Sunday, September 3, 2017

Preveza.



2 September 2017. Saterdag.

Varkos Baai tot Preveza

Ons seilseisoen staan einde se kant toe. Hierdie jaar oorwinter Maja op stelte in Aktio Marina by Preveza. So, ons is vandag op pad na Preveza, 17 myl, in die Golf van Amvrakia of Amvrakikos Kolpos. Ons word die 6 de September uit die water gehaal en vertrek dan ’n paar daarna na Macedonië. Ons Schengen tyd hardloop uit. Ons moet maak dat ons wegkom.

So, vandag gaan ons na Preveza se dorpskaai en dan môre vêrder in die golf. Maar eers is die die smal, vlak kanaal van Lefkas en die brug waardeur ons moet vaar. Die brug maak elke uur vir ’n paar minute oop sodat die bote kan deurvaar. 

Lefkas Kanaal
Mistieke moeras

Daar is ’n hele klomp bote wat tussen die rooi en groen boeie in die kanaal vaar, almal in ’n ry, nes Michelle daarvan hou. Sommige is op pad na Lefkas Marina, ander wil deur die brug vaar. Ons het beplan om 9:00 by die brug te wees en wag ’n ruk voordat dit oopmaak. Die staal kontrapsie swaai stadig oop. ’n Mishoring blaas. Die bote wat van die noorde kom, vaar eerste deur en toe is dit ons wat van die suide kom, se beurt.

Besige kanaal
Wit ystervarkpenne
Brug begin oopswaai
Brug is oop
Bote vaar deur
Lefkas se fort

Hierdie is glad geen “hair raising” ervaring meer nie, want die kanaal is breër gemaak en jy vaar tussen die bakens deur. En deur is ons en op pad na Preveza. 

Om die sandbank

Ons vaar deur die bakens wat die kanaal aandui, want hier is dit ook vlak water net waar jy kyk. Ons gaan dorpskaai toe en daar is baie jagte, maar ook nog baie plek. Archie tru, ek gooi anker en twee mans help ons met die toue en vas is ons.

Ons is baie beïndruk oor die groei wat in die dorp plaasgevind het sedert ons laas in 2014 hier was. Daar is krag en water op die kaai. Toeriste is die hele wêreld vol. Die plek bars omtrent uit sy nate. Daar is pretdraf aan die gang en die hardlopers draf sommer tussen die hawe en die straatkafees én al die mense op straat deur. Dit gaan te jolig. Jy hoor net hoe skree die omstanders: “Bravo, bravo!” as hulle klaarmaak.

Ons stap in die dorp rond. Die kasteel is niks watwonders nie, maar het darem ’n hoë muur. Die dorp is nie vreeslik interessant nie, maar ons kom darem op ’n bruid af. Almal trou gedurig in Griekeland. Daar is altyd ’n bruid!

Kasteelmuur
Daar kom die bruid
Straatkafee

Ons sit die aand heerlik op Maja se dek en kyk na die mense, baie mense, wat verbyloop. Waar is Michelle en Johan nou! Hulle sou so lekker na die straattonele gekyk het.

Vir aandete eet ons weer ’n vars vis. Dis deesdae Archie se gunsteling aandete.

Saturday, September 2, 2017

Varkos Baai.



1 September 2017. Vrydag.

Kalamos tot Varkos Baai

Ons trek benoud die anker op, want hierdie is gekruisde anker area. Maar die geluk is aan ons kant, ons trek sonder probleme op. Geen ander anker of ketting sit aan ons vas nie. Kalamos lyk pragtig in die oggend en ons vaar na Varkos Baai,13.5 myl. Hier in die Ioniese see is bote vir Afrika. Ons is nie meer gewoond aan soveel seiljag verkeer nie.

Die hoofland se berge lê blou op die agtergrond. Oral om ons is land. Dis pragtig hier. Elize sal baie van die Ioniese See hou. Voor ons lê Varkos Baai. Maar bedrieg my oë my? Dis net bote waar jy kyk op anker. Die boek sê dis ’n gewilde baai vis swem en snorkel. Wel, ek glo hom! Gelukkig is dit ’n groot baai en ons kry ’n plekkie, gooi anker en vas is ons. 

Hoë berge agter Mitaka
Mitaka dorp

Mense op die Cat langs ons is toe sowaar o.a. Suid-Afrikaners van Johannesburg. Hulle swem en skree vir ons: “Dis lekker by die see!” Dis so lekker om van ons eie mense op ’n vreemde plek te sien. Hulle swem net en vertrek.

Die jagte kom en gaan hier. Hulle swem en vaar verder. Later die middag kom daar twee groepe flotilla bote in en oorstroom die baai. Dis lewe in oorvloed hier by Varkos. Ons swem en kyk vir die ander seilers. Beter as TV.

Die aand hou albei die flotilla groepe ’n strand partytjie. Hulle klap hande en sing en lag en braai. Dis seker hulle laaste aand van charter en dis die afsluiting. Dinghies vaar heen en weer van die strand na die jagte met figure as silhouette op die maanverligte water.

Laatmiddag by Varkos Baai

Varkos met sy turkoois water, sal my gewis weer sien.



Friday, September 1, 2017

Kalamos Eiland. Kalamos.



31 Augustus 2017. Donderdag.

Marathia Baai tot Kalamos

Anker op en weg is ons. Vandag is dit Kalamos, 10 myl. Dis heerlik windstil en ons seil glad niks. Ons sit en redekawel oor of ons moet anker of kaai toe gaan. Ons albei besluit dat ons liewers wil anker.

Hier is lewe op hierdie waters van die Ioniese See. Dis net seiljagte oral waar jy kyk. Sommige van die charter bote se bemanning probeer seil in die ligste briesie. Dis nou wat ek noem, hardop vir seil. Nee wat, ek is heel tevrede om te prrr.

Naby Kalamos is daar omtrent bedrywigheid. Die charter bote kom een na die ander uit die hawe uitgevaar. Ons gooi anker in die baai. Toe Archie gaan kyk of die anker gebyt het, sien hy dat dit pragtig gebyt het, maar ontdek ’n rots onder die water wat in Maja se swaai sirkel is. Die blerrie rots is 1.5m onder die water en ons kiel is 1.65m diep. 

Op pad
Kalamos
Hoofland berge

Ons trek toe maar anker op en gaan kaai toe. Archie kry ’n plek en tru en ek gooi die anker. Die buurvrou is gereed om die toue te vang en vas te maak en siedaar! Ons is vas. Die hawe is nog taamlik leeg en ons maak ons tuis in Kalamos.

Toe begin die jagte in te kom. Die een na die ander. Ou George, wat die onoffisiële hawemeester is, help almal in. Hy is ook die eienaar van die taverna in die dorp. Hy laat die jagte buite die hawe wag en laat hulle dan een vir een inkom. Sowat van effektiwiteit het ek lanklaas beleef. Hy stoot hulle in die regte rigting met sy dinghie, hy sê presies waar hulle die anker moet neersit en dan jaag hy kaai toe, klim uit en help hulle met die toue.

George aan die werk

Hy werk onverpoos voort. So maak hy seker dat 51 jagte veilig in al wat obskure plek moontlik vas is. Ten minste drie charter boot maatskappye se flotillas (’n groep bote wat saam seil) is hier vasgemeer. Dan ook ander huurbote en ook ons privaat outjies. Dit verskaf kykgenot soos min. Ons en die Duitsers langs ons, geniet die skouspel terdeë. Soms is dit amper soos ’n riller.

Kalamos hawe
Waar is Maja?

Ons stap in Kalamos rond en daar is nie veel te sien nie. Hierdie dorp se lewensaar is George en sy taverna en die seilers wat hierheen kom. Hy is seker ook die burgemeester (as die Grieke so iets het). Ons geniet die vriendelike plek met al die seilers verskriklik baie. Almal is vriendelik en ontspanne, sodra die adrenalien van die vasmeer eers uit die lywe uitgesypel het.

Mooi nooi op mooi trappe
Kontras
Romanties

Ons gaan stap die aand weer en sien dat al wat leef en beef by George se taverna eet. Sommige omdat hulle baie honger is en ander uit dankbaarheid oor George hulle so mooi gehelp het.

Terloops, ons het nie van George se hulp gebruik gemaak nie. Ons was te vroeg daar en het maar op eie stoom ingekom. So, ons eet maar vark wat ek self gaarmaak op Maja en drink "gin and tonics" uit die wynglase wat Till en Andree vir ons gegee het. Cheers julle.

Op Till en Andree

Thursday, August 31, 2017

Marathia Baai.



30 Augustus 2017. Woensdag.

Petalas Eiland tot Marathia Baai

Vroegoggend is dit pragtig hier in Petalas. Die son breek uit sy donker jas en strooi ons met sy glans. Nog ’n nuwe dag word in die hemelruim gevier.

Dagbreek

Dis nou net vir anker optrek en dan vertrek na Marathia Baai, 9 myl. Wat kan nou eenvoudiger as dit wees!

Ek sit agter die helm en Archie trek die anker op. Maar dit sukkel. Wil nie op nie. ’n Tou wat aan die anker vas is, kom te voorskyn. Archie sê hy het iets beet. Daar is ’n kleipot aan die tou. Hy trek en trek. Nog ’n kleipot kom te voorskyn. Toe kom ’n plastiese pot te voorskyn en toe nog een. Almal is vasgemaak aan die lang tou. Daar is seker nog ’n klomp potte aan. Archie stuur my om ’n mes te gaan haal en ek sny die tou. Hy sny die tou wat om die anker vasgehaak het, ook af en ons is vry. Archie gooi die potte terug in die water. Dit was seker die vissermanne wat iets wou vang met die goed. 

Eerste pot
Trek en trek
Wil nie ophou nie

Toe is ons gereed om te vertrek. Soveel dae, soveel dinge. Ons verlaat die heerlike beskutte baai en nou waai Gusvan voor af. Later waai hy oor die 20 knope. Die wit perdjies dans op die deinings. Archie vleg deur die visplase en vaar na ons baai. Die see beweeg in die baai. Hier gaan ek nie rus vir my siel kry nie!

Op pad

Daar staan reeds een ander seiljag in die baai. Die arme drommel dans in die wind. En ons dans saam. Die anker byt goed en ons is vas. Gus waai darem later bietjie ligter en nog later waai hy vanuit die suide. Toe rol die see in ons baai en ons wieg in die wind.

Marathias Baai

Gus gaan lê en die deinings versag en dit word rustig in ons baai. Op die land is ’n kampterrein waar mense visvang, braai en rondsit. Vier varke wei tussen die karavane.

My genot hang van Gus af. As hy sterk waai, verdwyn my vreugde en as hy gaan lê, verskyn dit weer!