Wednesday, May 10, 2017

Kaş



7 Mei 2017. Sondag.

Pölemos tot Kaş
 
Hierdie Pölemos herdoop ek na Windbaai. Gus het homself behoorlik hier geniet. Die hele nag het die swerkater ons hot en haar gewaai. Het eers diep in die nag gaan inkruip. Vanoggend is dit weer heerlik in die baai. Stilbaai.

Ons vertrek vroeg na Kaş, 19.7 myl, net toe die son sy verskyning maak. Ons wil vroeg daar aankom. Till en Andree moet uitvind wanneer die bus na Daleman vertrek en buskaartjies koop. Ons meisies moet ook wasgoed was. Ai, wasgoed was, dit is vir my lekker! Dis vir my ’n vreugde om my skoon gewasde klere op Maja se drade te sien wapper. Dan gee ek nie omdat Gus liggies met dit rondspeel nie. Hy moet net nie probeer om dit van die lyn af te waai nie. Maar toemaar, ek is altyd voorbereid. My leuse is – maak altyd reg vir wind. Elke kledingstuk word dan met ’n magdom pennetjies aan die draad vasgepen en ou Archie skud maar net sy kop en sê; “Ou vrou …

Stilbaai
Oggendskoot

Ons eet sommer ons tradisionele eenvoudige ontbyt so terwyl ons vaar. Die see skud ons maar rond en laat my aan daai liedjie dink- “skommel daai ding, skommel daai ding, skaam om te vra, skommel daai ding, skommel daai ding, tot sy sê ja.” Dan wonder ek altyd van watse ding sing hulle nou eintlik. 

En so kom Till en Andree se laaste vaart tot ’n einde toe ons by Kaş se marina aankom en eers diesel ingooi en swartwater uitpomp. Andree beskou dit as suksesvol vasgemeer en drink dadelik haar koue drankie. Sy verlei Till ook soos Eva van ouds en gee vir hom ook ’n glas Coke. Hy neem en drink en so verbreek die twee dorstige Kapenaars ’n Maja-tradisie om te drink voordat ons finaal vasgemeer het!

Kaptein
Laaste vaart

Die marinaman vra vir ’n ekstra tou en anders as verlede jaar, wonder ek nie waarom hulle ’n tou vra nie, ek weet nou hulle gebruik jou eie tou om Maja aan hulle sementblok vas te maak. Hy wys ons die plek en gee die vasgemaakte snoettou vir my aan en ons is vas en veilig in die marina. Till en Andree se laaste hawe.

Andree skink vir my en Archie ons “cold beverages” en ons kan ontspan.  Ook nie vir lank nie, toe loop was ons meisies ons wasgoed. Andree gaan stort en was hare en lyk toe te pragtig. Till verlang na ’n skoon oop gesig en gaan stort en skeer. Toe lyk hy net so pragtig. En toe gaan ons dorp toe. Ons gaan mos altyd dorp toe.

Kas se marina is nuut en baie goed versorg. Andree kan nie uitgepraat raak oor hoe beïndruk sy is met die netjiese marina nie. In die tuin pronk veelkleurige blomme. Die gras is groen en gesny. 

Blomryke marina

Die dorp is ook mooi. Pragtige restaurante langs die waterfront. Winkels waarin jy kan snuffel. Ons eet ’n ligte middagete in ’n eetplek en daarna neem Till en Andree die dorp op horings, terwyl ek en Archie ’n ander koers inslaan. Ek verlei Archie tot ’n roomys en ons sit dit sommer op die sypaadjie en eet. 

Reuse sarkofaag

Slenter-slenter gaan ons terug na Maja en ’n ruk daarna kom die Kapenaars ook daar aan. Gus waai en almal sit in die saloon. Sommige lees, ander gesels, party pak . Ons tem of ons buite of binne moet eet en die uitslag is – drie stemme vir binne en een stem (ek) vir buite. Ons dek vir oulaas die tafel en eet ons laaste maaltyd saam. Ons geniet darem "sundowners" op die dek.

"Sundowner"

Die manne sing weer so bietjie en later gaan kruip ons almal in.

Tuesday, May 9, 2017

Pölemos


6 Mei 2017. Saterdag.

Üçağiz tot Pölemos

Alles kom tot ’n end, selfs ons heerlike verblyf op die dorpskaai van Üçağiz. Till en Andree het die kaai terdeë geniet. Ons vertrek na Pölemos, 3.5 myl vêrder in Kekova Roads. Ons seil vir ’n rukkie en die gaste is baie opgewonde. Hulle het nog baie min saam met ons geseil. Die seil bol wit teen die oggendlig en die kaptein glimlag breed. En Till en Andree glimlag saam.

Seilende Sigeiner
Archie, Till en Andree glimlag breed

Ons kom vroeg daar aan en besluit ons gaan dadelik in Dinkie klim en na Pölemos se antieke stad kyk. Sommige lede van die bemanning sukkel maar om in die klein Dinkie te klim. Na ’n nat boud of twee sit ons voet aan wal en begin om die lang pad na die ruïnes aan te durf. Ons stap en stap en ’n swerm vlieë ry gratis saam op ons rûe. Jy sien net swart spikkels soos hulle op ons klere sit. Miskien ruik ons nie so lekker nie, of iets.

Ons kyk na die sarkofae wat oral te sien is. Murasies en onderwater fondasies is ook te sien. Till en Andree gaan drink ietsie by “The Purple House” en ek en Archie stap nog ’n ent vêrder.

Gesonke stad
Sarkofaag
Ruïnes
Sarkofaag

Dit wemel van goggas. Daar is sprinkane, goed wat soos koringkrieke lyk, besies, wurms en vlinders. Akkedisse skarrel ook onder die klippe in as ons nader kom. Hier is nou wel baie dooies wat hier rus gevind het, maar daar is lewe hier in die nou.

Vlinder

Ons kry ons gaste waar hulle lekker onder ’n boom sit  en iets koel geniet. Ons almal stap vêrder na Dinkie waar sy by ’n restaurant kaai vas is en drink koffie en tee. Sukkel-sukkel klim ons weer in Dinkie en ek en Archie roei terug. Ook net betyds, want toe begin Gus te waai. Hy waai my hier en hy waai my daar. Hy waai my hare sommer deurmekaar. Van stadig oor die klippertjies wil hy nie weet nie.

En toe is die heerlike stil anker in sy peetjie. Dis koud en onplesierig. Almal was lus vir swem, maar dis net Till wat dapper genoeg is om dit te waag.

Ek lê buite op die dek en musiek luister en die res van die bemanning skuil binne. Moedswillige Gus!

Monday, May 8, 2017

Üçağiz.


5 Mei 2017. Vrydag.

Karaloz tot Üçağız

Dis stil in die baai. Daar is net nog een ander jag in die baai en Archie maak die landtoue los, Till trek dit in en ons is reg om te vertrek. Andree bewonder eers al die vissies en praat met hulle of hulle mense is. Vreedsaamheid is oral rondom ons. En die anker word opgetrek en Maja woel haar los van die baai wat ons eie was en weg is ons na Üçağiz, 3.5 myl.

Ons vaar in Kekova Roads en geniet die stil see. Aan ons regterkant staan Kale Köy se eeu-oue kasteel trots en regop op die berg. Ek bewonder weer die vorms en hoeke van die mure. Till lees op oor die geskiedenis van Kale Köy en is verwonderd dat hierdie ruïnes in die geweste so oud is. Hy kan mos elke woord onthou wat hy gelees het en lig ons gedurig oor dit en dat in. Andree dink ook dat die kasteel pragtig is en wil dit graag van naby sien.

Kale Köy met sy kasteel
Kasteel
Kasteelmure
 
Ons vaar by die ingang van Üçağiz in en hoop op ’n plek by die dorpskaai. Ons vaar maar stadig in en hoop iemand wink vir ons. En sowaar, Eddie wink en wys vir ons waar ons kan vasmeer. En sowaar, daar is snoettoue, ons hoef nie eers anker te gooi nie. Archie tru, ek gryp die snoettou met die boothaak en maak dit voor vas. Till en Andree bekyk die hele vasmeer doenigheid met bewondering in die oë. Vir hulle lyk dit of ons gesoute seilers is. Veilig vas en Andree ken haar plig en gaan skink koue drankies. 

Dorpskaai

Dis te heerlik op die dorpskaai en die haweman, Eddie reël vir Till en Andree ’n bootrit na Kale Köy. Dis eintlik ’n vissersboot en die kaptein lyk soos ’n ware visserman, maar Till en Andree klim en hulle vertrek op hulle toer. Ons was al twee keer by Kale Köy en Archie en ek gaan nie saam nie. 

Boottoer
Kaptein

Ons stap in die dorpie rond en koop bietjie proviand. Dis ’n karaktervolle plekkie en ons bespreek plek by Hassan vir aandete. Hy het jare gelede vir Pres. FW De Klerk in sy restaurant onthaal.

Wit huis en blou vrou
Archie en ek

Till en Andree kom opgewonde en tevrede terug van hul bootrit. Hulle het die onderwater stede vreeslik geniet. Ons kuier nog ’n ruk op Maja en maak klaar vir die aand se uitgaan. Andree lyk baie sjarmant in haar splinternuwe turkoois uitrusting. Die mans lyk ook darem nie te onaardig nie en ons stap na Hassan se restaurant toe. 

Uitgevat

Till bestel wyn. Ons drink ’n glasie op die seil. Hierdie is die dankie sê ete en hulle sê behoorlik dankie. Na al die bedankings bestel ek en Archie heerlik vis en Till en Andree bestel garnale. Ons eet smaaklik aan ons kos en teug aan ons wyn. 

Lekker wyn
Archie en Till
Hassan
Garnale
Vis

Dis ’n heerlike aand en kom te gou tot ’n end. Versadig en tevrede stap ons terug na Maja waar ons knuppeldik in ons beddens klim. Dit was omtrent ’n heerlike dag. Dankie julle.

Friday, May 5, 2017

Karaloz.


4 Mei 2017. Donderdag.

Gökkaya tot Karaloz

Ons het vandag weer nie vêr om te gaan nie, want ons gaan na Karaloz, net 4.1 myl. Maja lê in ’n bad water, so stil is die baai. Ons vertrek 9:00 en vaar al die pad. Die grot lê blou uitgegrawe in die rotswand. ’n Paar toeriste op ’n klein bootjie doen ondersoek en bekyk die grot.


Blou Grot

Toe is dit om die hoek na Karaloz, wat sy eie grotterigheid het. Dis ’n mengsel tussen grot en uitgrawing. Ons vaar die baai binne en Archie kry al die toue reg vir die lang tou na die land tipe anker. Ek hou mos glad nie daarvan om so vas te maak nie. 

Grot by Karaloz se ingang

Archie tru, ek gooi anker, Archie duik met sy tradisionele sierlike boog in die water en ek vat die helm oor. Till en Andree help met die toue. En na ’n bietjie onderhandelings is ons vas aan die land. Dis ’n pragtige baai. 

Archie en sy landlyn
Till trek tou
 
Gus waai en ek en Andree is nie lus vir swem nie. Till is egter dapper genoeg om die water aan te durf. Hy het ’n ingeboude termometer en verklaar die water tussen 17° C en 18° C. Archie het ook geswem, net omdat daar ’n doel daarvoor was – hy moes met die tou land toe neem.

Twee van die bemanning gaan lê skuins, baie skuins, want eers baie later kom hulle weer regop. (En dis nie ek of Archie nie) Die kaptein verlaat die skip en gaan verken die land. Klim die kop soos een van die boerbokke uit, al is hy eintlik ’n Engelsman. Ek wuif vir hom vanaf Maja se snoet. Ek gaan nie saam nie, want ek laat my knieë vandag rus. 

Karaloz Baai
Ek bly agter en waai
Besoeker by

Die res van die dag gaan rustig verby. Die mans lees, Andree is soos ’n tiener op die selfoon en ek luister musiek op die dek. Dis koud, want die wind waai wild en wakker.

Die hoendersop word verhit en vars sop noedels word gekook en weereens smul ons heerlik aan die geurige sop. Dankie, julle. Dit is die regte medisyne vir so ’n winderige aand.

Bo-baas hoendersop
 
Die maan hang aan die hemelruim en begin groei. Dit laat my dink aan ’n ou liedjie wat ek as kind gehoor het, “liewe maan jy seil so langsaam”. (Die res het ek vergeet) Die donker aande word saggies deur halwemaan verlig. Ek wonder waar is die ander helfte van die maan …