Thursday, May 3, 2018

Aktio Marina - Werk, werk, werk!


1 – 3 Mei . Dinsdag – Donderdag.

Werk, werk, werk! Die vuile kleine Maja moet weer in ’n “ship shape” toestand kom. Alles moet uitgepak word en op hul plekke gebêre word (reël 9).

'n Trop beeste stap wei-wei verby en vat sommer kortpad deur die vlak seewater na die oorkant. Die spreekwoord sê mos hoeka die gras is altyd groener aan die ander kant!

See koeie

Die eerste belangrike taak is om die nuwe Mantus anker pas te maak. Die getroue ou Delta lyk maar verwese en afgetakel teen die spoggerige windgat nuwe Mantus. Delta word seremonieel afgehaal en vervang met Mantus, wat wonder bo wonder pas. Geen verstellings is nodig nie en die kaptein kyk tevrede na sy nuwe anker. Ek kyk dit maar net so en hoop ek kan net so goed daarmee anker gooi. 

Delta en Mantus
Aan die werk
Mamtus kom op …
… en alles pas mooi

Maja word van bo tot onder gewas en gestofsuig. Beddens word opgemaak, kaste word reggepak en onnodige goed word weggegooi. Dis ook met hartseer wat ons die kapteinskussing wat Brigida vir Archie gegee het, ook vaarwel moet toeroep. Dit het waarlik goeie diens gelewer en die kaptein het altyd heerlik op hom gesit. 

Pak kaste reg

Maja se dek word gewas, die hout word vertroetel en later met olie behandel, toue word teruggesit, Dinkie word opgeblaas en die vlae word gehys. 

Dek word ge-olie

Na die eerste dag wat mooiweer en warm was, kom groet Gus ook, net om seker te maak dat ek weet wie eintlik baas hier in Griekeland is. Gus orkestreer en dirigeer die nag die seiljagorkes en dit is suisings en druising. Toue klap en waai en die maste treur en beur. Die vlae dans en vertel dat dit ’n oostewind is.

Toe gaan ons dorp toe. Ons is baie bly daaroor, want ons het eintlik nie kos op die boot nie. Hier is nie winkels nie en die marina se bussie neem die seilers elke dag 10:00 dorp toe. As dit nie vir die smulpakkies was wat Elize vir ons saamgestuur het nie en ou pasta wat nog in die kas was nie, het ons verhonger. Mary, wat ons verlede jaar hier in Preveza ontmoet het, is ook op pad dorp toe en ons is baie bly om haar weer te sien. Ons ry al geselsend na Preveza.

Elize se smulpakkie

Natuurlik gaan die kaptein eerste na die chandler toe om teak olie te koop en toe dit by die betaalslag kom, besef hy ons wallet is nog op Maja. Geen inkopies vir ons vandag nie! Honger is ons voorland. Die heerlike aarbeie grynslag in my rigting. Die spanspek koggel my uit. Die roket roep my. Die vis vermy my. Die mond word dik en my wange blaas op.

Toe kom ons redding aangestap, Mary! ’n Engel net soos my ma was. Ons vertel haar van ons penarie en ons hoef nie eers te vra nie, sy leen dadelik vir ons geld. Skatryk, skatryk, pennieloos se baas. Toe kan ons koop. Ons ry doodtevrede terug na die marina.

Vanaand eet ons nie pasta nie

Hier in die marina is almal aan die werk. Op die wasgoedlyne wapper trotse, welriekende, silwerskoon wasgoed.  Oral is vrolike seilers vlytig besig om hul jagte gereed te kry vir die nuwe seisoen. Dit woel en werskaf en ruil wenke en raad uit. Dis vreemde tale en vreemde gesigte in ’n vreemde land, wat eintlik al so bekend is. Ja, ons is inderdaad terug!

Môre gaan ons water toe!

Wednesday, May 2, 2018

Dis weer sukke tyd!


29 April 2018. Sondag.

Die familie kom groet, want dis weer sukke tyd!  Die bome in ons tuin se blare val en dis tyd om te gaan. Verlede jaar het ek nog ’n ma gehad toe ons vertrek het, wat altyd gevra het of ons nou regtig weer moet weggaan. Maar nou ja …

Die Fandamilie

Die rooi gevaartetjie stop voor ons motorhuis en ons persoonlike uber-man, Gerrie met sy persoonlike uber-vroutjie, Ansu, is gereed ons ons ewe tradisioneel lughawe toe te vat. Gerrit verewig die oomblik met die lens en daar trek ons.

Rooi gevaartetjie

Na ons gebruiklike koffie (eintlik melkskommel die keer), is dit tyd om te groet. Ons waai en waai en waai en toe waai ons. Dis tyd vir ons seil-avontuur van 2018. Die kaptein van Egyptair sit daai vliegtuig in Kaïro so sag neer, ek voel nie eers toe die wiele die grond raak nie. Welgedaan!

Van Kaïro vlieg ons na Athene en kry die lughawe bus na Kiffisos busstasie, waar ons die bus na Preveza kry. Archie koop kaartjies vir die 15:00 bus en ons loop baie vinnig na die perron. Wraggies betyds, ons kom 14:59 daar, klim die express bus en vertrek na Preveza. Wat ’n geluk!

Van Preveza kry ons ’n taxi na Aktio Marina en 20:00 kom ons by ’n baie stowwerige, verlangende Maja aan (met ’n pikante tuintjie op haar stertjie).

Pikante tuintjie

Welkom tuis. Ek het al vergeet hoe klein is die kleine Maja!

Friday, September 29, 2017

Seiljaar 2017.



Dit was weereens ’n jaar van lief en leed. My ma is op 13 Julie oorlede en het my gevul met intense hartseer.

Wel, wat kan ek sê. Ek kan nie my gedagtes agtermekaar kry om die jaar te beskryf nie. Ek het sulke gemengde gevoelens oor die 2017 seiljaar. Oor mense, winde en waters. Oor lewe, dood, doen en daad. Oordink, staar, snik, tuur ,rou en besef die lewe moet aangaan. Vorentoe, altyd vorentoe. Na die toekoms, in die nou, van die verlede.

Ons het 1720 myl geseil, 637 myl in Turkye en 1083 myl in Griekeland 17 eilande verken. Ons het nuwe vriende ontmoet en ou bekendes weer gesien.

En Kaptein Archie? Drie hoera’s vir hom. Hy het sy eerste offisiers so goed bygestaan in die moeilike tyd wat sy deurgegaan het. En sý kan baie moeilik raak. Meer as ’n hand vol. “Baie dankie, Archie, jy is die beste!”

Turkye.

Kuyulu Bükü, Turkye

Till en Andree het sommer vroeg-vroeg in die seisoen kom kuier. Hulle het vanaf Kemer tot by Kas saam geseil. Dankie, vir die geskenke, die glase wat ons daagliks gebruik, die handdoek en tafellap. Ek moet sê ek het eers gedink lg.is ’n baie fênsie vadoek, maar toe dit glad nie kan afdroog nie, het ek eers besef dis dekoratief.

Boottoer na Kale Köy
Andree en Till

Chrismari het ons vanaf Marmaris tot by Datça vereer met haar beeldskone teenwoordigheid en haar eie interpretasie gevolg van al wat ’n bootreël is. 

Chrismari
Chrismari en Archie by Kuyulu Bükü

Ons het heerlik saam met ou vriende in Turkye gekuier. Martin en Shriree van Gumnuts, Brain en Annemarie van Kemer, Henti en Diana in Çesme en dan ook die heerlike kuier saam met Zafer en Nuran in Alibey.

Turkye se salige ankers, mooi baaie en antieke geskiedenis kan moeilik oortref word. Alhoewel ons gedink het ons het die Turkse kus van hoek tot kant deeglik deurtrap, het ons baie nuwe plekke ontdek. Turkye is vol verrassings. Ek bly lief vir dié plek.

Griekeland.


Monemvasia, Griekeland

Ek sê weer: ”Ek lief Griekeland!” Altyd aksie en vol atmosfeer. Seilers Mekka.

Zané en Pieter het van Skiathos tot by Volos kom saam seil. Ek moes Maja verlaat omdat my ma baie siek was en in my afwesigheid, het hulle en Archie vir Maja aan die seil gehou. Baie dankie vir die goeie bemanning wat julle was. Ek sou so graag saam met julle op Maja wou kuier.

Pieter en Zané by Neo Klima
Pieter en Zané by Skopelos

Lourens en Ryna was die volgende bemanningslede wat op baie kort kennisgewing ingevoer was om my plek vol te staan. Hulle het van Volos tot Khalkida saam geseil. Dankie julle, as julle nie gekom het nie, sou Archie nie alleen verder kon seil het nie.

Ryna en Lourens by Khalkis
Ryna en Lourens op pad na Amirou Baai

Michelle en Johan het ook kom kuier. Dit was heerlik om my dogter en haar kêrel aan boord te hê. Ja, julle was model gaste! En dit was nodig om my dogter daar te hê om die smart van my ma se dood ligter te maak. En sukke jongmense aan boord gee ’n heerlike ligte vrolike dimensie aan seil. Julle móét weer saamkom seil!

Johan en Michelle
Saam spring in 638m diep water

Ons het heerlike vissop saam met Neil en Sandi by Korfos geëet, het vir Charl en Mary by Preveza ontmoet.

Griekeland lok ons altyd terug. Dis gekruisde ankers, Gus wat so waai, oorvol dorpskaaie, maar mens gaan altyd terug daarheen. Griekeland kry ’n houvas op ’n seilershart.

Dan groet ons maar weer. Tot ’n volgende keer. Tot siens!

Tot siens

NS. Ons gaan op pad terug huis toe miskien na die piramides in Egipte kyk.

Wednesday, September 27, 2017

Bulgarye. Plovdiv.



26 en 27 September 2017. Dinsdag en Woensdag.
 
Dit reën reën reën. Dat die honne huil. En dit reën reën reën nóg steeds. Dis asvaal van die reën. Hoe nader ons aan Plovdiv kom, hoe harder reën dit.

Plovdiv in die reën

Die dorp het grasie en word omring deur heuwels. Dit het baie antieke geskiedenis en die geboue is pragtig gerestoureer. Dit is bekend vir die romantiese ou dorp en is gekies om die Europese Hoofstad van Kultuur in 2019 te wees. Hier word gereeld musiek- en kunsfeeste gehou wat die skare lok.

Standbeeld by die Kunsskool
Muurskildery
Interessante fondasie

Maar dit reën en reën en reën. Ons gaan stap toe daar ’n breuk tussen die reënbuie is, maar van sonskyn is daar geen sprake nie. Maar ons waardeer in elk geval wat ons sien in die ou dorp. Die ou huise is opgeknap en word as hotelle en museums gebruik. Baie van die plekke is toe as gevolg van die reën. Ons stap verby Hadzhi Vasaki Chohadzhiyata huis en onderdeur die boog. Sambrele is aan die orde van die dag. Dis net ons wat nie een het nie.

Hadzhi Vasaki Chohadzhiyata Huis
Ou Herehuis
Ou ingang
Nog 'n huis

Balabanov Huis is een van Bulgarye se mooiste  Nasionale Herehuise. Die grondvloer het ’n versameling kunswerke van plaaslike skilders. Die huise se kleure en versierings is ’n lus vir die oog.

Balabanov Huis

Die Antieke Romeinse Teater staan as bewys van hoe die mensdom al eeue lank die kunste geniet het. Tot in die dorp waar ons bly, is ’n teater wat hul opgegrawe het.

Antieke Romeinse Teater
Nog 'n teater

As ons gedink het dat Sofia se meisies mooi was, hierdie in Plovdiv is nog mooier. Maar einde September is die begin van die reënseisoen in Europa en ons al twee kry ’n ernstige huis-toe-gaan-gevoel Dit is nou tyd.

Môre klim ons die eerste bus 05:15 in Plovdiv na Sofia en daarna die 08:00 bus van Sofia na Thessaloniki, waar ons 13:00 arriveer. Dan die 15:15 bus na Preveza waar ons so 20:30 sal arriveer en laastens moet ons ’n taxi na Maja op die stelte in Aktio Marina vat. Ons gaan poegaai wees.