die boog
Meisies van Monevasia
Kerk

Die klooster Aghia Sofia is jou beloning vir die op stap. Ek is mos 'n kerkmens en geniet die kerk vreeslik. Ons bekyk die kerk binne en sit op diee muur om die pragtige uitsigte te bewonder. Toe stap ons verder na die citadel. Die swaers stap soos ribbokke en die susters kom maar agterna.

Aghia Sofia
Aghia Sofia
Uitsig

Die oorblyfsels van die bo dorp is vir my en Elize baie mooi, maar die mans is minder beïndruk. Die murasie wat die citadel genoem word, is nog hoër teen die berg op. Dis warm en ons sweet. Hier is die beloning weer die uitsig op die dorp en die hawe. Pragtig.

Ou huise
Uitsig van Citadel
Uitsig oor hawe

Die terugtog is effe makliker en nou is dit weer af affer afste en die uitsigte is pragtig. Die huise met hulle rooi-oranje dakke, die nou straatjies. Ag, maar dis mooi! Toe is ons moeg, gelukkig en tevrede en gaan terug na Maja wat geduldig in die baai vir ons wag.

Archie moet vir Elize en Fanie op die bemanningslys sit en die hawe polisie is om een of ander rede nie tevrede met Elize se paspoort nie. Archie sukkel behoorlik om alles uitgesorteer te kry en ons kom eers 15:00 weg. Ons vaar verby Monemvasia en die ou dorp lyk mooi van die see se kant af. Ons kyk en kyk weer. Dis pragtig.

Monemvasia van die see
Monemvasia

Toe vat ons die kort pad na Ieraka, 9 myl. Die wind waai reg en ons seil vir 1 uur. Daar is reeds 5 jagte op anker en na die tweede probeerslag is ons ook vas. Dis heerlik rustig in die baai en Elize kry haar eerste swem van die seisoen.

Ons eet heerlike vark souvlakia, horta (tipe spinasie) en polenta ( geel pap).
Die bemanning is moeg en daai beddens word seergemaak.

Monday, June 11, 2018

Palaio Baai en Monemvasia. Wag en wag en wag.


9 tot 12 Junie 2018. Saterdag tot Dinsdag.

Ieraka tot Palaio Baai tot Monemvasia

Roete tot op datum - Aktio Marina tot Monemvasia

So moet ons nou nog vir vier dae wag.  Ons wag en wag en wag. Dis nou vir Elize en Fanie wat Dinsagaand kom.
Ons het eers op Ieraka gewag en nou gaan ons vir twee dae na Ormos Palaio, 7 myl. Dis 'n ankerplek wat oraloor skuiling bied. Ook maar goed so, want Gus waai vir 17 ure aanmekaar, sonder ophou teen 20 knope. Ek is later moeg gewaai, maar Gus waai voort. Ek weet nie waar kry hy al die blaas vandaan nie.

Ruïne by Palaio Baai
Palaio Baai
Palaio se visserhawe
My linkeroor is bottoe en dit suis teen 40 knope. Ek is horende doof. Dower as Archie. Teen 2:00 die nag blaas Gus sy laaste asem uit en dis eensklaps doodstil. Wonderlik.

Die volgende dag bly ons weer by die plek en Gus is net 'n ligte briesie. Dis heerlik en rustig in die baai. Ons sit nie eers voet aan wal nie.

Toe is dit terug na Monemvasia, 4.3 myl. Daar is baie plek by die kaai en ons maak alleen vas. Ou Gus begin te waai en ek hoop net ons anker hou.

'n Ander jag probeer inkom, maar hulle strand. Vermoedelik op 'n rots. Hulle kan nie herwaarts of derwaarts nie. Hulle is vas. Die arme drommels. Ek kry hulle so jammer. 'n Vissersboot kom help en trek hulle. Hulle is vas. Eers na 'n paar probeerslae kom hulle los. Nou het hulle nig die vrees dat hulle kiel seergekry het. My hart bloei vir hulle.
Gestrande jag
Uiteindelik los
Eers gaan ek dokter toe met my oor. Dit  suis en druis. Dit maak my gek. Die  dokter se ontvangsdame sê hy kan nie Engels praat nie. Ek begin solank in my kop  te oefen hoe gaan ek met gebaretaal verduidelik. Toe stap die apteker daar in en sê vir ons die dokter het hom gebel om te tolk. So tolkende bevestig die dokter my vermoede dat my oor vol was is. Ek kry druppels by  die apteker wat oor twee tot drie dae sal werk. Nou hou ons maar duivas.

So wagtende was ek toe maar al suisende en bruisende wasgoed en dit wapper in die wind. Niks verskaf my meer vreugde as skoon wapperende wasgoed op Maja nie. Ek begin ook te skrop en polish vir die vername gaste wat op dié stadium nog rondjakker in die mooie Malta. 

En so gaan ons môre maar nog wag, want Elize en Fanie kom eers 22:00.

*******

 
Uiteindelik is hulle hier! Baie welkom julle.

Susters groet

Sak en pak

Fanie