Sunday, September 10, 2017

Thessaloniki.



9 September 2017. Saterdag.

Wat ’n nag!

Alles is doodstil, dis nog bewolk en in die vêrte is bietjie weerlig. Ek bring die matjies en dek se matrasse in en ons gaan slaap.

Ek raak onrustig, want Maja se snoet skud effens in die wind en gaan slaap in die saloon. Toe hoor ek dit. Gus kom aangehardloop en ek kyk uit. Dis ligte lyk dof, asof dit mistig is. Maar dis die wind wat aangewaai kom. Ek beur teen die wind uit buitentoe om Archie se skoene in te bring. Toe sing die maste en dit loei soos ek nog nooit tevore gehoor het nie. Ek gaan dadelik om vir Archie te roep. Die wind het hom ook wakker gemaak en ek sê vir hom dat hier ’n storm is.

Ons kyk benoud na buite. Maja roer op haar stelte. Dit is ’n “squall”, ’n windstorm waar dit in vlae reën. Die reën val as't ware horisontaal. Die wind waai so erg, dat Archie sê hy dink dit is ’n tornado. Maja klou aan haar stelte en ons waai nie om nie. Dit het 00:30 begin en vir ’n uur aangehou. Ek hoop net al die bote by Preveza se kaai is veilig. As ons moet raai, sal ons sê die wind het met tye so tussen 40 en 60 knope gewaai. (80 tot 120 Km). Dit was baie erg. (Van ons ander seilvriende by Lefkas het gesê hulle het winde van 50 knope gehad).

Ons kyk toe na die weervoorspellings en niemand het dit voorspel nie. Dit is eintlike plaaslike omstandighede wat bymekaarkom en dan die frats winde tot gevolg het.

Ons staan in ’n baie nat Preveza op en maak klaar om te vertrek. Gestewel en gespoor met ons lekker ligte rugsakke stap ons na die kantoor waar die taxi op ons wag. Die pad is ’n tonnel wat onderdeur die see loop van Aktio marina tot die dorp van Preveza.

Ons klim die 9:15 bus na Thessaloniki. Dis ’n lang busrit van 5h30min, deur die mooiste hoë, groot berge.

Die stad praat nie met my nie, maar ons kamer in die Thess Hostel is heerlik ruim. Dis nog stééds bewolk, maar ons stap maar soos getroue toeriste dorp toe om die antieke geboue te gaan bekyk. Oral is mense wat “nie lekker” is nie. Dit ontstel my as mense dronk is en dwelms gebruik.

Ons kyk na die talle ou kerke, geboue en mure. Dis eintlik ’n baie ou stad hierdie met baie antieke geskiedenis.Die ou ligtoring is ’n baken van Thessaloniki. Dit staan nog pragtig by die hawe.

Church of Panagia Chalkeon 1028 n.C.
Bey Hamam
Rotunda, 300 n.C.
Rotunda binne
Waterfront met Wit Toring, 15de eeu
Triomfantelike Boog van Galerius (Kamara)

Toe kom ons op die skare af. Daar gaan ’n optog wees. Die mense betoog teen allerhande wette. Honderde mense met baniere is die strate vol. Die polisiemag het 4000 man ontplooi om dinge ordelik te laat verloop. Die helikopter sirkel in die lug rond.
 
Musiek speel op al die hoeke waar die betogers bymekaarkom. Die betogers word luid toegespreek. Hulle begin stadig te beweeg. Geen voertuie is in die strate nie. Ons stap weer na die groep by die port en hul musiek is indrukwekkend. Dit klink na Russiese oorlog musiek. Maar alles is steeds vreedsaam. Niks word geplunder of gebrand nie. Suid-Afrika kan iets by dié mense leer. 

Maak reg vir optog
Optog begin
Rooi Kruis

Ons gaan terug na die hostel. Ek oordink my gewaarwordings oor Thessaloniki. Ons was te kort hier. Ek het nie die siel van die dorp gevind nie. Hier is te veel mense met dowwe, stokstywe, strak-starende, nikssiende oë wat op pad is na hul eie kammaland van niks tussen êrens en nêrens.


Friday, September 8, 2017

Aktio Marina.



6 tot 8 September 2017. Woensdag tot Vrydag.


Ons is nou besig met allerhande takies om Maja voor te berei vir oorwintering. Dis van eenvoudige dinge soos wasgoed was, tot die meer tegniese take om die enjin wintergereed te kry.

Voor die Volvo altaar

So gaan ons besig bly tot Saterdag, wanneer ons na Thessalonika vertrek. Oral op die stelte is manne besig met hul bote, almal in net sukke potsierlike broekies soos Archie. Dit skrop en polish en dan wapper seile weer in die wind soos hulle dit afhaal. Arme Maja is so te sê kaal gestroop en die stoorkamer is oorvol met alles wat gestoor moet word.

Poets pype
Genoa seil gaan in vir reparasies

Al my wasgoed is vakuumverpak en reg vir die volgende seisoen. Ons rugsakke is gepak vir ons drie weke vakansie op die land. 

Ons hoek van die groot Aktio Marina

Ons sal getrou verslag doen van alles wat ons beleef en sien.


Thursday, September 7, 2017

Hoog en droog in Aktio Marina



6 September 2017. Woensdag.

2017 Seilseisoen van Kemer, Turkye tot Aktio Marina, Preveza, Griekeland
Preveza tot Aktio Marina

En so kom dit tot ’n einde. Nog ’n seilseisoen is verby. Dis nou nog net die Moses-deel, dis nou as Maja uit die water gehaal word.

Ons verlaat Preveza en vaar na Aktio Marina, 1.4 myl. As’t ware net oorkant die straat. Ons moet voor die marina anker en dan roep hulle ons oor die radio, Kanaal 9 as ons na die watersloot toe moet vaar.

Daar staan ’n klomp jagte op anker en ons kry ’n simpel plek, waar die anker in die seegras sleep, om te anker. Ons wag toe maar so slepende dat hulle ons moet roep. Eers is dit die blou jag en toe is dit ons. Ons kry al die fenders en toue reg vir alongside en vaar sloot toe.

Niemand is daar om ons te help nie en ons maak self vas. Toe wag ons en ons wag. En wag. Na, wat voel soos ’n ewigheid, is hulle daar en ons verlaat vir Maja. Nou is sy in die hande van vreemdes. 

Vas in die uithaal sloot
Daar kom so ’n geel trekker ding aangery. Ek word skoon aangedaan en pik ’n traan. (Toe ek vir my suster, Elize, laat weet Maja word uit die water gehaal, het sy ook ’n traan gepik. Sy is so lief vir Maja.)



Die uithaal proses is anders as gewoonlik. Normaalweg word Maja uit die water gehaal met ’n oorhoofse kraan met twee bande onder haar romp. Hierdie keer is ’n sg. hidrouliese hysmasjien gebruik. ’n Tipe van ’n stoot-sleepwa, toegerus met 6 hidrouliese hysers, word in die water ingestoot met ’n groot trekker. Maja word daaroor geposisioneer, die hysers lig Maja uit die water en die sleepwa word teruggetrek met Maja daarop. Daarna word sy met dieselfde hysmasjien en trekker na haar finale staanplek vervoer.

Hidrouliese hysmasjien word in die water ingestoot
Bekommerde kaptein - gaan die kiel die grond raak
Veilig uit die water

Toe ry hulle met haar so mas in die lug, na haar slaapplek vir die winter. Oral is bote op hul stelte. In Aktio oorwinter geen bote in die water nie, net op land “on the hard”. Die manne kry alles reg en dis kettings en stelte en toe is sy hoog en droog in Aktio Marina op die grond. Dit lyk skielik vir my so verkeerd dat die bote so op die droë grond is. Bote hoort in die water.

Op pad na oorwinterings staanplek
Mas in die lug
Maja op haar stelte

’n Leer word by haar stêre staan gemaak en dit is nou ons penthouse se trappe vir die volgende drie dae. Ek klim op en dit voel of alles beweeg. Snaakse gevoel as jy vir soveel maande in ’n bewegende wêreld gebly het en nou is Maja skielik stagnant.

Toe Gus begin waai, beweeg sy so effentjies, maar die kaptein sê dis reg so. Ons eet die aand Levraki (vis). Ons koop altyd Cipura en nou die dag ewe avontuurlustig die lang vis, Levraki, gekoop. Levraki is "sea bream" en Cipura is "sea bass". Of andersom. Die vis is heerlik.

Levraki

Vanaand slaap ons in die lug.