Monday, May 28, 2018

Koroni. Al weer.

27 Mei 201.8. Sondag.

Kalamata tot Koroni

Daar is iets wat vir Archie terugroep na Koroni en ons sal moet terugkeer daarheen. Ons verlaat die marina foutloos en span die seile vir 15.5 myl na Koroni. Ons seil vir 2h50 min. Die hele pad! Die kaptein is in sy skik.

Koroni
Vibe op die kaai

Ons kom saam met Gus in die baai aan en na die tweede probeerslag byt die Mantus en ons is vas. Nou wag ons dat die wind en see gaan  lê voordat ons die dorp en sy kasteel aandurf. Ons moet uitvind wat roep Archie se naam.

Die man van die Deense boot kom op dy dinghie aangejaag, reguit na ons toe. Hy stop en ons nooi hom aan boord. Hy kuier by ons en nooi ons sommer vir middagete. Ons het klaar geëet en wys die aanbod van die hand. Dis 'n vreeslike kuierige man. Hy wil ons toe net na sy boot toe vat dat ons daar kuier. En hulle het vriende van Holland aan boord. Ons gooi net wal. Hy ry toe later.

Deense oom

Die wind en see gaan lê en weg is ons. Land toe. Die kasteel is eerste op ons program. 

Koroni breekwater
Vrolike winkel
Kasteel
Ingang tot kasteel

Die fort is in die sesde en sewende eeu n.C. gebou. Soos gewoonlik het die een na die ander mag dit verower. Die kasteel is in die dertiende eeu gebou.

Archie geniet die kasteel vreeslik baie. Ons stap rond en kom op Bastion IV af. Die skemer binne en baie indrukwekkend. Hy klim die donker steil trappe van die Bastion IV voel-voel tot bo. Ek loop 'n ander pad, klim die buitense trappe en kry hom bo. Ons loop langs die muur verder. 

Ingang tot Bastion
Binne in die Bastion
Binne in die Bastion
Uitsig van Bastion

Die klooster is vir die nonne gebou. Archie moet 'n rok dra voor hy kan ingaan. Die tuine is pragtig. Blomme in baldadige kleure vul die tuin. Skoenlappers vlieg vrolik rond. Voëls sing in die bome. Sowat van rustigheid het ek lanklaas beleef.

Klein kerkie by klooster
Rokkies wil hy dra …

Van bo af kan mens die mooi kerktorings sien. Ek dink ek wil 'n non word net om hier te kan bly. 

Klooster en kerktorings

Wel, ek moet sê, die kasteel is beslis en gewis 'n besoek werd. Tot Archie het dit baie geniet.

Gus het weer begin waai en ons roei nat-boud terug na Maja. Kyk, hierdie Gus het nou al vandag vanuit die noorde, ooste, noord-weste, weste en suide gewaai.

Hierdie baai is vol lewe. Archie sien 'n vin en dis 'n dolfyn. Hy swem alleen in die baai rond, van laatmiddag tot die aand. Die mense op die kaai neem net foto's. Stadig swem hy heen en weer. Ek wonder hoekom. Dis nie soos ons dolfyne ken nie. 

Hier is ook 'n seeskilpad en visse. Ons het 'n baie interessante dag hier by Koroni beleef. Só bly ons het hierheen teruggekeer. Hierdie dorpie is Archie s'n. Dit het hom heeltyd geroep. Nou is die kaptein gelukkig en tevrede.
 
Koroni kleurspel
Beligte kasteel



Sunday, May 27, 2018

Kalamata

25-26 Mei 2018. Vrydag en Saterdag.

Petalidhion tot Kalamata

Die son bring die nuwe dag as 'n geskenk vir ons om voort te bestaan. Archie trek die anker op en soos wat verlede jaar ook met ons gebeur het, trek hy ook 'n tou met met voerplekke of iets op. Hy sny dit maar later met 'n mes, want dit hou nie op met kom nie. Toe is ons vry om te gaan en om voort te bestaan. 


Sukkel met ou vislyne

Ons vat die pad na Kalamata marina, 9.3 myl. Die marina man wys ons plek en Archie tru pragtig, ek gryp die snoettou en die marina man maak agter vas. Hier gaan ons vir twee dae bly.

Die dieselman met sy trokkie is dadelik daar en ons gooi in. Archie vra vir een van die ander helpers waar is die wasmasjiene en hy sê sy vrou doen wasgoed vir €15 vir 9kg. Dis duur, omtrent R200.00. Ek wou sommer self was, maar die man vat nie nee vir 'n antwoord nie. Ek kry toe maar alles bymekaar. Dis Sullivan se beddegoed, ons beddegoed, al die handdoeke, kussingslope, klere. 'n Groot bondel. En hy is toe vort met die goed.

Archie besluit ons kort nuwe huis batterye, want ons oues kan nie die yskas oornag aan die gang hou nie. Hy doen navraag by die marina kantore vir ’n geskikte batterywinkel en ’n man van marina daag by Maja op om ons te help. Hy laai Archie agterop sy bromponie en weg is hulle batterywinkel toe. 30 minute en €580 later kom hulle terug. Die batterye kom later met ’n motor aan. Die marina man hulp om die nuwe batterye op Maja te bring en die oues uit te haal. Hopelik is ons nou reg vir die volgende paar jare.

Ek en Archie stap vêr LiDL toe, so 1.7 km en koop te lekker. Ons dra swaar aan al die heerlikhede wat ons aangeskaf het. Toe is ons spens weer vol. Winkels is nie volop in dié geweste nie. As daar ’n LiDL is, moet jy koop!

Die volgende dag stap ons weer vêr na die ou dorp toe. Die roete neem ons deur die park waar die spoorwegmuseum is. Ou lokomotiewe en waens staan swaar en trots op ou spore, sierlike bewyse van vergange se dae. Hier is baie kwekerye en die lenteblomme is in volle blom. Dis behoorlik ’n skouspel van kleure. Dit laat my aan my ma dink.

Gaan dorp toe
Spoorwegmuseum
Dink aan my Ma

Saterdag is markdag en dit wemel van kopers en verkopers. Plomp tamaties, vars appelkose. Én dis kersieseisoen! Groente, vrugte, vis, vleis en alles waaraan jy kan dink. Te veel om te koop. Mens móét in die dorp met die naam, Kalamata, olywe koop! Toe koop ons maar!


Boeremark
Dit wemel

Ons stap kasteel toe. Die beste deel van die kasteel, is blykbaar sy hek. Ons kyk na die mure en die hek en stap verder. Daar is ook ou en minder ou kerke in die dorp en ons bekyk alles. 


Kalamata se kasteel
Kasteel se hek
Kasteel se mure

Ypapanti Katedraal
Ou kerkie

Af af af, terug na ou dorp en ons stap heerlik rond. Ek pas blou broeke aan en ou Archie wag maar geduldig. Ek kry niks en die een waarvan ek hou, kos €60. Dis R900.00. Veels te duur vir my.

Terug op Maja, sien ons Sakari en Riitta, met hul jag, Belle amie, het ook gekom. Ons wuif. Gus begin waai en die Engelse wat inkom, het die een probleem na die ander.

Hulle kry nie hul hoek reg om in die nou spasie in te draai nie. Gus waai hulle teen die ander bote vas. Almal help wegstoot. Die landlyn kom in hulle rudder. ’n Ander tou kom in die propeller. Die marina se bootjie help. Die vrou langsaan gooi 'n tou, dié val in die water. Toe hulle eindelik vas is, is ek uitasem en dis net van kyk! Arme drommels. Ek kry hulle altyd so jammer, want sukke goed het al met ons ook gebeur.

Marina se bootjie sit hand by

Toe kom my wasgoed. Die man sê ek moet my wasgoed kom uitken, want sy vrou het bietjie deurmekaar geraak. So worstel ek deur ander mense se onderbroeke en kouse en klere. Kry toe al my goed. Ek sê toe duidelik vir die man dat ek glad nie van die situasie hou nie. Ek is skoon bemoerd! 

Sowat van kreukels het ek lanklaas gesien. Dis nie ordentlik opgevou nie. Die wasgoed het ook sukke wit strepe op. Seker nie goed uitgespoel nie. Volgende keer doen ek verseker my eie wasgoed!

Ons gaan kuier by ons Finse vriende. Hulle gaan uiteet, maar ons het vis om te braai en kan hulle nie vergesel nie.

Dit was 'n heerlike twee dae hier by Kalamata.