Saturday, September 16, 2017

Macedonië. Ohrid. Bootreis op die meer.



15 September 2017. Vrydag.

Wat ’n perfekte dag. Die son skyn. Die meer lê doodstil en blink in die sonlig. Die wind lê. Dis 9:00 en dis tyd vir ons bootreis op Ohrid Meer. Ons ontmoet Jasna, ons gids, en sy neem ons na ons boot. Haar pa, Naum, is die kaptein. Ons klim in die staalbootjie en vertrek.

Naum, Jasna en Archie

Die meer is groot, 34 km lank en ons vaar al langs die land. Die water is die kleur van die Griekse eilande. Dis helder en baie blou. Die bodem is sigbaar tot op 22 m, word ons ingelig deur ons gids, Jasna. Sommer gou word ons bederf met bietjie koffie.

Jasna en Archie
Ons vaar
Kormorante

Ons vaar verby Trpejca, wat eers ’n vissersdorpie was, maar nou is ’n toeriste mecca. Die huise lê vreedsaam in die son, met die berge op die agtergrond wat die prentjie voltooi. 

Trpejca dorpie

Op pad sien ons ook huise op stelte. Dis in ’n baaie beskutte baai. Die gids sê lank gelede het die mense die huise so omring met die water gebou, want dit was baie veiliger. Hulle kon hulself baie goed verdedig het. Die mans het net die dorpie verlaat om te gaan jag en kos te kry, maar die vrouens het meestal in die stelte-dorp gebly. Dit is as ’n monument verklaar en baie toeriste besoek dit per bus.

"Neolithic Settlement" museum
Museum in agtergrond

’n Tafeltjie word op die boot opgeslaan en sy pak vir ons ontbyt uit. Tamaties, feta (gemaak van helfte koeimelk en helfte skaapmelk) en burek. Saam met dit word rakija, (vuurwater wat met druiwe gemaak word) gedrink. Dit is amper soos witblits, maar het 45% alkohol. Ons eet sommerso in die vaar.

Ontbyt word voorberei

Die hoogtepunt van die toer was die Sveti Naum Klooster. Die plek lê 29 km suid van Ohrid en is by die Albanese grens. Die klooster is gebou deur Naum,’n monnik, onder die toesig van Sveti Kliment, die priester. Die Bisantynse klooster was ’n baie belangrike sentrum vir opleiding. 

Die kerk was eers bekend as die Kerk van Aartsengel Michael (900 n.C.) In die 16de eeu het dit die kerk van Sveti Naum geword. Tussen die ’n 16de en 19de eeu, het die plek floreer. Dit was omring deur pragtige rose en kleurvolle poue (wat nog daar rondloop) en pragtige muurskilderye.

Sveti Naum Klooster
Klooster ingang
Sveti Naum kerk by die klooster
Uitsig oor die meer vanaf Sveti Naum klooster
Kloostermuur

Deesdae woon daar net drie monnike en net in die winter, as die toeriste baie minder is. ’n Groot deel van die klooster is vandag ’n luukse hotel en restaurant.

Daar is ’n groot natuurlike fontein by die klooster. Dit is 700m lank en dit is ook deel van Unesco se wêrelderfenisgebied. Geen geswem of bote met enjins word op die fontein toegelaat nie. Net roeibote en jy moet saam met ’n gids gaan.

Dis toe presies wat ons doen en ons vaar op die fontein. Die water is kristalhelder en die waterplante lyk nie of dit onder die water is nie. Dis behoorlik ’n tuin onder die water. Te pragtig.

Bootrit op fontein
Plantegroei op die bodem

Ons gids wys vir ons waar een groot ondergrondse fontein uit die sandbodem borrel. Ons kan duidelik sien hoe borrel dit uit die aarde in die groot fontein in. Die groot fontein bestaan uit ongeveer 60 fonteine – onderwater sowel as strome. Die totale vloei is omtrent 10 kubieke meter per sekonde en dit vloei as ’n vinnige stroom in die meer in. Dis pragtig!

Uitvloei in die meer

Na ons bootrit op die fontein, is dit verder met ons toer. Ons vaar na ’n private strand waar middagete vir ons voorberei word. Die geur van vars gebraaide forel prikkel ons sintuie. Ons stap eers gou na ’n klooster wat in die rotse gebou is, (dieselfde as van dié by die Meteora) en Archie klouter op om te kyk.

Middagete se strandjie
Uitkykpunt
Aanbiddingsplek in 'n klein grot

Toe sit ons aan en dis koningskos! Gebraade forel, uviač (hoender wat in spek toegedraai is en gevul is met geel kaas), ’n maalvleis ding gevul met kaas, ingelegte groenpeper en eiervrug en gebraaide brood. Archie kry bier en die res van ons drink tuisgemaakte wyn. Ons smul omtrent!

Koningskos

Toe is dit huis se kant toe en ’n heerlike dag kom op 'n end. Dankie, aan Freepass, die toer was heerlik en lank. Van 9:00 tot 17:00. Waarde vir geld.

Amper by die huis


Thursday, September 14, 2017

Macedonië. Ohrid.



13 en 14 September 2017. Woensdag en Donderdag.

Ons klim die 9:00 bus en ry na Ohrid. Die dorp is bekend vir die meer wat genestel is tussen die hoë berge. Die pad is maar aan die smal kant, maar ons kom veilig daar aan. Die mense van Macedonië is nie so vriendelik en behulpsaam nie en ons sukkel amper om ’n taxi te kry wat ons na ons onbekende blyplek neem. Hulle het nog ’n ding of wat om te leer van toerisme.

Die eienaar van ons blyplek, Boris, snel ons tegemoet en dra my rugsak die trappe af tot by die woonstel. Dis maar ’n deurmekaar plek, die woonstel. Ek is seker hy bly hier en as hy besoekers kry, gaan bly hy by sy ma of iemand. Hy sê ons moet eers ’n draai gaan loop dat hy die plek kan regkry. Ons gaan loop toe maar ’n draai.

Ons het tot ’n balkon en ’n uitsig oor die meer. Maar verder is daar ’n klomp dinge wat nie werk nie. Die stoof is treurig, as jy stort, is die hele badkamer nat. Die ligte werk nie almal nie. Mens kan sien hy bly ’n man alleen in ’n woonstel waar elke ding ’n truuk het. Maar dis goedkoop en ons bly lekker.

Ohrid is Macedonië se prima toeriste bestemming. Dit is gelaai met ouwêreldse atmosfeer en is ’n wêreld-erfenisgebied. Die Ohrid Meer is plek-plek tot 300 m diep, dis 34 km lank en 3 miljoen jaar oud. Twee-derdes van die meer is in Macedonië en een-derde in Albanië.

Dit lyk prentjiemooi as die klein bootjies vroegoggend en laatmiddag so rustig op die meer vasgemeer is. Eintlik meer rustig in die oggend. Dis net soos in ons seildae. In die middag waai die wind dat dit bars en in die oggend is dit doodstil. Enkele vissermanne sit ook en visvang langs die meer. 

Laatmiddag uitsig van ons balkon
Vroegoggend uitsig
Visserman
Restaurant

Ons stap ook verby die Sveta Sofija Katedraal. Dit dateer uit die 11de eeu en het pragtige Bisantynse muurskilderye en boon-op is die akoestiek van dié plek so goed, dat hulle dit vir konserte gebruik. Kerkmens is ek en kerkmens sal ek bly!

Sveta Sofija Katedraal

Ai, ons voel al klaar tuis in pragtige Ohrid. En om dit te vier, koop ons 'n vars forel by die vismark. Ons is mos hoeka deesdae forel-fanatici. Hoe ek dit gaan gaar kry in dié woonstel se simpel panne, is 'n ander vraag!

Tuesday, September 12, 2017

Skopje.

12 September 2017. Dinsdag.

Skopje is die hoofstad van Macedonië. Die nuut geboude middestad kan kersvashou met eerste wêreld lande s'n. Daar is groot imposante geboue en baie pleine. Dis eintlik ’n lus vir die oog. Daar is honderde standbeelde net waar jy kyk, by die pleine, op kolomme, by die fonteine, bo-op geboue, by die brûe. En nie klein nie, reuse standbeelde. Pragtige standbeelde. Dis heerlik om in die stad rond te loop.

Moderne gebou
"Neo Classical" styl

Standbeeld van "Great Warrior" (Alexander die Grote?)
Standbeelde

Daar is ’n aantal brûe oor die Vardar rivier waarvan die sg. “Stone Bridge” die oudste en mees histories is. Van die nuwe brûe is slegs vir voetgangers en is versier met pragtige lamppale en baie standbeelde. Die ou mark area het nog klipstraatjies en hulle verkoop alles en nog wat daar.

"Stone Bridge"
Brug met standbeelde van beroemde kunstenaars
Paneel op een van die nuwe brûe
Skopje se kasteel

Skopje is ook die geboortedorp van Moeder Teresa. Sy is op 26 Augustus 1910 gebore as Gonxha Agnes Bojaxhiu. In 1929 het sy na Calcutta, Indië, gegaan. Op 5 September 1997 sterf sy in Calcutta, nadat sy haar hele lewe toegewei het aan opheffingswerk onder die armstes van die armes. Op 4 September 2016 verklaar Pous Francis Moeder Teresa as ’n heilige. 

'n Model van Moeder Terera se ouerhuis in Skopje

Skopje is inderdaad ’n baie interessante stad.

Ons kat sit altyd op die vensterbank en vra om kos. Gisteraand het die gelukkige gedierte twee viskoppe gekry. Sy dink nou sy is ons kat en stap tot saam supermark toe. Saam met ons oor die straat. Ek was skoon benoud dat die motors haar gaan raakry. Die verligting was groot toe ek nie ’n plat kat in die straat sien toe ons terugkom van ons inkopies nie en toe sy weer by die venster miaau.

Die kat kom weer

Die aand eet ons weer forel. En dis weer heerlik. En die kat kry weer haar twee viskoppe.

Forel met slaai